Dinsdagaand net na 20:00 sit ek in die Musikpavillon Grainau aan die voet van die Duitse Alpe. Al is dit middel-somer is dit yskoud met die sneeubedekte Zugspitz, die hoogste bergpiek in Duitsland, wat net-net agter die verhoog van die Musikpavillon uitsteek. Op die verhoog is die Musikkapelle van Grainau, ʼn manjifieke klein dorpse orkes in tradisionele klere besig om die een na die ander uitvoering van Duitse, maar ook Oostenrykse en selfs Italiaanse komponiste te gee.
Later in die week volg die Heimatabend by die Musikpavillon – ʼn aand gevul met nog musiek, ook tradisionele Duitse orkeste en sangers, kuns, tradisionele geregte en ʼn oorvloed van kultuurgoedere wat met genot uitgeleef en geniet word. Hier in die Beierse platteland is kultuur, tradisie en geskiedenis, en die herdenking daarvan nie spesiale gebeurtenisse nie, maar eerder ʼn konstante leefstyl.
Die kerkklok se gelui elke kwartier, houtsneewerk as versiering, maar ook in gebruiksitems, vars broodbolletjies vir ontbyt, jong kinders wat almal musiekinstrumente kan speel, melk van ʼn nabye plaas en tradisionele klere is hoe ek die Duitse platteland die afgelope paar jaar leer ken het.
My bejaarde gasvrou by die Gastehaus Am Kürpark vertel tydens ontbyt dat sy nog nooit konfyt in ʼn winkel gekoop het nie. Die lieflike suurkersie-, appelkoos- en braamkonfyte wat soggens deur haar voorgesit word, kook sy self van vrugte uit haar tuin of van elders in die dorp. Die jogurt en salami maak sy self. Kaas en eiers word by ʼn boer aangekoop. Voor ontbyt sien ek hoe die Duitsers by die ander twee tafels in die Frühstücks Zimmer (ontbytkamer) ook hulle hoofde buig om te bid vir die kos. In die ontbytsale van kultuurlose restaurante in Parys, Amsterdam en Wene kon ek aanvoel hoe gaste jou vreemd aankyk as jy voor ete jou hoof buig om die Here te dank vir jou kos.
Die afgelope twintig dae het ek saam met kollegas deur agt lande in Europa gereis. Ek was in groter stede soos Zürich, Amsterdam, Brussel, Parys, Boedapest en Wene. Op ander besoeke het ek al telkemale Frankfurt, Berlyn, München, Milan, Rotterdam, Den Haag en ander groter Europese stede besoek.
In byna elke Europese stad is kultuur aan die uitsterf of reeds grootliks dood. Ouer mense gaan kyk nog staatsgefinansierde simfoniekonserte, maar die hart van ware kultuur as ’n sentrale element van mense se daaglikse lewe is deur die kosmopolitaanse, multikulturele stede vervang.
In Amsterdam kan baie mense wat in winkels en restaurante werk nie eens Nederlands praat of verstaan nie. Al wat nog eg Nederlands is, is dit wat oud is. Alles nuut is kultuurrelativisties. Amsterdam het by uitstek die stad van die reënboogvlag geword. Nie meer omdat dit oor verdraagsaamheid gaan nie, maar omdat die reënboogvlag, wat die hele stad vol wapper, nou die versinnebeelding van ʼn nuwe geloof en kultuur is. Dit verteenwoordig die era ná identiteit. Dit verteenwoordig ʼn era waarin daar in Europese stede, soms erg dramaties, finaal afskeid geneem word van geskiedenis, tradisies, kultuur en selfs taal.
Dieselfde geld in byna elke ander Europese stad, veral in Wes-Europa. ʼn Duitse vriend van my, wat vir meer as tien jaar onder andere in Suid-Amerika en Suid-Afrika gewoon het, vertel dat hy met sy terugkeer na Berlyn net meer as ʼn jaar gelede nie meer die stad kon herken nie. Op straat en in kantore hoor jy oral Engels. Mense van regoor die wêreld woon vandag in Berlyn. Om hierdie multikulturele projek te laat slaag moet ou Duitse tradisies noodgedwonge verdwyn.
My kollegas wat saamgereis het, en in besonder dié vir wie dit ʼn eerste besoek was, was verstom oor die fisiese, maar veral kulturele verval in Europese stede. Wat maak Parys nog ʼn Franse stad? Het Brussel nog enigiets kultureel wat minstens as ʼn konstante beskou kan word?
Op ʼn vroegoggend staptog deur Wene vertel ons toergids ons van die Klassieke periode van die middel en laat 1700’s. Wolfgang Amadeus Mozart het na Wene getrek waar hy sy groot musiekstukke gekomponeer het. Dit was ʼn tyd van kulturele rykdom met argitekte, sangers, komponiste, skilders en skrywers wat van Wene ʼn kulturele Renaissance-stad gemaak het. Sonder dat sy dit eers agterkom probeer ons toergids ons egter op elke denkbare manier oortuig dat Wene vandag die stad van immigrante, verdraagsaamheid en ʼn “nuwe kosmopolitaanse” samehang is. Wat sy eintlik beskryf is dat die nuwe in Wene grootliks ʼn breuk met die oue noodsaak en daarmee saam ʼn enorme verlies aan identiteit en kultuur verteenwoordig. Ook in Wene het elke openbare gebou, selfs die polisievoertuie en ambulanse, die reënboogvlag op, as simbool van die nuwe Westerse post-kulturele religie.
In Boedapest word daar stroomop geswem. Ook dié stad het ʼn eeue oue tradisie as kulturele Renaissance-stad waar kunstenaars, komponiste, beeldhouers en argitekte dikwels Westerse identiteit beskerm en opnuut laat voortleef het. Die huidige Hongaarse regering is besig met die grootste sodanige Renaissance-projek in ʼn eeu, met die herbou van die Kasteel-distrik wat tydens die Tweede Wêreldoorlog grootliks vernietig is. Die Orban-regering in Hongarye beskryf hierdie projek as die “Renaissance van die Hongaarse nasionale identiteit in die een-en-twintigste eeu en met die doel om Hongarye se argitektoniese rykdom van erfenis wat 750 jaar oud is te laat herleef.”
Terwyl hierdie ʼn pragprojek is, is Boedapest, wel veel stadiger as Parys, Amsterdam, Brussel, Berlyn of Wene wat almal reeds deur links-progressiewe kosmopolitaanse magte oorgeneem is, ook besig om die invloed van die post-Westerse beweging aan te voel. Vier jaar gelede is Boedapest se eerste liberaal-progressiewe burgemeester verkies. Hierdie burgemeester is sterk gekant teen enige kulturele Renaissance en wil Boedapest eerder aansluit by ander Wes-Europese stede in ʼn era van massa-immigrasie, die reënboogreligie, oikofobie (oftewel ʼn haat vir die eie historiese identiteit) en die nuwe globale, stedelike en Engelse kosmopolitaanse kultuurloosheid.
In Hongarye, soos in elke Europese land, leef kultuur, tradisies en ʼn gesonde band met jou eie identiteitsgeskiedenis op die platteland voort. Terwyl die onderskeid tussen Boedapest en die Hongaarse platteland nog nie so groot is nie, is die onderskeid in Duitsland tussen Berlyn en die Duitse platteland, in Frankryk tussen Parys en die Franse platteland en in Nederland tussen die Nederlandse stede en die platteland net besig om groter en groter te word.
Terwyl hierdie breuk tussen stede en die platteland op die Europese kontinent plaasvind, is dieselfde besig om in Brittanje, die VSA, Kanada en selfs Australië en Nieu-Seeland te gebeur. Dit is egter van die grootste belang in Europa omdat die stede in Europa histories die bron van identiteit en kultuur in die Westerse beskawing was. Die Renaissance het elke keer in die groot Europese stede posgevat. So ʼn nuwe Renaissance lyk nou onmoontlik. Bloot die omvang van immigrantebevolkings uit die Midde-Ooste, Afrika en selfs Asië in elke groot Wes-Europese stad beteken dat die kantelpunt waar herlewing nog moontlik was, reeds verbygesteek is.
Daarom is die kultuurrykdom van die Europese platteland van enorme belang. Die aanleer van liedjies van geslag tot geslag, ʼn moeder wat haar dogter die trekklavier leer speel en die resep van suurkersiekonfyt en broodbolletjies (bretzen) aan haar oordra, ʼn pa wat sy seun die gawe van houtwerk en om met vleis te werk aanleer, vind nog regoor Europa in die platteland plaas.
In ʼn era waar boeke oor die agteruitgang van die Westerse beskawing geskryf word en sommige mense selfs al aan die grafskrif van Westerse identiteite werk, moet ʼn geloof in behoud en herlewing nie verloor word nie. Die groot Britse filosoof en konserwatiewe Christelike skrywer Roger Scruton het sterk hierby aangesluit deurdat hy die laaste twee dekades van sy lewe (Scruton is in 2020 oorlede) op die Britse platteland deurgebring het, waar hy vir die behoud van die goeie op die platteland gestry het. Hy het Sondae in sy kerk die orrel gespeel terwyl hy met gemeenskappe gewerk het aan die bewaring van die Britse plattelandse argitektuur, kos, gewoontes en tradisies.
Die Amerikaanse skrywer Wendell Berry sluit sterk hierby aan met talle boeke wat hy vanaf sy plaas in die dieplandelike Kentucky in die VSA geskryf het en waar hy vandag op 89-jarige leeftyd steeds woon. Nog ʼn Amerikaanse skrywer Rod Dreher lewer reeds vir jare ʼn pleidooi vir die ontwikkeling van wat hy die Benediktus-opsie noem, waarvolgens nuwe enklawes van Christelike geloof, kultuur en tradisies in die platteland van die VSA en Europa ontwikkel moet word.
Dit is hier waar die vraagstukke oor die voortbestaan van die Westerse kultuuridentiteite in Europa en die VSA na Afrikaners in Suid-Afrika deurgetrek kan word. Die verlies van Suid-Afrikaanse stede as sentrums van kultuur, tradisie en die behoud van ons geskiedenis en identiteit is, miskien om ander redes, ook enorm.
Juis daarom sal die platteland ʼn belangrike rol speel in die toekoms van ons kultuurbehoud. Die platteland, soos in Europa, verwys natuurlik nie net na plase en gehuggies nie, maar na ware sentrums van kultuur, selfs nuwe klein landelike stede wat klein genoeg is om die magte van kultuurvernietiging weg te hou, maar groot genoeg is om ware sentrums van kultuur en tradisie, van akademie en kuns, van argitektuur en musiek te wees. Dit is daarom belangrik dat ons besef dat die toekoms van die Afrikanerkultuur nie in Kaapstad, Johannesburg of Pretoria sal wees nie, maar eerder in die konsentrasie van ons mense in plattelandse sentrums waar kultuur, geskiedenis en tradisies bewaar, behou, oorgedra, ontwikkel en uitgeleef kan word.
Die eeue oue tradisie van die Westerse stad as sentrum vir kultuuroordrag en -skepping is besig om tot ʼn einde te kom. Die toekoms lê in klein landelike stede met bevolkings van minder as 20 000 mense, lewenskragtige dorpe en landbougemeenskappe wat weer ʼn kollektiewe kultuurband smee en dit deur nuwe kulturele-, akademiese-, geloofs- en ander instellings in hulle dorpe en landelike klein stede uitleef. Dit is wat tans in talle Europese lande op die platteland gebeur en dit is wat Afrikaners ook deur konsentrasie in sommige dele van die land moet en kán regkry.
Die laaste paragraaf is presies wat ek nog altyd propageer in ‘n onafhanklike Wes Kaap. Die Kaap metro sal ongelukkig sy kultuur verloor net soos Pretoria en al die ander metros wat vinnig sink weens sosiale druk. Dis net plekke waar mense werk en woon, maar nie leef nie. Onafhanklike Afrikaanse opvoedkundige instellings moet op die platteland gevestig word.
Die sg onafhanklike Weskaap sal ontaard in presies dit wat julle wil verhoed. Diegene wat daar bly sal beheer wil behou. Niks van die Afrikaner sal behoue bly nie. Die taal sal verson en ons kultuur en geskiedenis vermaan. Die 1994-weggee-plan was fataal. Net klein groepies sal nog hul kultuur behou; so op ‘n manier. ‘Onafhanklikheid’ sal ‘n plus-uitverkoping wees.
Die Wes Kaap is die enigste plek waar Afrikaans en Afrikaner kultuur sal oorleef. ‘n Kanton regeerstelsel sal politieke beheer afneem na voetsoolvlak om plaaslike gemeenskappe se belange aan te spreek. Los sentrale beheer vir Suid Afrika. Die 1994 oorgawe was ‘n weggee, en fataal vir vir Afrikaners in Suid Afrika. Nou moet ons red wat te redde is. Indien niks gebeur nie sal net klein groepies ou mense verspreid oor Suid Afrika woon en sien hoe kinders minder word.
Kaapse metro het reeds sy eie kultuur met Gatsby’s ens….Wat stel jy voor vir werksgeleenthede in die platteland? Landbou kan net soveel onderhou………
Dis waar ons kan leer by Israel hoe ekonomiese ontwikkeling gedoen moet word.
Orania is so ‘n voorbeeld van selfdoen.Dit kan gedoen word dalk net in ‘n variasie daarvan.
Dink net die enorme potensiaal! Meer as ‘n 100 Oranias in ‘n streek. Afrikaners se dae in metros is getel. In metros sal jou belastinggeld aangewend word om informele woonbuurte te onderhou.
Verstaan julle nou Poetin en Rusland se argument? Hulle is trots op hulle Christelike, Westerse land. Rusland se kultuur is ten volle vanuit Konstaninopel oorgedra; daarom is hulle Ortodokse Christene, Westers. [Amerika dwing hulle oos, maar die Russe glo dit sal net tydelik wees.]
n Paar kilometer suid van Moskou is 200 Amerikaanse Christenfamilies besig om n dorpie te bou. Tussen St Petersburg en Moskou, in die Twerstreek, naby die gehuggie Poretsje, is Afrikanerfamilies besig om n dorpie te bou. Die hoeksteen is verlede week gele. Die African International Congress in Russia maak voorsiening vir 3000 families.
Daar is sterk gerugte onder SA boere dat Rusland nou kwaliteit landbougrond aan Afrikaner boere beskikbaarstel wat genoeg gehad het van plaasaanvalle.
Beskawings kom en gaan. Die eens magtige Romeinse ryk het tot ‘n val gekom vir verskeie redes.
Netso ook die Westerse beskawing. Dit het gekom en is besig om te gaan. So ook die nuwe beskawings wat nog moet kom. Niks is blywend nie.
Treffende broodnodige artikel. Dankie Jaco. Lesers, stel jul voor all mense is eendag koperkleurig en almal praat net een taal: “English”. Sal daar dan nog ‘n behoefte wees vir die vervaardiging van enige militêre toerusting? Hoe sal die identiteit van daardie koperkleuruge mensheid beskrywe kan word? Daar is geen utopia op aarde nie. So, wat is die oplossings?