Die VOC, skeepvaart en skeurbuik

Deur Pierre Massyn

‘n Uitbeelding van die VOC se hoofkwartiere in Amsterdam (Foto: Wikipedia)

Seelui van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) was reeds erg ondervoed en verswak, nog vóór hulle die moordende vaart na die Kaap en die Verre Ooste moes aandurf, onthul die befaamde historikus en skrywer dr. Dan Sleigh in ʼn insiggewende praatjie oor die VOC se retoervlote by die Agulhas Erfenis-vereniging op Afrika se Suidpunt.

Dit gee ʼn gans ander perspektief aan die dikwels oordrewe klem wat geplaas word op skeurbuik onder die matrose ter see as aanleidende faktor vir die stigting van ʼn sogenaamde verversingspos wat kommandeur Jan van Riebeeck moes oprig.

“Die matrose het met skeurbuik aan boord gekom!” Twee skepe in Van Riebeeck se vloot, die Walvis en die Oliphant, moes inderdaad nie minder nie as 130 siele ter see te ruste lê en het eers veel later as die eerste drie skepe, die Reijger, die Drommedaris en die Goeie Hoope Tafelbaai gehaal – laasgenoemde drie op 6 en 7 April 1652.

Voedselvoorsiening en die beskikbaarheid van vars vleis, vrugte en groente in die 15de eeu in ʼn onderontwikkelde Europa was volgens Sleigh hopeloos ontoereikend. Boonop moes die VOC-retoervlote Jan van Riebeeck en sy geselskap vir sowat vyf jaar van proviand voorsien, omdat die pioniers se pogings om groente en vrugte te kweek, misluk het – totdat hulle (uit die pad van die berugte suidooster), hul tuintjies in die meer beskutte omgewings van die hedendaagse Kaapse voorstede soos Constantia, Rondebosch en Wynberg aan die groei gekry het.

Die groeiende Oosterse bevolking aan die Kaap – veral dié uit Batavia – het ʼn voorliefde vir vis en rys gehad, en die skepe het op hul terugvaart na die moederland gesorg dat hierdie voedsel op die tafels beland.

Aan die hand van sy omvattende en bykans onvervangbare skyfiereeks wat hy oor jare opgebou het, neem Sleigh jou van die happerige Nederlandse kusstrook met sy watergeule tot in die Verre Ooste – en terug. Net om die oop see te bereik voor jy daarna in ʼn suidelike rigting moes swenk, het jou sommer ʼn volle 14 dae of meer geneem. Vir die leek verduidelik hy die hoogdrukstelsels: in die noordelike halfrond tol die heersende winde kloksgewys en in die suidelike halfrond antikloksgewys.

Dan Sleigh pas nadat hy Pierre Massyn se kopie van Retoervloot onderteken het. Hulle verjaar op presies dieselfde dag: 3 November. (Foto: Verskaf)

Die Hollandse kapteins was meesterlike seevaarders en het presies geweet hoe om hierdie winde ten beste te benut. Selfs met hul vierhoekige seile kón hulle laveer, en hulle moes dikwels veg of vlug voor Britse en Franse skepe wat hulle aangeval het.

Die Kaapse nedersetting was egter veel meer as  ʼn blote “verversingstasie” soos wat die cliché dikwels lui. “Dit was veel eerder ʼn maritieme dienssentrum vir skeepsbediening. Jy kan jou voorstel hoe gehawend ʼn skip daarop moes uitgesien het as hy na soms ses maande in uiterste onstuimige seestoestande uiteindelik in Tafelbaai kon anker gooi.”

Ja, anker gooi moes hulle beslis, want daar was geen vasmeerplekke nie. Die Here Sewentien het selfs by St. Helena voorrade aangevul, maar Engeland het sy oog op hierdie eiland gehad, en dit was juis een van die hoofoorwegings om ʼn permanente basis aan die Kaap te vestig – vry van Britse inmenging.

Die vraag wat dikwels gevra word is hoe die kleine Nederland, wat mank gegaan het aan natuurlike hulpbronne, deur die VOC, die magtigste handelsvloot ter wêreld van sy era kon opbou. Sleigh antwoord dit so: “Die Here Sewentien, as’t ware die besturende direkteure van die VOC, het spanne werkers na die Rynrivier wat deur Duitsland en die noorde van Frankryk vloei, gestuur met een missie voor oë: kry hout vir ons skeepsbounywerheid!”

Sleigh stel dit onomwonde: die VOC was sedert sy stigting op 20 Maart 1602 niks anders nie as agente vir die Nederlandse staat onder leiding van die stategeneraal. Die stategeneraal as aandeelhouer, het ʼn direkte belang in die handelsukses van die VOC gehad en het dus ook soldate, wat normaalweg onder die politieke oppergesag sou moes val, in diens gehad.

Die VOC was volgens hierdie boorling van Geelbeksfontein op die Weskus wat sy vakgebied beter as enigeen op aarde ken, nie net die eerste volwaardige multinasionale maatskappy nie, maar ook die eerste een wat aandele uitgereik het.

Van sy basisse in die Ooste, het die Nederlanders ʼn uitgebreide handelsnetwerk tot stand gebring. Ruilhandel is selfs op afgeleë eilandgroepe vervolmaak. Salpeter is dikwels gekoop of geruil. Hoekom salpeter? “Salpeter is een van die drie hoofbestanddele vir buskruit!” (Die ander twee is houtskool en swael.)

Hy lig die datum 1713 uit. ʼn Ramp tref die Kaapse nedersetting – pokke wis byna 50% van die bevolking uit, maar die stoere Laaglanders het hul nie laat onderkry nie.

Sleigh, skrywer van boeke soos Retoervloot, Eilande en vele ander is bésig, maar oor ʼn ete by Zuidste Kaap in L’Agulhas ruil ons notas uit. Ons verjaar op dieselfde dag: 3 November. Ek en sy broer James was in 1972 saam op die SAS President Kruger, vlagskip van die vloot. Hy het in die ou Suidwes-Afrika, my heimat, skoolgehou. Ons gesels. “Die appeltjies van Oranje in die liedjie Piet Hein was kanonkoeëls…” hoor ek vir die eerste keer.

“Hierdie storie wat julle hier vertel oor die kompasnaald wat kwansuis geen afwyking getoon het toe die eerste Portugese hier verbygevaar het nie, berus op geen wetenskaplike feite nie.” En die Birkenhead wat naby Gansbaai sy einde gevind het oor ʼn magneet wat glo aan boord gesmokkel is en die kompas laat afwyk het? “Uit iemand se duim gesuig. Ek glo dit vir geen oomblik nie.”

As hy nie skryf of praatjies lewer nie, besoek Sleigh waar hy as 18-jarige diens gedoen het, die VOC se buiteposte, om vergete data en historiese detail uit te grawe. Sy doktorsgraad was juis oor die buiteposte van die Kompanjie. “Ek het elke liewe buitepos besoek, behalwe een: St. Helena.”

Ons praat oor St. Helena, want een van sy skyfies wys juis hoe die Hollanders ʼn wildevark skiet, nadat die Portugese vroeër daar ʼn paar van die diere losgelaat het vir vars vleis. In 1986 het die uwe St. Helena toe geseil. Jy kon toe nog net die afgeleë eiland per boot bereik. Van Walvisbaai tot Jamestown (die hoofsetel) het dit my 12 dae se harde seil gekos met die Kalahari, ʼn sloep van 36 voet lank.

Voor Napoleon se huis wapper die Franse vlag trots. Daar is ʼn nadoodse sertifikaat teen die muur, wat aantoon dat die keiser aan ʼn gewas op sy pankreas gely het. Dit sal verklaar waarom die wêreld se grootste veldheer gewoonlik uitgebeeld word met sy regterhand onder sy tuniek, waar hy met sy hand gedruk het om die pyn te verlig.

Deadwood Camp is waar Boerekrygsgevangenes aangehou is. Ek tel meer as 90 Boeregrafte langs die kamp. ʼn Stokou priester, slegs bekend as Vader Benjamin, sê hy onthou die krygsgevangenes, “wat hul eie tuintjies aan’t groei gekry het”. In ʼn museumpie word ornamente en snuisterye uitgestal wat die manne met hul knipmesse uitgesny het. Daar is kieries, wapenskilde van die Boererepublieke, borde en pype. In ʼn kroeg praat jy met die “Saints” soos hulle hulself noem.

“En wie was jou voorouers?” wil ek weet. “Me, mine were Boers,” verklaar een doodluiters met sy kenmerkende lispel-eilandaksent. Selfs Dan Sleigh was verbaas.

  • Pierre Massyn is ʼn skrywer, seiljagmeester en gewese lid van die Suid-Afrikaanse Oorlogsgrafte-Kommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Volgens sekere skrywers was Hollandse Jode die bestuurders van die VOC.

Nommer 7 ·

As jy ‘n Dan Sleigh boek in jou hande het, val jou moed in jou skoene as jy sien hoe dik die boek is. As jy jou weer kan kry, het jy die boek deugelees. Ongelooflike interessante leesstof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.