Ek pak my redes in ʼn tas…

Emigreer

Foto: Ometz.ca

Sy sê jammer dat sy wil emigreer, en dat mense dit die maklike pad noem. En ek verstaan haar hart. ‘n Boere-oom, ‘n vriend van my pa, sê daardie selfde woorde vir ons. Hy sê hulle sal hom voete eerste van sy plaas af moet dra. Onmiddellik dink ek hy kan enige oomblik deel van ‘n statistiek word. En ek byt op my tande om nie te vra of hy bereid is vir sy vrou of sy dogter om ook voete eerste van sy plaas af gedra te word nie.

Want, Oom, ek is nie. Ek is nie bereid vir my kinders om voete eerste enige plek heen te gaan nie. Ek het ook ‘n jaar terug nog hoop gehad vir Suid-Afrika, nes hierdie vrou van George. Tot ons halfvyf een Dinsdagoggend in November wakkerword met ‘n vreemdeling in ons slaapkamer.

Toe was hy reeds in my kinders se kamers en deur my hele huis. Hy het reeds sy sakkie volgemaak met sy buit. Ek was nie bang nie, ek was baie kwaad. Nadat die polisie en die speurder by ons huis was en die diefwering heelgemaak is, vertel ons die mense wat gebeur het. Elke iedere persoon se reaksie was: “Gelukkig het hy niks aan julle gedoen nie.”

Gelukkig. Gelukkig dat hy niemand verkrag, gemartel, aangerand of vermoor het nie. Daardie week gebeur dieselfde met twee van my kollegas, nie naastenby in dieselfde buurt as ons nie. Kort daarna word ‘n kollega se dogter by ‘n kettingrestaurant aangeval en haar gesig word teen haar kar se stuurwiel gebreek. Sy was “gelukkig” dat iemand saam met haar in die kar was, want die persoon wou inklim, maar kon nie. Nog ‘n kollega stuur ‘n waarskuwing dat ons nie verby Olifantsfontein moet ry daardie week nie, want haar pa se motor is beskadig deur stakers op die snelweg wat hom met bakstene bestook het. “Gelukkig” is hy nie ernstig beseer nie.

Dis nie gelukkig nie, dis skrikwekkend. Dis abnormaal. Dis absurd.

Dis nie meer ons land nie. Dis nie meer die land waar jy rustig slaap nie, want jy luister vir elke vreemde geluid wat gevaar kan aandui. Dis nie meer die land waar kinders fietsry skool toe en op grasperke voor bure se huise speel tot die son lankal onder is nie. Dis nie meer die land waar jy jou kinders by die parkie of die publieke swembad alleen los vir die middag nie. Dis nie die land waar jy gaan kamp en jou kinders kan saam met maatjies die oord vol baljaar sonder sorge nie. Dis nie waar jy toktokkie speel in die dorp of alleen treinry na jou ouma in die Vrystaat vir die Julievakansie nie. Dis nie meer die land waar jou kinders net geleer kan word om hard te werk op skool en universiteit en by hul eerste werk om te verseker dat hulle ‘n goeie toekoms gaan hê nie.

Vandag is dit die land waar jou hoë heining en jou privaat sekerheidsmaatskappy en jou groot hond en jou handwapens deel is van jou kinders se werklikheid. Waar jou kinders geleer word om so vinnig moontlik in te gaan en deure te sluit sodra hulle in die huis is. Waar jou kinders geleer word wat om te doen as jy gekaap word, en hoe om by restaurantspeelplekke ‘n bohaai op te skop as iemand vreemd selfs net met hulle praat.

Dis die land waar jy nagte wakker lê en beplan vir ‘n toekoms of waar jy jou werk verloor, maar nog steeds jou familie aan die gang moet hou. Dis waar jy ‘n mediese fonds het en hoop die belaglike bedrag wat jy betaal, alles sal dek sodat jy nooit in ‘n staatshospitaal hoef te wees nie. Dis waar jy versekering moet hê vir allerhande ondenkbare, maar baie moontlike goed. Dis waar jy elke oggend bid jy het nie boodskappe op jou foon van nóg iemand wat aangeval of dood is wat ʼn kennis of naasbestaande nie.

Dis die land waar jy alles in jou vermoë doen om jou ouers van hul plaas af te probeer kry, want hulle is sagte teikens.

Dis waar ons is.

Ons besluit ons emigreer. Een van die eerste goed wat ons leer, is dat ons nie te veel moet praat oor wat in Suid-Afrika aan die gang is nie. Die mense in die buiteland dink ons dik die feite aan en ons maak goed op. Die media word ‘n rat voor die oë gedraai oor wat werklik aangaan. Maar die waarheid kom uit.

Die geweldige hoeveelheid Suid-Afrikaners van alle rasse wat die land verlaat is gevaarligte, en die wêreld neem kennis. Daar is ʼn sprankie hoop. En ons bly bid vir ons mense – ons en baie ander soos ons wat nou van ver af moet kyk hoe die land ten gronde gaan.

Ek is nie jammer oor die keuse om te gaan nie. Ek is spyt, self bitter, omdat dit daarop neergekom het dat ons ‘n keuse moes maak. Ek luister na mense en ek weet dis reg vir ons gesin. Jou opinie gaan nie my besluit verander nie. Jou opinie gaan nie my toekoms bepaal nie. Ek gaan vir seker my mense mis – al die niggies en nefies, ooms en tannies, vriende. Ma en Pa. My kinders gaan ook verlang, veral na hul oupas en oumas. Ek bid dat elkeen die geleentheid sal hê wat ek nou het om nuut en veilig oor te begin. Ek weet daar is baie wat nie kan of wil nie.

Emigrasie is nie die maklike pad nie. Dis ‘n klomp frustrasie. Met regeringsdepartemente wat alles moeilik maak en langer laat neem as wat jy ooit kon dink. Dis ‘n worsteling en ‘n wipplank van emosies wat jou vir maande en jare laat wroeg. Dis ʼn klomp besluite.

Dis afskeid neem van alles wat joune is. Dis laat gaan van drome en bekendheid en wortels. Dis duur. Dis emosioneel. Dis aaklig. Dis rou. As ek kon, sou ek dit anders wou gehad het. Maar hier is ons nou. En ek het hoop op ‘n beter lewe vir my. Vir my gesin. Vir my kinders.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

99 Kommentare

Groter prentjie ·

Weet presies hoe jy voel. Het 15 jaar terug die skuif gemaak. Dit was nie maklik nie. My kinders floreer. Ons is veilig in n pragtige land. Vriende word familie. Baby steps! Ons is elke dag dankbaar vir die kans wat ons gekry het. Baie mense wil, maar kan nie. Hou moed!

tokkie ·

Ek wens ons kon gaan – kinders het geimmigreer – maar helaas ons moet bly. Finansies. Die regering met sy uitsprake het ons gekelder

Chelle ·

Briljant geskryf! Niemand kan dié skrywe nadoen of ewenaar nie!
Absoluut rou,eerlik, waar. Vol emosie…
Ek kan die seer én die afwagting aanvoel.
Stuur sommer ‘n kopie van jou skrywe vir
Onse Minister Lindiwe Sisulu.
Net een versoek asseblief…
Vat my En my gestremde kind asseblief saam.
Pak ons asseblief ook in jul tas oppad soontoe,anderkant toe.

Botterblom ·

As dit sou help om dit vir enige minister of enige iemand van die regerende party of nie regerende party te stuur, asb. stuur dit uit. Hulle(besluit maar self wie) lag, vuis in die hand… oorwinning en oorlogsliedjies… vuur en bitter gloei in hul oë, net die wet en ander lande weerhou hul om ons almal in ‘n massa gat te gooi… Die sondes van die voorvaders? Ons straf as nageslag? Daar het dinge gebeur, en al was dit nie jy nie en al was jy nie deel van dit nie, ons betaal die prys…. Self het ek liefde vir almal, maar jaaa as ek die geleentheid/geld gehad het om te vlug…. Mag God ons vrykoop met Sy bloed…. Mag daar ‘n wonderwerk bo wonderwerke gebeur… Op die end is als en almal God sin…. (yep, tot die grond waaroor bloed loop tans)

Rasper ·

Hierdie artikel, saam met die artikel van die dame van George, maak my baie hartseer. Die meeste van ons ken daardie gevoel as jou ma na 21h00 bel. Daai koue gevoel tot sy sê alles is reg. Ek sien ook die leë fietsloods by die skool. Ek het ook besluit om my nie te steur aan daardie omies nie. Ek werk met genoeg boedels om te weet dat die meeste “omies” se boedels uitbetaal aan begunstigdes oorsee. Met al hulle brawade, is hulle bang vir alleen wees, bang dat almal gaan. Persoonlik byt ek nog so bietjie vas. Probeer nog mense oorreed dat selfbeskikking ‘n werkbare oplossing is. Dat emigrasie binne in SA ‘n bietjie makliker sal wees as emigrasie oorsee. Wens net daardie kantons waarvan Afriforum praat kom uit, sodat mense hulle “emigrasie” opsies kan oorweeg. Ek noem Afriforum, want volgens my is hulle die enigste organisasie wat selfbeskikking ‘n werklikheid kan maak.

SAnik(s) ·

Ooo ek stem so ongelooflik baie met jou saam. Dat emigrasie binne Suid Afrika ook n werkbare opsie is. Goed gestel.

Eish ·

Ek deel jou sentiment Rasper! In totaliteit!
Tyd loop net uit!
Ek bly want ek kan nie emigreer nie!

Gerhard ·

Dit is ongelukkig al wat oorbly vir baie in die Nuwe Suid-Afrika. Daar is geen werklike alternatief nie. Die werk wat Afriforum/Solidariteit doen is ongelukkig net nie genoeg om die probleem op te los nie.

Moedeloos ·

Ons is afgekeur vir emigreer na Aus. Ons punte is te min. Geld is nie die probleem, maar ons kwalifiseer nie op die punte stelsel volgens die migrant agent nie. Hoe Dan gemaak… Ek wil hier weg, ek dink aan my kind. Ek kan dit bekostig, maar HOE?

Gerhard ·

Kyk maar na ander lande, Australië is darem gelukkig nie die enigste hoop nie.

Jorika ·

Kyk op hulle skilled lys en gaan doen n kort kurses iets agter jou na te he wat tel by hulle

Eileen ·

Probeer NZ,bietjie makliker en goedkoper.ons sou nou reeds daar sit,maar ons het besluit om nog te wag

Marnie ·

Probeer gerus New Zealand. Kyk op hulle immigration website om te sien of jy kwalifiseer. As jy ñ “skill” het wat op die “short skills list” is en die regte ouderdom is, is jou kanse goed om in te kom. Sterkte.

Marinda ·

Probeer Georgië (veral as jy ‘n entrepreneur is of meeste van jou werk aanlyn doen).

Boerenooi ·

As finansies nie ‘n probleem is nie, oorweeg Mauritius. Sterkte.

Kerr ·

Probeer New Zealand weet van baie wat nou baie baie maklik oor is daarna toe

Ons kan nie ·

MEESTE van ons wil trek maar as jy nie die regte ouderdom is of ‘n werk uit die hemel het nie sukkel jy BAIE om uit te kom. Ons sukkel al vir maande, ons het nog nie eers ‘n vorm kon invul van ‘n land wat bereid is om ons te vat sonder dat ‘n voornemende WERKGEWER ons nie net ‘n aanbod maak nie maar ook meeste vorms voltooi. Hulle moet eers ‘n permit by hulle Dept van Arbeid kry om ‘n ‘foreigner’ in te neem, en dan moet hulle die hele proses dryf so as dit nie ‘n ‘sponsored employer’ is nie, kan jy vergeet, die feit dat ons werk het in ‘n ander land BETEKEN NIKS, as hy jou nie wil sponsor nie, kan jy nie eers begin om JOU aansoeke in te dien nie. Ander lande se afsnypunt is 55, ander lande vra ‘n investment van ten minste $500 000, nou vra ek jou .. hoe kom ons hier uit . .as jy nie familie daar het nie .. of ‘n werkgewer wat bereid is om jou te ‘sponsor’ nie, sit jy net hier . EN JA ek het baie stories gehoor van ARM mense wat oor is, maar dit is nie meer so maklik nie, ook afhangende van watter land jy gaan. EK BENY julle . .maar moenie dink ons WIL nie gaan nie . ONS KAN NIE.

Mel ·

Presies! Ons Val in die regte ouderdoms groep en kan steeds nie gaan sonder om n sponsor te he nie!

Marlise Green ·

Ek weet hoe “ek pak my tas”voel … my kinders het die land verlaat; ek was nou onlangs by hulle … hulle het SA verlaat vir NZ …. my hart was stukkend …. tot ek daar gekuier het. Hul kinderss 16 en agt jaar …. hulle kan alleen parkie toe gaan … hulle kan alleen fiets ry … fietse word nie gegryp nie.,,, ek was daar … ek was nie aangerand op eie bodem deur “ander” soos in SA nie …. die strate en die parke was SILWERSKOON …. toe het besef hoe ek my gewoond geraak het aan vuil strate …. onversorgde geboue .. SA lyk vuil! Ek is so hartseer oor wat van ons pragtige, vorige goed versorgde land geword het. Ek ween oor my pragtige SA ….. wat ‘n derderangse land geword het. VUIL VUIL VUIL

Victor ·

Dit is so hartseer, maar ek kan die gesin nie kwalik neem nie. Suid-Afrika het misluk, maar ons het ook die verantwoordelikheid om vir diegene wat nie kan bekostig om te immigreer nie ‘n beter toekoms te skep.

Francois ·

Ek het baie simpatie met die skryfster. Maar met al haar redes kan ek en sal waarskynlik nooit emmigreer nie, al kan ons familie skuif. Sien, julle wat in die buiteland is en permanent nou Kanadese, Amerikaners en Australiërs is kan nie meer julself Boere Afrikaners noem nie. Julle gaan moet aanpas by julle nuwe identiteit, want kyk almal oorsee soek maar geselskap op van mede suid afrikaners. Ek gaan eerder dood voor ek iets anderste word, en dood sal ons almal eendag gaan. Die probleem met n Uitlander wees, is dat die probleme hier julle daar ook gaan tref. Sien SA is eerste in die multi-kulturele ding of soos Flip Buys sê “clash of the civilisations”. Plus, dink julle dit gaan daardie kant net groen wees? So later moet jy saam met n vreemde volk veg? Droogtes, vloede, kulturalisme, gelowe, oorloë en dalk n wereld-oorlog? Kan jy waarborg jys more, volgend jaar of oor 10 jaar veilig? Afrikaners word sterker hoe harder jy hul druk. Elke toets in verlede het ONS geslaag met vlieënde vaandels. Die een sal ons ook. Sterkte oorsee, julle gaan dit later nodig hê!

Mel ·

François, sterkte vir jou. Jy is miskien gelukkig om dood te gaan vir ‘n land waar jy nie meer welkom is nie, maar ek gaan eerder dood km seker te maak dat my familie nooit weer daai daaglikse vrees sal ken nie. Jy het geen idee hoe abnormaal die omstandighede in Suid Afrika is nie. Word wakker!

Afrikaner Vlakvark van Toekomsfontein ·

Ons leef nou een en andermaal in ‘n sondige, deurmekaar en onsekere wêreld. Gelukkig net tydelik. Geen land is perfek nie. Die Voortrekkers het ook hul trek gehad. En die Hugenote en die 1820 Setlaars. Mens moet jou koekiekeuse maak en dit vat soos die koekie verkrummel. Ek het al baie in die buiteland gereis. My raad aan voornemende SA emigrante (nie immigrante na SA nie) is: “Besoek vooraf jou gekose land en maak besluite op feite, nie emosies nie.” Feit is dat die Suid-Afrikaanse nasie “weird” is, eienaardig, vreemdsoortig. Wanneer hulle gaan terugkeer na normaal weet ek nie.
Terloops, ek is in wese ‘n Afrikaner en lief vir my volk maar nie verslaaf aan Afrikanerskap nie.

Nico Du Toit ·

Dis nou so bietjie meer as 10 jaar sedert ek my geliefde land verlaat het, en ek mis dit vreeslik! Maar ek weet my kinders is veilig en kan hulle lewens voortneem op ‘n gelyke vlak. Dit was nie maanskyn en rose nie, dit kan ek jou verseker Francois, maar ons het deurgedruk … soos ons voorvaders.
Jy sien my voorvaders, Francois en Guillaume du TOIT het ook in 1688 besluit om hulle moederland (Frankryk) te verlaat, miskien het hulle langer gewag as ek ? Miskien was hulle braver? Miskien moes hulle maar die eerste boot wat uit die hawe vertrek vat? Wat maak dit saak?
Hulle het seker ook hierdie gewig in hulle gemoed gehad soos René dit beskryf het. Dis nie maklik nie, maar ek is nie spyt nie. Ek het toe in die in die einde die sirkel voltooi. Ek is terug waar my voorvaders uitgevlug het… Miskien nie so sleg nie. Wie weet, dalk sal my kinders eendag emigreer na SA toe om die land te herbou. Ek het wel geleer: een ding is seker, niks is verseker nie.
Dankie René du Preez vir jou woorde en sterkte! As jy die wil et sal julle dit maak!

Jj ·

Ja kyk my meisie my ook na lang tyd gekry om te dink aan oorsee gaan dis vir my moeilik want ek weet SA is nie meer veilig nie maar as mens kyk na wat besig is om in ander lande te gebeur is dit ook net kwessie van tyd voor hulle ook deur die massas oorgeneem word. In amerika stuur hulle al kinders skool toe met bulletproof skool tasse, in europa ry hulle trokke in kersmarkte in, australia se “no go zones” val bendes jou aan helder oor dag gaan kyk maar net bietjie op alternatiewe media die gevaar tekens in westerse lande en vergelyk dit met suid afrika 20 jaar terug. Eerlikwaar is emigration net n tydelike oplosing vir n persoon maar soos wat die westerse lande se blanke mense minder en minder kinders kry en ander volke meer en meer word elke jaar gaan jou kinders en kleind kinders in daai lande weer selle boot wees as wat ons nou hier in SA is. Die eenigste lang termein oplossing en beste vir ons kinders maar ook moeilikste oplosing is selfstandigheid, eie arbeid, eie instansies en eie grond gebied. Inalgeval is ons as n Christen nasie net tydlike bewooners in die wereld maak seker jy jou paspoort reg vir die Ewige lewe

Botterblom ·

My New Zeelandse vriendin (oud Suid Afrikaner) kom kuier, te bang om saans uit te gaan. Haar man dood bekommerd oor haar… Haar pa woon hier, haar ma by haar. Haar niggies ens. Ek gelukkig om haar te sien. FB is ons enigste werklike kommunikasie. Ek volg haar soos ‘n verslaafde daar… Sy maak voorstelle, maar ek weet ek kan maar droom… Hulle is goed aangepas en gelukkig. Besit al grond en eie huis. Het nog die ou Suid Afrikaanse gasvryheid en ‘n rustigheid. Sy selfde ouderdom maar haar oë lag en sy lyk jonk en mooi. Saans word jy wakker van geluide en as ‘n lig aanskop, skop jou hart en paraatheid in werking… is dit ‘n lewe…. Buiten die gewone kwellinge, sit mens met ‘n magdom meer….

Hans ·

Francois, SA is nie eerste met die “multi-kulturele ding” nie.

Ek werk tans in Melbourne saam met ‘n span baie bekwame kollegas. In my span:
– 1x volbloed Aussie
– 1x Griekse Aussie
– 1x Chinese Aussie
– 1x Egiptenaar
– 1x Rus
– 1x Skot
– 1x Maleisieer
– 3x Indieers
Ras is nie ter sprake nie, ons werk lekker saam. As jy jou kant bring word jy hier aanvaar en gerespekteer.

Die sleutel tot oorlewing is aanpasbaarheid, waar jy jouself ookal bevind. Dit beteken nie jy hoef jou identiteit te verloor nie. Ek bly ‘n Afrikaner in murg en been.

Toekomsgerigte Erdvark ·

Prioritisering van drywers vir emigrasie: Gesinsveiligheid, kinders se toekoms, werkgeleenthede en lewenskwaliteit.
Huidige SA risiko’s: Toenemende werkloosheid oor SA nie ekonomies wêreldkompeteerbaar is nie. Ongebreidelde bevolkingsaanwas, rassisme, verval van wet en orde, besoedelde munisipale water.
Sterkte en voorspoed René.

leon ·

Sterkte vir jou en gesin.

Ons gesin het besluit om te bly. Dit gaan ‘n harde 20 jaar wees wat voorle maar voel dit is ‘n roeping om hier ‘n verskil te maak aan die se lewens wat minder het. Die land en sy mense was die tuiste van my voorvaders en -moeders deur dik en dun.

Baby Boomer Selfaktualisering Bosvark ·

Alle Suid-Afrikaanse “baby boomers”, inbegrepe die “struggle” veterane, moet eers afsterf alvorens hul nageslagte bevry sal wees van die slawekettings van die verlede en die verwyt- en sondebokkultuur. Dán alleen sal die nageslagte oor kultuurgrense heen kan fokus op ‘n nuwe droom en visie en selfaktualisering.

Jj ·

Sterkte leon ek vermoed ek en my familie gaan ook nie uit die land kom nie ons probeer kanada maar ons geld is min en geen kwalifikasie nie so ons sal maar ook moet probeer verskil maak hier vir die wat agter bly

Nicoline ·

Probeer New Zealand. Dan kan jy later Aus toe skuif as jy so voel.

bgj van der westhuizen ·

welal die wit mense wat kan bekostig sal die land verlaat en ons wat oor bly is te arm om dit te doen dit baklie so ver as wat ons kan gin vir n plek in die land wand ek is deel van dit ek kan nie oor see gaan nie is te arm en te ou om dit te doen

San1 ·

My kinders is oppad na die buiteland, met geen werk net met hulle gekwalifiseerde punte, en hulle kwalifikasies, sonder ‘n borg, Hulle gaan om nooit terug te kom nie.
Ek is baie bly vir hulle nuwe toekoms daar, ek dink nie ons land is veilig meer nie en Suid-Afrika is lankal terug vermoor, alwat oorbly is mense wat nie meer hier wil bly nie, Ek self wil nie hier bly nie, wat help ‘n lekker klimaat jou as jy verarm, verkul, deur jou eie land ingesluk word. My ander kind kan nie, sy punte is te min, maar hy soek ‘n geleentheid en sy broer gaan hom prober help. So ons hou duime vas. Nie lekker vir my om agter te bly nie, maar hulle toekoms daar in die verte is beter hier, slefs grond beteken niks, so wat is oor hier? ‘n geweldadige, wettelose land.

MS ·

Ek en my gesin wil bittergraag hier weg, miskien Amerika. Maar waar begin mens???

Ballon ·

Gaan sien n imigrasie konsultant. Dit sal dalk die maklikste manier wees. Op google is hulle volop.

Anita ·

Nee ! Suid Afrika is my God gegewe land ! Ek gaan nerens. Al moet ek veg, dan veg ek saam en vir my God !

Antjie ·

Jou rubriek sê presies hoe my hart voel.
Ons sal Desember 2 jaar uit Suid afrika wees, immigrasie is nie vir sussies nie. Dit was die moeilikste ding wat ons gesin al in die gesig gestaar het, alles wat bekend was is weg, maar dit was ons keuse om te gaan vir ons eie veiligheid. Nou is Ons veilig, ons En ons kinders het n toekoms. Maar verlange na alles wat bekend was, familie en vriende sal ons deel wees vir altyd.

Blou is die hemel ·

Ons is ook oppad Aus toe. Wag nog net vir Visas. Ek voel presies soos die berig. Dit is die moeilikste ding wat ek nog moes doen. Dit is hartseer verby. Maar as ons nie nou gaan nie kom daar moontlik nie weer n geleentheid nie. My man het n ‘sponsored job’ gekry. Almal wat daarvan hoor sê dinge soos, julle kan seker nie wag nie of jy is seker baie opgewonde. En NEE NEE, ek is niks van dit nie. Ek is naar en sien nie uit daarna om te gaan nie maar ek het n enorme drang om my kinders te beskerm. En ek besef daar is so baie mense wat graag so n geleentheid wil hê.

Cathy Kotze ·

Ek het soveel deernis met René. Ons kinders het reeds in die laat negentigs die skrif aan die muur gesien. Ons dogter is deur die ANC regering uitgerangeer uit die Weermag. Ons seun was té wit vir die firma waar hy gewerk het. Sy is Kanada toe. Hy woon in die VSA.

Hulle grootste vrees was vir ons veiligheid. Ons dogter het in 2001 besluit om ons te borg en ons het ses maande later in Kanada geland. Dis verskriklik om na 60 jaar jou land te verlaat en van vooraf te begin.

Deesdae word ons deur al ons vriende en familie in Suid-Afrika beny. Baie van hulle kan nie meer hulle duur mediese fondse bekostig nie en maak nou gebruik van staats mediese hulp. Hulle vrees elke hospitaal besoek. Hulle voorheen voldoende pensioen het gekrimp en hulle kan deesdae skaars oorleef. Dis moeilik om te glo dat die waarde van die Rand voorheen dieselfde was as die waarde van die Dollar.

Ons lewenskwaliteit is puik. Ons staats mediese hulp is feitlik gratis en uit die boonste rakke. Ons veiligheid is ’n gegewe. Ons sien uit na elke nuwe dag. Daar is soveel om te doen. Soveel om te geniet.

Ons tiener kleindogter rits oral rond in haar eie motortjie en sy en haar vriendinne hou laataand piekniek op die strande.

Ons dogter en seun is hoog aangeskrewe in hulle beroepe. Hulle kwalifikasies is uiters gesog in die buiteland.

marco polo ·

Ek voel vir julle, dis hartverskeurend om jou mense en n lewe te moet agterlaat. Vir diegene bo 50, kyk gerus na aftreevisas in plekke soos Thailand en Malaysia. Al wat jy nodig het vir Thailand is om USD25000 in n Thai bankrekening te hou. Dis my bestemming wanneer ek aftree en China verlaat. Ons voorouers het die vreemde getrotseer, ons kan dit weer doen en steeds ons kultuur hou.

HPV ·

Daar bestaan nie iets soos ‘n God gegewe land nie, God het die mens egter ‘n vrye denke, keuse en wil gegee. Dieselfde met ons voorgeslagte wat hierheen gekom het voor dit onder die anc regime in ‘n helhool verander het.

Gerhard ·

Dit is die ding. As dit so is dat God jou iewers geplaas het met ‘n doel dan moet meeste Afrikaners vandag iewers in Europa woon.

Oupa Vrede en Voorspoed Vasbytvark ·

Mag ons geen vingers wys na diegene wat emigreer nie;
Mag ons geen vingers wys na diegene wat in Suid-Afrika agterbly nie;
Want ons weet nie wat die toekoms vir die geëmigreerdes inhou nie;
Want ons weet nie wat die toekoms vir diegene wat in Suid-Afrika agterbly inhou nie.
Mag ons almal sout van die aarde wees, stryders vir reg en geregtigheid en naasteliefde.
Mag ons almal vrede en voorspoed beleef.

R Du toit ·

Beste kommentaar nog.
Mense is so maklik om te sê hoe verdoem SA is of hoe sleg en moeilik die aanpassing oorsee is. Hierdie is ‘n besluit wat niemand van ons wil maak nie en almal met onsekerheid neem, of jy gaan of bly. Mag God ons almal beskerm en mag ons weet dat die Here ons nooit sal begewe of verlaat nie, of jy gaan of bly!

Alida ·

Amen hierop – dis so waar. Ons lewens is nie in ons hande nie.

Johannes ·

Baie goed gestel Oupa Vrede! Ekself het objektief gesproke geen hoop meer vir Suid-Afrika nie, maar ek bly wel op die oomblik baie gelukkig in ‘n ander Afrika land. Ek is gelukkig, want ek weet God het vir my werk waar ek nou is!

Amelia ·

Bybel se.. en jul sal hoor van oorloe, een nasie wat teen die ander opstaan, die een sal die ander vervolg. Hierdie profetiese woord was nie net vir Suid Afrika geskryf nie. Hierdie dinge moet gebeur voor die koms van Sy Seun.. Al vlug ons waarheen, dis iets wat ons nie sal kan ontduik of weg bid nie.. Die son sal weer skyn.. die boere kom weer..

Marinda ·

As ek en my man ook maar net op ñ vliegtuig kon klim en Suid Afrika totsiens toe wuif, maar nou ja, finansiel is dit net nie moontlik nie.

June ·

Bravo René! Fantasties geskryf, dit kon net sowel my eie woorde gewees het. So hartseer soos wat dit is, is dit ook die pad wat my gesin nou volg. Ons sal bou aan ‘n toekoms aan die anderkant.

Conrad ·

Weereens, Afrikaners word nie ingeperk nie. Ingehok nie. Dis in ons bloed. Dis in ons DNA om Voortrekkers te wees. Dis gene van ons voorouers wat in SA aangekom het. Kan mens die aard van ‘n terrier verander? Nee. Hy sál muise jag. So is ons Voortrekkers.

Is dit ‘n goeie of slegte eienskap? Ek weet nie. Maar ek weet net dis moeilik om ‘n Afrikaner in ‘n hok te sit. Of in ‘n hoek te druk. Niks keer hom nie!

Marinda ·

Probeer New Zealand, die mense kom makliker hier in en dit is soos hemel op aarde, sluit aan by die groep South africans living/waiting to live in New Zealand – Official group hulle sal jou baie kan help

Hein ·

Die groot rede hoekom ons nog nie met kinders begin het nie, is omdat die land in die toestand is wat hy nou is. Ek sien nie ‘n toekoms vir my kinders hier nie. Ek sien nie dat hulle veilig buite sal kan speel en doen wat ek gedoen het nie toe ek jonger was nie. Ek het nou self beggin kyk na ander lande, dis nie maklik nie, maar op die oomblik sal ek enige plek heen gaan. Die media hier maak jou negatief, die kriminele help nie, wat gebeur met moordenaars maak my gatvol. Ek is klaar met die plek. Ek wil nou vlug om my familie erens te begin.

Werner ·

Hierdie is ‘n gewigtige saak. Ek het baie respek vir mense wat die moelike pad van emigrasie aanpak. Ek het vriende en familie wat dit deurgemaak het. Ek wil tog ‘n beroep doen op emigrante om hul deel te doen om Afrikaans relevant te hou deur, wanneer hulle in Afrikaans skryf, die Afrikaanse name van hul nuwe lande te gebruik. Dis so mooi om te lees van Kanada, Australië of Nieu-Seeland. In Afrikaans.

Schane ·

Ek kan baie relate met die artikel. Sit nou self paar maande in n ander land met 2 klein kinders. Ons moes ook baie dinge agterlaat en dit was baaaaie moeilik, maar het soveel meer gekry hier as wat ons ooit sou dink. En het besef ons keuse om landuit te gaan het oor baie meer gegaan as net veiligheid en n toekoms vir ons kinders. Dit het ook gegaan oor sisteme wat uitmekaar val en n hunkering na vrede in ons harte. Dit het ek alles gekry hier. Dit is net lekker om in n plek te bly waar alles werk! Kinders is gelukkig en vry, ek praat nogsteeds afrikaans en sal altyd n afrikaner bly, maak nie saak waar ek my bevind nie. Mens leer om te blom waar jy geplant is. Ek blom nou net op n ander plek en leer my kinders om dieselfde te doen! Ek is elke dag dankbaar dat ons die geleentheid gehad het om hierheen te kom!

Ewald ·

Beste artikel wat ek in lang tyd gelees het. Ons vlieg die 5de November ook na Australia vir emigrasie. Dit was n lang en rowwe pad tot hier en daar lê nog baie trane en tande byt voor. Maar ons glo en vertrou op God dat ons die regte ding doen vir ons kinders. Sterkte aan die wat dit nie kan maak en wil gaan, maar daar is ander opsies na ander lande.

Albie ·

13 jaar gelede na Engeland verhuis nadat my vrou n werkspermit as Verpleegkundige by n Outehuis gekry het. Nie altyd lekker gewees om verwyder van familie en vriende te wees nie. Ek bid elke dag vir my familie, vriende en mede Suid Afrikaners daar in Suid Afrika. Sterkte

RetroBoer ·

René,
Ek het baie respek vir elke gesin wat die vreeslike moeilike besluit neem om die mense wat hul liefhet te verlaat om elders ‘n toekoms van die grond af te gaan bou. My sussies en ons kindertjies se niggies en nefies bou só in Australië. Hulle mis ons vreeslik, en ons vir hulle.
Ek het ook baie respek vir elke gesin wat die moeilike besluit neem om hier te bly.
Dié Afrikaners wat emigreer maak ‘n reuse bydrae om ons beeld in die buiteland te bou. Die mense wat oorsee met Afrikaners kennismaak leer dat ons gewone, goeie, hardwerkende mense is wat nie almal so boos is wat sommiges ons uitmaak om te wees nie. Dit is van groot waarde, en die van ons wat hier is kan dit nie doen nie.
Dié Afrikaners wat bly doen elkeen op hul eie manier hul deel om ‘n toekoms hier te skep vir die wat wil bly, en die wat moet bly.
So kan elkeen van ons doen waarvoor ons geroep is, waar ons geroep is.
Ons gesin sou kon emigreer as ons wou.
Maar ek staan by ‘n oorlogsgraf op ‘n plaas in die hoëveld;
en ek staan in die laer by Bloedrivier;
en soms het ek ‘n beklemming oor ons almal se toekoms hier.
Maar van een ding is ek seker – ons is geroep om híér te wees.
Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.
PSALMS 22:5

Cornel ·

Ek stem saam dat emigrasie verseker nie die maklik uitweg is nie. Met baie moeite, trane en verlange is ons nou al 3 jaar in pragtige Nieu -Seeland. Ons kyk egter nie een dag terug nie. Ons kinders het n toekoms. Nerens in Afrika is die teendeel bewys nie. Ek sal agter vir ewig rou oor ons ons pragtige land Suid -Afrika wat ons moes agterlaat. Gelukkig het ons die pragtige herinneringe.

Calamarie ·

Bid en hou moed. Ek het n werk offer in NZ gekry. LinkedIn is n goeie platvorm. Dit sal gebeur!

Chris ·

Ons is alreeds 16 jaar in Australië. Toe ons Australiese burgerskap gekry het was dit soos om die lotto te wen. Ons is net soveel Afrikaner in Australië as in Suid Afrika. ‘n Afrikaner met kinders wat SOVEEL uitsien na hulle toekoms. Wat so hard werk aan hulle toekoms. Wat bome plant want hulle glo in hulle toekoms. Wat absoluut geen perke of grense ken wat hulle kan verhoed om met hulle lewens te doen wat hulle wil nie.

Stella ·

Dis dalk nie maklik om te emmigreer na n ander land toe nie, maar dis ook nie maklik om n gevangene te wees in jou eie land nie. Ons het opgepak en bly in Belgie en ek is nog nie een dag spyt nie. My kinders floreer in hul vryheid, en met vryheid bedoel ek dat hulle met hul fietse kan skool toe ry, vreesloos. Ek ry in my motor met my venster oop, wind in my hare, vreesloos want niemand gaan my motor kaap of my juwele afruk nie. My kinders is gelukkig, vry en veilig, en dit is al wat saak maak. My man en ek bied aan hulle n toekoms. En God het my nie verlaat omdat ons, ons land verlaat het nie. Suid- Afrika, my eie land het my vir lank nie meer welkom laat voel nie. Waarom dan bly? Daar is soveel mense wat dieselfde wil doen maar nie kan nie en my hart is seer vir hulle, seer omdat ek as ouer hul vrese verstaan. Dis hartverskeurend, hierdie situasie van n volk, wat een land so uitmekaar laat spat a. g. v geweld, korrupsie, rassisme, disrespek vir sy medemens, gulsige, lui mede bewoners wat die Afrikaner volk haat. Ek kies vrede. En ek slaap rustig want ek weet my familie is veilig. Mis ek my land en mense? Natuurlik. Maar ek dink ook aan die toekoms. En my kinders se toekoms lyk beslis beter hier waar ons tans woon.

Sue ·

Ek was ‘n paar jaar gelede in België, ek wens ons kon daar werk kry. Dis ‘n ongelooflike plek!

Susan ·

René, dit is net absoluut wonderlik hoe julle hierdie ding aangepak en deurgevoer het. Maart maand begin navraag doen het en nou sit julle al reeds ‘n meer as ‘n maand in Nieu-Seeland. Mense sê dis onmoontlik, maar as Vader aan jou kant is, is niks onmoontlik nie. Ek sien hoe die vrede uit julle vloei en hoe gelukkig en rustig kleinman is en dit gee hierdie moederhart baie rustigheid, al mis ons julle verskriklik! Mag Vader vir julle die pad gelyk maak in Sy tyd vir die res van julle uitdagings! Go forth and conquer the world for Him!

RJS ·

Ek wonder of die mense wat trek steeds Suid Afrika as hulle tuisland sien? Sal hulle ons kom help wanneer die regte geveg begin?

Cathy Kotze ·

Mense wat soos Jan dink is ‘n groter hindernis!

Nee, Suid-Afrika is nie meer ons tuisland nie. Dis wel ons hartsland. Ons moes noodgedwonge besluit om vorentoe te kyk. Die meeste is reeds volwaardige Australiërs, Kanadese, Amerikaners, Nie-Zeelanders, ens.

Ons help egter onverpoos. Baie in die buiteland sien steeds Afrikaners as apartheid rassiste. Ons is egter die perfekte voorbeeld van alles wat ‘n Afrikaner werklik is: hardwerkend, nederig, goed gekwalifiseerd, uitstekende etiese norme, Christene en wetsgehoorsaam. Ons is die toonbleed van ‘n anti-rassis.

En ons werk kliphard vir Suid-Afrika deur briewe aan koerante te skryf, radio onderhoude te doen, en in ons daaglikse kommunikasie met mense.

Vriend Harry Booyens se boek: “AmaBhulu – The Birth and Death of the Second America” is die mees akkurate geskiedenis boek van die Afrikaners. Dis in Engels geskryf sodat die Engelssprekende wêreld ook toegang tot die feite kan hê.

Harry is ‘n gereelde gas op Amerikaanse konserwatiewe radiostasies.

So in antwoord op jou vraag: Ons help reeds!

marco polo ·

RJS, ek sal beslis. Maar dan moet dit die moeite werd wees en ons moet voluit gaan en slegs stop wanneer ons ons eie staat het.

Gys ·

Ooooo wee, die morbiede treurmares! Ja dankie, ek bly baie lekker in Suid-Afrika.

Ouma ·

In my hart trek ek saam. Ek wil bitter graag Kanada toe gaan maar my man wil nie….

Johanna ·

Dit is so pragtig geskryf! Dis alles so waar. ALLES. die hartseer van verlange kan werklik nie in woorde beskryf word nie. NEE. Dit kan nie. Glo my. Vir die wat kan gaan, wens ek net die beste toe.!

Etienne ·

Haai Rene – ek dag ek het hierdie artikel in my slaap geskryf so PRESIES voel jy soos ek voel. Maar, helaas, ek kan nie so goed skryf nie, so dit was toe nie ek nie! Maar dat jy die spyker sekuur op die kop slaan in terme van my gevoelens is waar. Ons is ook “oppad” en hartseer/kwaad/opgewonde daaroor. Dit voel asof ek “my land” skei – met al die gevoelens van “wat kon wees” en “ek wil nie, maar ek moet”. God se rykste seën vir julle. My grootste gebed is dat ons eendag daardie kant sal sê “ek was verkeerd – die Here het Suid Afrika geseën en omgedraai en dit gaan nou fantasties daar”. Ek wens so ek kon al my mense saamvat, maar vir nou kom my vrou en my vier kinders eerste.

Carlien ·

Ons kan dit nie bekostig om te emmigreer nie.. Die vrees en onsekerheid in Suid Afrika maak dat ek erg angsaanvalle kry want n mens is heeltyd bang en nie seker of jy more nog gaan lewe nie.. Ek beny elke persoon wat uit die land kon uitkom, as ek dit ook kon doen was ek lankal weg.. Mag die Here ons beskerm, want ons regering voel duidelik niks vir sy mense nie en ons bloei dood terwyl hulle besig is om hulle self te verryk… Ek is lief vir my land, maar dis verskriklik om 24/7 in vrees te lewe..

Annamarie Olivier ·

Ons is oud ons kan nie weg gaan. Die Gelofte se lied gee my weer hoop.
Ek dink elke mense wat wil he dit moet beter gaan in hierdie land moet weer die gelofte lees en GLO want net God kan ons red en ons situasie verander.

Disselboom ·

Mens hoor die ding nou nogal baie, die stelling soos van @Hans hierbo: (ek woon oorsee maar) “ek bly Afrikaner in murg en been”. Wat presies bedoel Afrikaners met so stelling? Wat maak ‘n Afrikaner dat hy voel hy bly ‘n Afrikaner? Disselboom vra dit uit opregte belangstelling, om te probeer verstaan hoe Afrikaners dink hulle bly Afrikaner daar op sy eie, terwyl in ons eie land ons nie eens mooi kan uitmaak wat ons kultuur nou eintlik is nie?

van der Merwe ·

Renè, ek salueer jou. Dit is ‘n groot besluit wat julle geneem het, en daar is niks eenvoudig daaraan nie.

Ons is in die situasie dat my man se 2 kinders beide die pad gevat het – een na NZ en die ander na Engeland. Dit gaan baie, baie goed met beide van hulle, MAAR dit is sò moeilik vir die mense wat agterbly. Kom Vadersdag, moet my geliefde tevrede wees met ‘n telefoonoproep van elkeen, so ook met verjaarsdag en Kersfees. Ek voel so seer vir hom – hoe moeilik moet dit wees om te weet jy sien jou 2 seuns net 1x elke 2 jaar. Ek gun hulle die voorspoed, die veiligheid, die sekuriteit, maar kan nie help om soms kwaad te wees nie. Dit voel soms vir my hulle tree op soos vlugtelinge. . . Ons voorvaders het bloedrivier gehad, die Drakensberge trotseer, Dingaan, Silkaats ens. en hulle het sterk gestaan, soveel oorwin, en ook soveel opgeoffer. Moenie ‘n fout maak nie, ek voel ook soms na tasse pak en gaan – ongelukkig is dit net nie so eenvoudig nie.

Sterkte – ek wens julle net die beste toe.

Maryna ·

Ek kon net sowel hierdie geskryf het.

Môre is dit ‘n maand sedert ek Auckland toe gevlieg het om hier te kom werk soek. Ek was gelukkig genoeg om in die eerste week iets te kry en het vandag begin werk. Dit beteken manlief en my liefste kindertjies kan nou hulle tasse in SA pak en ook oorvlieg. Ek kan nie wag om almal weer vas te hou nie!

Alles voel steeds heeltemal onwerklik en ek kan nie glo dat dit hierop neergekom het nie. Ek treur oor my vaderland en my taal, maar Suid-Afrika is lankal nie meer vir ons ‘n ‘tuiste’ nie. Ek kon net sowel as vreemdeling kom soek na ‘n veiliger heenkome vir my kindertjies. Ek treur oor die ‘ideale’ lewe wat ons agterlaat, manlief se wonderlike werk en my tuis-bly mamma dae wat verby is. Daar is bejaarde ouers wat gegroet moes word, hegte families wat uitmekaar skeur en onvervangbare vriendskappe wat opgeoffer moes word.

Maar elke keer as ek kyk in die blink ogies van my kleintjies, dan weet ek hulle verdien ‘n beter toekoms. Hulle kan dit alles agterlaat en leer om hulle nuwe land te waardeer vir dit wat dit wel is.

Onthou, ons Afrikaners se voorgeslagte was pioniers, avonturiers en dromers. Hulle het gegaan waar hulle moes ter wille van hulle kinders en hulle vryheid. Dit is in ons bloed om dieselfde te kan doen!

Carlien ·

Maryna, wat is jou beroep nou daar?? Wat is gewilde beroepe wat maklik werk kry daar?

Ian ·

Dit is baie moeiliker om te verlaat as om in Suid-Afrika te bly. Gaan waar jy gewaardeer is, waar jy goed behandel word en waar daar geleenthede vir jou kinders is.

Jy sal dit nie spyt wees nie.

Silver ·

Emmigrasie het voor en nadele – ek is baie rustiger, dink anders oor die lewe, veg nie meer nie en my mening is nie meer so belangrik nie. Aardse goed het baie min waarde en klere is net daarom jou liggaam teen die weer te beskerm. Maar Om na n ander land te gaan is moeiliker as om te vergewe en the vergeet – jou ondersteunings struktuur is gebroke, jou waardes en die waardes van die ander land is teenstrydig en jou kinders mis uit op familie liefde, tradisies en bymekaar wees. Ten spyte van alles is ons steeds elke sekonde verbind aan mekaar deur dieselfde Vader wat ons dien.

Tom ·

So wat gaan jy doen as daar ‘n inbreker ook in jou huis staan in jou nuwe land. Gaan jy jou tassie pak en verder vlug?

AW ·

Mense kom en Mense gaan….
Wat het Mense se Reg om te Kom of Gaan te Doen met my !?
Die wat Gaan ….Sterkte!!
Die wat Kom …..Sterkte!!
Die wat Bly ….Life Continues !!

Europa toe ·

Perfek opgesom. Dis amper 3 jaar gelede wat ons op die vliegtuig geklim het. Elke punt, elke gevoel wat beskryf is is akkuraat. Om te emmigreer is NIE maklik nie. Niemand loop uit SA uit met hulle gesin omdat hulle WIL nie, dis omdat hulle eenvoudig n beter toekoms soek vir hulle kinders. Sterkte aan almal wat hierdie groot stap vat, en ook aan die wat sou wou, maar nie kan nie.

Cathy Kotze ·

Tom, wat gaan ek doen as ‘n inbreker ook in my huis staan in my nuwe land. Ek gaan my motor alarm druk en 911 bel wanneer die dief behoorlik gekonfoes is. Die polisie sal binne drie minute op die toneel wees.

Ons het wel al ‘n paar keer onwelkome nagbesoekers gehad, maar gelukkig dra wasbere (raccoons) nie messe of vuurwapens nie.

Ons het geen diefwering, diefalarm of hoë mure rondom die huis nie. Om die waarheid te sê, die huis se deure is selde gesluit, selfs snags.

Nelline ·

Tom – Wanneer sekondes tel is die polisie minute weg. Maar waar ek nou woon, is my voor en agterdeur baie keer ongesluit, en my kar is oop in die oprit. My honde is gesinshonde NIE waghonde nie, ons het nie heinings of diefwering nie.

Francois Siebrits ·

Ai. Ek wens ek kon my gesin hier weg neem. Uit die land uit. Ek het groot geword met die agter deur wat nooit gesluit was nie. Want ons kinders moes kon in kom laat aand. Baie hartseer.

Hartseer in Europa ·

Ons het 3 weke terug Praag toe getrek. Die bank waar ons aansoek gedoen het vir n rekening het dit die beste gestel: “are you an alien?” Dit staan net so op hulle vorms! En dis wat ons is. Ons is nie ex-pats of emigrante nie. Ons is ALIENS. En ons hoort nie hier nie. En hierdie mense laat ons baie goed verstaan ons hoort nie hier nie! Dit is die moeilikste ding wat ek in my lewe nog gedoen het! Dit voel of ‘n stuk van jou hart uitgeruk is. En jy bloei stadig dood deur jou oë. Ons was nooit slagoffers van misdaad nie. Ons het bloot ‘n geleentheid gekry en besluit ons wil die kinders europa laat beleef. Dit was die droom. Die realiteit? Dit is ‘n bitter, bitter harde lewe hier.

Derf ·

3 jaar in Perth, voel presies dieselfde. Moeilike deel wag nog vir julle…

GD ·

Verlos jouself van die tipiese SA fiksasie om na ‘n ander engelssprekende land te wil immigreer. Suid Afrikaners gedy dwarsoor die wereld, het self dit eerstehands gesien. Kyk na Suid en Sentraal Amerika, goeie geleenthede (as jy nie lui is nie), gawe mense. Kan met baie min geld daar weer begin. As ‘n ander taal as engels al is wat jou keer is dit geen rede nie. Ongelukkig ontdek die meeste van ons eers nadat ‘n tragedie jou getref het dat daar eintlik nie ‘n enkele rede is wat goed genoeg is om enigiemand te keer om te emigreer nie. Ons glo mos almal sulke goed gebeur “met ander mense” – tot die dag wat dit met jou of ‘n geliefde gebeur.

Die verskil tussen ‘n emigrant en ‘n vlugteling is meestal uiteindelik net een ding – tydsberekening. No ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie slaap…..

Elaine ·

Het 20 jaar gelede New Zealand ons nuwe tuiste gemaak en was nog nie n dag spyt nie. Die kwaliteit van lewe in hierdie pragtige skoon eerste wêreld land is to die for. Die natuurskoon is asemrowend. Kiwis is vriendelike mense met n live and let live attitude. Ons 2 pragtige Kiwi gebore kleinkinders wat, ja glo dit, nie n woord Afrikaans kan praat nie, want Afrika is genadiglik nie hulle erfenis nie. Hulle weet nie van diefwering en staal hekke en bang wees nie. Ons besluit 20 jaar gelede die moeite werd? Beslis!!!

Elaine ·

Het 20 jaar gelede SA verlaat. Een van die beste besluite wat ek en my man ooit geneem het. Ons kinders kon opgeroei in ‘n skoon, eerste wereld land met van die beste skole en universiteite. En nou ons kleinkinders. Hulle weet nie van diefwering en staalhekke en dief alarms nie. Speel in die park en rond hardloop op die strand is tweede natuur. En ouma en oupa vergeet nog steeds party aande om die voordeur te sluit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.