Die tier van die Karasberge

Karasberge (argieffoto) Foto: Pgallert, eie werk/Wikimedia Commons

Ek het ʼn vriend, ʼn baie geleerde man wat doer ver in die eensaamheid van die Namib die lewe voer. Chris en Emmie is van Khorixas en daar tussen die olifante en annerlike gediertes lewe hulle dat die stof so staan. Dikwels was hulle ons uitkoms en lewensredders in ons gesukkel deur die woestyn.

So paar weke gelede sit ons weer daar anderkant Vrede net nadat jy die berg uit is op pad na Bergsig. Ons kuier daar teen Jantjie-se-fontein en geniet die stilligheid van die Namib en ons kuier ver. Soos ek mos reeds genoem het, is Chris ʼn baie geleerde mens en hy vertel my ʼn wonderlike storie. Ek dink amper dis waar maar jy moet maar self besluit. Eintlik is dit ʼn storie wat sy vriend Thys hom vertel het van die wilde tier van die Karasberge. Skynbaar het oorle oom Jan Spies die storie iewers ook vertel maar oom Jan is mos al lankal vort so ek moet dit vir die jonger geslagte herhaal.

Laat dink my sommer ver terug aan ‘76 se dae toe ek as snotkop noodgedwonge “Begin” se boerdery moes oorvat. Dit was donker dae daai want my tjomme veg almal in Angola en geniet die wilde jongmans-dae en ek moet sukkel met gebreekte trekkers en tamaties wat vol pestilensies is. Ek verbeel my dit was Dinsdagoggende dan het die Afrikaanse radio vir oom Jan Spies gekry om ʼn lekker storie te vertel. Stories wat mens die swaarkry en sukkel laat vergeet het en wat jou bulderend laat lag het sodat selfs die pestelike spreeus in die wingerd verskrik aan’t vlie geraak het. Maar nou is Chris se storie geheel vloor so kom ek vat hom weer.

Thys vertel vir Chris van die wrede tier wat koning gespeel het toentertyd in die Karasberge. Maar ʼn oompie van Thys het skynbaar moed bymekaar geskraap om die tier te loop dood. So vat hy die oggend die spoor van die tier die berge in. Voetjie-voetjie en altyd met die wind in sy gesig probeer hy die tier uitoorlê. Volgens die oompie was dit kort ná die middag, toe alle makgoed moet rus dat hy om ʼn groot rots kom en hom vasloop in die tier. Skynbaar het hy so saggies geloop dat die tier vas aan die slaap was. Die skrikkery was ewe groot maar die tier kom vinniger tot sy sinne en storm. Oompie vertel daar was nie eers kans om die Mauser oor te haal nie toe is die tier op hom.

Hy sien net ʼn rooi bek en wit tande en al wat hy kon doen is om vuis te slaat. Volgens Thys was sy oompie, en Chris beaam dit en Chris lieg nie, ʼn sterk man en hy slaat die tier in sy bek. Maar hy slat so hard laat sy vuis sommer by die tier se mangels verby is in sy gorrelpyp af is dwarsdeur sy pens. Die tier het met mening gespring maar oompie-goed slaat ook met mening so sy vuis beur voort deur die dunderm en toe vat hy die dikderm sommer dwarsdeur tot uit by die agterent. Net daar maak die oompie van Thys se vuis oop en vat sommer meteens die tier se stert vas.

Met dié begin die tier knaag hier aan die oompie se bo-arm en met mening ruk die oompie nou terug maar natuurlik steeds met die tier se stert in sy vuis. Chris vertel die oompie het so hard terug geruk dat hy die tier sommer geheel en al omgedop het. Toe hy hom weer kom kry toe sit die tier se tande alger aan die buitekant en in plaas van spikkels is dit toe so ʼn rooibont tier wat nie meer kan byt nie want sy byt-goed kyk buitentoe.

Die oompie het hom rustig daar met sy Josef Rodge kopaf gesny en toe vir sy hele familie die wonderlike omgedopte tier kom wys. Volgens Chris sweer sy vriend Thys dis die reine waarheid want van kleintyd af kom die storie en kinders lieg mos nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ANDRE ·

En poeiermelk kom ook van daai geweste af……….koeie het seker vir die einste “tier” geskrik.

Fanie Cremer ·

Pragtige staaltjie uit die volksmond.
My oupa het dikwels vir ons soortgelyke staaltjies vertel soos die een van die oom wat die sekel geplant het in die voetpad om ‘n jakkals te vang….
Stefaans

Boer-in-die-wind ·

Fanie – ek ken nie die storie nie. Vertel of skryf ‘n bietjie.

Fanie Cremer ·

Die staaltjie is te lank om hier te plaas.
Maroela moet maar laat weet of hulle sou belangstel.

humor ·

En Chris Bedeker jy as kerkmens lieg lekker saam. Vertel die man ook van die dag toe jy gaan jag het en die patrone by die huis vergeet het. Ons vriend Shorty het tog te lekker gespot met die geleerde doktor in elektisieteit. Hoe gaan dit met Emmie die kinders , die honde en die verouderde wyne? Is Emmie nog altyd aan die gang vir n eksratjie N$ met fyn klere.

humor ·

Koos en vriend Chris julle het seker bietjie vergeet. Hierdie storie is oom KASPAAS se storie en hy het nie in die Karasberge geboer nie. Maar nouja die kwinkslag maak dit nuut.

Koos ·

Ek is so bly hy kom van oom Kaspaas ook af. Miskien loop sy spore verder terug via oom Langenhoven en oom Lokomotief al verder aan. Vertel tog Fanie
Dis die kosbaarhede wat ons nie mag verloor nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.