Die lig is aan

Argieffoto

Destyds in die ou Afrika was daar takhare. Hulle was meestal oompies wat die limiete gaan opsoek het. Dikwels so sonder kind of kraai. So eenmaal per jaar het hulle hul hare geroskam en die woeste baarde so ietwat geknip. Sommige van hulle het sommer so vanaf die veld gelewe en klere geprakseer van enigiets wat voor hande was en hulle was woes – so vertel die geleerdes ons.

Hier neffens my plaas in die noordelike limiete van die Nardouwsberge, het so iemand gewoon. So eenmaal per jaar is hy berguit en bergoor na Vanrhynsdorp of miskien Klawer om nuwe klere te gaan koop. Dit was gewoonlik twee of meer streepsakke wat die ou dan self omgewoel het tot ʼn soort jas. Die broeke was meestal standaard blou oorpakke se onderste stukke. Sommer met ʼn riem of stuk baaltou vasgemaak. En dan natuurlik selfgemaakte velskoene sonder sokkies. Daar het hy in sy eensaamheid gelewe tussen die bojane en dassies met nou en dan ʼn witkruisarend wat kom inloer. Sy eenvoudige gehuggie staat nog doer in Donkerkloof.

Maar een jaar moet ek gaan preek doer teen die onderlope van die Grootrivier. Dis warm en eensaam maar die mansmense kom luister want vroumense is maar skaars en die Duitser is mooi; so daar is darem iets vir die oog. Die Sondag hou ons groot diens en alger eet saam. Net toe ons salig daar onder die bome teen die Gariep besig is met die potjie, kom daar ʼn ou aan en vra ek moet vir sy oompie kom bid. Nou ja – ek hou my lyf mos predikant so ek moet die lekkerte los en loop bid vir die man. Maar dis so kort na middag en dis stikwarm en ek weet uit ervaring geen siel kom op ʼn Sondagnamiddag tot inkeer nie. Dus mos eintlik Rusdag en dis asof die hele skepping ook rus. So dis maar met teensinnigheid dat ek daarheen ry.

Kom daar by die oompie aan wat doodsiek in die voorstoep van sy sinkhuisie bedlêend is. Die sifdraad voor laat darem so ʼn ietwat koeltetjie in maar binne in die huisie is dit stikwarm. Dis die tyd toe Eskom net begin het met sy morstery en die krag is weereens af die dag. Die antie en die nefie loop sit eenkant onder die eensame boompie so dwars voor die sinkhuis sodat ek en die oompie in vrede sy siekte kan bepraat.

Ek praat en die oompie luister so half lusteloos want die oompie stel nie juis belang in my gepraat nie. Maar ek weet darem hy was sterwenstoe siek. Miskien is hy bekommerd oor die eensame melkbok wat doer onder teen die Grootrivier kort gepen staan – ek weet nie.  Maar ek doen my plig – so skat ek. Toe kom ons by die afsluit en ek vra ewe vroom of ek vir die oompie kan bid. “Nou ja neef, bid dan maar.” Met dié val ek weg en soek ernstig na rede en sin waarvoor om te bid. Ek was net mooi op dreef toe besluit Eskom skynbaar die lotjie doer teen die rivier het nou genoeg verswelg in die hitte want die krag kom opslag aan. Dis toe dat die oompie sommer so onder my gebed uitbulder: “Vrou, die lig is aan kom maak koffie!”

Ek skrik my gebed skoonveld. Die antie kom waggel daar in en ek groet.  Die oompie het toe sy koffie gekry en is kort daarna vort – ek weet nie waarheen nie.

Maar nou wonder ek steeds watter soort lig het daar aangekom. Was dit nou my gepraat en gebede wat hom die lig laat sien het? Of was dit die aangename belofte van sy middagkoffie? Ek wonder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae