Geen ouderdomsbeperking vir branderpret!

Grafika: Jerm

Ons het vir ʼn paar dae by die kinders op Vleesbaai gekuier, en om die vuur aan’t gesels geraak toe my seun wou weet wanneer ek laas in die see lyf natgemaak het. Ek maak toe vinnig sommetjies en vertel dat dit net so oor die dertig jaar terug kon wees. Hy vra toe waarom ek nooit weer in die see in is nie en ek vertel hom van die dag toe ek, soos altyd, in die see baljaar het waar die groot water op sy rofste was. Eendag het ek my met ʼn yslike brander misgis. Dié brander het my sleg verniel en ek het ampertjies versuip. Daarna het ek dit nog nooit weer dieper as kniediep die see in gewaag nie.

Met ʼn gesukkel het hy ons, dis nou ek en my ou Naastetjie, oorreed om darem weer ‘n keer te gaan lyf natmaak. Nie een van ons het ná al die jare meer ʼn swemkabaai gehad nie, maar hulle het die nodige iewers uitgesnuffel en na ‘n bietjie geworstel om in die kabaaitjies in te wriemel, was ons reg vir die groot avontuur.

Voordat ons strand toe is, wou ek nog ‘n ou versterkinkie teen die koue sluk, maar het my bedink. Sê nou maar net iemand moet my uit die water uitred en hy ruik iets. Dan sal hy dalk wonder wat soek die ou oom met die drankasem in elk geval in die water!

So stap ons toe die oseaan tegemoet. Ek op my eie, en Henk wat my ou Dierbaarste stewig aan die hand beet had. Soos oorle Ma my geleer het, het ek in die vlak watertjies eers my arms en bene natgespat en toe handevol water teen my brose bors gespat. Sy’t gesê as jy dit nie doen nie, kan die koue water jou asem wegslaan. Foeitog, en terwyl ek haar besorgdheid onthou, struikel ek oor ‘n stukkie rots en land soos ‘n omvallende paal in die koue water. Ek wou nog orent kom, maar toe’s die brander oor my! En ek dag: As dit nie vir my ma was nie, was my asem skoon weggeslaan.

Kyk, toe’s ek reg om die golwe te tem! Bang vir niks en reg vir die ou grotes! Henk het sy ma met sy lewe beskerm en haar nie vir ‘n oomblik alleen gelaat nie. Hy’t seker maar gedink sy pa is weer die oor-die-dertig-jaar-terug se avontuurlustige, onverskrokke golwetemmer.

Ek weet nie of ons uitgeput gelyk het nie, maar Henk het seker gedink genoeg is genoeg. Hy was seker reg, want ons is strompelend terug strand toe waar Ilka en die bulletjies ons stralend van trots en verbasing ingewag het. Haai en ek dink ons twee oues het dertig, veertig jaar jonger gevoel!

Ons kon nie uitgepraat raak oor die lekkerte tussen die golwe nie, en toe later, so tussen die ditjies en datjies deur, was dit Ilka wat vertel het van haar tienerverleentheid toe ‘n wilde woeste brander haar onverhoeds betrap het. Toe sy weer sien, toe’s die boonste lappies van haar bikini nie meer waar sy hulle pas tevore nog gesien het nie. Ja, daar word gepraat van ‘n mannetjieswind wat rokke lig, maar dit blyk toe dat daar ook mannetjiesbranders is wat met mening aan bikinitoppies ruk – nee afruk. Ek het die lekkerste gelag – min wetende wie later die lekkerste sou lag.

Die volgende oggend was ‘n reënerige oggend maar Henk en die bulletjies wou water toe. Uit ordentlikheid vra hulle toe of oupa nie dalk sou wou saamgaan nie. Ek dag toe dis ‘n gulde geleentheid om kragte te meet met die wilde, woeste branders en aan geesteskrag het dit nie ontbreek nie.

Die ligte reëntjie het ons lywe al lekker nat gehad en daar was nie eens ‘n gedagte dat die koue water my asem sou kon wegslaan nie. Dit was eintlik asof so ‘n soort van sorgelose vreesloosheid my oorweldig het. Van meet af aan was dit ‘n baljaardery en met dié dat Henk nie sy liewe moeder kop bo water moes hou nie, kon hy my onderrig in die fynere kuns van branderry. Só wys hy my hoe die golf aanstoot en hoe ek op die regte oomblik strand se kant toe moet swem om die brander te ry. Wat ‘n heerlike nuwe lekkerte!

So met die baljaardery het ek gevoel dat ek my kosbare knipmes nog in die broeksak had. Dit was nogal ‘n lastigheid want ek het gedurig my hand op die mes in die broeksak gehou. Of dan nou net kort-kort gevoel of hy nog daar was. “Pa’kie”, hoor ek toe skielik, “daar kom die grote!” Toe ek kyk, toe sien ek hom kom, maar o wee, hy breek toe te gou. Ek duik toe in die malende, bruisende, skuimende massa in en ervaar ‘n onbeskryflike tinteling oor my hele lyf.

Die eerste wat ek na die verruklike meesleuring gedoen het, was om te voel of my mes nog in my sak was. Tot my skok kon ek die mes nie voel nie en ek dag toe die mes was dalk in die anderkantse sak. Dis toe ek daar voel dat ek agterkom dat ek my broek kwyt was. Daar’s ek toe in die wye oseaan en ek ervaar ‘n skrikwekkende, ongemaklike gevoel van totale naaktheid. En dit op my ouderdom! Skande! Heel anders as kinderjare se kaalgatswem in die rivierkuile!

Hulpeloos, hopeloos het ek om my rondgekyk en toe, so ‘n vyf treë van my af, so ‘n valerige ding sien ronddryf. Ek was nog nooit in my lewe so bly om ‘n broek binne my bereik te sien nie! Met so min of meer die spoed van wit lig was ek by die drywende broek en met kinderlike vreugde het ek gevoel dat die mes is nog in die sak was.

Alles het so gou gebeur dat ek nie eens geweet het waar Henk hom bevind het nie. Ons het tewens nie eens na mekaar gekyk nie want ons oë was op die aanrollende golwe. Al wat vir my belangrik was, was om die broek weer aan my lyf te kry sodat my skaamte bedek kon word. Wie weet, daar was dalk ‘n ondersoekende joernalis met sy verkyker daar teen Vleesbaaihoogtes!

Nou moet jy weet: Onder normale omstandighede, gaan sit ek, kry my voete deur die broekspype, staan dan op en trek dan my broek op. Anders voer ek die ritueel staande uit. Ek steek my een voet deur die broekspyp, hou dan aan iets vas om my balans te behou en steek dan die ander voet deur die tweede broekspyp. Trek die broek dan op en maak vas! Maklik!

Kinderlik bly en verlig dat ek broek en mes in veilige bewaring had, was ek egter in diepe waters. Die neukery was egter dat ek die broek aan my bas moes kry. Ja, sonder die vastigheid van ‘n vloer onder my, niks waarop ek kon sit en niks waaraan ek kon vashou nie. Totaal oorgelewer aan die malende watermassa wat onophoudelik teen my aanstu, terwyl ek moes sorg dat my naaktheid onder die watervlak bly!

Man, laat ek nou vir jou ‘n ding vertel. Ek het nooit kon droom hoe ek eendag gaan sukkel om ‘n broek aan my lyf te kry nie. Jy kan maar vir my lag, maar gaan probeer jy nou self om onderwater ‘n aanmekaarklewende broek aan te trek. Sommer in die stort of in die stil, kalm water van ‘n dam. Onthou net arme ek was in die wye, wilde, woeste oseaan!

Uiteraard kyk ek toe strand se kant toe om te kyk of iemand nie dalk die spulletjie bekyk nie. My vinnigdink het soos ure gevoel. Ek het die broek sorgvuldig aan die sykante beetgekry en terwyl ek al drywende die eerste voet deur die broekspyp wou steek, het die eerste golf oor my gebreek en gemaal tot ek weer, al klouende aan my broek, sand onder my voete gevoel het. Ek het weer probeer, maar toe die tweede golf my verswelg en ek moes besluit of ek wou versuip of my broek behou, het ek besef ek moes ‘n ander plan bedink.

Die plan het gewerk! Ek het omgedraai sodat ek weer die golwe kon lees. Terwyl die water vlakkerig was, het ek die een voet, so ampertjies, blitsvinnig deur die broekspyp gekry en toe die groot water my lig, het ek die ander voet, desperaat, worstelend, deur die ander broekspyp gekry. Toe die golf oor my breek het die malende massa my gehelp om die broek opgetrek te kry. Ja, die teenoorgestelde werking van die vorige een wat die broek afgetrek het! Salige verligting. Man, en toe ek daai broek so optrek, toe doen ek dit met mening. Ek trek hom op so oor my gesakte borskas tot so onder my kieliebakke en ek dag as ek hom kon bykom, het ek die broek se boonste vasmaakknoop tussen die tande vasgebyt. Net vir die wis en die onwis. O ja, en toe onthou ek van my knipmes en toe ek so vat-vat, toe voel ek hom daar waar ek hom laaskeer nie kon voel nie.

Jy wonder nou seker waarom ek nie my seun se hulp ingeroep het nie. Kyk, ek was so besig met my eie probleme en worsteling dat ek aanvanklik nie eens aan hom gedink het nie. Toe ek later aan hom gedink het, dag ek, nee waaragtag, ek het darem nog my trots! My broek sal ek self aantrek! Wat meer is, hoe sou hy moes voel as hy sy pa moes help om sy broek aan te kry! Sou hy my regop hou sodat ek die broek kon aankry of sou hy my laat dryf het sodat hy my voete deur die broekspype kon kry? Nee, ek weet nie.

My innige, opregte dank aan my seun wat ʼn broek iewers uitgekrap het sodat ek duskant orie 70 weer ʼn stuk seepret kon beleef!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Hendrik UAE ·

Man lekker sit ek nou en lag hier in my etenstyd.Die ander volksvreemdes hier dink seker ek kry ligte beroerte of iets.Dankie jy my dag gemaak,

not in wonderland ·

Niks soos ‘n rol in die see nie. Laat mens tien jaar jonger voel. Ek was in Desember in Thailand en het ge-parasail en op my maag geland in die warm gladde see. Die “take-off” as glo dodgy, maar die landing was perfek. Ek is nou nader aan 70 and 60. Dit was lekker en sal dit weer doen

Dogter ·

Ek het nou so gelag! Baie dankie. Dit laat my vreeslik baie aan my pa dink. Ek gaan die storie vir hom lees, ek weet hy sal dit vreeslik baie geniet!!

Theresa ·

Hardop lag wanneer als stil en bedeesd is, is deesdae mos bietjie skaarser as ‘n paar jaar terug! Het nou almal in my nabyheid wakker en skalks-glimlaggend want hul het geen idee waaroor ek elke nou en dan uitbundig gelag het nie!!
DANKIE! Wou nog elke keer op die storie kliek, maar raak besig. Nou baie bly ek het. Geniet ‘n heeeeeeeeeeeeeeeeeerlike dag (broek bo en op droë grond)!

Sherise ·

Ek het my nou amper nat gemaak..
Skreeusnaaks👏🏻👌🏻..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.