En die paddas kwaak …

Argieffoto (Foto: kie-ker/Pixabay)

Ek is nou nie eintlik ʼn groot tjom van Breyten Breytenbach nie. Ek kuier eerder met sy broer Jan om ʼn kampvuur, maar die ou skrywe iets iewers oor paddas en die paradys en goeie tye.

Ek en die Duitser het al gebly vanuit die Kaap tot in die Noordveld van Suidwes. Van Zoeloeland se omtes tot teen die Weskus. En elke plek het sy eie bekoring – behalwe miskien Parow-Suid. Destyds in Zoeloeland het ek graag op ons voorstoepie gekuier met my kleinspan. Veral as die donderwolke so aan geroggel kom al in die Tugela-vallei af met die Krismistyd. Voor die wolke hol daar sulke ligte vlieswolkies of eintlik mistigheid. En dan praat die Ewige en die aarde bewe en mens se hart skop sulke klonte van ontsag. Die Duitser was gewoonlik nie saam nie want sy maak vensters toe en gooi doeke oor die blinkgoed om die weerligte uit te hou.

Doer in die Noordveld was dit weer die warrelwinde wat vanaf die suide oor Opuwo se stof vlakte aangewaai kom. Hulle tel rommel op en help die arme munisipaliteit om op te ruim. En dan val ʼn stormweer oor een van die berge en die waters hol die strate af en gooi die res van die rommel alles in die hoofstraat. Maar saam met die morsery tel daai warrelwinde stoffies op tot bo tussen die vlieswolke. En dan sak die son. Die hemel is ligroos en dan oranje en dan purper en die salige koeltes kom lê op ʼn mens.

Dan weet jy dis Krismis en die tyd van genade is hier.

Laasnag het dit kom reën hier teen die Weskus. Hier namiddag se kant sit ons met die kinders en vuurmaak. Dis salig hier op ons knoppie met Swartriet wat doer ver sit. En toe ruik ons die eiland. Die ou kaarte praat van “Jacobsrif” maar ons roep hom sommer “Robeiland”. Wat daar aangaan weet ek nog nie maar iets onhebbelik moet dit wees. As die wind noordwes draai dan kom gooi hy sy stinktes oor Jacobsbaai. Maar ons verduur die reukie want ver op die horison kom daar sulke rondepenswolke aan. Die kinders is later voort en ek en die Duitser loop lê knus. Iewers hier rondom middernag moes hy kom val het.

En dis toe dat ek aan Breyten en sy paddas dink. Vanaf Oranjevlei se kant al in die vallei af tot doer by Swartriet kwaak hulle. Ou bekendes tel weer bande van toentertyd op. Families raak aan’t sing en kinders en oumense praat deurmekaar. Dis een warboel van stemme en woorde maar alger praat oor die dieselfde ding. Want dis Krismistyd en dit reën teen die Weskus. So ʼn onverdiende, buiten-tydige genade. Net soos die groot rede van Krismis.

Vanoggend sit ek en die Duitser weer op die stoep en drink ons koffie met dankbaarheid. Onse God is ʼn grote God wat Sy goedgyt kom uitgooi alwetende onse halsstarrige ongeloof. En ons is bly ons kon die paddas hoor kwaak. Soos in die paradys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.