Die vrees vir die Here

Argieffoto (Foto: Aaron Cabrera/Pixabay)

In die beryming van Psalm 130 in die ou (1936) Psalms en Gesange, word die laaste deel van vers twee so verwoord: “Maar nee, daar is vergewing altyd by U gewees. Daarom word U met bewing, reg kinderlik gevrees.”

Toe verskyn die Liedboek van die Kerk en die gerespekteerde digter verander dit. Na wat ek verneem het, ‘n regstelling wat moes voorkom dat kinders bang word vir God. Pragtige, diep geestelike waarheid wat geen kind sal bangmaak nie. “Maar, Heer, van ons oortredings maak U geen optelsom; U, God van groot vergewing, laat sondaars na U toe kom.” Niks om voor bang te wees nie.

Goddank, het my Godvresende ouers my in die vrese van die Here grootgemaak. Aan moedersknie is ek na die Here gelei en tot vandag toe, ná sewentig jaar, was ek nog nooit bang vir God nie. Ek het egter ‘n diep, heilige ontsag vir Hom. Danksy moedersknie en vaderskoot.

By implikasie word in die nuwe beryming ‘n streep deur ‘n belangrike beginsel in die Woord getrek. Die Woord stel dit pertinent: Spreuke 1:7 Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid (1933-vertaling, want die 1983-vertaling skram ook weg van die vrees van die Here. Seker maar om te verhoed dat lesers bang word vir God.) Ja, daar is rede om vir God bang te wees as Hy geminag en Sy genade vertrap word, maar dit het niks te doen met die vrees van die Here nie.

Die vrees vir die Here is, soos die woordeboek verklaar, ‘n diepe ontsag, eerbied en respek vir wie God is. ‘n Heilige eerbied vir die Heilige God. “Wanneer mense hulle vrees vir die lewende Here verloor, dien en aanbid hulle nie meer die Here soos wat Hy dit wil hê met ‘n heilige eerbied, respek en ontsag nie. Hulle verdwaal hulleself in ‘n selfgesentreerde godsdiens waar ek en my ervarings en behoeftes die belangrikste is,” aldus dr Danie Langner op Maroela Media, Julie 2016.

‘n Onbekende Engelse skrywer stel dit so: Fearing the Lord means to be in awe of his holiness; to give him complete reverence and to honor him as the God of great glory, majesty and purity.

Agape Gemeente stel dit so: Vrees vir die Here is om Hom te respekteer, Hom te gehoorsaam, ons te onderwerp aan Sy dissipline en Hom te aanbid in eerbied, in reaksie op Wie Hy is.

Die Woord stel dit duidelik, verstaanbaar en onomwonde:

Handelinge 9:31 En die gemeentes deur die hele Judéa en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die heilige Gees, het hulle vermeerder. (1933-vertaling)

Hebreërs 12:28 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en God so welbehaaglik dien met eerbied en vrees.(1933-vertaling.) In die 1983-vertaling staan daar tereg: Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil. Ja, met diepe respek, hoogste eerbied en heilige ontsag!

Weliswaar word daar in vers 29 na God as ‘n verterende vuur verwys, maar die opskrif van die Bybelgedeelte verklaar dit: Moenie die genade van God verwerp nie. Hulle wat Sy genade ontvang en ervaar, vrees die Here in die lig van Wie Hy is en beteken ons hoef nie bang te wees nie.

Ek herinner my dat daar ‘n tyd was toe toegewyde predikers vir hulle wat die Here dien, gewaarsku het teen wêreldgesindheid en wêreldgelykvormigheid. Kinders van die Here is ín hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie. Die vertrekpunt was dat die kerk (nie die gebou nie) in die wêreld ingeneem moes word en nie andersom nie.

Dit bring my by hedendaagse lofsang en aanbidding – praise and worship – vir die wat Afrikaans nie mooi verstaan nie. In die lig van bogenoemde wonder ek baie keer hoe die uitgangspunte van hedendaagse “lofsang en aanbidding” te versoen is met die “vrees vir die Here” soos hierbo uiteengesit.

Nee, ek kyk nie uit die hoek van vormgodsdienstige verkramptheid van ‘n bleeksiel wat net agter toe kyk nie. Die Bybel verwys na verskillende maniere van lofprysing en aanbidding. Daar was musiek en beweging. Kyk maar vir koning Dawid! As dit Godvererend is, sekerlik ja! As dit nabootsing van sekulêre musiekplesier is, sekerlik nee.

Musiekbegeleiding is lank nie meer tot die orrel beperk nie! Haas enige musiekinstrument kan gebruik word tydens lofprysing afhangende van hóé en wáárom die instrument gebruik word. Gaan dit oor God se teenwoordigheid of dalk oor die musikant se dansende, springende, swaaiende manewales …?

Ek onthou so goed hoe ons in Engeland in die kerk tot rus gekom het en gewag het dat die musiekspan ons in die regte stemming gebring het. Toe ek weer sien, het ‘n man met ‘n reuse saksofoon sy plek langs die orrel ingeneem. ʼn Saksofoon in die kerk was vir my een té veel. Die orrelis het agter die orrel ingeskuif en vir die man met die saksofoon geknik.

Rustige, suiwere klanke het opgeklink. O Lord my God, when I in awesome wonder, consider all the works thy hands have madeWhen I survey the wondrous cross on which my Saviour bled and died …

Holy, holy, holy, Lord God almighty … Tussendeur het orrelspel perfek ingepas en God se teenwoordigheid was byna tasbaar.

Lofsang en aanbidding het in baie kerke en op baie verhoë ‘n skouspel geword. Allerhande vreemde musiekstyle wat in die sekulêre wêreld byval vind, word uit die wêreld binne-in plekke van aanbidding ingebring. Met beklemming wonder ek hoe lank dit gaan wees voordat dreunsang (chant) en kletsrym (rap) deel van lofprysing en aanbidding gaan wees. Donderende luidsprekers, kletterende dromme, oorverdowende ghitaarklanke, vreemde klankeffekte en flitsende ligte laat woorde deur ‘n skouspel in die agtergrond geskuif.

As die manier van lofprysing en aanbidding groter en belangriker word as die heilige, gans anderse God wat geloof en geprys en aanbid word, is daar fout. Bring die musiek en ander elektroniese effekte en bewegings ons In God se teenwoordigheid, of het Hy rede om op ‘n afstand die spektakel dop te hou?

In ons gemeente in Engeland was daar onder leiding van die Youth Pastor ‘n lewendige jong klomp wat lekker musiek kon maak en sing. Soms het hulle gesorg vir Praise and Worship en dit was binne perke maar tog ietwat anders as die gewone. As Senior Pastor op die been gekom het, het hy soms goedig opgemerk: “ It’s good to make a joyful noise unto the Lord, as long as we remember we stand in His holy presence. Let us now unite as we sing a proper old English hymn.

My vrae, met ontsteltenis, is: Is God doof dat die grootte van luidsprekers en die volume van die musiek die lofsang en aanbidding Hom beter moet laat hoor? Help bewegende ligflitse en ander ligeffekte God om musikante beter te kan sien? Wil ons God en mens op teatrale wyse beïndruk? Nee, tog nie! Liedboek 159: God is hier teenwoordig! Laat ons biddend (tot Hom) nader, hier waar ons voor Hom vergader. God is hier teenwoordig. Heilig is die Here; buig in stilte, Hom ter ere.

Ons mag en moet God loof, prys en aanbid. Dit hoef nie ‘n begrafnissanger-konsertbelewenis te wees nie, maar ook nie Plettenbergbaai Rave-ervaring nie. As studente het ons so dikwels gesing: Ons is almal hier tesaam, vergader in Sy naam. Verheerlik Hom, loof Hom, Jesus die Heer.

Wat bepaal en waar word ons Christelike, geestelike waardes bepaal? Waar gelowiges bymekaar kom en God in Sy heilige teenwoordigheid welkom is, of by die meeste wêreldse byeenkomste, waar Hy nie welkom is nie. Mense wat as gelowiges die Here soek, prys, aanbid, dien en sing ootmoedig: God is hier teenwoordig; laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader. God is hier teenwoordig, Heilig is die Here; buig in stilte, Hom ter ere.”

Daar was ‘n tyd toe baie mense die WWJD-armbande gedra het. Nou wonder ek: Wat sou Jesus doen as Hy tydens sommige Praise and Worship-geleenthede skielik op die verhoog sou verskyn? Sou Hy ‘n kitaar gryp en begin speel? Sou Hy agter die slaginstrumente inspring en nog harder speel? Sou Hy die volumeknoppe aangedraai het? Sou Hy die mikrofoon gryp en gewys het hoe eintlik gesing moet word?

En ons? Sal ons agterkom dat Hy opgedaag het? En as ons Hom gewaar? Wat dan? Sal die orkes harder speel, die sangers harder sing, die ligflitse meer, groter en vinniger rondskuif? Of sal daar ‘n doodse stilte toesak en sal almal in heilige eerbied en ontsag voor Hom kniel? En dan met verwondering en ootmoed begin sing:

Oh come let us adore Him.(3X)
Christ Jesus our Lord.
To Him be all the glory. (3)
Christ Jesus our Lord.
For He alone is worthy! (3)
Christ Jesus our Lord!

Ek herinner my aan lofsang en aanbidding, so ampertjies sewentig jaar gelede. So ‘n twintig minute voordat die predikant agter die mikrofoon stelling ingeneem het, het Tant’ Tilly, toe al diep in die tagtig, na die klavier toe aangeskuifel. Nadat sy gaan sit het, het sy haar hoof gebuig en gebid. Musiek het dan daarna uit haar vingers gevloei terwyl sy lof- en aanbiddingsliedere gespeel het. Soms het sy mét en dan weer sonder begeleiding gesing, om dan weer met klavierspel verder te sing. Dit was heilige lofsang en aanbidding en God was byna tasbaar by Sy kinders teenwoordig.

Onlangs het ons ‘n erediens in ‘n stampvol kerk bygewoon. Anders as gewoonlik, het dit behoorlik gegons terwyl lidmate mekaar gegroet en gesels het. Nogal heel jolig en ongewoon ongereformeerd! Skielik het dit stil geraak terwyl die musiekspan en voorsangers met hulle instrumente ingestap en op die verhoog kring gemaak en saamgebid het. Saam met die klavier, het ek nog sewe musiekinstrumente getel.

Die liedkeuse was in die smaak van oud en jonk en met die mooiste musiekbegeleiding het die hele gemeente lustig en met oorgawe gesing. Die wat wou, het opgestaan en hulle hande met lofprysing gelig en ander het hulle hoofde in aanbidding vorentoe laat sak. Dit was kosbare, heilige saamwees in God se kennelike teenwoordigheid.

Lofsang en aanbidding hoef nie, móét nie saai, temerig, eentonig en verbeeldingloos wees nie. Christengelowiges het rede om te jubel en te juig. Luister maar na Beethoven se “Die hemele roem”, Handel en Mozart se “Hallelujas” en Vivaldi se “Gloria”! Die vraag is net hóé. In navolging van wêreldstandaarde en jammerlik, dikwels gekommersialiseerde Gospel-konserte?

Die oorweging en riglyn is logies en eenvoudig: Wat sekulêre musiek betref word aan mense se behoeftes op ‘n wêreldse wyse voldoen en dis elke mens se keuse of dit aanvaarbaar is of nie. As dit by lofsang en aanbidding kom, is dit iets wat gelowiges uit dankbaarheid aan die heilige God bied – ‘n lof- en dankoffer in die heilige teenwoordigheid van die God wat ons aanbid.

Ná my beperkte rondreise en beskeie mening, kan ons gerus by die Nederlanders gaan kers opsteek. Onder leiding van ds. Arie Pronk en deel van Evangelisch Omroep, word ‘n gereelde televisieprogram, Nederland Zingt aangebied (ook op YouTube te siene). Dis ‘n wonderlike geestelike belewenis en val in die spektrum van eg tradisionele Nederlandse gereformeerdheid tot meer hedendaagse musieksmaak en begeleiding sonder donderende luidsprekers en vreemde klanke en ligflitse.

Mag God met welgevalle na ons lofsang en aanbidding luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

Baie lekker gelees en stem saam!! Sal beslis Nederland Zingt kyk

annie

… nee, eintlik dwing Nederland ons hoeka om by Afrika aan te pas; doem-doem in te werk om heiliger in ons eie oè te wees. Die nuwe Liedboek was die begin van die verligte-dominee-boem-boem-era. Nederland is binnekort daar soos die harte oopmaak en die knieè knak vir hul lieflike verstes; kort voor lank is die jongste Bybel-vertalings met die ‘wyshede’ van apokriewe-skrywers terug in ons kerke. Ons dominees lief eie pikante stories en lees eerder uit buite-tekste vir effek. Doem tot verdoem.

Adriaan

Baie dankie Johan, jy dryf my tot nuwe insig.
Spreuke 1:7

Frank

10/10 Johan, my broer in Christus!