Gauteng-skooltoelatings vir 2017: E-platform of e-skandaal?

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Deur Jaco Deacon

Sonder dringende aanpassings – tegnies en wetlik – gaan die Gauteng-onderwysdepartement se omstrede e-platform net nóg ʼn skandvlek word op die naam van ʼn reeds vuisvoos onderwysstelsel wat steier van een krisis na ʼn ander, skryf dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

As ek al my banktransaksies aanlyn kan doen en my paspoort en ID-dokument nou elektronies kan bekom, hoekom kan ek nie my kind op die e-platform inskryf nie? Dit maak tog net sin dat ons in die tegnologiese era nie meer in lang rye hoef te staan en alles met die hand in te vul nie … of nie?

Uit die staanspoor moet die Gauteng-onderwysdepartement gelukgewens word met hierdie stap in die regte tegnologiese rigting. Op sigwaarde is dit net so welkom soos om Binnelandse Sake se rye te systap. Daar is immers net 2 080 skole vir die bykans 2 miljoen leerders in Gauteng en ons almal het Februarie gelees van 17 000 kinders wat nog sonder skole was!

Die elektroniese platform het egter vandeesweek, binne minute nadat dit in werking gestel is, skouspelagting in duie gestort. Gauteng se LUR vir onderwys, mnr. Panyaza Lesufi, het vinnig verduidelik dat 600 mense per sekonde probeer registreer het en dat die volume die stelsel gekniehalter het. Dit is blykbaar intussen reggestel en volgens die departement kan daar nou 3 000 mense per sekonde werk.

Die tegnologie is egter die minste van ons probleme.

Die blikbrein bepaal my taal

Die e-platform maak nie voorsiening vir ʼn keuse van taalvoorkeur nie en neem nie faktore soos boeties en sussies in dieselfde skool in ag nie. Kortweg lyk dit eerder of die onderwysdepartement skole se taal- en toelatingsbeleid wil omseil as om die lang rye te verkort. Ouers is verder aan die “stelsel” oorgelaat vir bewys dat hulle aansoek wel ingedien is.

“Almal het mos toegang”

Almal in die onderwysdepartement en in die LUR se kantoor het toegang tot die internet en is waarskynlik rekenaargeletterd. Daarom word daar klaarblyklik aanvaar dat alle ouers in die provinsie hul kinders aanlyn kan registreer. Dié aanname beklemtoon net weer die groot verwydering tussen politieke besluitnemers en skoolgemeenskappe in die provinsie. Al die skole het nie eens toegang tot die internet nie – hoe gaan al die ouers hê? Die feit dat daar geen gelyklopende papiergebaseerde alternatief is nie, beteken dat duisende ouers nie hul kinders betyds vir die skool van hul keuse sal kan inskryf nie. Ouers sonder internettoegang (lees: arm mense) word dus uitgesluit en kan nie hul kinders inskryf nie.

Is dit wettig?

Die regsbeginsel van regmatigheid (legaliteit) vereis dat amptenare (en die LUR) net dít kan doen wat die wet hulle magtig om te doen. Daar is eenvoudig geen bepaling in enige regulasie of wet wat die LUR magtig om eensydig te besluit dat daar net aanlyn geregistreer kan word nie óf wat die LUR magtig om skole se taal- en toelatingsbeleid te ignoreer en self te besluit wie mag waar skool toe gaan nie.

Teen hierdie agtergrond lyk die e-platform meer na nog ʼn skandvlek op die naam van ʼn reeds vuisvoos onderwysstelsel wat steier van een krisis na ʼn ander.

’n Bietjie gratis raad aan mnr. Lesufi

Die e-platform in sy huidige formaat benadeel kinders … gewone kinders. Sluk u trots en erken dat die departement die koek half gebak het!

Kry kundige raad, bly binne die raamwerk van wetgewing, sorteer die tegniese probleme uit en maak seker dat alle ouers hul kinders kan inskryf … en moenie oorhaastig wees nie. Ons weet van die “lastige verkiesing” wat om die draai is, maar onderwys moet kan voortgaan lank nadat u uit die kantoor is! Vermy nog ʼn hofaansoek voor die verkiesing en neem vandag nog die besluit om die e-platform reg te stel en steeds papier-aansoeke te aanvaar.

Terloops, al maak tegnologie dit moontlik om heelwat take vanaf my rusbank te doen, kan ek steeds by my bank instap of Binnelandse Sake se kantoor gaan besoek …

* Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, skrywer van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

net nog ‘n slenter om afrikaanse skole te vernietig. Ons weet dit, hy weet dit.

Pietman ·

Dr. Deacon, jou skrywe maak n beroep op die logika van hierdie besluitnemers. My vraag is: LOGIKA wat hulle’waar kry’? Besluite sal geneem word sonder deeglike konsultasie en sonder insig oor die gevolge. Soos met baie ander nuwe planne in hierdie land van ons, het party mense net genoeg verstand om alles op te foeter.

Lance ·

So strompel meeste van die staatsdepartemente van skandaal na skandaal ….kan mense dink die mense word bv. losgelaat om geskeduleerde medersyne te ontwikkel …oops sorry big mistake

Disselboom ·

Die dieselfde departement van onderwys wat die kurrikulum bepaal, wie se CAPS orals in skole gevolg word, by wie tersiêre kursusse geakkrediteer word, by wie almal moet registreer en wat die jeug se toekoms help bepaal met hulle matriekeksamen. Reg genoeg, tegnies nou nie presies dieselfde departement orals nie, maar dieselfde regering, provinsiaal en nasionaal. Afrikanerkinders word gewilliglik aan hulle kurrikulum en eksamenstandaarde en voortdurende gekarring aan onderwys in staatskole uitgelewer. Dan is hulle seker nie so sleg nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.