Die Nissan-lorrie

Argieffoto (Foto:, vgrafiskform, Pixabay)

Oom Stoffeltjie Stoumann het destyds ʼn uiters belangrike werk op Vredendal gehad; veral vir ʼn matriekseun. Hy was die man wat bestuurslisensies toegeken het. En dit was mos maar elke matriekseun se droom om daai groot hekkie te kan oorkom.

Só daag ek die dag met pappa se ou Bedford-lorrietjie op sodat ek sommer uit die staanspoor ʼn swaarvoertuiglisensie kan kry. Ek stap hart-in-die-hand daar by oom Stoffeltjie in en vind hom hard besig by sy lessenaar wat bestrooi lê met belangrike papiere en ander ontsagwekkende dokumente. Ewe rustig vra hy my waarom soek ek nou ʼn lisensie want ek dryf mos al lankal en nou moet ek skoorvoetend verduidelik dat dit onwettige bedrywe was.

“Maar jy dryf mos al lankal,” gaan hy onversteurd voort. Toe ek my kop knip tjap hy my papiere en plak die lisensie in my ID-dokument. Daar sit hy tot vandag toe en ek is ʼn bekwame drywer van groot lorries.

Duitse skoonpa is ʼn liewe mens wat groot kan droom maar soms werk sy rekenkunde nie so mooi uit nie. Soos die keer toe hy my met die Nissan-lorrie Bethlehem toe stuur. Skynbaar het hy ʼn groterige White-trekker gekoop en ek moet die trekker vir hom loop haal en na sy plaas “Belgrade” daar op die Swaziland-grens anderkant Piet Retief toe vat. Ek is skoon bewerig van opgewondenheid want die vyf stuk kleinspan hou man maar vas en dis vir my so ʼn lekker wegbreek man-alleen in die lekker Nissan-lorrie. Skoonpa stop my ʼn klompie rande in die sak vir padkos en ander gebeure en ek laai vir tandeborsel en een stel onderklere saam met ʼn dun kombersie in die Nissan en daar trek ek – dit was die Maandagoggend.

Nog voor ons Piet Retief haal, toe pak die Nissan se koppellaar op en so ry ek “crashbox” die dorp in. Skoonpa stuur my na een of ander werkswinkel en so slaap ek die nag sommer daar in die man se werkplek want die Nissan het mos darem so ʼn slaapplekkie. Lewe van Coke en “pies” en alles is reg.

Dinsdagmiddag ná ete storm ek oor die Drakensberge en kort voor Harrismith vat ek ʼn draai in ʼn grondpad effens vinnig. Daar foeter die 200 liter drom vol diesel van die lorrie af en rol tot doer onder in ʼn riviertjie. Dit word ʼn urelange marteling om die drom terug te rol tot by die lorrie want dis graspolle en doringdrade en ʼn steil bult. Maar ek geniet die vryheid van die Vrystaat en die losbreek van my woelwaters.

Later is die drom darem teenaan die lorrie maar ek is steeds lamlendig maer en daar is geen manier dat ek daai drom op die lorrie kan kry nie. Nou is dit wag. So kom daar so elke nou en dan ʼn verdwaalde siel verby en dit kos mooipraat en geldswaai totdat ons later vyfman sterk is. Toe laai ons die drom. Sononder daai aand ry ek Betlehem in.

Dis nog daai jare toe mens sommer enige plek kon slaap en ek maak my net daar in die middedorp tuis en koop weer ʼn Coke en “pie”. Seweuur die Woensdagoggend toe staan ek voor die trekker-plek se deure en wil op stuk die White-trekker laai.

Die verkoopsman staar my stom aan en vertel my ek moes met ʼn baie groter lorrie gekom het want die trekker is so breed dat sy bande afgehaal moet word anders is ons totaal onwettig. So gedaan en ná ʼn hele dag se gesukkel is die trekker tyre-loos op die lorrie vas en die klomp bande sit opgestapel en vasgemaak.

Donkeraand vat ek die pad terug. Net voor Kestell begin swaai die bedryf en toe is dit die eerste papwiel links agter. Beur vir spaarwiel daar op maar voor ons Harrismith haal toe is links agter alweer pap. En nou is dit ounag en alger slaap. So beur ek maar aan teen so 30 km per uur met ʼn enkelwiel al die pad oor die Drakensberg tot in Newcastle. Ry daar met dagbreek die Donderdagoggend in.

Gelukkig kan ʼn bandeplek my help en gou-gou is die twee tyres weer rybaar en daar trek ek – natuurlik ná ʼn Coke en “pie”. Voor Vryheid skiet beide bande links agter sommer met een skoot en daar sit ek weer. Nou is dit mooipraat by een of ander onbekende plaasboer. Ná ure se gewag daag swaer se pa daar op met twee nuwe tyres en nou is dit die geveg om daai lorrie “opgejack” te kry en die bande daar in te worstel. Middernag ry ek verder. Stadiger, want die bedryf is totaal oorlaai en onstabiel. Net anderkant Paul Pietersburg toe gee die Nissan net een groot klap en toe sit ek met net vier ratte vorentoe en basta met die res. So my onverantwoordelike topspoed is 50 km per uur en dan skrou daai diesel onheilig.

Vrydagoggend dagbreek storm ons Belgrade-plaas in maar dit reën – en ek praat nie van so ʼn drup-drup bedryf nie; nee dit tjorrr-reën daai hele Vrydag en Saterdag.

Sondagoggend kry ons darem die White se bande op maar toe wil daai grote masjien vir die dood nie “start” nie. Ons kan maar draai en swaai en “Quickstart” spuit – hy staat vasgeplak op die Nissan. Ernie kom later met ʼn klein Ferguson-trekkertjie daar aan en probeer die White afsleep, maar die Ferguson spin sulke modderboë los en White staan stil. Dan leer man bid want vloek is lankal uitgedien.

Ek weet nie meer hoe en wat nie maar daai Sondagnamiddag toe is die White uiteindelik tuis en op die grond en ek slaat die lang lyne af na Kranskop. Verlang nou al sterk vir die Duitser want ek is behoorlik uitgekuier op die Nissan se klein slaapbankie en ʼn Coke en “pie” is ook nie meer so lekker nie. Maar skoonpa vra of ek nie maar die lorrie sal afry na Pietermaritzburg sodat iemand die ratkas kan regmaak nie – siende ek nou in elke geval so goed gevorder het tot daar.

Daai Maandagvoormiddag toe stop ek in Pietermaritzburg teen 50 km per uur en los vir Nissan daar. My onderklere staan toe al lankal sommer op eie bene en my kennebak is bebaard maar die kleinspan en die Duitser was darem bly om my te sien.

Dit was my lekker wegbreek daai jaar. Sommer so op my eie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre C ·

Koos ,lekker gelees,ek wonder nou net of dit daardie groen White trekkers was of was dit die mooi silwer modelle was.

Koos ·

Dit was daai mooi ene met n V8 diesel sover ek onthou. Mooi loop.

Nou toe nou ·

Dit was kostelik. Ek het die vertelling so geniet, dit was so goed geskryf dat mens fisies die gebeure voor jou sien afspeel.
Kan ons nie nog meer sulke stories kry om te lees nie asb.

Pieter ·

Nou net gelees, en self gewonder oor daai Fuller “crash box”. Ek stem, CW41, gebou om te hou.

Koos ·

Kan nie meer dit onthou nie. Weet net dit was n enkelas en daai trekker was hopeloos te swaar. Ek wonder of daai 4 agterwiele vol water nie alleen al die gewig sou volmaak nie. Ons het darem die water laat uitloop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.