Die ware gee van vrou tot vrou

Dr. Elsha Hermann. (Foto: Verskaf.)

Anna Steenkamp vlug op die aand van 3 Junie 1839 uit die Plessis-laer nadat die laer deur ʼn kers aan die brand geraak het. Die ander vroue en kinders volg haar. Toe die gevaar verby was, het hulle teruggekeer na die laer. Vrouens en kinders was in rou, want van hul mans en seuns het in die brand omgekom. Hierdie vroue gaan egter moedig voort, ondersteun mekaar en leef hul roeping verder uit.

Georgina Solomon (gebore Thomson) het in 1874 in die Kaap aangekom om te kom help met Andrew Murray se werk onder jong dogters. Sy het na die oorlog deur die destydse Transvaal en Vrystaat gereis en die vernietiging en ellende wat die oorlog nagelaat het, aanskou. Sy het vroue aangemoedig om ʼn vrywillige organisasie tot stand te bring wat die maatskaplike nood van die mense moes verlig deur selfhelp.

Tibbie Steyn skryf in Julie 1915 in ʼn opgewonde trant vir Emily Hobhouse oor die Helpmekaarbeweging wat gestig is om medelandgenote uit verknorsing te red. Vroue het oral oor saamgespan, basaars gereël en fondse ingesamel.

In 1929 is ME Rothmann (MER) deel van die Carnegie-kommissie wat die armblankevraagstuk moes ondersoek. Haar bydrae tot die verslag word as waardevol gesien, waar sy ʼn sosiologiese ondersoek oor die lot van die moeders en dogters in armblankegesinne gedoen het. Sy word geprys vir haar werk omdat sy die moeders en dogters waarmee sy onderhoude gevoer het, met respek en simpatie hanteer het.

Hierdie vroue het die ware gee van vrou tot vrou geken. Hulle het gesonde oordeel oor en insig in die belangrikheid van mense se selftrots, selfvertroue, werkywer en motivering om op te staan, geken en verstaan.

Wat kan vroue vandag aan mekaar gee? Wat het vroue vandag in gemeenskappe nodig? Vroue van vandag leef in ʼn moderne eeu waar baie meer gemak ter sprake is. Vinnige aanlyn aankope kan gedoen word. Motors kan ons vinnig heen-en-weer karwei. Brood en melk is vinnig om die hoek te vinde. Kitskos is in elke winkel en om elke draai beskikbaar. Dan praat ons nie eers van die vinnige byderhand raad, resepte en wenke op die selfoon nie.

Ons as vroue het selfs die geleentheid om ons kinders in die sorg van ʼn betroubare kleuterskool of skool te laat sodat ons ook ons beroepe en drome kan uitleef. Ons kan ons ding doen soos nog nooit tevore nie.

Maar tog…

Vroue smag na die ondersteuning van ander vroue. Tog wil vroue in hierdie moderne eeu voel dat daar iemand is wat omgee. Tydens die onlangse brande in die land was daar talle vroue wat na vroue uitgereik het. Vroue wat vir ʼn ander gesin die alledaagse behoeftes bymekaar gemaak het. Talle vroue wat onbaatsugtig gegee het.

Die afgelope Desember sien ons by Solidariteit Helpende Hand dat vroue Kersfees vir ander spesiaal wil maak. Dit gaan nie noodwendig oor die geskenke wat gegee word nie, maar die liefde en die omgee wat van een vrou na ʼn ander vrou uitgaan. Die boodskap wat die Here aan die vrou Ragab gegee het, van eindelose genade, want sy het gehoop, geglo en op God vertrou, word aanmekaar oorgedra.

Vroue sien steeds in die moderne eeu na mekaar en na mekaar se kinders om. Vroue leer by mekaar en gee vir mekaar om. Solidariteit Helpende Hand sien ook elke dag hierdie omgee-harte van vroue. Daar is talle vrywilligers waarvan die grootste meerderheid vroue is.

Om ʼn vrywilliger te wees moet jy ʼn omgee-hart hê en empatie kan toon. Jy moet die behoefte hê om aan ʼn ander vrou te gee, soos wat jy aan jou eie dogter of moeder sou gee. Jy moet die goeie in ander kan wakker maak en die mooi in hulle weer laat blom. Jy moet besef dat jy nie net vir die oomblik wil gee nie, maar dat jy so wil gee sodat hulle ook weer sal kan gee. Jy wil soos ʼn Ragab wees, wat weet dat alles wat jy het en gee net genade is. Mag ons elkeen in hierdie feestyd die genade in ons eie lewe raaksien.

Meer oor die skrywer: Elsha Hermann

Dr. Elsha Hermann is ’n maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike afdeling.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.