Die kuns om Nuwejaarsvoornemens neer te skryf

Deur Monja Strydom 

Foto: Pixabay

ʼn Gees van opgewondenheid heers op die strand op Oujaarsaand. Tussen vuurwerke, yskoue Duitse bier, soene en drukke deur wens ons mekaar net die beste toe. Net die aller-allerbeste vir 2020!

“Wat beplan Tannie vir 2020?” vra ek vir tannie Gerda.

“Nee, jong, ek stel nie sulke goed op nie.”

Hierdie woorde bly aan my knaag. Hoekom nie? Sy het haar eie kliniese maatskaplike praktyk. Sy moet tog die waarde van doelwitte en voornemens beter as ek verstaan?

Later gaan slaap die ouer mense asook my jongste neef Francois, wat ontsteld is omdat niemand saam met hom hotel toe wil gaan nie. Net ʼn handjievol bittereinders bly oor.

Nuwejaarsvoornemens móét opgestel word, dink ek. Op ʼn ou vel papier skryf ek elke wakker familielid se naam neer.

“Wat beplan julle vir hierdie jaar?” vra ek hoopvol. Die neefs maak grappies en stel vreemdhede voor. Ek dreig om namens hulle voornemens op te stel. Uiteindelik kry ek drie sinvolle voornemens uit elke neef uit. Francois, wat vroeg gaan slaap het, moet ook voornemens hê, besluit ons. Ons dink lank aan ideale voornemens vir hom, want ons moet iets kies wat hy sal aanvaar en uitvoer.

Uiteindelik word almal se voornemens met ʼn “baie amptelike” gebrande vonkelwynkurkprop gestempel.

Aan die ontbyttafel deel ons die voornemens met die familie. Francois aanvaar sy voornemens en voeg selfs twee by: om na die Star War-rolprente te kyk en ʼn staptog te doen.

Dagboek

Later koop ek ʼn rooi dagboek. Dit het ʼn tradisie geraak om ʼn dagboek te koop – waar ek ook al myself oor die Nuwejaar bevind. Ek moes al glad ʼn jaar lank met ʼn Duitse dagboek rondloop weens dié besluit. Dit is dan die eerste reël van voornemens opstel: Koop ʼn dagboek.

Ek maak groot erns met my Nuwejaarsvoornemens. Daarom skryf ek dit nie dadelik neer nie. Die nuwe jaar bring nuwe inspirasie en geesdrif en daarmee saam nuwe idees. Daarom pen ek meestal eers my voornemens neer wanneer my werkjaar begin.

Tannie Gerda vra wat ek beplan vir 2020 siende dat ek met soveel ywer vir die neefs voornemens opgestel het.

“Ek kan tannie waarborg daar is regtig baie, maar ek het dit nog nie geverbaliseer nie,” probeer ek haar oortuig.

Moenie oorhaastig wees nie

ʼn Hele paar dagboekblaaie sal wel binnekort vol voornemens geskryf wees, maar my voornemens is nie voornemens voor ek dit nie behoorlik oordink en verwoord het nie. Die volgende reël is dus: Moenie voornemens oorhaastig opstel nie!

Dink en oordink en herbedink jou voornemens. Dit is die riglyn waarvolgens jy jou jaar beplan. Maak erns daarmee en as jy doodseker is oor jou voornemens, skryf dit in jou dagboek neer, met blokkies agter die sin sodat dit afgemerk kan word soos jy dit suksesvol afhandel.

Moet jy ou voornemens na nuwe jaar oordra?

Nie alle voornemens het aan die einde van die jaar regmerkies nie. ʼn Mens se lewe verloop nie altyd 100% soos jy dit beplan nie. Daarom maak ek voorsiening hiervoor.

Alle voornemens wat in die vorige jaar nie nagekom is nie, word in rooi by die huidige jaar se voornemens geskryf. Sodoende kan jy herinner word aan dit waaraan jy hierdie jaar harder moet werk, die dinge wat hierdie jaar spesiale aandag moet kry.

Wanneer ʼn voorneme vir ʼn tweede keer oorgedra word en daar nie meer sin daarin is om dit na te kom nie, kan jy herbesin of dit nodig is om dit nog te behou. Dit behoort egter ʼn ernstige besluit te wees. Dink daaraan as iets soortgelyk aan ʼn direksiebesluit om ʼn debiteur se skuld af te skryf: daar moet ernstig oor besin word, maar as dit nodig is en meer sin maak om dit te verwyder, maak so.

Een voorneme is beter as geen

“Ons beplan wel iets vir 2020,” bieg tannie Gerda. “Ons beplan ʼn Botswana-vakansie – ek hoop dit werk uit.”

Sy het dus tog een voorneme vir die jaar! Dalk is sy net negatief teenoor die sluit-by- ʼn-gim-aan-tipe voornemens wat nooit realiseer nie.

Ek het myself in 2017 voorgeneem om één keer te gim. Werklik! Ek het dus op Oujaarsdag 2017 vir die eerste keer ooit gegim. Dit was uiters bevredigend om daardie merkie agter die voorneme te maak! (Nie al my voornemens is darem so eenvoudig nie!)

Wees realisties

Dit bring my by nog ʼn belangrike punt: voornemens moet bereikbaar wees. Skryf liewer iets wat jy amper vir seker sal regkry, as iets waarmee jy gaan sukkel. Veral vir ʼn begin. Sodra jy voel hoe lekker dit is om iets af te merk, kry jy vertroue in die proses en kan jy moeiliker voornemens op jou lys plaas.

Die SMART-vereiste

Alle voornemens moet aan die vereistes van die Engelse akroniem “SMART” voldoen.

S – Specific/Spesifiek

M – Measurable/Meetbaar

A – Achievable/Bereikbaar

R – Realistic/Realisties

T – Timely/Tydsgebonde

“Ek wil aan twee (spesifiek, meetbaar) 10 km-wedlope (meetbaar, bereikbaar) deelneem voor Desember 2020 (tydsgebonde).” Dit is realisties en bereikbaar. Twee marathons sou dalk minder realisties en minder bereikbaar gewees het.

“Wat is jou voorneme vir hierdie jaar?” vra ek ʼn vriend.

“Ek gaan my dieet verander (minder gemorskos & koolhidrate) en meer gim om hierdie magie af te skud sodat ek nie meer so ongemaklik voel nie” sê hy.

Nee! skree alles in my. Nee, nee, nee! Dit is die tipiese voorneme wat nie nagekom word nie. Hoe op aarde gaan ons kan meet of jy ongemaklik voel? Hoe op aarde gaan ons weet of jy minder koolhidrate ingeneem het? Buitendien: minder koolhidrate as wanneer? Verlede jaar? Jou kindertyd?

Ek stel voor ons verander dit na iets soos:

  • Eet slegs vier keer per maand wegneemkos.
  • Gim minstens ses keer per maand.
  • Verlaag maagomtrek na 92 cm

Ek het spesifiek “vier keer per maand” eerder as “een keer per week” gesê. Dit kom basies op dieselfde neer, maar eersgenoemde is meer bereikbaar. As jy byvoorbeeld in die eerste week droogmaak en twee wegneemetes eet, gaan jy nooit die voorreg hê om die voorneme suksesvol af te handel nie. As jy jou egter voorneem om net vier keer per maand te sondig kan jy nog later in die maand “opmaak” selfs al het jy sleg weggespring.

Moet almal van jou voornemens weet?

Kies wys met wie jy jou voornemens deel. Ek deel meeste van my voornemens slegs met my dierbare langafstandvriendin. Ons skakel mekaar elke Sondag en ruil voornemens vir die week uit. Soms iets eenvoudig, soos lees een hoofstuk van my boek.

Korttermynvoornemens vir langtermynsukses

Hierdie weekvoornemens speel ʼn groot rol daarin om jaarvoornemens suksesvol te voltooi. ʼn Verdere (onverwagte) gevolg hiervan is dat ons vriendskap baie versterk het omdat ons nou meer bewus is van mekaar se uitdagings en meer op hoogte is van wat in beide se lewens aangaan.

Oppas vir valse bevrediging

Om jou voornemens voortydig te deel, mag veroorsaak dat dit minder waarskynlik is dat jy dit sal nakom omdat jy ʼn valse bevrediging ervaar as jy dit deel. Minder persoonlike voornemens glo ek moet egter gedeel word. Ons weet byvoorbeeld nou dat Francois ʼn staptog wil onderneem en hy sal dus vir seker saamgenooi word as ek ʼn staptog reël.

Wees selektief

Dit is baie belangrik om nie alles waaraan jy kan dink, op jou lys te plaas nie. Onthou, jy kan steeds dinge doen wat nie op jou lys is nie. Plaas eerder minder op jou lys en sorg dat jy dit nakom.

Kategoriseer

Ek deel my voornemens in drie kategorieë op:

  • Voornemens wat voldoen aan die SMART-vereistes;
  • Kwaliteite – alles waaraan ek wil werk wat nie meetbaar is nie, byvoorbeeld: probeer ʼn beter oggendroetine vestig of handel slegte take so spoedig moontlik af. Hierdie items is nie meetbaar nie en kan nie voltooi word nie. Ek skryf dit eerder neer as ʼn herinnering om daaraan aandag te gee.
  • ʼn Opsomming van ʼn paar sinne van beide bogenoemde: amper soos ʼn visie vir die jaar. Byvoorbeeld: “Ontwikkel myself tot ʼn bedagsame, goed gebalanseerde vrou wat alles wat ek aanpak tot eer van God aanpak en altyd gereed is vir dit wat oor my pad kom omdat ek genoegsaam en betyds beplan.”

Dus, om op te som:

  • Koop ʼn dagboek;
  • Moenie voornemens oorhaastig opstel nie;
  • Skryf elke voorneme in jou dagboek en kyk gereeld daarna;
  • Skryf voornemens wat nie die vorige jaar nagekom is nie, in rooi oor.
  • Voornemens mag eers ná ernstige besinning van die lys verwyder word;
  • Kies wys met wie jy voornemens deel en onthou dat weekvoornemens jou jaarvoornemens help bereik;
  • Voornemens moet bereikbaar wees (eerder belaglik maklik as onbereikbaar). Verwoord jou voornemens sodat dit maklik bereik kan word. (Sien “per maand” vs. “per week”-bespreking bo);
  • Voornemens moet aan die “SMART” vereistes voldoen;
  • Plaas eerder minder voornemens op die lys – jy kan steeds uitdagings wat nie daarop is nie, aanpak; en
  • Deel jou voornemens in die drie afdelings soos hierbo bespreek.

“Help dit?” vra jy. Ek het presies om 23:51 op 31 Desember 2019 die laaste van vyf Afrikaanse boeke wat ek in 2019 wou lees, klaar gelees. Ek het twee podiumposisies by wedlope bereik. Ek het klere gemaak, joernaal geskryf, meer water gedrink en deur alles my verhouding met ʼn spesiale vriendin versterk.

Ek belowe jou dit help.

Voorspoedige 2020!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.