Die krag van die laer

Argieffoto

Argieffoto

Geloftedagtoespraak deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit te Hooggelegen op 16 Desember 2015.

Op 16 Desember is Geloftedag gevier met honderde groter en kleiner feeste. Daar is byna nie ʼn distrik waar daar nie ʼn fees gehou is nie. Vir die afgelope 20 jaar praat ek elke jaar op ʼn ander fees: Lindley, Heilbron, Pretoria, Ermelo, Mosselbaai en oraloor. In sinksale, kerke, onder bome, oral is daar feeste. Party kamp en hou konsert, party fokus op perdesport, ander speel jukskei, in die stede word dikwels net kerk gehou en byna oral word gesing. Die feeste se bywoning word nie minder nie, dit word meer.

16 Desember 2015 was nie ʼn uitsondering nie. Hier op Hooggelegen het ons, soos op honderde ander plekke, laer getrek.

Mense praat deesdae so half afwysend oor die laer. So asof dit iets negatiefs is. “Julle is laertrekkers,” word dikwels na ons Afrikaners verwys.

Maar wat was die rol van die laer in ons geskiedenis? Die antwoord lê in die laer van Bloedrivier.

Ek wil aan die begin van dié toespraak erkenning gee aan dr. Jackie Grobler. Ek het swaar op sy baie deeglike navorsing oor Bloedrivier gesteun.

Die trek van die laer begin natuurlik met die Groot Trek. Van 1835 af het etlike honderde ontevrede Boere, wat spoedig enkele duisende geword het, uit die Oos-Kaap getrek met die oog daarop om ʼn nuwe toekoms in die binneland, vry van Britse beheer, te bou.

Hulle gesigte was gerig na Afrika en hulle het hulle na die vasteland genoem, Africaanders. Hulle was nie kolonialiste van ʼn spesifieke aard nie. Hulle het getrek vir ʼn plek in Afrika.

Die trek is bykans tot stilstand geruk met die moord op Piet Retief en sy manskappe en daarna die wrede moorde by Bloukrans- en Boemansrivier.

Meer as 500 mense, ingeslote 185 kinders en 250 werkers is koelbloedig vermoor in ʼn barbaarsheid wat tot ʼn kuns vervolmaak is – ʼn toneel van dood en verwoesting wat bereken was om die sterkste mannehart te laat bewe.

Hierdie gebeure het ʼn domino-effek begin wat die geskiedenis van Suid-Afrika en ons Afrikaners vir altyd verander het.

Ná die wrede moord op Retief, sy manskappe en die ander Trekkers is besluit om Dingaan te straf. Sarel Cilliers se ouer broer, Piet, was byvoorbeeld een van die slagoffers van dié bloedbad.

In April 1838 het die Trekkerleiers Andries Hendrik Potgieter en Piet Uys ʼn strafekspedisie van 347 man te perd, maar sonder waens, in Zoeloeland gelei. Hulle veldtog was ʼn mislukking, want by eThaleni (Italeni) het ʼn Zoeloemag van etlike duisende krygers aan hulle swaar verliese, wat onder andere Uys en sy seun Dirkie ingesluit het, toegedien en die inval afgeweer. Dit was ʼn ekspedisie sonder ʼn laer.

Vir die Voortrekkers was dit ʼn les dat dit ʼn gevaarlike onderneming was om Zoeloeland sonder ʼn walaer binne te val.

In Augustus 1838 het die Zoeloes weer van hulle kant tot die offensief oorgegaan en die Voortrekkers drie volle dae lank by Veglaer langs die Boesmansrivier aangeval. Hierdie keer was daar ʼn laer.

Die Voortrekkers was verskans in ʼn versterkte laer bestaande uit sowat 290 waens en het die aanval afgeslaan, al was daar net 75 mans in die laer. Dit was nou duideliker as ooit dat die sleutel tot sukses teen die Zoeloemag in die gebruik van ‘n walaer geleë was.

Die Voortrekkers begin met die finale voorbereidings van die strafekspedisie. Hoofkommandant Andries Pretorius was onder geen illusie nie dat die straftog teen Dingaan ’n gevaarlike onderneming was.

Reeds voor sy aankoms by die Tugelarivier het die Natalse Voortrekkers besluit om met ʼn walaer Zoeloeland binne te trek.

Pretorius se kommando is vergesel van sowat 64 waens, gelaai met voorrade en ammunisie. Indien die Zoeloes sou aanval, kon die waens soos by Vegkop, in ʼn sirkel getrek word en as verdedigingskans of laer dien.

Pretorius het, soos wat die kommando dieper in Zoeloeland inbeweeg het, elke aand laer laat trek.

Die bittere ondervindings in die verlede het die Voortrekkers oortuig om deeglik te werk te gaan. Hulle het in hierdie veldtog nie ʼn enkele strop, spaartrektou of voorslag vergeet nie. Regulasies is opgestel ten einde goeie dissipline te verseker.

Aan die ander kant was die Zoeloes.

Min word geskryf oor hoe gesofistikeerd die krygsmag van koning Dingaan was.

Elke Zoeloekryger was volgens ouderdom lid van ʼn spesifieke regiment (amabutho) wat deur ʼn hiërargie van aanvoerders (indunas) gelei is. Die krygsmag as geheel het insgelyks onder ʼn hiërargie van bevelvoerders gestaan.

Indien die terrein dit toegelaat het, sou hulle poog om die vyand te verras of in ʼn hinderlaag te lok, soos wat hulle by Italeni teen die kommando van Uys en Potgieter reggekry het. Indien die geveg op ʼn oop terrein sou plaasvind waar verrassing nie moontlik was nie, is die amabutho soos die kop en horings van ʼn bul opgestel. Die regimente wat die twee horings gevorm het, was gewoonlik die jonger amabutho wat die vyandelike mag moes omvleuel om te verhoed dat hulle ontvlug. Die ouer, meer ervare amabutho was in die middel en moes die vyand se hoofmag aanval.

Die Zoeloemag was ʼn formidabele krygsmag.

Wat bewapening betref was die krygers van die amabutho wat die vyand moes aanval met kort steekassegaaie bewapen. Daarbenewens het hulle langwerpige skilde gehad om hulle teen die vyand se wapens te beskerm. Hierdie skilde was van beesvel en was gevolglik nie besonder effektief teen vuurwapens nie.

Wanneer ʼn Zoeloekrygsmag te voet te velde trek om die vyand te konfronteer, is hulle kosvoorrade deur die izindibi of matdraers, wat nog te jonk was om te veg, aangedra.

By die Slag van Bloedrivier was daar een Zoeloeregiment, die Izitunyisa-regiment, wat op perde gery en met gewere bewapen was.

Dit is eintlik vanselfsprekend dat die Zoeloemagte ook, net soos die Voortrekkers met die aflegging van die gelofte gedoen het, op die vooraand van die Slag van Bloedrivier hulle geestelik gesterk het. Die izinyanga zempi (spesiale oorlogsdokters) het in seremonies wat sowat drie dae lank geduur het, izintelezi (oorlogsmedisyne) voorberei het wat die krygers “onoorwinlik” sou maak.

Die Zoeloes het gereed gemaak om die Voortrekker uit te wis. Intussen het Pretorius en sy manne gereed gemaak om die Zoeloes te straf. ʼn Groot botsing het gewag.

Op Saterdag 15 Desember het die Voortrekkers ʼn sytak van die Buffelsrivier bereik, wat deur die Zoeloes die Ncome-spruit genoem is en ná die geveg by die Voortrekkers as Bloedrivier bekendgestaan het. Terwyl hulle besig was om met die waens deur die rivier te trek het twee verkenners van kommandant Hans de Lange, die baasverkenner, gerapporteer dat die Zoeloehoofmag net ongeveer twintig kilometer van die laer af was.

Die Voortrekkers het begin om laer te trek.

Die waens is in posisie getrek op die westelike wal van die Ncome-spruit wat dáár ongeveer van noord na suid loop, langs ʼn diep seekoeigat met aan die suidekant ʼn donga wat tot in die rivier gestrek en so ʼn natuurlike skans teen ʼn aanval gevorm het.

Dit het meegebring dat die seekoeigat die laer aan die oostekant en die droë donga met sy steil wande van ongeveer vier meter die laer aan die suidekant beskerm het. Die laer sou net onbelemmerd vanuit die noorde en die weste aangeval kon word. Gevolglik sou die Voortrekkers hulle verdediging daarop kon toespits.

Pretorius het toegesien dat die laer deeglik verskans word. Die waens is een-een agter en teenaan mekaar getrek, met in elke geval die agterste wa se disselboom onder die een voor hom se agterstel.

Houtraamwerke wat veghekke genoem is, is met rieme tussen en onder die waens vasgemaak ten einde te keer dat iemand onder die waens sou kon deurkruip. Boonop is die waens stewig aan mekaar vasgebind, sodat ʼn onverskrokke vyand nie ʼn bres sou kon slaan deur ʼn wa weg te sleep nie.

Die Voortrekkers het doringtakke aan die veghekke vasgewoel om dit nog meer ondeurdringbaar te maak. Voorts het hulle beesvelle oor die wawiele en moontlik ook oor die tentseile getrek om dit te beskerm.

Aangesien die Voortrekkers verwag het dat die Zoeloes moontlik in die nag sou aanval, het hulle lanterns aan sweepstokke vasgemaak en oral in die openinge tussen die waens gehang sodat hulle nie net die aanvallers sou kon sien nie, maar ook sou kon sien om hulle gewere te laai. Die Zoeloes was van plan om die laer reeds die aand van 15 Desember aan te val, soos agterna deur hulle bevestig is. Die lanternligte het hulle egter afgeskrik, want dit het só hoog bo die grond gehang dat die Zoeloes gedink het die Voortrekkers hou dit met towerkrag in die lug.

“Nee, maar ons kan nie nou aanval nie want die wit mense het hul mahlozi’s om hulle op te pas. Ons moet wag vir die dag.”

Teen skemeraand het daar ʼn mis oor die laer toegesak. Voordat die Voortrekkers bed toe is, het hulle boekegevat en die gelofte is herhaal. Die Zoeloekrygers wat toe al naby was, kon hoor hoe die Voortrekkers tydens hulle aandgodsdiens sing. ʼn Laer wat Psalms sing.

Die laer was versterk, gereed vir die geveg. Al wat tussen die toekoms van die Groot Trek en uitwissing was, was die laer.

Die linkerhoring van die Zoeloemag bestaande uit sowat 3 000 krygers het voor dagbreek die Ncome-rivier suid van die laer oorgesteek en tot aan die westekant daarvan beweeg. Kort voor dagbreek het hulle hul aanvalsposisie ingeneem. Hulle was hulle hoogs gemotiveerd, op glorie uit en uiters goed gedissiplineerd onder bevel van hulle aanvoerders.

Kort ná dagbreek op 16 Desember het die mis skielik gelig wat ʼn wolklose, windlose hemel gelaat het.

Die Slag van Bloedrivier het kort ná dagbreek op 16 Desember losgebars toe die Zoeloes die laer aangeval het.

Die Voortrekkers was gereed vir die Zoeloes en het teruggeskiet. Sommige aanvallers het tot tien meter van die laer gevorder, maar hulle kon nie, ten spyte van onverskrokke vasberadenheid, ʼn bres in die verdediging slaan nie. ʼn Swart wolk van kruitrook het spoedig oor die noordwestelike kant van die laer gehang soos die verdedigers met voorlaaier en kanon geskiet het. Ná verskeie opeenvolgende aanvalle het die linkerhoring teruggeval.

Nadat die geveg ongeveer twee uur aan die gang was, het Pretorius opdrag gegee dat die poorte of dan hekke van die laer oopgemaak moes word sodat perderuiters die vyand kon bestorm.

Die Zoeloekrygers het hul aanval op die laer doodsveragtelik voortgesit. Die posisie van die Voortrekkerlaer het die Zoeloe-aanvoerders raadop gehad.

Die verdedigers, almal veilig agter hulle verskansings in die laer, het egter die een aanval ná die ander met voorlaaier- en kanonvuur afgeslaan.

Teen elfuur die oggend het die amabutho geheel en al gedemoraliseerd in wanorde begin terugval.

Pretorius het in daardie stadium besef dat hy deur kragdadige, maar wyse optrede die oorwinning kon behaal. Hyself het nou aan die hoof van sowat 160 perderuiters uit die laer beweeg en ʼn teenaanval gelei. Toe die Voortrekker-perderuiters al skietend uit die laer jaag, het die Zoeloekrygers soos een man op die vlug geslaan.

Pretorius is tydens die agtervolging van die vlugtende Zoeloekrygers in sy linkerhand gewond en moes na die laer terugkeer sodat sy wond verpleeg kon word

Die ander ruiters het intussen hulle teenaanval voortgesit.

In die noorde is die vlugtende Zoeloes tot teen die rivier verdryf. Hulle het in die riete probeer skuil en sommige het selfs in die seekoeigat gespring en probeer deurswem. Bloed in die seekoeigat het ʼn bloedrivier daarvan gemaak.

Teen ongeveer twaalfuur dié dag het die ruiters na die laer teruggekeer. Almal se ammunisie was teen daardie tyd op. Hulle was boonop self uitgeput.

Die oormag was 20 Zoeloes teen 1 Voortrekker – 3000 Zoeloes dood, geen ongevalle aan Voortrekkerkant nie.

Terwyl Zoeloeboodskappers die slegte tyding van hulle verpletterende nederlaag na Dingaan geneem het, het die Voortrekkers die aand ná die geveg in hulle laer ʼn dankdiens gehou.

Pretorius het almal byeengeroep om God vir die oorwinning te dank, want “die oorwinning was uit Gods hand”. Sarel Cilliers het die dankdiens gelei en die Here die eer vir die oorwinning gegee.

So het die laer van die belangrikste elemente in die storie van die Afrikaner geword. Die skarnier tot oorlewing was die laer.

Afrikaners moet ʼn monument vir die laer bou – daardie koppeling van waens aanmekaar en in die middel van die laer die afhanklikheid van God.

Dit bring ons dan by laertrek in 2015.

Laertrek word negatief aangebied. “Ag, die Afrikaners moet tog net nie weer laertrek nie,” word gesê. So asof laertrek vir ons ʼn negatiewe historiese begrip is.
As Pretorius en sy manne gesê het: “Ag, ons moet nie nou laer trek nie,” was hulle uitgewis en was dit die einde van die Groot Trek. Dit sou ʼn dramatiese effek op ons geskiedenis gehad het.

Hulle het die teenoorgestelde gedoen. Hulle het hulle laer versterk.

ʼn Laer is ʼn veilige plek, met waens aan mekaar gekoppel. Nie ʼn geslote plek nie, ʼn plek met hekke waar jy kan uitgaan, maar weer kan terugkom.

Die laer was deel van die trek. Die trek op pad na ʼn bestemming. Die laer is dus nie die doel opsigself nie, maar noodsaaklik om by die bestemming uit te kom.

Met Christus in die laer word die trek na die bestemming jou roeping. Daardie taak wat God aan jou gee op ʼn spesifieke tyd en spesifieke plek. Saam met daardie taak kom ook ʼn toekomsbelofte en jy mag dit maar glo.

Met Christus in die laer is oorwinning behaal met hoop vir nou en vir ewig. Daaruit het die Vootrekkers hoop gekry, uit dieselfde hoop het die Boere ná die Anglo-Boereoorlog opgestaan, het Afrikaners ná die armblanke-kwessie hulself opgehef en kan ons in vandag se onsekere tye hoop kry.

Die teenwoordigheid van daardie hoop is baie groter as die uitdagings van vandag.
ʼn Laer se krag lê in die koppeling aan mekaar.

Ons probleem vandag is dat ons nie meer aan mekaar gekoppel is nie, ons is swak, want ons het ʼn klomp individue geword, met jouself in die middel.

Die krag lê in die gemeenskap, gekoppel aan mekaar, die mag van eendrag.
Op 10 Oktober het die Solidariteit Beweging ʼn toekomsberaad gehou. Dit het gevolg op ʼn krisisberaad in Mei vanjaar. Die toekomsberaad die Helpmekaarplan 2020 bekend gemaak. Die plan se doel is om vir die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap ʼn toekoms te skep waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Skaars was die plan aangekondig en die pers en enkele kommentators, sommige met ʼn kopdoek, roep uit: “Die Boere trek al weer laer.”

Ons trek laer ja, want die Boere is hier om te bly, ons gaan nêrens heen nie. Ons het ons bestemming, ons roeping is hier.

Ons laers is egter deel van ons trek. Ons ontdek, skep en bou.

Ons trek en laers het gemoderniseer: Ons het wêreldklaslaers met wêreldklasprestasies. Ons neem deel buite ons laers, ons help om die wêreld om ons te ontwikkel.

Die globale wêreld is ʼn wrede wêreld, maar hoe sterker jou laer hoe meer kan jy deelneem. Laers isoleer nie, laers maak jou sterk sodat jy kan deelneem en trek na jou bestemming.

Dit bring my terug by die beskuldigings dat die Solidariteit Beweging laertrek.
In my historiese geheue koppel ek woorde soos mekaar, sterk, oorwin, trek, beweeg, nuut, plek, toekoms, geloof en gelofte aan laer.

Ek bou ʼn laer, ek bou graag ʼn laer.

Die Solidariteit Beweging se 2020 Helpmekaar-plan is om ʼn minderheid in ʼn meerderheidsomgewing te beskerm. Solidariteit beskerm mense se werk, een van die grootste uitdaging in die onstuimige politieke en ekonomiese omstandighede. Ons veg teen die staat se rasse-ideologie, lê ʼn klag by die Verenigde Nasies en veg tot in die grondwetlike hof.

AfriForum vestig veiligheidstrukture en voer veldtogte teen plaasmoorde. Op plaaslike vlak word slaggate reggemaak, pompe van damme op munisipale vlak word herstel en straatligte word reggemaak.

Ons bou ʼn nuwe Afrikaans Universiteit, Akademia, twee grade is reeds geakkrediteer en aangebied, nog drie is in die proses, ʼn nuwe kampus is gekoop en die groot trek na die nuwe kampus vind in 2016 plaas.

By Sol-Tech lei ons 1 000 ambagslui op. R34 miljoen se toerusting is aangekoop. Dit is reeds een van die drie top-kolleges in die land.

Nog ʼn vriend van die Solidariteit Beweging, Aros, lei 1 000 Afrikaanse onderwysers op ʼn Christelike grondslag per jaar op.

Die Solidariteit Helpende Hand het die afgelope jaar R24 miljoen se studiehulp aan kinders uitbetaal, is betrokke by 500 skole, lei wiskunde-onderwysers op, het 5 000 skooltassies vir behoeftige kinders uitgedeel en pak duisende projekte deur hulle landwye takke aan.

Kraal-Uitgewers gee hoë gehalte Afrikaanse boeke uit, die FAK pak kultuurprojekte aan en Maroela Media het pas Huisgenoot verbygesteek en is nou die tweede grootste Afrikaanse webwerf in Suid-Afrika.

Maroela Media verskaf radioproduksies aan 20 radiostasies met ʼn totale luistertal van meer as 1 miljoen. Pretoria FM is ook deel van die groter vriendekring van die Solidariteit Beweging.

Elke lid van Solidariteit gee R10 per maand vir die Solidariteit-boufonds waaruit talle projekte gefinansier word. ʼn Verdere R5 word gegee vir studiehulp. Baie bietjies word baie, druppels word strome, strome riviere en riviere damme.

Ons het ʼn beleggingsmaatskappy, eiendomsmaatskappy en finansiëledienstemaatskappy waaruit ons ons projekte finansier. Ons beweging het 330 000 mense wat maandeliks geld bydrae, ons kry bemakings en skenkings.
Ons totale begroting vir die volgende vyf jaar vir die plan is R3,5 miljard.

Hoe kry ons dit reg? Deur mense aan mekaar te koppel. Ons bou laers of in meer moderne taal, kragtige instellings, en dan koppel ons weer dié instellings aan mekaar, ʼn moderne Helpmekaar Beweging.

Dis mos nou lekker om laer te trek. Ons moet dit baie meer doen. Sterk laers gekoppel aan mekaar.

Pas jou laer op. ʼn Laer is nie net fisiek nie, maar veral ook geestelik. Die gebondenheid van jou geloof, maak jou vry. Koppel aan medegelowiges, die krag van die gemeenskap van die gelowiges sal jou verstom.

Versterk die laer van die gesin. Versterk die huwelik as heilige verbintenis, of koppeling, van God. Koppel die waens in jou gesin, maak dit sterk. Ons sien te veel van die afwesige pa en die afwesige ma. Daar is elke dag ʼn aanslag op jou gesin. Laai mekaar se gewere, vertroos mekaar, versterk mekaar en doen in die aand huisgodsdiens.

Maak die laer van jou gemeenskap sterk. Help jou gemeenskap om aan mekaar te koppel. Wees betrokke by jou skool, by jou kerk, ry patrollie, koop ʼn Afrikaanse boek en CD, gee geld vir die plaaslike hulporganisasies, sluit aan by dié organisasies.
In ʼn besige tyd het ons verskillende laers waarbinne ons leef. Taal, kultuur, werk, kerk, woongebied en vele meer. Elke laer het sy eie unieke doel, maar almal het een ding gemeen, en dit is om jou te beskerm.

Dit is weer tyd om laer te trek. Ons moet ons waens koppel aan mekaar. Die laer was dit wat tussen ons en uitwissing gestaan het.

As die toekoms ons bedreig, trek laer.

Nie om te isoleer nie, maar om te verstrek sodat ons juis kan deelneem. Nie as ʼn doel opsigself nie, maar as ʼn instrument om te trek na ons eindbestemming. Die opdrag of roeping vir vandag en uiteindelik die trek na bo.

In die laaste slag in Openbaring word beskryf hoe Satan sy manskappe versamel vir die oorlog, hulle getal was soos die sand van die see. Hulle het die heiliges omsingel, maar die heiliges – hulle was in ʼn laer. Binne die laer van gelowiges het hulle hul beskerming gevind. Dié wat buite laer was, is deur vuur uit die hemel verteer. So is die finale slag gelewer en is die duiwel in die poel van vuur en swael gewerp.

Gelowiges in ʼn laer en met Christus die onoorwinlike. Dit is die ware laer waaruit alle ander laers hul krag moet kry.

Kom ons bou ons laers, maak dit sterk, met aandgodsdiens in die aand en met Christus in die middel van die laer.

Ons sien dalk nou die oormag wat op ons afstorm, maar die uitkoms en uiteindelike oorwinning sal groter wees as wat enigeen van ons nou kan voorsien

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Puik gestel Dirk, met n vars perspektief op laertrek. Dankie.

TTh ·

Baie goed. Ek hoop die Boere (Afrikaners) kry uiteindelik ‘n nuwe ‘Andries Pretorius’ en ‘n onbesoedelde ‘ Sarel Cilliers’ en ‘n vrye onafhanlike, soewereine NUWE republiek of boere federasie.

Thuunda ·

Kon dit nie beter gestel het nie. Laertrek is die antwoord, gebou op ons geloof. Ek lag te lekker vir die kopdoek en ander wat dink dis ‘n slegte ding om laer te trek, hulle is gewoonlik die eerstes wat binne in die laer wil kom wanneer die gort gaar is.

Disselboom ·

Die optrede en oorwegings van Hendrik Potgieter kry min aandag in vergelyking met die Retief-Pretoriusgeskiedenis. Daar word baie klem gelê – met rede, vanweë die gelofte – op die Natalse gebeure, maar die historiese toepassings en lesse kan dalk meer omvattend en waardevol word met aandag ook aan Potgieter, sy denkwyses, optredes en hoe die geskiedenis in die Vrystaat en Transvaal verloop het.

Sarel Strydom ·

E het altyd geleer dat as jy laertrek, as familie, as volk ens, beteken dit poging tot preservering wat vir die groep belangrik is. Ons as Afrikaners kan laertrek, maar soos jy dit stel met Christus, en nie soos ek gelees het van mense wat net praat van oorlog en geweld nie. In so laer sal Christus nie teenwoordig wees nie.

fdb ·

Baie,baie dankie Dirk, dis so wonderlik, onder leiding van die Heilige Gees, gestel. Dankie vir elke wedergebore kind van God, saam sal ons ‘n laer vorm. Die Here sal jou seën soos jy die leiding neem.

Elize ·

Ek woon in Bloemfontein. Droogte knak een na die ander Boer. Facebook blad “Boere in Nood” kry voer en versprei dit. Tyd om laer te trek om boere van ondergang te red. Hoe kan Solidariteit help?

Marius ·

Ek waardeer al die mooi dinge wat gesê word oor laer trek. Maar ek verkies om laer te trek saam met gelowiges van alle kultuur en populasiegroepe. Ek het ‘n probleem met die subtiele manier waarop geloof amper as iets eksklusiefs Afrikaner gemaak word. Ja, baie mense gaan laer trek saam met die subtiele verkoop van Afrikanerwees as iets goddeliks. Dit laat hulle veilg voel. Dit is nie en dit sal nooit iets goddeliks wees nie. Die evangelie was en is vir almal van alle kulture en nasies. Ons eie geskiedenis is een van genade. Daar was ‘n tyd toe ons voorouers ook afgode gedien het. Gaan kyk maar na die vroeë Europese geskiedenis. Die evangelie het ons vrygemaak van dit. Dit het ons geleer van werk en inbors en integriteit. Ons het dit nie verdien omdat ons wonderlik was nie. Dan kan ons maar net sowel sê Jesus se sterwe aan die kruis was onnodig. En dis my probleem met Solidariteit en die ander soortgelyke bewegings se fokus. As ons werklik die Christelike geloof as kosbaar sien, dan sal daar meer Hudson Taylors en George Muellers wees. Ons sal werklik ons omgee met mense van alle nasies deel. Suid Afrikaners van ander rasse sal ons vrygewigheid en warmte teenoor die armstes sien en dit sal harte en opinies verander. Die ANC is pateties in omtrent alles wat hulle doen, dit is ‘n voldonge feit. Maar ons kan nie onsself vervreem deur laer te trek nie. Afrikaners lyk dieselfde as gewone sekulêre westerlinge. Dit gaan oor die behoud van ons lewenstandaard en werksgeleenthede. Dis die eintlike rede vir organisasies soos dié. As Dirk Hermann sy saak wil bevorder op die manier waarop hy dit wil doen is hy meer as welkom om dit te doen, maar hou die Christelike geloof uit dit uit. Dis onvanpas. Ons behoort beter te weet as gelowiges. God het die die Afrikaner of enige ander bevolkingsgroep nodig om die Christelike geloof te preserveer nie. Hy het dit gegee en Hy sal elke belofte gemaak in volvoering bring. Ek is trots om ‘n Afrikaner te wees en ek wil dit elke dag wys vir die anderstaliges en anderskleuriges met wie ek te dien kry. Ek wil laer trek saam met gelowiges van alle bevolkingsgroepe wat die boosheid van die wêreld wil beveg met geloof en liefde in Hom wat ons redder is en nie in burgerlike of politieke organisasies nie. As ons dit werklik is sal ons altyd voel soos vreemdelinge, want God sê vir ons in sy woord ons is vreemdelinge en bywoners op die aarde as ons werklik Sy kinders is.

Adriaan ·

Marius, jy laat dit klink asof liefde vir die eie in konflik is met Christenskap. Dis natuurlik onwaar. Hoe ons die “eie” definieer is bepalend vir hoe ons liefhê vir jouself omskryf. Verskillende volke is nie strydig met Christenskap nie, hoe ons die geloof uitleef bepaal wel die kwaliteit van ons geloof. Wat jy sê is dus waar maar onvolledig. Daar het intussen ‘ n paar baie interessante artikels verskyn oor vroeë Christenskap en identiteit, spesifiek een oor etniese identiteit. Google dit gerus, baie insiggewend gewees. In wese kan ek met jou saamstem, maar ek sal dit ietwat anders wou nuanseer.

Marius ·

Dankie vir jou insig Adriaan. Ek was vir ‘n ruk in ‘n Engelse kerk met ‘n sterk gereformeerde inslag. Dit was vir my wonderlik om te ervaar hoe ware gelowiges van alle kulture en rasse in liefde en absolute afganklikheid teenoor God hom dien. Ek het saam gesit in gebedsgroepe waar daar deur almal smekend gevra word dat God sal ingryp in die regering en die harte van ons land se leiers na Hom sal draai. Dis wat ek bedoel met laer trek saam met ander gelowiges van ander kultuurgroepe. Ek hoef nie my Afrikanerskap in te boet deur saam God te dien nie. Ons Afrikaners kry nie genoeg te doene met ander gelowiges wat anders lyk as ons nie, en dit het die risiko om ‘n ons – en – hulle sentiment aan te help. Ons het intussen terug geskuif na ‘n Afrikaanse gereformeerde kerk wat ook Engelse dienste op Sondae het, want ek is lief vir my taal en ek glo my kinders moet God se woord in hulle hartstaal hoor. Maar ek skerp dit elke dag by hulle in dat ons eendag saam om God se troon Hom sal verheerlik. Dat hulle elke dag bid vir en probeer help om die omstandighede van alle mense te verbeter. Hulle moet medelye hê vir alle kultuurgroepe. Ek is net bekommerd dat ander, ja ook ander ware gelowiges van ander kulture die laer trek ding sien as ons gelowige Afrikaners vs. die ongelowige oormag. My kinders moét leer dat integriteid nie ‘n velkleur het nie al lyk dit of meeste korrupsie ‘n ander velkeur het. Ek kry genoeg te doen met korrupte Afrikaners ook. Elke keer as mense so lekker die swart verkeersbeampte omkoop maak mense hulle net so skuldig aan korrupsie, en ek hoor gereëld hoe Afrikaners met smaak vertel hoe maklik dit is. Dit is presies dit wat “ander” wantrouig kan maak oor die outentiekheid van ons geloof. Ek is van mening dat Suid-Afrika regtig sterk en insigvolle leiers nodig het, en Dirk Hermann is nie so persoon nie nie. Dis ‘n kortsigtige artikel met baie leemtes vol emosionele Afrikaner retoriek gemeng met geloof. Dis volgens my gevaarlik. Daarom sê ek weereens dat ons moet waak teen geloof en die bevordering van ons saak deur dit ‘n geloofskwessie te maak. Maak dit ‘n geloofskwessie vir alle mense van alle bevolkingsgroepe, sonder om jou unieke Afrikaner-identiteit in te boet. Dit sal soms buite ons gemaksone voel, maar die beloning is wonderlik. Dis die leiding wat ons nou nodig het.

Francois ·

Hi Marius.

Ek dink Dr. Dirk het n uitstekende artikel geskryf. Dit wat hy se is feitlik korrek. Ek stem ook saam met jou en hoe jy dink oor ander gelowiges van ander rasse. Waar jy nie korrek is nie is om aan te neem dat daar baie ander gelowiges is van ander rasse. Omrede jou wereld uit sekere elemente bestaan kan jy nie aanvaar dat dit die norm is daarbuite nie. Ek het daagliks met baie mense van verskillende rasse te doen en nie een van daardie volkere se dat die Here hulle volk se God is nie, ook nie dat hulle erns maak met God nie. As n Afrikaner beskou ek nie myself heilig nie, ook nie dat my volk n Heilige uitverkore volk is nie, daardie retoriek kom van die ver-regse Israel Visie geloof. Ook nie elke wit afrikaans sprekende beskou ek as n Afrikaner nie. Tog is dit die enigste ware eienskap waardeur Afrikaners hulself definieer, dat hulle kinders is van die Here Jesus. As Afrikaners nie meer Christene wil wees nie, wil ek nie meer n afrikaner wees nie. Gehoorsaamheid aan God is nommer 1. God het verskillende volkere geskep en elkeen is uniek, en dit wil voorkom dat daardie uniekheid gehandhaaf word in die hiernamaals. Openbaring verwys na volke en nasies in die nuwe stad Jerusalem??? Mens moet oppas om alles deurmekaar te wil gooi, die wereld wys duidelik dat dit konflik net vermeerder, asook die kommunistiese/liberalistiese god se agenda dien. As mens in jou familie, gemeente, volk jou lig laat skyn sal dit ander mense aantrek en nie wegstoot nie. Dis eenvoudig, ek wil nie God in engels dien op snaakse manier rondspring en te kere gaan nie. Netso kan ek nie aanvaar dat ander mense God moet aanbid in afrikaans in my kultuur nie. Tog beteken dit nie as gelowiges kan ons nie mekaar gereeld ontmoet en dan saam aanbid nie. Gaan bestudeer die werking en geloof van Afrikane in Afrika. Hulle geloof is so diep soos n lagie verf en die Woord word vermeng tradisionele godsdienste, daarom kan Afrika nog nie opstaan uit die modder nie. Evangelisasie is n beroep waarin jy geroep moet wees en ons gewone christene het nie altyd die luukse wat evangeliste het nie. Daaroor kan ons ook n lang debat voer. Vraag is, as ons voorouers nie laer getrek het nie en God se aangesig gesoek het nie, was ons nog hier vandag? Hoekom sal dit vandag nie meer geld nie? Hoekom mag ek as deel van ‘n volk nie God aanbid nie? Hoekom het ander mense ‘n probleem daarmee, en lê die probleem dan nie eintlik by hulle nie?

Pieta ·

Hoekom, volgens jou, mag Afrikaners wat nie Christene is, nie deel van die Afrikanervolk wees nie?
Vanwaar het jy en/of Christene die reg verkry om te besluit wie Afrikaners is, of mag wees?
Afrikaners wat nie Christene is nie en uit ‘n groterwordende aantal mense bestaan het nog nooit jou en ander Christene se reg om hulself as Afrikaners te beskou, bevraagteken nie, waar kry jy die reg vandaan?
Hopelik is die mense wat ander Afrikaners om allerlei kleinlike redes wil verdoem as nie-Afrikaners ‘n al kleinerwordende groepie.

Alf Taylor ·

Dit is werklik jammer hoe min talle mense begryp van die Christen geloof. Geloof in en navolging van Jesus Christus is ‘n persoonlike saalk van geloof en navolging … dit gaan nie oor die geloof van ‘n volk, nasie of ras nie. In die Hemel gaan daar nie ‘n Afrikaner-Boere buurt wees nie, eksklusief “gereformeerd”, blank en Afrikaans. Dit is juis die soort oordrewe nasionalistiese begrippe wat geloof met staat en nasionaliteit vermeng, wat baie moeilikheid maak en deel het aan die gemors waarin ons en ons nageslagte toenemend vasgevang is. Daar is baie “volke” wat meer opreg en in groter meerderheid die Here Jesus dien as ons klomp “Afrikaners”. Soos ek dit sien het die meerderheid van die Afrikanervolk moreel en geestelik verval: die name van die meeste is te vinde op die lidmaatskap lyste van een of ander kerk, maar hulle is gewoonlik net daar vir troues of begrafnisse. Dronkenskap, vulgariteit, vuiltaal, losbandigheid, oneerlikheid en liefdeloosheid is toenemend aan die orde van die dag … die volk is vol sonde en betaal die prys daarvoor volgens verdienste. Die loon van die sonde is die dood, en soos dit nou gaan met die volk marseer ons vinniger die afgrond af! Ek het ‘n hart vir ander Afrikaner-Boere: aan moederskant was my voorouers juis deel van daardie einste trekkers wie deelgeneem het aan die slag van Bloedrivier. Ek vier nie “geloftedag” nie. My identiteit is eerstens in Jesus Christus, en nie in Afrikaner nasionalisme nie. In Christus het “die ou dinge verbygegaan, en kyk, alles het nuut geword!” Watter hoop is daar vir die behoud van dit wat goed en edel is onder Afrikaners? Om in rustigheid en stilte met mekaar saam te werk en gemeenskappe te ontwikkel soos Orania, sonder politieke ideologie of klem op ras. Hou op praat en raas, en rol die moue op en bou!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.