Die Tjirambi-moorde

Kaokoland (Foto: Calips, eie werk via Wikimedia Commons)

Iewers in 2004 verdwaal-ry ek doer diep in Kaokoland. Ek is met ʼn Belg op soek na ʼn geskikte staning vir ʼn TV-reeks wat hulle wil maak. Dis Oktobermaand en dis droog en warm. Ek laat luier die Nissan maar die hele dag net sodat ons louwarm koeltetjies kan geniet. Op pad na Okanguati sit daar so ʼn mooi bergie aan jou regterhand net ná die afdraai na Swartbooisdrif. Teen die Otjivize-riviertjie draai ons stroomop en ry weswaarts tot amper teen die Steilrand-berge. Kry daar ʼn mooi plek met die pragtigste Anabome en daar naby is ʼn moderne boorgat kompleet met lister-kragkop en watertenke.

Die aand kamp ons sommer so vlak by die boorgat onder die bome en ek vat die vlaktes om my om net die omgewing bietjie te verken. Eenkant op ʼn lopie se wal merk ek twee grafsteentjies op en sommer van ver af kan ek sien dit is die ou SA Weermag se standaard grafsteentjies. Stap toe ook nader en daar lees ek ewe in Afrikaans van twee Tjirambi-broers wat op een dag oorlede is en hier begrawe lê. Ek sien ook op die datum dat dit reg aan die begin van die hoogbloei van die Bosoorlog in Kaokoland was. So loop slaap ek met die wonder-vrae in my hart.

Die volgende oggend is die Belg oortuig dat dit die regte plek is vir die TV-produksie – skynbaar het hy die nag een of ander gevoelte gekry. Maar ons loop soek die baas van die area en kom by nog ʼn Tjirambi uit. Ná die Belg sy prate klaar gepraat het en mnr Tjirambi sy kruis gemaak het op ʼn stuk papier, vat ek die storie van die grafstene. Verstom hoor ek toe van sy pa en sy oompie. En hoe Swapo se vegters daar ongenooid ingekom het en die twee broers koelbloedig vermoor het – sommer so vir die lekkerte. Net sodat hulle die gewone lotjie Himbas kan oortuig van die goedgeid van hulle liegstories. En ek wonder. Ek wonder hoeveel onskuldige bloed het al hier gevloei net sodat mense sterk of belangrik kan voel.

Die namiddag kuier ek by die hoofman. Want om toestemming te kry van die baas vir ʼn produksie is een ding maar om water te kry, kos die hoofman se akkoord. Ons praat daar onder die eensame witgatboompie – dis nou ek en die hoofman en so stuk van sewe raadgewers. Ek sit met my ou boshoedjie ewe gedwee op my skoot toe vra die een raadgewer my meteens in gebroke Afrikaans: “Koos, jy soldaat?” Wat nou. Lieg ek want dis die nuwe Afrika en die boere se oorlog staan mos maar sleg in die wêreld se aansien. Maar wat nou daarvan as ek lieg en een van hulle weet van my dinge? So warrel die gedagtes deur my kop. Toe besluit ek om maar die waarheid te praat. Die raadgewer kyk my stil aan en staan rustig op en stap die bosse in.

Nou wonder ek wat gaan gebeur. Loop haal hy nou ʼn ou Sanna om my te kom seermaak of het hy sy seekoeisambok loop haal? Sal maar sien. Later kom die man doodluiters aangesit met ʼn jong boerbok aan ʼn tou. Toe hy by my kom, sit hy die tou in my hand en gaan sit weer. Geen sprook. Net dit. Hy sit die tou in my hand en aan die anderkant van die tou is ʼn jong boerbok vasgemaak.

ʼn Koue rilling kruip so teen my nek af en toe word dit ʼn warm gloed. ʼn Gloed van dankbaarheid. Ek het ʼn vriend daar in die Ombaka-omgewing agter die Otjivize berge en daar loop ʼn troppie boerbokke wat hy daar vir my oppas. Eendag as ek oud is sal ek my bokke loop haal en kan ons lank om die kole sit en praat oor vergange se dae – miskien ook oor die oorlog. Maar dit was goed daai dag. En iewers loop daar mense rond wat dankbaar is vir die vasbyt en stopvreet van troepies van ʼn plek in die suide. Dit weet ek, want daai man en sy boerbok het dit my vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Pragtige vertelling!
Mensig! Die emosies wel sommer so op in my binneste!

Koos ·

Dankie. Jammer oor die spelfoute. Sien dit nou eers. Dis mos eintlik stofvreet maar hopenlik verstaan julle alger.
Koos

Danie ·

Daar is baie dankbare mense . Gewone mense. mense wat van dag tot dag leef. Mense wat teen die koers wat hulle groep inslaan nog steeds volhou dat selfs apartheid beter was. Wanneer hulle gepols word oor die rede vir die terugverlang dan kom die antwoord: Daar was sekerheid oor belangrike goed: Werk, Veiligheid, skoon water (al is dit uit ‘n rivier) en dat jou jou lewe in vrede kan leef (binne grense) maar vry.

Wanneer so ‘n antwoord uit iemand se mond kom dan wonder jy hoeveel mense het regtig moeite gedoen om met gewone mense (en nie akademici) te praat oor hoe hul regtig voel…

Hoc est bellum ·

Die pragtige verhaal laat my terugdink aan die onluste wat gedurende 1990 in die noordelike gebiede van PE gewoed het. Ons het diens verrig in die Indiërwoonbuurt van Malabar. Wanneer ons moes onttrek het die ma’s en oumas ons gesmeek: “Sir, please don’t leave.” Dan het ons maar gewag tot die volgende peleton opgedaag het om ons af te los. Hulle het ons elke dag met warm koffie en Indiese lekkernye oorlaai. Toe wou al wat troep is, daar diens doen. Ek sal die dankbaarheid op daardie Indiërdames se gesigte nooit vergeet nie. Samoesas het nog nooit so lekker gesmaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.