Die storie van ʼn Ierse T-hemp

Deur Pierre Massyn

Max Baise

Daar hang ʼn geraamde T-hemp in die suidelikste sportversameling in Afrika, in ʼn klein dorpie sonder straatligte – Suiderstrand.

Dis ʼn rooi hempie, met die volgende woorde daarop: “Try not. Do or do not. There is no try.”

Dié woorde word toegedig aan ene Master Yoda. Daar is ʼn storie agter hierdie T-hemp. ʼn Rugbystorie.

Op 27 Julie 1974 toe die son water trek, blaas Suid-Afrika se beste skeidsregter en ons eerste Joodse toetsblaser die eindfluitjie aan die einde van die dramabelaaide vierde toets teen die besoekende Britse Leeus op Ellispark. Max Baise word letterlik van die veld af gevloek deur die Leeus. Hulle glo hy het hulle beroof van ʼn drie wat hulle ʼn 4-0-reeksoorwinning oor Suid-Afrika sou besorg het.

Die man midde-in die drama is Fergus Slattery van Ierland. In die doodsnikke van die toets bars Slattery oor die Suid-Afrikaanse doellyn. Springboksenter Peter Cronje kry Slattery beet en klou soos ʼn neet. Slattery plaas die bal, maar dis op Cronje se been. Baise beslis dis geen drie nie. Kort daarna blaas die eindfluitjie en die toets eindig gelykop met 13 elk. Die Leeus glo vandag nog dit was ʼn drie.

“Die Leeus was goeie wenners, maar swak verloorders”, beduie Baise aan my in ʼn eksklusiewe onderhoud in sy huis in Fynbos Park op Riversdal.

“Ek het hulle ʼn drie gegee wat nie ʼn drie was nie. Maar hulle sê niks daaroor nie.” Daardie “drie” was gedruk deur Roger Uttley nadat Bok-regtervleuel Chris Pope duidelik die bal doodgedruk het.

“Ek sal vir die res van my lewe moet saamleef met daardie fout wat ek gemaak het”, erken Baise met ʼn stem wat breek van emosie.

Maar Slattery was ʼn goeie sportman in die ware sin van die woord. In 2009 vlieg hy en die einste Uttley spesiaal na Suid-Afrika om ʼn glansgeleentheid van rugbypersoonlikhede met Joel Stransky en Hugh Bladen as seremoniemeesters by te woon. Die ongeskrewe oogmerk van die gala-aand was om die spoke van 1974 finaal te begrawe. Die beroemde skeidsregter en sy vrou, Dorothy, die Afrikaanse nooi van die Vrystaat (wat vir jare der jare getrou haar man se plakboek bygehou het), sit saam met die president van Transvaal Rugby, Kevin de Klerk, wat ook in 1974 teen die Leeus kragte gemeet het, aan die tafel vir eregaste.

Dorothy ontval Baise net die jaar daarna. Maar nou word Peter Cronje, die man wat Slattery in die vierde toets gestuit het, saam met Baise na die verhoog geroep. Slattery is die gasspreker. Om te wys sport is maar net sport – al dink ons soms dis oorlog – oorhandig die Ierse kaptein ʼn geskenk aan Max Baise om hom te bedank vir sy dienste aan rugby en as ʼn simbool van die kameraadskap wat tussen rugbyspelers bestaan. In sy toespraak bedank Slattery Baise tong-in-die-kies vir ʼn drie wat hy wel in 1973 op ʼn ander toer aan hom toegeken het.

Op die foto links bo is Slattery in aksie vir die Leeus in 1974. In die middelste foto hanteer Max Baise die fluitjie in die wedstryd tussen Vrystaat en die All Blacks op 11 September 1976. Die All Black met die bal is die heelagter Kit Fawcett. Vrystaat het die wedstryd 15-10 gewen. Regs is die Ierse das.

“Fergus, jy vergeet ek het in 1974 nog ʼn drie aan jou toegeken – die een wat jy vir die Leeus teen Suidwestelike Distrikte gedruk het”, help hy die Ier reg. Ja, dié Boerejood se verstand was en is nog kristalhelder – hy word oor ʼn week 84.

Die geskenk is eintlik ʼn oorkonde. Dis ʼn T-hemp, geraam in groen – die kleure van Suid-Afrika en Ierland. Die volgende erkenning verskyn daarop:

2009

PRESENTED BY FERGUS SLATTERY.

“You will be the Lions’ friend forever, Max”, kom dit van Slattery toe hy Baise se hand skud en die geraamde kosbaarheid oorhandig.

Dis Junie 216, Riversdal – een van die aangrypendste oomblikke in my lewe… ʼn tranerige Max Baise neem my hand in sy ferm greep en sê saggies, byna fluisterend: “Pierre, hierdie is vir jou. Ek wil dit vir jou gee.”

En so word ek die eienaar van ʼn T-hemp van ʼn Leeu uit Ierland, wat eintlik vir ons grootste skeidsregter bedoel was.

Jy meet die grootsheid van ʼn man nie net aan sy prestasies nie – en Max Baise het vele hoogtepunte bereik. Jy takseer ook ʼn man aan sy nederigheid. Max Baise was en is ʼn Grote.

  • Pierre Francois Massyn is ʼn onafhanklike korrespondent en die skrywer van Suid-Afrika se eerste Springbok-rugbyvasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dries ·

dankie Pierre, ek onthou.
Jy het lang paaie geloop ou maat. Dankie dat jy dit met ons deel.
Groete uit ‘n sopnat Pretoria

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.