Die puin en pyn van ons verskroeide land

‘n Plaashuis word tydens die Anglo-Boereoorlog afgebrand. (Foto: Verskaf/Erfenisstigting argiewe)

“Daar staan ek toe, omring deur my kindertjies terwyl die wrede soldate my eiendom plunder. Huisraad, klere, voedsel, alles word op ʼn hoop gegooi en aan die brand gesteek … Hoe ek hulle ook al smeek om ʼn paar oudhede en erfstukke te behou, hulle weier aaneen.”

Dié woorde van ʼn Boerevrou som die magteloosheid en onregverdigheid van die verskroeideaardebeleid goed op – ʼn beleid wat vandag, 120 jaar gelede, op 16 Junie 1900 die amptelike werkswyse geword het van ʼn magtige Britse weermag wat nie die Boeremagte in hul teetyd kon verslaan, soos hulle graag wou nie.

Die verwoesting vat vlam

Skaars drie maande nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, in Januarie 1900, het Britse troepe tydens invalle in die Wes-Vrystaat, plaashuise reeds afgebrand. In sy proklamasie van Februarie 1900 het lord Roberts hom egter nog teen die verwoesting van eiendom en die molestering van burgerlikes deur sy magte uitgespreek. Daarom het Britse kolonnes die plaashuise en die vroue en kinders meestal met rus gelaat tydens Roberts se inval in die Vrystaat en sy besetting van Bloemfontein op 13 Maart 1900. Hulle het wel alle beskikbare perde, asook voorrade voer en mielies gekonfiskeer. Vroeg in Mei 1900 het Roberts sy opmars noordwaarts deur die Vrystaat voortgesit.

In die tydperk tussen die inname van Bloemfontein en van Pretoria het verskeie afbrandings en plunderings van plaashuise voorgekom. Op dié manier het die Britse bevelvoerders die bepalings van die Den Haagse Konvensie ten opsigte van die posisie van die nievegtendes in die Republieke verontagsaam.

Die Den Haagse Konvensie van 1899 het bepaal dat die verwoesting van eiendom beperk moet word tot wat “spesifiek vereis word deur die noodsake van oorlog”. Roberts het inderdaad binne hierdie raamwerk opgetree toe hy in die tydperk Maart tot Junie 1900 die verwoesting van plaashuise gemagtig het waarvandaan Boereskerpskutters op Britse troepe gevuur het terwyl ʼn wit vlag van die huise gewapper het. Maar toe Roberts eers gelas het dat huise wel onder hierdie omstandighede afgebrand moet word, is dié maatreël op ʼn minder oordeelkundige wyse deur offisiere in die veld toegepas.

Met die voortdurende aanvalle op die spoor- en telegraafverbindings in die Vrystaat, en veral generaal De Wet se sukses by Roodewal op 7 Junie 1900, het Roberts op 16 Junie daartoe oorgegaan om die plaashuise in die onmiddellike omgewing van voorvalle van sabotasie te laat afbrand. De Wet se opstal naby Roodewal is daardie einste oggend afgebrand. Deur hierdie proklamasie het Roberts prakties ʼn strafmaatreël gewettig wat sporadies sedert Januarie 1900 toegepas is.

Teenstand teen die afbranding

Reeds in Februarie 1900, en toe weer in Mei en Julie van dieselfde jaar, het die Boereleiers by Roberts beswaar gemaak teen die afbranding van huise. Die Britse opperbevelhebber het sy optrede geregverdig deur te verklaar dat die oorlog in groot dele in ʼn guerrillakryg ontaard het. Hy was dus, só het hy betoog, verplig om dit te onderdruk “by those exceptional methods which civilized nations have at all times found it obligatory to use under like circumstances”.

In Julie 1900 het Roberts sowat 2 500 Boerevroue en -kinders na die Boerelinies in Oos-Transvaal gestuur. Dit was ʼn poging om druk op die vroue en kinders te plaas sodat hul ontberings die burgers sou beweeg om die wapen neer te lê.

Toe dit blyk dat hierdie optrede onprakties is, het Roberts sy verwoestingsbeleid nog kragdadiger voortgesit deur in September 1900 te gelas dat benewens die afbranding van die huise, alle voedselvoorrade binne ʼn radius van 16 km gekonfiskeer of verwoes moet word. Dit het in werklikheid beteken dat ʼn gebied van 547 km2 gestroop is met elke aanval of poging daartoe op die Britse verbindingslyn.

Teen November 1900 het hy egter bewus geword van die toenemende teenstand – ook in Britse regeringskringe – teen die verskroeideaardebeleid. Hy het gevolglik op 18 November 1900 bevele uitgereik wat afbrandings beperk het.

Kitchener en die konsentrasiekampe

Toe Kitchener op 29 November 1900 by Roberts oorneem, het hy die verskroeideaardebeleid voortgesit. Nadat die eerste vredesonderhandelinge op 28 Februarie 1901 op Middelburg misluk het, het Kitchener die verskroeideaardebeleid stelselmatig begin uitbrei. Sy instruksies het heelwat vryheid aan bevelvoerders in die veld verleen. Ook die afbranding van hele dorpe het voortgegaan, soos byvoorbeeld Wolmaransstad, Bethal, Ermelo, Carolina, Reitz, Parys en Lindley.

Daarbenewens het Kitchener die verwoesting van voorrade met groter ongenaakbaarheid voortgesit. Gesaaides is vernietig en beeste, skape en perde is na die Britse kampe aangejaag of doodgemaak. Sommige diere is vermink en net so, lydend, in die veld agtergelaat. Dit is duidelik dat Kitchener, soos Roberts, met tye beheer oor die optrede van sy ondergeskiktes verloor het.

Die afbrand van opstalle het egter ʼn groot probleem geskep in die vorm van ʼn groeiende getal hawelose Boerevroue en -kinders. Die stelsel van konsentrasiekampe is teen omstreeks Julie 1900 ingestel om aan hulle ʼn heenkome te bied. Die kampe het van meet af aan ook Boere wat die wapen neergelê het en hul gesinne gehuisves om te verseker dat die Boere die manne nie weer opkommandeer nie.

Met Kitchener se groot dryfjagte wat sedert Januarie 1901 van stapel laat loop is, is duisende Boerevroue en -kinders van die plase verwyder en na bestaande of nuut opgerigte konsentrasiekampe weggevoer.

Luidens ʼn verklaring van Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies in die laerhuis, is dit om menslikheidsredes gedoen. Maar juis die feit dat duisende plaashuise afgebrand en die vroue en kinders daarop onder dwang na die kampe geneem is, sowel as die openbaring dat Kitchener self op verskillende behandeling vir wapenneerlêers en ongewenstes aangedring het, bewys die kampe is om militêre redes opgerig. Dit moes inderdaad die Boereweerstand beëindig. Kitchener het gemeen dat indien die Boerevroue en hul kinders eers in kampe byeengebring is, sou die burgers op kommando nie meer op die plase voedsel kon kry nie en bowendien dan die wapen sou neerlê om met hul gesinne verenig te word.

Op moedverloor se vlakte, maar…

Die Vrystaat en Transvaal is verwoes en die winter van 1901 het groot ontberings vir die burgers en hul gesinne meegebring. Die kommando’s was minder aktief as tevore en het kontak met die Britte meestal vermy. Boerevroue het in klein groepies die veld in gevlug om die konsentrasiekampe vry te spring. Omdat die kommando’s van hul oorlewingsbronne afgesny was, het hulle hul voorrade kos, klere en ammunisie aangevul deur geïsoleerde Britse afdelings aan te val. Die Boere kon nie meer krygsgevangenes aanhou nie en het hulle onmiddellik ná gevangeneming weer vrygelaat.

In dié omstandighede het sommige Boereleiers in wanhoop verval, onder wie die waarnemende Transvaalse president, Schalk Burger. Dit het veral die Vrystaatse leiers gebelg. Op 20 Junie 1901 het pres. Steyn en genls. De Wet en De la Rey die wankelmoediges by Waterval in die Standerton-distrik probeer moed inpraat en hulle aangespoor om die stryd tot die bitter einde te voer.

Kort daarna, op 11 Julie, is pres. Steyn in Reitz ʼn tweede maal byna-byna gevange geneem. Uit van die dokumente wat die Britte gebuit het, het Kitchener van die Transvaalse regering se weifeling te wete gekom en dit as bewys gesien dat sy verskroeideaardebeleid slaag. Sy proklamasie van 7 Augustus 1901 het geëis dat alle Boere hulle teen 15 September oorgee. Indien hulle sou voortgaan om weerstand te bied, sou alle Boereoffisiere en lede van die regerings verban word en sou daar op al hul eiendom beslag gelê word. Dié eis het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie en die oorlog is vir nog nege maande voortgesit.

Volgens Kitchener se getalle asook dié van ʼn Britse regeringspublikasie het die afbrandings in November 1900 alleen ʼn hoogtepunt van bykans 230 huise bereik. Dat dié getal hopeloos onvolledig is, blyk uit ʼn erkenning van Milner in Oktober 1902 dat tot 30 000 huise gedurende die oorlog verwoes is. Volgens hierdie getal het weinig huise dus ongeskonde gebly.

“Ek smeek die offisier om my huis te spaar”

Magdalena Petronella Truter, die vrou van ʼn veldkornet van Utrecht wie se huis as hospitaal gebruik is en waar ʼn Rooikruisvlag wapper, vertel:

“Op 17 September 1900 kom twee kolonnes met hul magte, meksims en kanonne en staan om my woning. Die offisier trek ʼn groot brief uit sy sak en begin te lees. Nadat hy gelees het, sê hy aan my dat die bevel is dat my huis opgeblaas en verbrand moes word en hy gee my twintig minute om die huis te ontruim. Ek smeek die offisier om my huis te spaar. Hoe meer ek smeek, hoe meer woedend word die soldate, alles word doodgeslaan en mishandel.”

“… ons het die oggend nog nie geëet nie [en] ek neem ʼn halwe brood, dit word my ontneem. Ek het vyf kinders by my gehad, waarvan die oudste tien jaar oud was en die jongste nog tien maande. Drie van die jongste kinders was in my slaapkamer. Ek word toe by die voordeur uitgestoot, ek smeek hulle om my kinders uit te neem, [maar] dit word my ook nie toegestaan nie, ek word met gewere uitgestoot. Ek skree toe so hard ek kon [en] dit het gelyk my dat die bediende wat my jongste kind oppas, my hoor. Sy vlug toe by die agterdeur uit. Toe sy in die kombuis kom, ontplof die dinamiet. Ek moes toe vlug tot by die ringmuur … daar moes ek onbeskermd staan [terwyl] die sinkplate en hout oor my en die kinders vlieg, gelukkig is ons nie beseer nie.”

Onder die Britte wat die verskroeideaardebeleid veroordeel het, was sir Henry Campbell Bannerman, leier van die Liberal Party. Hy het op 14 Junie 1901 in ʼn toespraak enkele woorde gebruik wat histories geword het: “A phrase often used is ‘war is war’, but when one comes to ask about it one is told that no war is going on, that it is not war.

“When is a war not a war? When it is carried on by methods of barbarism in South Africa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

As Paul Kruger wel volledige stemreg aan die uitlanders gegee het, sou Piet Joubert, ook ‘n Afrikaner soos Kruger, waarskynlik ‘n verkiesing gewen het. Dan was ons voorouers al die hartseer van konsentrasiekampe gespaar.

Madels

Dis BAIE erg om hierdie artikel te lees :-(

Bramaputa

Dieselfde gemors is weer besig om te gebeur en dit word weereens nie gesien as ‘n oorlog nie.

Koos

Daar moet n film gemaak word van die ware gebeure.. Sal n loket treffer wees en en terselfde tyd as n herinnering staan vir die englese wat nooit om verskoning gevra het vir die lafhartige dade wat tot die dood van derduisende vrouens en kinders, blank en nie blank gelei het.