Gee my ‘n permit, want ek het NUUS!

Deur ds. Schalk Strauss

bybel-lees-blaai-hand

Foto: Rod Long/Unsplash.com

In die lig van die feit dat ek redakteur van Die Boodskapper is, is ek een van die bevoorregtes om ‘n permit te hê waarmee ek kan rondbeweeg, aangesien ek ook as ’n joernalis beskou word. Joernaliste word blykbaar as ’n noodsaaklike diens beskou aangesien hulle moet sorg dat die burgers van die land ingelig bly oor al die verwikkelinge ten opsigte van Covid-19.

Buiten vir my werk as redakteur, is ek egter ook predikant van die AP Kerk Grootfontein (RSA). Predikante kry egter nie permitte om rond te beweeg nie, want ons werk is blykbaar nie so noodsaaklik soos ander sektore van die arbeidsmag nie. Hoe meer ek hieroor dink, hoe meer besef ek hoe kortsigtig en naïef dit is.

Wat is die verskil tussen predikante en joernaliste? Nes hulle, is ons ook verslaggewers. Ons doen egter nie verslag oor die gevare van ’n virus wat die liggaam aanval nie, maar oor die doodse invloed wat die sonde op elke mens se lewe het. Dit is ’n toestand wat nie net ’n sekere deel van die populasie bedreig nie, maar wat alle mense raak. Dit is ’n toestand waarteen jy jouself nie kan isoleer nie. Dit is ’n toestand wat nie net ’n invloed op die tydelike lewe en ons aardse voortbestaan het nie, maar wat, as dit geïgnoreer word, verwoestende gevolge het wat ’n ewigheid duur.

Gewone joernaliste sukkel om brokkies goeie nuus tussen al die neerslagtigheid wat deur die virus veroorsaak word, te vind. Hulle hou die mediese wêreld dop vir ’n wonderkuur wat die virus sal kan uitwis. Hul verslaggewing weerspieël die paniek en onsekerheid van ’n mensdom sonder hoop.

Dit is hier waar ons verslaggewing drasties verskil. Alhoewel ons nie die realiteite van die sonde en die dood ontken nie, het ons meer om te vertel. Ons het nuus wat al vir die afgelope meer as 2 000 jaar hoofnuus is. Ons het nuus wat nie oud word of tydgebonde is nie. Ons het nuus wat die ewigheid omspan. Ons verkondig Christus en Hom as die gekruisigde – ’n struikelblok en dwaasheid vir baie, maar vir dié wat geroep is: Die krag en die wysheid van God (vgl. 1 Kor. 1:23-24). Ons verkondig Hom wat die dood oorwin het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie die dal van doodskaduwee vrees nie, maar met ’n vaste hoop kan uitroep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55)

Goud en silwer het ek nie, ’n teenmiddel vir Covid-19 het ek ook nie, maar wat ek het om te gee, is soveel meer kosbaar en kan soveel wanhopige en paniekbevange mense vrede besorg. Wat ek het om te gee, is die naam van Jesus Christus – die enigste Naam waardeur ons gered kan word.

Dus, meneer die president, agbare minister(s), hou op om my in te perk en my te muilband. Hoor my as ek vra: Gee my ’n permit, want ek het NUUS!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Skandelik eintlik, die kortsigtigheid van ‘n regering, wat wanneer hulle radeloos is, gou hande vashou en wil bid, maar God se boodskappers se kom en gaan nie sien as ‘n noodsaaklikheid in dié tyd van verwarring en wanhoop nie. Skandelik en ‘n ontbloting van die ware toedrag van die geestestoestand van die wêreldling.

Steady Eddie

Om Jan Publiek op hoogte te hou van Covid 19 is net ‘n ‘sagmaak’ proses te voorbereiding van die ‘kuur’ wat deur Bill Gates verkondig word !!!
Die jongste van BG is dat hy Africa gaan help, deur President Ramaphosa, om die virus te bekamp !!!
Jammer dat daar so baie oningeligtes is in Afrika !!!

Anel

Dit is die doel van komunisme. Maar hier het hulle toe tog nie regtig geslaag nie. Ware Christene word nie gemuilband nie en met tegnologie kon ons ook vanoggend, in ons sitkamer, die hele erediens volg. Ds Wynand van Zyl, ons APK Verwoerdburg, se predikant, het vir ons ‘n volledige preek gelewer, so as of ons in die kerk was, nie net ‘n boodskap nie, met hom, vol geklee met sy toga en al. Ons het gesing en gellof belei. Alles. So was dit ook verlede Sondag. En sy boodskappe was treffend. Boodskappe wat ons net meer bewus maak van… Lees meer »

Rudolf

Die geskrifte word verkeerd aangepas., gelukkig vir die tegnologie, afsondering is die beste tyd om n soekende hart te begin vul, daar is baie meer is religie, want dit is hier waar mense ook aangehou word om die koffers vol te hou… n Skrifgelleerde van die Koningkreik bring nuwe en ou dinge te voorskyn…

Sarel

Die feit isxdat Joernaliste ook ingeperk moes gewees het want hulle raporteer net sensasionele en negatiewe berigte en sal geen of min positiewe nuus raporteer.