Dis ʼn gruwel

Deur Marlene Farmer

(Argieffoto: Pixabay)

Ek lees in Spreuke 11:1 hierdie woorde: “ʼn Valse weegskaal is vir die Here ʼn gruwel, maar in die volle gewig het Hy ʼn behae”.

Dit word in die Easy English Version van die Bybel vertaal in die volgende woorde: “The LORD hates traders who do not use true weights. He is happy when they are honest and use true weights”.

So kom ek onlangs te staan voor die gruwel van gebrek aan besigheidsetiek. Ek noem dit sommer pleinweg misbruik. In my geval, misbruik van my rekenaarongeletterdheid, ouderdom, geslag en weduweeskap. Nou, as ek die saak reg verstaan, vereis besigheidsetiek onder andere eerlikheid. Dit lyk my ek het my misgis.

Maar laat ek voor begin.

My geliefde was die een wat voorsiening gemaak het vir alles te doene met tegnologie en het my bederf deur al die klein jakkalsies van die tegnologiese era te hanteer. Met sy afsterwe, was ek aan my eie lot en helaas ook aan die lot van ander oorgelaat. Deur die jare van my weduweeskap het ek my beroep op die gunsies van vriende en familie wat my altoos met geduld bygestaan het.

Net soos met alles wat nie ewigheidswaarde het nie, het my skootrekenaar ook onlangs halt geroep en was ek genoodsaak om ʼn nuwe of in my geval ʼn ‘nuwe oue’ aan te skaf. En dis net hier waar ek weereens te staan gekom het voor die verplettering van my geloof in die goedheid en integriteit van die mensdom.

In dieselfde asem moet ek ook byvoeg dat ek weereens my kop gestamp het teen my eie sin vir onafhanklikheid. “Dit was tyd om dit self te doen,” het ek gedink. Nadat ek my beperkte kennis gebruik het om op die Wêreldwye web te soek na ʼn rekenaarwinkel, is ek met my rekenaar na die een van my keuse.

Daar gekom, verduidelik ek in geen onverstaanbare taal dat ek nie rekenaargeletterd is nie en slegs basiese takies op die rekenaar doen. In goedertrou glo ek alles wat die ‘eerlike’ professionele rekenaarkenner my vertel. Min wetende van die vrug van oneerlikheid wat lankal in sy agterplaas ‘vrugte’ dra. En net soos Eva van ouds word ek mislei, eet van die vrug en word beroof van my regmatige behandeling as gewaardeerde klant.

En weereens stamp ek my kop teen dieselfde muur van onafhanklikheid waarteen ek soveel kere vantevore my kop al blou gestamp het.

Een van daardie blou kolle spreek van vriendelike bouers wat ‘eerlike’ en goeie werk verrig. Goedgelowig ken ek my bouprojek aan ʼn jong bouer toe sonder dat ek die onbetroubare weegskaal in sy hande sien.

Die renovasie van my nuwe tuiste het vinnig ontaard in ʼn ‘riniwasie’ – ʼn kindertyd gebruik van die woord verrinneweer. Knoeiery het hoogty gevier en daar was geen einde aan ‘eerlike’ onderhandelinge nie. Weereens was ek geflous deur ʼn vriendelike, oop gesig van ʼn jongman wat my gemoedelik as ‘tannie’ aanspreek.

Die valse weegskaal is na my mening hierdie onetiese en oneerlike gedrag in transaksies tussen ʼn besigheid en ʼn klant en is dit eintlik die afwesigheid van die behoefte om die regte ding te doen. Besighede wat hulle skuldig maak hieraan trek voordeel uit die onkunde, ouderdom, geslag en vertroue van die goedgelowige klant.

So deel ek my ervaringe met vriende en familie en almal wat wil luister. En sonder uitsondering hoor ek van soortgelyke ervarings. Nou ja, wat om te doen na hierdie vernederende en afstootlike behandeling?

Uittrap? Skel? Uitblaker op sosiale media? Lang e-posse en treurmares van ongelukkigheid en gekrenktheid stuur? Wat van my aandeel in die beskerming van ander niksvermoedende klante? Hello Peter miskien?

Ek vermoed dat daar, desondanks hierdie moontlike optredes, altyd iewers op die toonbank van die ‘eerlike’ handelaar ʼn valse weegskaal sal wees vir solank die behae van die Here onder die toonbank ingedruk word saam met die volle gewig van die weegskaal.

  • Marlene Farmer is ‘n afgetrede maatskaplike werker wat woon in Gordonsbaai. Sy skryf graag kortverhale en rubrieke in haar vrye tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Ek het jare gelede besluit om nie te trou nie. Dus moes ek op myself staatmaak as ek iemand soek om vir my iets reg te maak ensovoorts.
My liefste Pa het altyd gesê “drie kwotasies, geen kwotasies aanlyn of per telefoon nie”. Ek lees die resensies van elke “plek” en gaan loer skelmpies in by die plekke en vra dom vrae :). Ek vra direk vir personeel by veral by rekenaar/selfoon besighede of hy/sy enige kwalifikasies het !! Ek doen ook nie besigheid met vriende of familie wat sommer gou-gou alles sal uitsorteer nie deur “mense” wat hulle ken.
Ek sorg vir dat ek ‘n adres, telefoonnommer en besigheidsnommer vir VAT op die kwotasie het. Dan begin ek met my “speurwerk”. Baie so persone uitgevang, gebruik bekende firma’s. Dan kry jy die ou op sekere webwerftes wat opdaag sonder ‘n maatband en ry in ‘n motorwrak sonder wat my agterdogtig maak. Is die ou nog laat ook, dan bly ek ver weg van hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.