Dit was ʼn onvergeetlike dag…

Springbokke-1995-Wêreldbeker

Afrigter Kitch Christie en sy wenspan en -bestuur met die Webb Ellis-trofee. Foto: Christiaan Kotze.

Dit is 24 Junie – die twintigste herdenking van daardie onvergeetlike Saterdag in 1995 toe die Amabokoboko volksbesit geword het na die Springbokke die Wêreldbeker gewen het.

Ek herinner my nog goed hoe vreemdelinge langs jou jou om die lyf gegryp en op en af gespring het.

Ja, die Bokke was die kampioene – en die refrein van die rockgroep Queen se liedjie “We are the champions” het nog lank ná die eindfluitjie en die oorhandiging van die Webb Ellis-trofee in die paviljoene weerklink waar 60 000 toeskouers steeds bankvas gestaan het.

In die strate dwarsdeur die land het toeters geblaas en die nuwe Suid-Afrikaanse vlag is oral gewaai.

Weens die kort bestaan van die nuwe demokrasie en die invloed wat die titel op die land se mense gehad het, was dit beslis ’n groter gebeurtenis as die Wêreldbekertitel wat die Springbokke in 2007 in Frankryk verower het.

Vanaf die noordgrens met Zimbabwe tot so ver suid as Kaap Agulhas was daar ongekende vreugde toe die Springbokke met hul eerste deelname aan die Wêreldbekertoernooi die All Blacks op Ellispark in ’n drielose eindstryd 15-12 na ekstra tyd geklop het.

Die wedstryd self was ʼn riller. Rustyd was die telling 9-elk teen die gedugte All Blacks wat loshande die gunstelinge was. Maar hulle is daardie dag takties uitoorlê deur die strategie van die hoofafrigter Kitch Christie wat saam met die spanbestuurder, Morné du Plessis, die hulpafrigter Gysie Pienaar en die tegniese adviseur Rudi Joubert die All Blacks se ondergang beplan en bewerkstellig het.

Die Bokke was so byna nie in die eindstryd ná ʼn dramatiese uitstel op uitstel van die halfeind se afskoptyd in Durban teen Frankryk nie. Dit het só in Durban gereën dat daar die werklike gevaar was dat spelers in die plasse op Kingspark kon verdrink.

Is die wedstryd afgestel, sou die Franse weens ʼn beter dissiplinêre rekord in die eindstryd wees. Twee van die Bokke se spelers, Pieter Hendriks en James Dalton, is uit die toernooi geskors na die bakleiwedstryd teen Kanada in Port Elizabeth.

En toe gaan druk die Franse boonop in Durban wat hulle gedink het was ʼn drie, maar dit word in die dae voor TV-skeidsregters nie toegeken nie. Wie weet…

Van die dag van die Groot Wen onthou ʼn mens die spanning, die Boeing wat laag oor Ellispark gevlieg het, die gesing van Shozaloza met die woorde op die groot skerm aan die suidekant, die feitlike stilte deur die wedstryd wat gekenmerk is deur ongelooflike lakwerk deur die Bokke, en die All Blacks wat een aanval na die ander geloods het met die wete dat die Bokverdediging nie sou kon hou nie.

Hulle was verkeerd…dit hét! En hoewel elke man sy deel en meer gedoen het, was dit die verdediging van Joost van der Westhuizen en veral James Small wat teen die yslike Jonah Lomu gespeel het, wat jou sal bybly.

En natuurlik daardie skepskop van Joel Stransky, sowat sewe minute voor die einde van ekstra tyd, wat Suid-Afrikaanse rugby sy ereplek laat inneem het.

Die grondslag vir hierdie triomf is gelê op meer as net passie en toewyding wat oor 135 jaar gestrek het. Redelik bekwame administrasie, sterk plaaslike kompetisies soos die Curriebeker, en goed georganiseerde skolerugbystrukture het ook bygedra.

Dit het ook gevolg op jare se teenkanting en onderhandeling met die Suid-Afrikaanse regering oor die apartheidsbeleid. Hierdie beleid het gelei tot die verbod op die kies van anderskleurige spelers op enige vlak van Suid-Afrikaanse rugby; vandaar die uitsluiting van die Springbokke van internasionale rugby.

Hierdie faktore het die gemiddelde fanatiese, bittereinder-ondersteuners daardie dag in Junie min getraak. Vir hulle het die Wêreldbekeroorwinning Suid-Afrika se status as die beste ter wêreld oor die afgelope eeu bevestig.

Hul geliefde Bokke het immers meer wedstryde teen elke rugbyspelende land gewen as verloor – insluitende op daardie tydstip ook nog die huidige wêreldkampioen.

Hulle het die All Blacks in Nieu-Seeland in ʼn reeks geklop, iets wat die All Blacks tóé nog nie hier in Suid-Afrika reggekry het nie. Boonop het die Bokke vier agtereenvolgende Grand Slams op toere na die Verenigde Koninkryk (VK) en Ierland gewen waartydens die vier tuisunies die knie moes buig – die All Blacks en die Wallabies kon dit elk voor 1995 slegs een keer regkry.

President Nelson Mandela het die Springbokke voor die wedstryd in hul kleedkamer besoek en ná die wedstryd met ’n Springbokpet op sy kop en ’n nommer 6-Springboktrui (kaptein Francois Pienaar se nommer) die trofee aan die Springbokkaptein oorhandig met die woorde: “Thank you for what you have done for South Africa.” Pienaar se antwoord was: “We could never have done what you have done for South Africa.”

Ja. Dit was ʼn dag wat ʼn mens moet koester…

Lees ook Pieter Kruger se rubriek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Loeis ·

Nelson Mandela, wie in die artikel genoem word, het ‘n boek “Playing the enemy” geskryf. In die boek beskryf Mandela hoe hy Suid-Afrikaners (en die Afrikaner in besonder) se obsessie met rugby gebruik het om die mense aan sy kant te kry. Hierin het hy geslaag.

‘n Vragie: waarom was dit so vreeslike oomblik toe die Suid-Afrikaanse span gewen het? Daar is sekerlik niks fout met ‘n sport nie, maar wat het dit vir ons gedoen? Die waarheid is dat rugby net ‘n spel is, niks meer nie. Die Suid-Afrikaanse span het ‘n spel gewen. ‘n Spel waarvoor ons tot vandag ‘n duur prys betaal. Dis tyd om wakker te skrik mense.

Johan 2 ·

Dankie Loeis, lyk darem of hul die sport (wat ons so duur kos)nou begin uitwis met hul kotas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.