Die seuntjie in Kaokoland

Kaokoland (Foto: Namibian.org)

Een aand sit ons salig by Tjiposa se plek daar neffens die pad rigting Okangwati. Dis so ʼn lekker lou aand en dis salig. Die Duitser is saam met my en ons het nog twee regte bloed-Duitsers by ons en die kampvuur brand hoog. Ons kamp sommer so wild daar teen die Ombaka-riviertjie en ʼn paartjie naguiltjies maak mooi hier bokant ons koppe in die reuse Anabome.

Net toe die saligheid nie nog beter kan wees nie, kom hol een van Tjiposa se kinders verward daar in en begin praat deurmekaar en aaneen. Dis nogal vreemd, want die Tjiposa-span is heel besadige mense; dié dat Tsjiposa ʼn uitstaande soldaat was destyds met die bosoorlog. Later verstaan ek darem so min of meer die kind en die groot realiteit slaat my tussen my oë: hierdie salige wêreld kan ongenaakbaar wees. Skynbaar het ʼn klein seuntjie die namiddag aan’t bokwagter-speel geraak en op ʼn manier die bosse in gestap en nou’s hy weg.

Ek los die Duitsers daar teen die vuur en vat die Nissan om te loop help. Ons ry oor berge en dale en die Nissan se vuur-oge deurboor die duisternis – ure aaneen. Die arme mense se spanning laai op en op en later is ons ʼn skare wat na die kind soek. Later daag nog bakkies op en ons ry die omgewing plat en skree en pleit om genade maar kindjie is vloor.

Dagbreek die volgende oggend kry iemand die klein mannetjie – verkluimd onder ʼn bossie ingebeur, stokstyf. Die radeloosheid van ʼn hele gemeenskap oorval alger –  ons het heelnag probeer maar gefaal en toe sit huil Himba, Boer en Duitser saam. Die woesteny is steeds hard en ongenaakbaar en almal wat daar wil in moet met omsig lewe.

Soos die Himba-man van doer ver noord van Opuwo wat nou die dag ʼn stukkie vis sit en eet en per ongeluk ʼn visgraat insluk. Die verduiwelde ding loop steek in sy slukpyp iewers vas en maak daar ʼn ongewenste gaatjie. En die bedryf begin lek en versweer sy binneste. Hy is jonk en gesond en die sooibrand pla hom soveel so dat hy na die hospitaal op Opuwo stap waar hulle op stuk besluit hy het TB. Maar die kêrel rook al lankal nie. Later Oshakati se hospitaal toe maar die pestery staan vas en geen mens glo hom oor die visgraat nie. So pak hulle hom in ʼn ambulans en beur hom suid in die hoop dat die TB die pad sal vat. So eindig hy in Outjo se hospitaal waar die onbeholpe geleerdes steeds vasstaan dat hy TB het en basta met ʼn visgraat in die keel. Na weke se swaarkry-sukkel sterf hy met ʼn visgraatjie in sy keel; alleen en ver van sy heimat.

Die bos is lekker en die woestyn nog meer. Vra maar die Duitser. As die son sak en die stiltes daal neer oor die woesteny en die naguiltjies flirteer hier bokant jou en voor jou brand ʼn staanvuur; dan is dit die hemel. Onthou net hier loop ook gedoentes en onwelkome bodes rond. En hulle is hard en ongenaakbaar. Lewe dus met een oog oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

marco polo ·

Dankie Koos vir nog ‘n goeie een. Daardie woestyn is niemand se maat nie, maar dis die plek waarheen ek gaan vir kopskoonmaak en om lewensbesluite te neem. En dis die plek waarvan ek droom wanneer die stadsgewoel te veel raak.

Eish ·

Dankie Koos. Née jong, die stadsjapie sal blitsvinnig die ontberings in die bos ten prooi val…
Ek hou maar by die lees van jou lewendige skryfsketse.

Wicus ·

Dankie Koos, dis raakvat-skryf.

Kry ek groot heimvee, 20 maande in Opuwo het my ‘n groot liefde vir die Himba en sy wêreld gelaat.

humor ·

Vra maar vir my. Was beskore om 3 jaar in daardie eindelose ruimtes te werk. Niks snaaks as jy in die oggend wakker word en byna n pieringgrote luiperdspoor is enkele tree van jou leplek af nie. En dit terwyl jy gedink het jy is salig veilig. Ja vir iemand wat die stilte as gespreksvennoot het, is dit hemels daar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.