Die Namib-springbok

Argieffoto (Pixabay)

Een jaar is ons op pad vanaf Walvisbaai suid. Kuier lekker die nag daar by Sossusvlei en vat die oggend vroeg die Namibrand pad al die pad af na Aus. Ons ry met vier karre en ek vat oudergewoonte voor. Hier teen elfuur se kant roep Thys op die radio dat hy ʼn pap wiel het. Die hele konvooi kom tot stilstand en ons ander keer om sodat ons vir Thys kan loop help want hy was die agteros. Hy dryf die groen Rav met die daktent op en sowaar – hy het ʼn pap wiel links agter.

Ek het lankal geleer dat mens met regte tekkies grondpaaie moet aandurf. Dis soos die slag dat ons weer in die Ais-Ais oorstaan en hier neffens ons kamp vier uitlanders met ʼn baie ghrênd Volvo-kar – nou nie ʼn gewone kerkkar nie; nee, sommer ʼn regte hoogsit-kar. Later maak ek praatjies met die mense oor die ghrênd kar en toe hoor ek hulle sit al dae en wag op tekkies want die Volvo is nou wel ʼn hoogsit-kar, maar hy loop op sulke sissie tyretjies. En geen siel in Suidwes kan hulle help met die spesiale tekkies vir dié spesiale kar nie en nou sit wag hulle vir iemand uit die Kaap om tyres te bring.

So ek ry met grondpadtekkies op al my karre. Maar die Rav het ʼn pap wiel. Rustig sit ons die spaarwiel op en vat die pad suid. Ek is weer voor en Thys weer heel agter. Seker net 10 minute toe vertel die radio my hy het alweer ʼn pap wiel. Sit weer om en sowaar; die Rav het weer ʼn pap wiel links agter en dis steeds ene goeie “boereband”. Die stil-warmte hang so dik oor die Namib en ek is ietwat omgekrap want nou moet ons tyre werk. So ons pak die sleepwa uit en haal die kompressortjie en al die lapgoed uit en maak reg. Die lot mense saam met ons dwaal maar daar in die warmte rond, maar die meeste sit in die karre en geniet die koelte terwyl die enjintjies hyg na hulle asem.

So honderd meter oos van ons staan ʼn eensame windpomp. Oom Mike bied aan om water vir ons te gaan haal sodat ons darem hande kan was sonder om die kosbaarheid wat ons saamry te vermors. Met ʼn regte koelsak strompel hy oor klip en bossie na die eensame windpomp net om meteens verwoed aan die raas te raak. Hy skreeu en beduie en ons hele lot sit op loop in sy rigting.

By oom Mike vind ons ʼn verwese springbokrammetjie wat homself vasgewoel het in ʼn stuk draad. Die arm ding het skynbaar so spring-spring die waters by die windpomp probeer haal maar op een of ander tydperk het hy hom vas gespring want hy kan nie voorwaarts of rugwaarts nie. Bowendien is die arme ding skoon uitgemergel van die dors en hygend beloer hy ons vanuit sy draadwurg. Thys pluk sommer sy hemp uit en ons gooi dié eers oor sy kop. Toe kry ek die span toeriste stiller want springbok se kind is mos maar bang vir lawaai. Versigtig begin woel ons hom los. Later het oom Mike sommer bietjie van die watersak se vogtigheid so oor hom uitgesprinkel. En toe is hy los.

Ons lot staan eenkant-toe en in stille dankbaarheid sien ons die rammetjie kom later op sy wankelrige beentjies te staan. Toe stap hy so skewerig tot by die windpomp en raak aan’t suip. ʼn Ruk staan trap hy daar rond en toe tel hy sy kop op en kyk ons een slag verdwaas aan en daar trek hy. Sommer so weswaarts die woestyn in. En ons lot staan stom daar en kyk hom agterna.

Daai reddingsdaad van die springbok bly maar by my. Soms as die wanhoop oor die gemorste in Afrika my so wil oorrompel, dan dink ek aan daai springbok. En dan onthou ek van mossies wat kosbaar is in die Heer se oë en dan vat ek weer moed. Want ek het twee pap wiele gehad in die Namib om by ʼn springbokrammetjie uit te kom en hy lewe – en hopelik hol sy afstammelinge die vlaktes vol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bloues ·

Asseblief Koos, hou aan skryf. Jou stukkies deel is baie kosbaar!

Fanie Cremer ·

Hierdie pragtige storie en soortgelykes hoort in ‘n boek. Enige sulke planne Koos?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.