Ek’s ʼn dapper muis…

Grafika: André Santana/Pixabay

Die Duitser is dapper. Kort nadat ons mekaar gevat het, gaat besoek ons saam-saam die tandarts. (Daai tyd het onse mense nog goed saam-saam gedoen.) Destyds was dit dr. Rouiliard doer in Stanger. Ons het albei twee tande wat gestop moet word en ek loop later daar uit met ʼn dikbek. Die Duitser is sprankelend en eet slaptjips en drink Coke want sy vat sommer die boordery so bloots. Ek is Namakwaland-se-kind so die volgende jaar lê knyp ek ook my boude maar ek vat die pyniging. So word ek ʼn dapper muis want jaar vir jaar vat ek die pyn.

So laat ek die meisiekinders later van jare my hare knip en puisies uitdruk en elke nou en dan ʼn doring uit my voet uit grou want ek is nou ʼn dapper muis en ek vat pyn sonder blik of bloos.

Laasjaar wil my oge nie meer so mooi kyk nie en die geleerdes op Vredendal vertel my dis katerakke wat daar groei en die kykers is besig om te vervaal. Loop sien die grote geleerde doer op Vredenburg en die lang mens beveel aan ek moet laat opereer want die vaalgoed moet so voort uit. Volgens hom een oog op ʼn slag want die pyniging is te groot en mens moet kans gee laat die een oog vasvat voordat jy die volgende ene aanvat. Maar ek is nou al ʼn ou dapper muis so ek vertel die doktertjie hy moet vasstaan en klaarmaak en basta met die ruskans vir vasvat tussenin. Ek reken ek kan mos pyn vat.

So loop lê ek die dag daar in die teater op Vredenburg. Die susters bedek my mooitjies met lakens van kop tot tone met net die een oog wat uitloer. Die lang dokter is rustig en vertel my in volbloed Ingels presies wat hy doen. “Kyk nou links mnr. Greeff.” “Draai jou oog na regs.” “Hou jou oog stil laat ek kan sny.” “Ek verwyder nou die lens en dit gaan donker wees.” “Ek plaas nou die nuwe lens in jou oog en dan gaat jy so ietwat sien maar dit sal dynserig wees.”

Toe vat hulle ʼn breek-kansie en plak die oog toe en kry die ander ene reg vir die snyery. En ek het ʼn probleem. Hier onder die lakens raak my kakebeen aan die wikkel. My tande klap so op mekaar laat selfs ek dit later kan hoor. Versigtig woel ek my linkerhand opwaarts en vat my kinnebak vas. Ek stut hom behoorlik hier teen my borskas want as ek skietgee dan wil my winkeltande uitval.

Skoonseun sit hier regs van my en hou my regterhand vas en bekyk allerlei soort goeters wat wagstaan oor my binnegoed. “Suster, hou vas bietjie my skoonpa se hand,” hoor ek hom rustig praat hier neffens my. Ek laat los die kakebeen en vra hom ewe manhaftig wat makeer hom want vir wat moet ʼn vreemde vroumens my hand sit vashou asof ek dit nodig het. “Pa, ek sien hier op die goeters pa vat bietjie stres.” Later toe moet skoonseun maar spuit en suster moet vashou want die kakebeen wil nie ophou klap nie – voel behoorlik of ek sinkplaatpad ry.

So half-bedwelmd met die onbekende vroumens wat my handjie sit vashou is ons toe deur die volgende oog se snyery. Na twee dae het my oge weer begin vasvat ek nou is ek weer jonk en kyk ek ʼn barshou met my Zeiss-oge.

Deesdae is ek nie meer so dapper nie. Ek vat nou maar die inspuitings en loop dikbek daarna want vir wat sal ek my so laat martel net omdat die Duitser pyn kan vat? So laat mens mos darem nie met jou mors nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephan de S

Lekker soos n krekker…..dankie Koos???

Essa

Oi Koos, nou weet ek nie of ek meer bang of minder bang is vir die prosedure wat vir my ook wag nie!! ?Maar sal beslis nie dapper genoeg wees vir ‘n dubbele dosis op een dag nie. Weer lekker gelees aan jou wedervaringe ?

Bloudrom

Hierdie storietjie het jy net geskryf omdat skryf skryf is.

Spatare

Ek hou van die man se stories :-)