Gaan kyk na die mier, spaarder

pensioenfondse

(Foto: Westerninvestor.com)

Eskom kan dit beurtkrag noem solank hy wil, ons almal weet dis eintlik maar net “rolling blackouts”. Of die ANC kan dit kaderontplooiing noem, maar ons weet dis eintlik maar net baantjies vir boeties.

So ook kan ek probeer om dit sag te stel, maar die feit is, Suid-Afrikaners spaar eenvoudig te min. Te min vir goed soos noodfondse, of deposito’s vir huise of karre, of vir hulle vakansie Buffelsbaai toe, eerder as om die kredietkaart te buig.

Maar veral vir aftrede. In 2014 al waarsku die tesourie dat net 6% van afgetredenes hulle leefstyl kan volhou na hulle ophou werk het. Nee, ek het nie ʼn nul weggelaat nie. 10x, die beleggingsmaatskappy, sê in ʼn 2020-studie net 6% van respondente het enigsins ʼn plan vir aftrede.

En hierdie was voor Covid, en die skim van Eskom, en die stygende inflasie en rentekoerse wat tans heers.

Al die mayonnaise in die wêreld kan nie van ʼn hondedrol ʼn KFC Rounder maak nie, en daar is geen manier wat ek hierdie kan poets om dit positief te laat klink nie.

Die feit is, statisties gesproke, spaar die meeste mense wat hier lees te min.

En ongelukkig, as jy lank genoeg leef, kom daai implikasies vir jou. Of dit word jou kinders se probleem. Daar word immers van die toebroodjie-generasie gepraat – die wat na hulle ouers en kinders moet omsien.

Ja, jy is gedeeltelik ook die staat se probleem, maar weet jy hoe min is staatspensioen? Die nagenoeg R2 000 per maand is sekerlik beter as niks , maar jy kan kwalik deesdae jou kar daarmee volmaak.

Die beste is dan maar om self iets daaraan te doen.

Onthou: hierdie is oorsigtelik. Jou spesifieke situasie is uniek tot jou. Gesels met jou finansies-klankbord daaroor, hetsy dit jou makelaar of jou ma is.

Wat beteken “aftree”?

(Argieffoto: pixabay)

Aftrede in die volksmond beteken jy hou op werk, en hopelik sit jy en jou morkie en hekel doilies op jou stoep by jou strandhuis in Hartenbos.

Ons praat ook van aftreegeld as gewoonlik jou pensioen by die werk, maar dit sluit ook byvoorbeeld uittree-annuïteite in. Anders gestel: dis geld wat wetlik geoormerk is vir aftrede.

In die regstegniese sin beteken aftrede dan dat jy ophou bydra tot jou fonds (indien jy nog doen), en die geld realiseer. Ek gaan julle die tegniese detail hier spaar, maar as jy genoeg opgehoop het, kan jy ʼn derde as lompsom neem, en met die res moet jy ʼn inkomste neem. As jou volle bedrag in jou fonds minder as  R247 500  is, kan jy die hele bedrag neem (hoewel, in beide gevalle, is belasting moontlik van toepassing).

Baie belangriker proviso hier: aftreespesifiekegelde is nie die enigste manier om voorsiening te maak vir jou oudag nie. Daar is baie mense wat op ander manier geld maak (of verloor, ongelukkig ook).

Dis wel super-belastingdoeltreffend en het ʼn snars ander voordele, soos dat dit nie deel vorm van jou boedel nie. Of dat krediteure nie die geld kan gaan vat nie (elk geval nie voor dit in jou hande is as inkomste nie).

Daar kom ook ʼn koste hiermee saam, ongelukkig – jy kan, in sommige gevalle soos hierbo genoem, nie die hele bedrag onttrek en mee maak wat jy wil nie. Daar is ook limiete waar jy voor aftrede jou gelde kan spaar (jy mag byvoorbeeld nie meer as 40% in die buiteland sit nie).

So hoe maak ek?

Die heel beste en maklikste manier is om van jou eerste salaristjek af weg te sit, spesifiek vir jou oudag. Hoe vroeër jy begin, hoe beter. Daar is twee tipes mense: die wat saamgestelde rente verstaan, en die wat dit betaal.

So: los die geld uit. Moenie dit onttrek as jy van werk verander nie – nie net gaan jy blind belas word (en wéér op aftrede nie), maar jy steel geld by Toekomstige Jy.

Wees met ander woorde die mier, en nie die sprinkaan nie, in die fabel van Aesop.

Hoeveel? Mik vir 15% na 20% van jou bruto salaris – voor geld afgetrek word. En kyk ook mooi hoe jou werk dit aftrek as jy ʼn aftreefonds het – baie keer is die salaris wat hulle gebruik vir jou pensioenbydrae laer as jou werklike salaris. 2% minder klink dalk nie soos baie nie, maar kapitaliseer daai oor 40 jaar en dit word ʼn aardige bedraggie.

Ook handig om in ag te neem: byna niemand kom by hulle ou dag en dink “jissie, ek moes minder gespaar het vir aftrede nie”.

Dis ongelukkig ook so dat mense totaal en al onderskat hoeveel hulle nodig het om mee af te tree. Hierdie is ʼn gruwelike rowwe veralgemening, maar werk op R4 000 se inkomste per maand op ʼn miljoen se kapitaal in vandag se geld. Dan behoort die inkomste en die kapitaal teen inflasie te groei, en jou kapitaal behoue te bly.

Anders gestel: as jy eendag R40 000 pm in vandag geld soek, het jy R10 miljoen se kapitaal in vandag se geld nodig.

Onthou: almal se situasie is anders, en hierdie is net ʼn duimreël. Moet nou nie jou beplanning hierop doen nie. Dit sou wees soos om jou voorgeskrewe eksamen te gaan skryf na jy net die flapteks van Fiela se Kind gelees het.

Egter: Praat met iemand wat jou kan help om daai somme te maak – is jy op koers? Indien nie, hoe kan jy dit aanvul? Stel ʼn plan op, en hou daarby. Hersien dit jaarliks, of soos nodig.

Dalk is jy waar jy moet wees, of dalk wil jy in jou hande huil oor hoeveel jy moet spaar, maar as jy nie gaan uitvind nie, hoe gaan jy weet? En hoe gaan jy weet wat jy daaraan moet doen?

O krisis! Ek is in die akkies!

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Oukei, so daar is somme gemaak, en jy is kniediep in die riool. Wat doen jy nou? Wel, jy doen wat jy kan. Jy moet dalk R15 000 per maand spaar, en kan nie. Maar! Elke bietjie gaan help. R200 per maand is steeds veel, veel beter as R0 per maand.

Begin net, al is dit hoe min, en al is dit waar. Geld onder die matras is nog steeds beter as R0 in ʼn beleggingsrekening. 15% van jou salaris klink soos baie! Begin by wat jy kan, en verhoog dit so gereeld en soos jy kan. Weereens: 1% is steeds baie meer as 0%.

Mik om jou huis af te betaal, as jy dit nog moet doen. Dis makliker om planne te maak met ander goed, as ʼn dak oor jou kop.

Jy gaan dalk eendag jou huis moet verkoop vir ʼn kleiner een. Of dalk maar vergeet van die aftreeoord op Oesterbaai, en maar vrede maak met die woonstelletjie in Vereeniging.

Hou ook op om, soos genoem, by Toekomstige Jy te steel. Jy kan nou daai leefstyl-aanpassing maak, of jy kan dit eendag doen. Is dit regtig nodig om jou vrugte by Woolies te koop oor dit langer hou?

Dalk moet jy dit sommer net by die goedkoopste plek doen, dit in die yskas hou en eet voor dit verval. Dalk sal jy tot die verkeer oorleef in ʼn tweedehandse Sandero, eerder as ʼn splinternuwe Hilux. Dalk hoef Johanzie nie elke buitemuurse aktiwiteite wat die skool aanbied te doen nie.

Of dalk is jy werklik in die gemors, en doen jy reeds al die bogenoemde. Gaan sien dan iemand. Vars oë het dalk vars planne. En onthou: jy hoef nie hierdie las alleen te dra nie. As jy nie vra nie, kan iemand jou nie help nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Goeie skrywe.Na mening het baie probleme ontstaan toe werknemers keuses gekry het,om van pensioenfondse na voorsorgfondse oor te gaan,hier in die 1990’s.Daar is op daardie stadium gesê dat indien jy jou werk verloor jy al jou geld kan neem,sou jy jou werk verloor.Daar is lekker op die werknemers se gevoel gespeel.Mens plaas nie geld van ‘n pensioenfonds oor na ‘n voorsorgfonds sonder ‘n groot koste implikasie nie.Ek het bv nie die keuse uitgevoer nie,en vandag pluk ek die vrugte daarvan.Die wat oor is op die voorsorgfonds het ook hulle bonus diensjare verloor wat die pensioenfonds vir hulle gehou het,en tussen die lede verdeel wat op die pensioenfonds gebly het.As jy bonus jare verloor,verloor jy goeie diensjare en dit is nie gekommunikeer met die wat oor is na die voorsorgfondse nie.Met finansies moet jy wakker slaap,en op die uitkyk wees vir kansvatters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.