Die Liebenbergmoord en die Vaalrivierslag

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis. (Foto: NWU.ac.za)

Amper 184 jaar gelede, op 23 Augustus 1836, word die Voortrekkerlaer van Barend Liebenberg teenaan die Vaalrivier (12,4 km buite die huidige Parys op die Fochville-pad, R500) deur krygers van die amaNdebele (Matabeles) van Mzilikazi (Silkaats) aangeval en feitlik uitgemoor. Later daardie selfde oggend word ʼn laer enkele kilometer stroomaf ook bestorm. Albei hierdie groepe was deel van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter se trek wat die Kaapkolonie waarskynlik teen die einde van 1835 verlaat het.

Die vraag is hoekom so ʼn betreklik onbekende en oënskynlik onbelangrike gebeurtenis ná byna twee eeue vandag nog van belang kan wees, veral aangesien die presiese datum en die aantal sterfgevalle steeds nie bo alle twyfel vasgestel kan word nie?

Potgieter se trek bereik die Vetrivier in die omgewing van die huidige Theunissen in die eerste helfte van 1836 waar Potgieter die groter trek agterlaat om met ʼn klein kommissie noordwaarts te gaan om, soos afgespreek, skakeling te gaan soek met die trek van Louis Trichardt, wat reeds verder noord was.

In Potgieter se afwesigheid verdeel die Trekkers in kleiner groepe ter wille van voldoende weiding vir die groot veetroppe. Twee van dié kleiner groepe trek selfs digby die huidige Parys deur die Vaalrivier en staan op twee verskillende plekke teen die rivier in wat vandag as die Noordwes-provinsie bekend is.

Barend Liebenberg se kamp is aan die voet van ʼn koppie op die huidige plaas Rietpoort. Die trek bestaan uit ses mans, vyf vroue, 22 kinders en ʼn aantal werkers: Barend en sy vrou, Maria, hul drie seuns, Stefanus, Barend, Hendrik en hul gesinne. Ook Hendrik se skoonseun, Jan du Toit en sy gesin, en die skoolmeester, McDonald. Verder was daar ʼn onbekende aantal “diensbodes” in Liebenberg se trekgeselskap. Hulle staan rustig uitgespan onder die alleenstaande koppie wat vandag nog as Liebenbergskop of -koppie bekend is.

Die ander groep Trekkers van Johannes Botha, Hermanus Steyn en Lucas Bronkhorst met hul mense het verder stroomaf kamp gemaak op die plaas wat later as Kopjeskraal bekend sou staan.

Terselfdertyd was ene veldkornet Stephanus Erasmus van Aliwal-Noord – nie deel van die Groot Trek nie – op ʼn jagtog in die omgewing van die huige Potchefstroom. Saam met Stephanus was daar ook sy drie seuns, Stephanus, Daniel en Pieter asook Pieter Bekker en sy seun en dan ook nog Johannes Claasen, Carel Kruger en ʼn aantal werkers.

Lede van Erasmus se jaggeselskap gaan op Sondag 21 Augustus in drie groepies veld toe om te jag. Met hul terugkeer, ontdek hulle dat hul kamp in hul afwesigheid aangeval is. Afgesien van die verwoesting van die jagkamp en die verlies aan besittings en diere was daar ook swaar lewensverlies onder dié wat in die kamp agtergebly het. Hulle besef dat dit ʼn aanval deur die amaNdebele moet wees waarop Erasmus en sy seun ooswaarts, Vaalrivier se kant toe, jaag ten einde die Voortrekkers teen Maandag 22 Augustus te gaan waarsku dat die amaNdebele in aantog is en dat hulle moet laer trek.

Barend Liebenberg slaan egter nie ag op Erasmus se waarskuwing nie omdat hy ʼn veldkornet uit die Kolonie nie vertrou nie. Hy trek daarom nie laer nie en sy kamp word op 23 Augustus, in die nag of vroegoggend, aangeval en byna almal uitgemoor. Aan Liebenberg-kant sterf ses mans, twee vroue en ses kinders: die 71-jarige Barend, sy drie seuns en (sy seun) Hendrik se vrou, Jan du Toit, die Skotse skoolmeester McDonald, asook die ses kinders en ʼn aantal bediendes. Sommige in die groep ontkom wonderbaarlik, soos Jan du Toit se vier kinders, wat onopgemerk in ʼn wa bly lê het en Christiaan Liebenberg se vrou. Van die twee meisies en Barend Liebenberg junior se seun, Christiaan is nooit weer gehoor nie.

Erasmus ry, waarskynlik ook die Maandag, verder en waarsku die ander kamp (ook teen die Vaalrivier) ongeveer tien kilometer suid van die Liebenbergs soos die kraai vlieg. Hulle slaan ag op sy waarskuwing en trek laer. Hulle word omstreeks tienuur die oggend van 23 Augustus aangeval, maar weer die aanval af, met die verlies van twee Trekkers. In hierdie konfrontasie sneuwel Adolf Bronkhorst en ‘n seun van Christiaan Harmse, wat vee in die veld opgepas het en toe daar doodgesteek word.

By Liebenbergskoppie is ongeveer 14 Trekkers dood en by die Vaalrivier twee.

’n Veel later ondersoek op Kopjeskraal, waar die Vaalrivierslag plaasgevind het, dui egter daarop dat die slagoffers waarskynlik almal daar begrawe is, volgens die 33 grafte. Dit beteken dat 17 werkers ook in die aanvalle gesterf het. Of is ander mense later daar begrawe? Wie sal met sekerheid weet as daar selfs oor die presiese dag en datum nie absolute sekerheid is nie?

Onsekerheid oor die akkuraatheid van die besonderhede kan hierdie brokkie geskiedenis nogal onder verdenking bring. Daarom is dit nodig om te probeer vasstel waar die onnoukeurigheid vandaan kom.

Daar moet in die eerste plek in gedagte gehou word dat daar oor die Potgieter-trek bitter min amptelike of primêre bronne bewaar gebly het, in teenstelling met notules, briewe of dagboeke soos dié van Louis Trichardt of Erasmus Smit oor ander trekgebeure. Ons is daarom vir inligting oor die verloop van die aanvalle van Augustus hoofsaaklik aangewese op inligting in Gustaf Preller se boek Voortrekkermense en die inligting van Johannes Bronkhorst wat ʼn verslag geskryf het oor Potgieter se kommissie se besoek aan Trichardt en wat op hul terugreis terloops op die slagting by Liebenbergskoppie afkom.

Die inligting in hierdie twee bronne is egter sonder uitsondering verslae van getuies wat op die minste veertig jaar later eers opgeteken of heropgeteken word en is dus niks meer as herinneringe nie. Dit maak die geskiedenis van die Liebenbergmoord en die Vaalrivierslag nie ongeldig nie, dit noop ons net om dié sekondêre bronne noukeuriger te lees.

Oor die verslag van Bronkhorst het Bronkhorst se dogter, Maria Jacoba Minnaar, later vir Preller vertel dat haar vader die joernaal gehou het en die oorspronklike een Kaap toe gestuur het om gedruk te word. Niemand kon hierdie joernaal egter nog opspoor nie en die verslag is, volgens Preller, ‘n “vertaling van ‘n vertaling” en as sodanig onbetroubaar. Indien hierdie verslag uit 1836 dateer, soos wat dit in Voortrekkermense verskyn, sou ‘n mens dit ook uit die taalgebruik kon aflei. Vergelyk ‘n mens egter die Afrikaans van die verslag met Trichardt se Afrikaans in sy dagboek, is dit duidelik dat die Afrikaans van die verslag veel nader aan dié van Preller is as aan die Afrikaans van Trichardt.

So lui die verslag dat Bronkhorst op 24 Mei 1836 van die Sandrivier af vertrek saam met die burgers Roelof Janse, Lourens Janse van Vuuren, Carel (waarskynlik Sarel) Cilliers en Abraham Swanepoel. Hulle vertrek gelyktydig met Potgieter en nog vyf man as Kommissie na die trekgeselskap van Trichardt. Ná “twaalf skofte” kom die Kommissie op 5 Junie by die Suikerbosrand (waarskynlik, maar nie noodwendig nie, in die omgewing van die huidige Heidelberg, Gauteng) aan. Die reis van die Sandrivier tot by Suikerbosrand duur dus twaalf dae.

Die terugkeer, meer as ‘n week ná die moord op die Liebenbergs, is vir dié argument van belang. Volgens Trichardt se dagboek keer die Kommissie op 17 Augustus terug: “Den 17de is de Kommissie vertrokken.” Dit is ses dae voor die moorde. Bronkhorst se verslag lui dat hulle die moordtoneel op 2 September ontdek. Dit lyk moontlik, want dit gee hulle ongeveer twee weke om die afstand af te lê.

As die Kommissie drie skofte suid van Trichardt in die Soutpansberg was, kon selfs perderuiters nie in ‘n halwe dag van die huidige Polokwane tot in Parys reis nie. Vergelyk die twaalf skofte hoër op. Hulle was daarom nie ooggetuies van die aanvalle nie.

Of Bronkhorst en Preller in al die fynste besonderhede akkuraat is, dui dit egter nie daarop dat die moord op die Liebenberg-laer en die aanval op die laer by Kopjeskraal in Augustus 1836 nooit plaasgevind het nie. Al sou die besonderhede nie altyd klop nie, word die feit van die aanvalle deur die verslag van veldkornet Erasmus in De Zuid-Afrikaan van 7 Oktober 1836 en die herinneringe van ooggetuies bevestig en dit is van groot belang vir ons verstaan van die geskiedenis.

Die moord op die Liebenbergs was, myns insiens, ‘n kritieke punt in die geskiedenis van die Groot Trek, want tot in daardie stadium was die Trek betreklik voorspoedig en vriendskaplik met betrekking tot die inheemse volke. Die goeie verhouding tussen Andries Hendrik Potgieter en die Barolong, was volgens baie bronne vriendelik – dit blyk uit die optrede van kaptein Moroka van die Barolong ná die geveg by Vegkop.  Al het Potgieter-hulle die aanval van die amaNdebele afgeweer, is al hul trekosse en perde gebuit en hulle was gestrand tussen dooies en gewondes. Toe stuur kaptein Moroka vir Potgieter trekgoed en kos sodat hulle kon terugtrek Thaba Nchu toe.

Trichardt se dagboek gee ook voorbeelde van sodanige vriendskappe. Die moord op die trek van Langhans van Rensburg vroeër dieselfde jaar staan in ‘n sekere sin los van die groter Trekgemeenskap van Potgieter. Daarom was die aanval op die kamp van Liebenberg van die uiterste belang vir die verdere verloop van die Groot Trek.  Dit het daartoe gelei dat Potgieter kon opdrag gee dat die Trekkers terugval en dat ’n aantal mans, onder leiding van Potgieter, in Oktober laer trek tussen die Renoster- en Valsrivier, suidwes van die huidige Heilbron en voorbereid is op ʼn aanval deur die amaNdebele.

Dit loop uit op die slag van Vegkop rondom 19 Oktober 1836. ʼn Geveg wat die toekoms van die Groot Trek in groot mate sou bepaal, want heelwat koloniste was nog óf op trek óf nog in die Kolonie op pad om te trek en hulle sou sekerlik weer gedink het as die slag by Vegkop in die guns van Mzilikazi verloop het.

Daarom is dit tog sekerlik van belang dat daar vandag nog kennis geneem moet word van die moord op die Liebenbergs, byna twee eeue gelede.

As jy verder wil lees

Terloops, daar bestaan drie weergawes van Trichardt se dagboek.

  • Grobler, Jackie. 2013. Louis Tregardt se dagboek. (Afrikaanse vertaling) Pretoria: Litera Uitgewers.
  • Le Roux, T.H. (red.) 1977. Die dagboek van Louis Trigardt. Derde uitgawe. Pretoria: J.L. van Schaik.
  • Preller, G.S. (red.) 1938. Dagboek van Louis Tichardt (1836-1838). Tweede, verbeterde uitgawe. Kaapstad: Nasionale pers.
  • Preller, G.S. 1918 en 1920. Voortrekkermense. I en II. Kaapstad, De Nationale Pers.
  • Steyn, Hennie en Celia Fourie. “Sterftes by Liebenbergskoppie”. http://monument-sa.co.za/liebenberg-moorde-kopjeskraal-liebenbergkoppie-parys/
  • Van den Bergh, G.N. 1998. Die geskiedenis van Potchefstroom. Ongepubliseerde manuskrip.
  • Van den Berg, J-M. 2010. “Die slag van Kopjeskraal”. Impak. Tydskrif van die Koepel Meteorietpark Bewarea. Nommer 3:22-23.
  • Van der Merwe, P.J. 1985. Die Matabeles en die Voortrekkers. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, 49(1). Pretoria: Staatsargief.

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.