Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om meisies en vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word. Mariet van Niekerk, eienaar en redakteur van Bruidsgids, vertel in dié skrywe oor die verskeie rolle wat vroue vertolk.
As vrou is ons gemaak om…
Ek is Mariet van Niekerk. Ek is ook Wilma en Pieter se dogter, Marius en Pieter Wynand se sussie, die eienaar van Bruidsgids, verskeie ander vroue se vriendin − die lys gaan aan.
Ons vroue vertolk soveel rolle dat ons soms vergeet wie ons regtig is. Alhoewel ek dalk die etiket van iemand se ma, dogter, vrou, kind, vriendin, kleindogter of enige ander beskrywing dra, bly ek steeds Mariet, bly ek vrou. Dit is nóg ’n rol wat ek vertolk… maar hierdie spesifieke rol, met alles wat die laaste paar weke in ons land aangaan, laat my bietjie dieper dink as die ander rolle wat ek vertolk.
Nee, wag: hierdie probleme is nie nuut in ons land nie, ons is nou net vir die eerste keer regtig bewus daarvan. Die afgelope tyd is baie statistieke aan ons bekendgemaak, onder meer dat geweld teen vroue vyf keer meer in Suid-Afrika is as die gemiddeld in ander lande – geweld slegs as gevolg van ons geslag.
Ek kry ’n knop in my keel as ek dink wat die vroue wat deel van hierdie statistiek is, moes deurgemaak het of dalk nog steeds deurmaak en ek kan nie help om te wonder nie: Is ek dalk volgende? Of dalk nie ek nie, maar iemand na aan my? Ek wonder ook verder: Wie is ek regtig en wat is my rol as vrou?
Ek besluit toe om met die soeke na hierdie antwoorde ’n paar ander vroue te vra wat dit vir hulle beteken om ’n vrou te wees.
“Vrouwees is vir my om te gee wanneer jy nie hoef nie, lief te hê wanneer dit nie sin maak nie, te beskerm en te veg wanneer niemand anders bereid is om te veg nie.” – Anke Jordaan
“Om te besef dat ons die gom van die samelewing is. Ons is sterk, magtig en uniek. Om net te dink dat ons ná nege maande geboorte kan skenk aan ’n baba is as sodanig ’n ongelooflike gedagte.” – Lourene Nel
“As ek aan die titel ‘vrou’ dink, dink ek dadelik aan Ester van die Bybel. ’n Vrou wat ’n opinie het en haar stem laat hoor, wat vir ander in die bresse tree, haar doel wat God vir haar hier op aarde gegee het, uitleef.” – Rosanne Venter
“Om vrou te wees, is glad nie ’n minderwaardige rol of beteken dat ons swak is nie. Inteendeel, ons is emosioneel sterk en dít is wat ons deur elke dag se lewe, uitdagings en ekstra moeilike tye dra. Emosionele krag is sterker as fisieke krag, veral as ons vashou aan ons bron van krag, Jesus Christus.” – Carolien Prinsloo
“Om ’n vrou te wees… watter voorreg! Hoe heerlik om soos ’n porseleinpoppie behandel te word. En watter voorreg is dit ook om al die simpatie, empatie, liefde, deernis, sagtheid van ’n mamma, ouma, tannie, dogter te kan gee aan elkeen om my, veral aan die afvlerkvoëltjies.” – Kitty Meiring
As ek dink wat dit vir my beteken om ’n vrou te wees, neem dit my terug na Genesis 2 vers 21-24:
Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”
Net voor dié stuk staan daar in vers 18 dat die Here gesien het dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie, daarom het God besluit om vir die mens iemand te maak wat hom kan help, sy gelyke.
Hierdie stuk in die Bybel som die rol van ’n vrou vir my so mooi op. Alhoewel tye baie verander het, bly die rol wat oorspronklik aan ons toegewys is, ná al die jare steeds dieselfde: om te help. As vrou is ons gemaak om die man se gelyke te wees, maar ons is die skoner geslag, die geslag wat meer emosioneel is, wat simpatie en empatie het, wat tweede kanse gee, die mooi in die lewe sien en altyd alles wil regmaak, soos gebroke verhoudings. Ons is dikwels die katalisators.
Dit is óns wat douvoordag toebroodjies vir die kinders se kosblikke maak, liefie herinner aan sy vergadering, ’n braai reël met die vriende wat ons lanklaas gesien het, kos maak, wasgoed was, kinders rondry… en dan nog heeltyds werk. Dikwels trek ons aan die kortste ent.
Liewe vrou, onthou om na jouself om te sien, want as jy nie jouself versterk nie, kan jy nie die gom van hierdie wêreld wees nie en die wêreld het jou nodig.
- Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Die fonds is geskep vir meisies en jong vroue wat hulp nodig het op alle vlakke in hul lewensfase en fokus daarop om hierdie vroue te bemagtig en te ondersteun. Dit is vir die FroueVonds belangrik om kwessies wat vroue na aan die hart lê, saam met kundiges op verskeie gebiede te takel. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.
Baie mooi.
Amen! Mooi mens, mooi siel, mooi gebaar, mooi Helpende Hand.