Dis prysuitdelingseisoen

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Dit is prysuitdelingseisoen! Die spoggerige hoogtepunte van die afgelope jaar word met merieteaande gevier en ek self het hierdie week, 23 jaar ná my laaste skoolprysuitdeling, by so ʼn toekenningsgeleentheid gepraat.

Alhoewel ek regtig bly was en is vir elke kind wat sy sertifikaat of trofee ontvang, het ek gevoel om “sterkte” eerder as “geluk” te sê, want dit wat op uitstalling is – van die vinnigste paar bene of die brein wat die feite die maklikste kan onthou – is dit gawes en talente wat vir ons gegee is.  Dis gegee vir iets meer as net die applous van ‘n pawiljoen of saal vol ouers en kinders. Dis gegee met die verantwoordelikheid om te geniet, maar verseker ook om ten goede te gebruik – tot opbou en voordeel van ander.

Jesus se woorde in Lukas 12:48 bly my aansporing vir my eie kinders en elkeen wat hoop om sy plekkie in die son te vind: “Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

So wees getrou met dit wat jy gekry het en hou op om jouself moeg te maak oor die een wat lyk of hy meer het.

My oudste seun leer my hierdie week weer ʼn waarheid wat ek eendag by iemand gehoor het:  “Ons is nie trots op ons kinders se talente nie, want dit word vir hulle gegee. Ons is trots op wat hulle daarmee doen.” Ons kinders is self meer trots as hulle voel hulle moes werk vir iets.

Paul het die naweek aan ʼn kompetisie deelgeneem met ʼn Shakespeare-stuk wat hy self gekies het en waarvoor hy homself afgerig het. Hy het ʼn natuurlike aanvoeling en dis ʼn talent wat vir hom gegee is. Hy verstaan nie heeltemal die erkenning wat hy daarvoor kry nie, want dit voel vir hom na te min moeite teenoor die ure en ure se oefening wat dit hom vat om op nasionale vlak aan iets soos landloop deel te neem. Daardie erkenning het vir hom baie meer waarde, want hy het ʼn prys betaal en opofferings gemaak en ek as ouer is dan ook trots – nie noodwendig op wat hy bereik nie, maar oor die mens wie hy besig is om te word terwyl hy leer van harde werk, nederigheid, dissipline en deursettingsvermoë.

Maar… Wat nou van die kind wat ook hard gewerk het en aan alles deelgeneem het, wat nie een oefening gemis het nie, maar nêrens iets “groot” genoeg bereik het om selfs net na die prysuitdeling genooi te word nie? Wat as jou opoffering nie “tel” nie, want jy het nie gewen nie?

Dit wat ons “wen” terwyl ons deelneem sonder om dalk ooit ʼn eerste plek te behaal, is soveel meer as iets om te hang om jou nek of teen die muur. Ons karakter wen soos ons steeds hard werk, teleurstelling leer hanteer, opstaan na ons geval het en jaar ná jaar teruggaan sonder om dalk ooit ʼn beurt op die podium te kry – alhoewel my hart wil glo elkeen moet iewers sy beurt kry…  Miskien moet ons en ons kinders soms vir onsself ʼn “erkenningsgeleentheid” hou waar jy stil staan en vir die Here dankie sê vir wat jy al gewen het in jou menswees.

My pa het my geleer: “Lindie, jy moenie nodig hê dat enigiemand vir jou moet sê dit was goed nie. Jy weet mos wanneer was dit jou beste.”

Ek gun elke mens elke dag van die jaar daardie gevoel wanneer jy jou kop in die aand op jou kussing neerlê:  Al klap niemand vir my hande nie, ek weet wanneer was dit my beste!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jerry ·

n Kind wat hard werk vir erkenning behoort na skool probleme te ervaar wanneer erkenning vir harde werk nie meer geld nie. n Kind wat hard werk of nie hard werk nie en erkenning kry wat hy/sy nie verwag het nie, se erkenning smaak soveel lekkerder en sulke kinders het beter balans in die lewe en sukkel normaalweg nie om na skool aan te pas nie!

Anoniem ·

Ek salueer skole wat die gesonde balans gevind het. Party skole maak heeltemal te groot ophef van uitsonderlike prestasies en breek die gemiddeldes se moed. Ander skole leun vêr oor na ander kant en gee weer vir almal pakke vol sertifikate, selfs vir die wat regtig niks probeer nie (hulle dink goed uit sodat almal heeltyd iets kry) dit is ook verkeerd, want daar is regtig kinders wat harder werk en hulle kry dieselfde as die outjies wat maar lekker lui is. Baadjies kreun onder balkies wat later niks beteken nie! (Kyk hoe lyk party graad 4’s se baadjies) Dan kry jy gesonde skole se merietestelsels wat die wat hard werk en probeer erken, maar om “iets” te kry bly nog steeds ‘n groot eer en prestasie en iets waarvoor hulle moet WERK! Sommiges kry vir die eerste keer “iets” in graad 7 of graad 12……en om daai gesiggies te sien is “priceless”! Ons moet nie ‘n passiewe generasie kweek wat net vir géén moeite sommer net beloon word nie. ‘n Balkie of trofee moet werklik uitsonderlik wees en iets waaroor hulle droom en werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.