Die ou geweer

Argieffoto (Foto: Free-Photos, Pixabay)

My vriend Jacob Schoeman ken van ver paaie en sukkel met goed breek in die woestyn. Eendag vertel hy dat as mens skielik ʼn slootjie of slaggat voor jou sien, moet jy jou bakkie se brieke vasskop en net voor jy die ongewenste ding tref, laat los en vet gee.

Volgens Jacob moet jou tydsberekening net perfek wees want dan tel jou voertuig se neus op en breek jy nie so maklik ʼn ding nie. Só ry ons eendag tussen Palmwag en Warm Quelle – ʼn hele konvooi en ek en die Duitser is heel voor, boonop met ʼn swaar sleepwa. Dis laat en ons stoot maar sterk aan, toe spring daar ʼn spoelsloot sommer uit die niet voor ons in. In dié doodskrik eggo Jacob se woorde deur my kop en ek trap die Nissan vas. Dis klippers spat alkant om ons en ons word toegegooi met ʼn stofwolk; lyk amper soos ʼn Flossie wat kom sit op ʼn kort grondbaantjie doer in Angola se vlaktes.

Toe ons so amper die slootjie tref, toe los ek die briek en gee vet. Die Nissan vlie los bo-oor die slootjie en die sleepwa gee een moerse bokspring en toe is alles weer vrede. Gelukkig kon die span agter my darem die petalje aanskou en versigtig deur die slootjie kom. So leer mens by die ou hande. “Dankie Jacob.”

Die volgende dag los ek die span daar by die klein warmbronnetjie en vat die pad oor Sesfontein rigting Purros. Ek soek ʼn seker Jan Kasupi wat doer iewers boer. Pad gevra en stadig gery tot diep in die Niemandsland in voor ek vir Jan die namiddag opspoor. Ewe salig bied Jan aan om ons te kom help vir die volgende week of wat. “Maar,” vra hy, “kan ek tog sy twee seuns gaan haal by die kosskool sodat hulle na sy diere kan omsien.” Natuurlik is dit heeltemal te verstane.

So vat ek die langpad terug na Warm Quelle en klok donkeraand in.

Vroeg die volgende oggend staan ek bakhand voor die skoolhoof se deur en goedgunstiglik willig hy dadelik in. Soms is dit wonderlik om in Afrika te woon want hier verstaan mens nog soms die nood van ʼn boer. Die twee seuns verskyn sommer binne minute met pakkasie en al en ons vat die pad. Maar nou moet julle mooi hoor. Dis twee sulke laaities. Seker so tien of twaalf jaar oud. Vol vreugde en vrede geniet hulle die weelde van voor in ʼn bakkie ry en die wonderlike vooruitsig van ʼn hele week se verlossing van ʼn skoolkoshuis.

Pas ná middag sleep ons in by Jan se staning en ook hy en sy beterhelfte staan reg vir die uitkomkans.

Daar word met omhaal gegroet en lank en volledig verduidelik in Herero oor wat en hoe die twee seuns moet werk. Ek luister ewe voorbeeldig en probeer verstaan wat aangaan. Toe haal Jan die geweer te voorskyn. So ʼn verslonste Musgrave 30-06 sonder teleskoop en behoorlik afgeleef. Ek het net so ene wat nog amper splinternuut is; al is hy al meer as veertig jaar oud. Dadelik vra ek een van die seuntjies of ek die geweer kan bekyk. Trek dadelik die slot oop om seker te maak die ding is veilig. Tot my groot verwondering sien ek daar is geen patrone in die geweer nie – niks, lutho, nichts.

Later kry ek Jan alleen en vra hom uit oor die geweer. “Ja,” reken hy. “Hier is tiere doer in daai krans en net hier onder teen die riviertjie bly ʼn troppie leeus”. Ek staar hom stom aan en kry dit darem later oor my lippe dat daar geen patrone in die geweer is nie! “Dis oukei so, Koos. Die seuntjies weet nie hoe om te skiet nie en bowendien weet hulle daar is geen patrone in die geweer nie. Dis net om hulle manmoedig te maak.”

ʼn Afgeleefde Musgrave sonder patrone maak mens manmoedig – só het ek daai dag geleer.

Maar die storie laat my baie wonder oor vandag se opvoedkunde. Deesdae word ouers mos gesien maar nie gehoor nie. Alles staan op sy kop. Ek wonder hoe skuldig sou oupa Kosie gewees het omdat hy sy agtjarige kleinseun die boeldozer alleen laat dryf het. Of pappa Servaas omdat hy ons durf dorp toe laat ry het met dikwielfietse sonder valhelms. En dan praat ek nie eers van ry agterop ʼn oop bakkie nie! Ons is geleerd en ons kinders word gepamperlang. Ons eet organiese glutenvrye goedjies en gewone medisyne is taboe. En ons kan nie meer slaap nie en kan nie met mekaar praat nie en slaat mens met pikstele en kap ons ouers met byle.

Dan verlang ek vir Jan Kasupi doer in die vlaktes neffens Purros.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

A3 ·

Koos,
wanneer ons kampvure se as verwaai oor kloof en dal sal die dinge waarvan ons getuies was, nie meer saak maak nie.

John ·

…. maar dan het ons darem geleef… verdwaal en weer die regte stofpad gevind… goeie ou dae.

humor ·

Ek ken vir Jacob en wonder of jy na sy raad moet luister. Met hom in beheer word te veel goed daar in die sendingveld per ongeluk gebreek.

Hendrik UAE ·

Dankie nou loop die onthou ver paaie en gesonde herinneringe binne my.

Oudste ·

Laat my terugdink aan 1983 toe ek en oorlede Pa tussen Kamanjab en Outjo gejag het op oom John Kotze se 19 000 ha “lappie grond”. Daar tussen die koppe en klowe het ek ‘n paar stewels se sole losgestap van die bostuk van die stewel af. Flenter stewels en ‘n man vat mos nie ekstra paar stewels jagveld toe nie, en jag moet daar gejag word. Super plan, petrol om die sool se bokant en bostuk se onderkant skoon te maak, Genkem en 3 paar “vice grips” word in die aand gebruik om die flenters te plak, om dan more oggend weer uit veld toe te gaan. Daardie aand dan herhaal die Genkem “vice grip” herstel proses hom, want die Super plan het net vir 8 ure gehou, tot ons teruggekom het “States” toe, na 2 weke. Nodeloos om te se dat die stewels stewelhemel toe gestuur was na ons terugkoms. Ek geniet jou verhale Koos, want dit vat my op ver paaie waar die kampvuur as lankal weggewaai is. Mooi loop.

Koos ·

Dankie julle almal vir die lekker praatjies. Ons stompel maar so aan

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.