Die wetsgehoorsame rebel

Argieffoto (Foto: vero_vig_050/Pixabay)

Ek is ʼn wetsgehoorsame mens, so beweer ek. Maar die Duitser glo ek is ʼn rebel want ek wil altyd die limiete toets. So ry ons een jaar ʼn safari en kom daar by Groblersbrug en toe sien ek tot die grote ontsteltenis van die Duitser dat ek ons ou paspoorte ingepak het.

Die oues het ons visums vir die VSA ingehad en dus het ek dit goed gebêre – netnou nooi Trompie of iemand my om daar te kom help.

Maar hier sit ons nou en kan g’n stuk verder nie en die toeriste is glad nie vrolik nie. Dit kos mooipraat en later bied die grootbaas daar by die grenspos aan om vir ons tydelike paspoorte gee. Betaal ewe gedweë die R300 en daar is ek en die Duitser weer wettig vir ʼn hele maand.

Oorkant die brug stuit die Botswana-mense teë – die Duitser se tydelike paspoort is net geldig vir daai dag. Die mense aan Suid-Afrika se kant het ongelukkig ʼn foutjie gemaak. So ons moet terug en moet die tydelike dokument loop verander kry. Ek los die Duitser en die toeriste net daar in Botswana en jae daar oor die brug net om my in ʼn ellelange ry mense vas te loop.

Net daar raak ek sommer weer ʼn rebel en verander mooitjies die datum sommer self en teken so loshand langsaan – sommer “Themha Dube” of “Nkosinati Zuma” of iets en jae weer terug na Botswana. Die antie daar beloer die papier so bietjie en tjap die ding en daar trek ons. Salig al die pad tot by Vioolsdrif.

Ná ʼn paar jaar wil ons verhuis na Opuwo – doer in die Agterveld soos Kaokoland by ons boeremense bekend gestaan het. Ewe wetsgehoorsaam gaan sien ek die konsul van Namibië hier in die Kaap. “G’n probleem nie,” beweer die antie en sy bel sommer iemand daar in Windhoek en alles is reg – ons papiere kom. Ek en die Duitser pak die kar en ʼn ordentlike sleepwa vol met die nodigste en daar gaat ons. Neem ons intrek in Ohakane Lodge daar in die skone dorpie van Opuwo en ons begin woel.

Die Duitser pak kombuis en pakkamers reg en ek vat die drade en pype en spoeg en plak en dinge kom reg. Maar ons papiere daag nie op nie. Ek bel die foontjie warm maar ons hoop verniet – dis later maande.

Mens word mos mak en ons voel heel tuis. Eendag pak een van die dertien warmwatersilinders by die Ohakane op en ek klim sommer op die dak en ek en ou Petrus werskaf. Net toe loop daar ʼn polisiekaptein verby en kyk ewe verbaas op na die gewerkery. Vra ewe mooi in Afrikaans wat ek nou eintlik op die dak doen. Ek verduidelik sommer luidsprekend van die moeilikheid met die warm water en net daar vra hy of ek ʼn loodgieter is. Ewe verbaas skud ek my kop en toe soek hy my paspoort. En daar is die gort gaar – selle toe met die boer.

Die Duitser is gelukkig suidwaarts om by die kinders te gaan kuier, anders het sy sekerlik ʼn Hitler daar uitgepak. Gedwee ry ek met my eie kar na die poliesstasie en net daar vat hulle my selfoon en bril en toe is ek verlore. Kon darem ʼn noodkreet afstuur na die Duitsers voor die onheil toesak. Maar daar sit ek halfsiende saam met so sestig manne in die vieslike selle van Opuwo se polisie. Ons eet pap sonder sout of suiker uit plastiekborde sonder lepels. Die slaapmat is dun en stink, om nie eers te praat van die grys kombers nie.

En nou is ek gedweë en verleë. Later daai aand kom sit so twaalf of dertien man rondom my lêplek en vra wat maak ʼn predikant nou hier tussen hulle. En dit word ʼn goeie tyd. Tot laat daai nag praat ons diep sake en ek voel soos ʼn eregas – amper soos oom Paulus destyds doer in Philippi.

Dis al ʼn paar jaar gelede maar ek dink steeds oor daai enkele nag wat ek amper bandiet was – dit was eintlik ʼn goeie tyd. En nou wonder ek steeds of ek ʼn rebel of ʼn wetsgehoorsame burger is. Watter ene van die twee het my daar in die sel laat beland? Watter een van die twee het my daai nag soos ʼn eregas laat voel? Nou een dag bel ʼn troepie my daar uit Windhoek. Hy vra my of ek kan raai watter dag die beste dag van sy lewe was. “Hoe sal ek nou weet?” was my antwoord. “Dis daai aand toe ek oom daar in die selle van Opuwo gekry het.” Rebel of wetsgehoorsaam?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Stefan ·

Ai Koos, so werk die dinge soos dit moet.

Dankie vir jou stukkies ek sien uit na elke en van hulle

Piet Snot ·

…”daai enkele nag wat ek amper bandiet was…” Wat maak die woord “amper” in die sin, Koos?
Jy ontken verniet: jy het gebandiet!
Maar laat ons nou nie die Duitser vertel nie.
;)

linda limbo ·

maar ek’t die stukkie vreeslik geniet!
Dankie!!! x0x0x0x
ek sal eerder nie veel sê oor my 3 nagte as ‘n bandiet nie, maar dit het my lewe verander vir die beter!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.