Die lekker ding van lag

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

My gesin is (was) ʼn laggerige spulletjie. Vir grappe, stories en stuitighede. Ek onthou hoe ons een Sondagmiddag besig was om skottelgoed te was na middagete. Met drie tiener(ige) seuns, dalk ʼn plus een of so, en vir die wis en onwis ʼn paar pelle ook, was die kombuis woelig, luid, en soos gewoonlik gevul met lag. Pa was die wasser en hooftwakprater, die res van ons in spanne vir afspoel, afdroog en wegpak na gelang van jou kennis van Ma se kombuiskasrangskikking, want behoede jou as sy môre ʼn bak of bord soek!

Skielik was daar ʼn klop aan die voordeur (dit was nog in die jare van oop voortuine). Ons jong klomp word terstond tot orde geroep (dis dalk die dominee, wie weet?) en Ma gaan maak die voordeur oop. Daar staan haar een vriendin, groot oog en bleek van wang. Wat gaan hier so jolig aan op die heilige Sondag, wil sy weet. Drink ons onbehoorlik? Ma beduie nee, ons was net skottelgoed. Vra die vriendin of ons dan baie van skottelgoed was hou dat dit so jolig gaan? Nee beduie Ma, niemand van ons is baie erg oor skottelgoed was nie, maar ons kan net sowel die berg skottelgoed met ʼn lekker lag takel, want vir ʼn spul hormonaal-huileriges sien sy nie kans nie. Wyse vrou my ma. Selfs tieners is draaglik as hulle die slag lag…

Die kuns om te kan lag, al lyk sake sleg, het ons later jare baie handig te pas gekom. Want om twee ouers binne een week aan die dood af te staan, sit nie lig in enigiemand se klere nie. Ek onthou hoe ek op ʼn keer met Pa (toe nog redelik aan die begin van sy demensie) geraas het oor hy vir die hond tjoklits voer. Sy vurige verweer was dat hy nie eers vir die hond baie tjoklits gee nie, net een klein Bar One per dag! Nou ja, toe bars ons beide uit van die lag, en die hond lewe nog vir jare…

Onlangs nooi Maroela Media my om deel te wees van die paneel wat die top 50-grappe moet bepaal in die Grootste Afrikaanse Grap-kompetisie. Kan julle glo? Saam met fameuse akteurs, sterre en storievertellers is daar ek, ʼn effens bekkige laaitie van Alberton!

En wie is ek om te stry? Ek meld aan vir ʼn puntgeëry, merkery en dies meer. Daar is oues, floues, koues, nuwes, stuitiges, guitiges en enige geur waaraan jy kan dink. Dis soos bont swiets in ʼn pakkie; ek raak skoon droogmond van opwinding. Dit voel soos Krismis, net sonder Boney M!

Maar ek besef ook die erns van die saak. Dit gaan nie hier net oor ʼn grap nie, dit gaan hier ook oor my mense se geesteswelstand. Mens moet fyn en reg kies. En so in die proses besef ek toe weer drie dinge:

Dis ʼn kuns om ʼn grap te kan neerpen. Want grappe vertel makliker as wat hulle skryf. Dis ʼn kokkelollery (vieslike, lekker woord, nè?) om ʼn sin netjies te skryf. Dis soos kleinkoekies bak. As jou deeg te slap is, gaan daai ronde koekie as ʼn nouwatnouwonder uit die oond kom. Jy moet jou slag ken om ʼn ronde koekie in en uit ʼn oond te kan haal. Om ʼn sin te praat is meer soos botterversiersuiker. Die oomblik wat dit voel daai sin trek skeef, dan gee jy net nog ʼn smeersel woorde. Die sin gaan óf mooier óf lekkerder uitkom en bitter min mense gaan kla.

En dis jammer dat ons die vertel van stories so begin afskeep het. Ek vermoed wanneer ons die dag ons Facebook, Instagram en TikTok op die rak saam met plate, CD’s en getjipte koffiebekers gaan bêre, gaan ons ʼn skatkis van stories en grappe saam bêre, want teen dan het ons al waarskynlik verleer om enigsins te kan praat.

Nie dat ek nou heeltemal teë is op sosiale media nie, dis tog waar ek my stories publiseer. Maar mens kan hoop dat taal- en dramaonderwysers die kinders ook sal leer van grappe en stories vertel, en nie net van toesprake en monoloë nie. Want nie almal kan befaamde akteurs word nie, maar ons kan almal stories en grappe vir ons gesinne en families vertel. Of so reken ek…

Mense het nodig om te lag. Veral nou. Ek sien dit in die oorvloed grappe wat Maroela Media ontvang het. Ek was nogal moeg gelees (en gegrinnik) na ek deur al die grappe moes werk en punte gee. Ek reken dit sê iets. Mense wil graag lag. En gelukkig is ons Suid-Afrikaners flink om ʼn grap uit te dink. Waarskynlik omdat ons eenvoudig moet, anders huil ons net. Daar is al heelwat geskryf oor die waarde en nut van humor wanneer mense trauma ervaar, en ons ervaar nou trauma by die dosyne. (Ek weet net nie of ouma hulle gaan grootmaak nie…)

En laat ons nou maar eerlik wees. Al spartel en wroeg ons oor die pandemie, die ekonomie, die regering, beurtkrag, die petrolprys, die Bokke en Proteas, is dit lekker om ook so af en toe daaroor te kan lag. Dit herinner my aan die dae toe maatskappye begin het om mense se gesprekke op sosiale media “af te luister” (wat sal die mooi Afrikaans vir social listening wees?). ʼn Befaamde navorsingsmaatskappy het ons kom spreek om ons hulle stelsel te wys, maar die knaap moes bieg dat die stelsel nog met Suid-Afrikaanse kommentaar sukkel. Glo oor ons so sarkasties en ironies kan skerts. As jy nou byvoorbeeld vir jou bank knorrig is, sal jy maklik kla met: “Dis nou mooi XXX, dis nou wraggies mooi!” Die arme algoritme verklaar dit plegtig as positiewe sentiment. Dis nou mooi algoritme, dis nou wraggies mooi!

Dis belangrik om vir jouself te kan lag. Aai, ek dink dis ʼn droewigheid as jy jou vir als gaan opruk wanneer iemand net terg. Dis natuurlik lekkerder om iemand anders te terg (en ek kry dit goed reg), maar ek glo as mens uitdeel, moet mens kan ontvang.

So sing ek en my koormaters ʼn maand of wat terug ʼn lentekonsert in die Voortrekkermonument. Voor die konsert kry ons raas oor die uitspraak van die woord Halleluja. “Dis Ha-lê-lu-ja, nie Ha-luh-lu-ja nie”, raas die dirigent met ons!

Dis ook die eerste konsert van die seisoen, en na die tyd word die nuwelinge heel gepas welkom geheet. Almal kry die geleentheid om ʼn paar gepaste woorde of pittighede kwyt te raak. Klaus, wat gewoonlik nie op sy mond geval is nie, is dié middag baie besadig toe hy sy praat moet praat. Ons sluit af om in ʼn kring vir mekaar ʼn seënbede te sing (pragtig en emosioneel), en die oomblik toe ons tranerig en klaar is, steek Klaus (wat toe langs my staan) sy hand op. Nee, reken hy, almal het so mooi en gepas gepraat, en hy het nog nie, so hy wil net vir die koor sê dis ek wat “luh” in plaas van “lu” sing!

Nou wat maak mens? Jy lag. Hard en hartlik en lank! Want dit ís snaaks. En gooi agterna baie suiker in sy dop(pe). Sodat hy heelnag kan wakker bly om oor sy sondes na te dink. En daaroor te lag!

Meer oor die skrywer: Tiaan Ras

Tiaan is die strategiese direkteur van die advertensie-agentskap Etiket.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.