Gee die onthou vrye teuels

Meiringspoort (Argieffoto)
(Foto: SA Venues)

So ’n ruk terug het ek en my seun gedoen wat ’n pa en seun behoort te doen toe ons vir oulaas by ’n braaivleisvuur sit en kuier het. Dit is mos nou so: ’n Mens praat en dan raak dit stil, so asof ’n mens jou woorde en gedagtes kies en weeg. “Pa-hulle kan maar net sowel ’n paar weke langer kuier. Môre, oormôre gaan Pa dood en dan het ons nie genoeg gekuier nie!” Ek het verduidelik dat ’n klomp werk by die huis wag en toe was daar ’n wyle stilte. Toe kom die vraag: “Is Pa bang om dood te gaan?” ʼn Bietjie van ’n vreemde vraag sou ek sê, maar die antwoord was klinkklaar: “Bang? Nee wat, nie eens ’n bietjie nie. Die dood is tog net my laaste springklip na ’n verruklike ewige erfenis! Die meetsnoere het vir my sover in lieflike plekke geval en my erfenis gaan vir my onbeskryflik mooi wees.

“Nee, vir my dood is ek nie bang nie, maar weet jy waarvoor is ek bang? Ek is bang een van julle gaan vóór my dood. Dis ’n verskriklike ding om jou kind te verloor!” Ek kon vir ’n wyle nie verder praat nie want die knop in my keel en die hartseer was te groot toe ek gedink het aan ons kleinkindertjies wat ons baie jare terug verloor het.”

En toe gaan ek aan: “Daar’s nog ’n ding waarvoor ek bang is. Ek is bang vir die stuk ouderdom wanneer ek finaal beheer verloor het en ek maar net moet lê en wag – wag vir die verlossingsdag. Maar ons kan nie kies nie. Ons sal maar wag.”

Ná ’n rukkie kon ek aangaan om my gedagtes verder te verwoord. “Man, as ek sou kon kies sou ek sommer so in die hardloop wou val. Of as iemand my sou soek, hy my langs die laaste boom wat ek geplant het sal kry. Of dalk tussen die kierieklappers of die sekelbosse waar ek ’n kierie gaan sny het. Of dalk langs my vuurtjie wat ek gemaak het terwyl die son vuurrooi gesak het.”

So sit ek toe en praat oor die lief en leed van die onvermydelike dood. Eintlik het nét ek gepraat en hy het geduldig geluister. Ek wonder nou nog wat daarna deur sy gedagtes gemaal het. Het hy dit maar net afgemaak as oumenspraatjies, of het dit hom dalk aan die dink gesit?

Dit het mý aan die dink gesit en het kosbare herinneringe soos vlammetjies van ’n knetterende vuur wat vrolik ronddans en vervloë dae se vreugdes weer laat opvlam. Uiteindelik het die gloeiende kole oorgebly. Gloeiende kole wat lê en smeul en my laat dink het aan goed wat ek beleef het en wéér sou wou doen. Dit het gebeur toe ek in die vroeë oggenduur wakkerword en nie weer aan die slaap kon raak nie. Kosbare herinneringe het begin uitborrel.

Om die mooi van die verlede in herinnering te roep is soos om op jou uitskopstoel jou lê te kry, jou oë toe te maak dan jou onthou vrye teuels te gee. Dan onthou ’n mens jou pa en ma, onderwysers en ander wat jou gehelp het om jou lewensfondament te lê en toe vir jou geleer het hoe om daarop te bou. Hulle het my geleer dat vryheid slegs binne die grense van waardes en norme bestaan. As daar vandag iets goeds in my is, is dit aan hulle te danke. Pa het my geleer dat respek en regverdigheid deugde is en Ma het reg en verkeerd in my ingeleef en ingebid.

ʼn Mens onthou die sorgelose dae van jou jeug. My pa het my geleer om nie bang te wees nie, maar om altyd versigtig te wees en te dínk. As ek bestof en verwond by die huis aangekom het, was Pa se opmerking ’n goedige opmerking: “Ja, my seun, van lekker lag kom lekker huil! Jy moet altyd móói dínk voordat jy dóén, my seun.” En daar was Ma wat alles dan met liefde, maar “genadeloos” met Friar’s Balsam, wat die duiwel uit jou uit brand, gesond gedokter het.

Vreugde en genot in my kinderjare het nooit uit winkels gekom nie. Terwyl sommige van my maters met Dinky Toys en Meccano gepeel het, het ek en ander maters voëlrekke gemaak en draad- en kaskarre gebou. Ons lekkernye was kurpers wat Ma in varkvet gebak het totdat hulle so hard was dat ons die grate fyn kon kou en sy het vir ons bosduiwe in die ysterpot gaargemaak. En toe ek nog klein was, het Pa, as hy dit kon bekostig, vir my ’n klein blikkie kondensmelk vir ’n tiekie gekoop. Al lekkers wat ons geken het, was ou Adoor se handvol suikerklontjies as Pa goed in sy negosiewinkel gekoop het. Later kon ons vier niekerbols of twee Wilson-toffies vir ’n pennie koop.

Oor naweke is ons die veld in. Berge toe, bos toe en riviere toe. As ek sê bos toe, was dit deur die Krokodilrivier, in die Krugerwildtuin in waar ons wilddiewe se strikke vernietig het en in “ruil” daarvoor, het ons voëls geskiet. Vir ons was voëls nie soos wilde diere nie. Die reël was dat jy net skiet wat jy kan eet. Jy skiet nooit net om dood te skiet nie.

So het die een gedagte vir ander plek gemaak. Dis soos om ’n skatkis oop te maak en vreugdevol te begin uitpak. Jy ontdek al die kosbaarhede waarvan jy lankal vergeet het. Maar dit bring jou ook uit by drome vir wat voorlê: Al die goed wat jy nog wil doen, of graag nog vir oulaas sou wou doen. Dis soos ’n elikser en opkikker vir die brein. Dis soos ’n sonstraaltjie deur ’n sinkdak van ’n donker kamer. Geen duisternis is bestand teen ’n ligstraaltjie nie! Herinneringe van gister en drome van môre is elke dag se ligstraaltjies wat jou donkerte verdryf.

Ek sou darem graag weer op Vergenoegd vir ou Slaptiet of ou Sokkies wou gemelk het. So met my kop teen haar lies, terwyl die emmer al voller word totdat die skuimbolle oor die rand begin afloop. En as die koeie kalf en die ooie begin lam, sou ek so graag daar wou wees. Die kalwers en lammers pomp mos die uiers en suip al trippelend dat die skuimbolle waai. Dis mooi om te sien hoe die lammers en kalwers gedy en dan, kort voor lank, te sien hoe hol die kalwers, rondeboude en stert in die lug, die wêreld vol.

Saans, ná ’n dag in die berg, sou ek so graag by die vuur met Karlien, my laaste Worshond, op my skoot wou sit. Sy het, uitgeput ná ’n dag se jag, haar lê gekry, ’n lang sug van genoegdoening gegee en dan aan die slaap geraak. Ek kon die geur van fynbos aan haar vel ruik.

Maar dis verby, vir altyd verby. Net herinneringe bly oor en herinneringe bring vreugde. Nou bly net oor wat ons nog kán en móét doen! Dís wat ons met verwagting en afwagting, tot die einde toe, voluit laat lewe! Lewe om sin en betekenis te bring. Lewe om ’n verskil te maak.

ʼn Digter het na God as die Bouheer van die berge verwys. Ek wil nog weer terug berge toe. Ek wil terug Gifberg toe om my te verkyk aan die figuurtjies wat in al wat ’n rotsformasie voorkom, te sien uitloer. Ek wil weer die Sederberg oor tot by Wuppertal met die hoop om dalk te sien waar Boerneef se berggans sy veer laat val het. Op Wuppertal wil ek vir oulaas vir my ’n paar vellies koop.

Ek wil weer stadig deur Meiringspoort ry – sonder om ’n woord te praat want die kleureprag van die rotsformasies doen die praatwerk, totdat ek begin neurie. “O Heer my God, as ek in eerbied wonder en al die werke van u hand aanskou … Dan juig my siel …”. En dan verder links afdraai Prins Albert toe. Daar wil ek droëvye koop en dan is dit weer berg oor, terug Oudtshoorn toe, om die manjifieke Swartbergpas-belewenis stadig en draai vir draai te ervaar.

Die klein passies tel ook – die klein juweeltjies. Jy vat die pad van Laingsburg af Ladismith se kant toe en drink ’n koffietjie in Seweweekspoortpas. Op Ladismith koop jy droëperskes en dan is dit deur Barrydale na die verruklike Tradouwspas toe. In die pas, by ’n stilhouplekkie word die houers met bergwater volgemaak en by die wye draai word vleis onder die oorhangkrans gebraai. As dit ’n reënjaar is, kan jy jou verkyk aan die blink waterstroompies wat, hoog uit die berg uit, afdartel riviertjie toe.

Ja, as ek my “oë opslaan na die berge” stem ek saam met die wáár en gepaste opmerking: “ Toe God die berge gemaak het, het Hy sy tyd gevat. Hy was nie haastig nie.”

Die uitmergelende droogte laat my verlang, nee méér nog, smag na verblindende weerlig en oorverdowende donderslae en om dan te sien hoe die sluise van die hemel oopgetrek word. En dan volg die skuimende watermassas wat in al wat ’n lopie en kloof afbaljaar om droë damme en riviere vol te maak. Ek wil weer ’n boer sien lag terwyl God die aarde seën met reën.

As die groot reën gekom het, wil ek weer Baviaanskloof toe. Daar klink die kabbelende waterlope soos musiek en daar is dit asof die Melkweg só laag sak dat die sterre amper gepluk kan word en daar kan jy vir jou lêplek onder die sterre soek en luister hoe die naguile se roep ’n slaapliedjie word.

Van slaapliedjie gepraat. Ek bêre die lekkerste vir laaste. Ek wil vir my kleinkinders op my skoot plek maak. As die ogies begin omdop, wil ek vir hulle van Klaasvakie vertel en hulle dan aan die slaap sing. “Slaap, kindjie, slaap, want daar buite loop ’n skaap, met spierwitte voetjies en hy drink sy melk so soetjies. Eendjies in die waterplas en die gansies in die groene gras. Ek wens dat die kindjie groter was dat hy/sy die skapies kan oppas. Doedoe baba, doedoe. Doedoe baba, doedoe, haaidiedeldaai haaildiedeldaaidoe. Doedoe baba, doedoe.”

Ja, en dan wil ek die groteres gryp en op my skoot vasdruk en slaapliedjies sing terwyl hulle protesterend probeer wegkom. “Oupaaaaaa, ek is nie meer ’n baba nieeee!” En dan wil oupa nog ’n droë doek ook aansit voor hulle gaan slaap! So het my terggeespa met my en my kinders gemaak. Oorle Ma kon dit nie verduur nie en dan het sy uit die Bybel aangehaal: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie!”

Een van my kleinseuns het vir my ’n verjaardagkaartjie gemaak en hy skryf: “Ek hou van oupa want is oupa is vol grappe en stories. Ja, ek wil vir hulle nog baie stories vertel. Ware, regtig, egtige stories waarna hulle grootoog kan luister en al die Oupa Grootliegstories wat hulle laat skaterlag. “Oupa, vertel weer van die dag toe oupa die buffel se nek gebreek het. Ja, en toe oupa die krokodille se sterte aanmekaar geknoop het!”

Dis so jammer dat hulle so vinnig groot word. Ja, hulle word groot en dit dring, half met ’n skok, tot jou deur as jou oudste kleinseun laat weet dat hy sy eerste donssnorbaardjies afgeskeer het. Iemand het gesê: “Tyd het nie brieke nie!”

Nou kan jy tereg vra wat my storietjies met jou te doen het. Ja, jy’s reg, onthou- en droomgoed is eiegoed. Nee, ek wil net ’n vonkie in jou vreugdevuur gooi. Gaan delf in vervloë dae se vreugdevolle herinneringe. Jongdaggoeters maak die oudagjuk sagter en ligter. Besluit nou wat jy nog wil doen en dóén dit dan! Peet het vir my gesê: “Pa, kuier langer. Môre, oormôre gaan Pa dood en dan het ons nie klaar gekuier nie.”

Oom Hennie het vir my tante, nadat hulle vir hulle oudag George toe getrek het, geskryf: “Ou Tina, julle het net betyds getrek. Hier op Barberton gaan nou mense dood wat nog nooit voorheen doodgegaan het nie.” Nee, ek tob nie oor die dood nie! Carpe diem, gryp die dag! Daar is ’n lewe om te leef!

Die lewe is té kort om nie voluit te leef nie, al is dit helaas vir sommige vir oulaas.

Vir oulaas want 2018 lê op sy rug, amper uit soos ’n kers!

Hierdie een is waarskynlik vir die ouer garde, maar die jonges kan ok maar lees, as hulle lus is.

Mag 2019 ’n jubel- en juigjaar wees!

Johan/Oosie/Pa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae