Die marathon hoender

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Dis Februarie-maand en die waters val in die Caprivi. Later is alles wat nat kan wees nat en so ʼn muf-reuk kleef aan die tente en beddegoed vas. Dis toe dat ons besluit ons het nou genoeg van nattigheid; ons beur nou suid. Ons pak die middag op daar by Ngepi teen die Okavango maar dit sukkel want so ʼn natgoed gepakkery is moedverloor-swaar. Uiteindelik is alles op en in en ons vat die pad weswaarts na Rundu. Ons is vier-man in die Pajero en die 3.2 hol oop ketel met die sware kampwa agterna. Gooi gou diesel daar in Rundu want ons beur eintlik na Roy’s Camp duskant Grootfontein maar toe oorval die hongerte ons.

ʼn Kosmakery in die gietende reën is maar ʼn geneuk so ons moes volstaan daai oggend met koffie en beskuit. Maar nou vreet ons mae ons van binnekant af op en ons besluit opstuk ons moet so voort iets te ete loop soek. By die “Hungry Lion” in Rundu staan ʼn tou mens al die pad tot in die vuil straat en ons stoot maar aan noordwaarts in die rigting van die rivier. Ry ons later daar teen ʼn hek vas, maar die skrywes buitekant belowe ons daar’s ʼn lekker eetplek met boonop ʼn fraaie uitsig binnekant. Die hekke gaat oop en ons betree die pragtige gastehuisgebou op die hoogste hange bokant die Okavango-rivier. Daar is ook geen siel in sig by die eetplek nie so ons maak ons lekker tuis en geniet die verruklike vergesig daar oor die rivier.

Sulke streep-streep reëns val oor die vlaktes van Angola maar ons sit knus onder die afdak op die dek en die saligheid daal oor ons neer. Ons vier besluit ons moet darem ietsie drink ook om beter te kan tuur oor die mooite. Die vriendelike kelner kom daar aan met sulke bektoe-vol glasbekers waarop die ysies bo-op dril en net daar besluit ons dis ons plek hierdie. Ons kuier verder en los die langpad na Grootfontein vir later. En toe kom die kêrel daar aan met onse kos.

Ek en Skoonseun het vir ons “Marathon Chicken” bestel. Volgens die skrifte is dit ʼn halwe hoender bo-op ʼn platbord vol mieliepap met ʼn spinasie bykossie. Skynbaar is dit vir verhongerde mense en ons kwyl eintlik oor die lekkerte wat aan’t kom is. Sien al die lekker brosbruin hoender wat so sit waggel bo-op daai botter-ryke stywepap. En die mens kom plaas die kos hier voor ons neer. Stom staar ons die gedrogte aan. Lyk soos jong volstruiskuikens of oorgroot kiewiete wat hulle in die helfte gesaag het. Die goed se maer boudjies oorlê die hele bord. Maar die lengte is nie die probleem nie; die goed is blou-swart en lyk meer soos kraai en bowendien is dit taai. Soveel so laat ek later my winkeltande uit my mond pluk in ʼn poging om iets van die bene af-geknaag te kry.

Dan staar ons weer die gedrogte stom aan. Maar die hongerte oorval ons en ons lek maar so die sousies van die kante af – nie te onaardig nie. Die Duitser vra ontsteld of ons seker is dis hoender, want dit herinner haar aan die “Road Runner”-tekenprente van destyds. Maar ons byt vas. Weens my winkeltande besluit ek later om maar by die pap en spinasie te hou, maar o weë! Die pap is soutloos en so droog dat jy die rou mieliemeel proe en die spinasie is so driekwart opgekook sonder uiwe, knoffel of selfs net ʼn bietjie peper. Dit proe opstuk soos jong papirus-riete se smakelose binnekante. Ons het later maar die afgesuigde “Marathon Chickens” so salig op sy mieliemeel laat sit en weer by die Hungry Lion gaan probeer.

In die vervolg sal ons maar net hou by die nattigheid en die uitsig. Mens moet soms tevrede wees met net tuur ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Diefie ·

Ek het nou so lekker gelag. Ek sien hoe daai winkeltande wat langs daai “hoender” lê, grin vir die sogenaamde hoender, wat eintlik ‘n tarentaal is.

Essa ·

Ai, as mens nou so saam met die uitsig klaar ‘n prentjie in jou kop het van daardie heerlike bord kos waarna jy met groot verwagting uitsien, kan die prentjie wat toe opdaag jou sekerlik in die tande skop! Lekker gelees en lekker gelag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.