Ek het die vakansie begin lees aan Emily P. Freeman se boek, The Next Right Thing en daar in hoofstuk twee tref sy my met ʼn woord wat my net nie wil los nie. Sy haal die skrywer Josh Becker aan wie se blog, “Becoming Minimalist” sy al ʼn rukkie lank volg. Josh het in ʼn onderhoud gesels oor eenvoud (simplicity) en toe gesê: “The journey is important even if we never quite arrive at the destination.”
Ek self is al lank besig met die konsep van eenvoud en tog as ek my weer kom kry, is daar net nog goeters in my huis! Dan vaar ek weer die kaste in en gooi nog goed uit. Ek dink ek smeer bietjie af op die res van ons gesin, want vroeër hierdie week kyk ons die dokumentêr, “Minimalism” en nog voor die einde van die program, is al drie ons kinders na hulle kamers toe – besig om uit te gooi!
Ek probeer jaar vir jaar nog eenvoudiger leef, eenvoudiger koop, eenvoudig nie opgaar nie, maar ek voel ek kry dit nie reg nie en toe tref hierdie woord my: “Becoming”. “The journey is important even if we never quite arrive at the destination.”
Ek lees dit op die vooraand van die nuwe jaar en alhoewel ek nie regtig voornemens maak of het nie, dink en besin ʼn mens tog oor die jaar wat kom. “Eenvoud” en “minder dinge beter doen” is maar weer op my lysie, maar dié slag met die bemoediging van hierdie woord – “becoming”. Dis ʼn reis en ʼn proses en die proses en die probeer is belangrik selfs al kom ek nooit by die finale bestemming uit nie.
Die proses van “becoming better at something” – wat ook al daardie ding op jou lysie is – en die probeer is reeds goed al is jy nog nie by die ideaal nie, want jy word tog beter! Ek dink ook aan die proses van “becoming one flesh” in die huwelik en die lewenslange proses van heiligmaking. Dis goed – al is ons nooit klaar nie.
Ek weet nie hoe lyk jou lysie vir die jaar of waarmee jy dalk al ʼn geruime tyd sukkel en jy voel jy kry dit net nie heeltemal onder die knie nie. “Becoming” het my bemoedig. So saam met my skoonsus se woorde: “Vat net eers Januarie.” Ja! Dit voel vir my haalbaar! Ek skep sommer moed om in dae te tel as om te dink aan maande en jare. Begin net eers by Januarie en by die volgende regte ding om te doen. Een ná die volgende “regte ding” en “regte keuse” bou tog een ná die ander op mekaar en al voel jy jy is nog nie daar of klaar nie, is jy beter en vorder jy wel met een regte ding op ʼn slag.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Dankie Lindie, hierdie is vandag net vir MY geskryf! #Becoming
Goeie artikel en ek kan “relate” met die artikel. Ons huis is nou amper n jaar in die mark, so stap ek deur en bekyk elke vertrek en omdat ons wil “afskaa” kleiner plek, kleiner tuin minder goed, toe besef ek maar van die “goeters” sal ons moet van ontslae raak, so begin ons van groot meubles en kaste ontslae raak, 10 maande later is nog nie verkoop nie maar die spasies wat oop staan en so lekker, en toe begin ek kaste skoonmaak kombuis eerste nou is daar kaste wat leeg staan, ek het vir my skoondogter gegee vir… Lees meer »
Lees gerus die boek “7” geskryf deur Jen Hatmaker.
Ek moes oorhaastig pak en trek van ‘n ses slaapkamer huis na ‘n drie slaapkamer, ‘n huis wat helfte so min vertrekke in totaal het as waar ek gebly het en het groot skoongemaak. Ek moet nou noodgedwonge ‘n hele spens se goed in een kas in die kombuis inpak. die uitgooi en uitsorteer was verfrissend en ek mis niks nie. wat ek nou het het ek nodig, nie wat ek wil he nie