Gesonde peuselhappies tydens die afsonderingstydperk

(Foto: Tamas Pap/Unsplash.)

Deur Natasha Smit

Die Covid-19-pandemie het die hele wêreld geruk, met die gevolg dat Suid-Afrika tans deur ’n 21 dae-afsonderingstydperk gaan.

Vir sommiges (veral introverte) is hierdie glad nie ’n straf nie en geniet hulle dit vreeslik om by die huis te wees sonder om verskonings uit te dink oor waarom hulle by die huis moet bly. Vir ander is dit ’n baie emosionele en spanningsvolle tydperk en is hulle dalk bekommerd weens die hoeveelheid onsekerheid wat hulle oorrompel.

Ongelukkig, saam met die spanning, verveeldheid en emosies, vergryp baie Suid-Afrikaners hulself aan kos en ongesonde peuselhappies. Hier is ’n paar riglyne om jou te help verseker dat jou werksklere wel sal pas wanneer jy weer jou sweetpak met jou werkpak moet vervang.

Fokus op klein en gereelde maaltye

As jy slegs twee of drie groot maaltye eet, gaan jy definitief lus wees vir meer peuselhappies tussenin en dan gaan jy heel waarskynlik minder voedsame opsies kies. Probeer dus om drie etes te eet (ontbyt, middagete en aandete) asook twee gesonde peuselhappies (laatoggend en laatmiddag).

Beperk suiker en kaloriegevulde peuselhappies

Wanneer jy peuselhappies eet wat baie suiker en kalorieë bevat, veroorsaak dit ’n piek in bloedglukose-en insulienvlakke. Dit lei dan tot moegheid, onproduktiwiteit, ’n groter eetlus, suikerdrange en meer hoëkaloriepeuselhappies deur die loop van die dag.

Hou porsiegroottes in gedagte

Die afsonderingstydperk is ’n tyd van onsekerheid waar baie mense gespanne is oor werk, omstandighede, finansies, hoe om kinders by die huis besig te hou, of selfs die verlange na familielede wat jy lanklaas gesien het. Dit ís ’n groot uitdaging, veral vir emosionele eters. Die opsies by die huis is baie beperk gedurende hierdie tydperk omdat almal inkopies probeer vermy, daarom is die hoeveelheid wat jy inneem, dalk meer beheerbaar as die tipe kos.

Byvoorbeeld, as jy die volgende inneem:

  • Muffins of skons – beperk jou porsie tot een klein muffin;
  • Skyfies – beperk jouself tot ’n klein pakkie of haal vir jou so ’n handvol uit ’n groot pak uit (wanneer jy jou porsie uithaal, is jy meer bewus van die hoeveelheid wat jy eet, en dus is jy dan geneig om minder te eet op ’n slag);
  • Sjokolade – beperk jouself tot een klein sjokolade of net ’n paar blokkies;
  • Tuisgemaakte pizza – beperk jouself tot een snytjie en voeg dan ’n slaai by of vul jou pizza met baie groente en proteïene;
  • Pasta – beperk die hoeveelheid pasta wat jy inskep en voeg altyd groente en proteïene by;
  • Stysel – beperk jouself tot een stysel vir aandete en nie die tradisionele rys, vleis en aartappels nie.

Beplan peuselhappies en etes vooruit

Ons is darem rustig by die huis met baie meer tyd om etes voor te berei as gewoonlik, maar steeds maak meeste mense die fout om eers kos te begin maak wanneer jy reeds rasend honger is. Dikwels gaan ons dan vir ’n maklike, gerieflike en minder voedsame opsie. Wanneer mens reeds honger is, is jy ook geneig om ’n groter porsie in te neem wat jou bloedsuiker- en insulienvlakke gaan opstoot en jy heel moontlik oorvol sal laat voel.

Natasha Smit. (Foto: Verskaf.)

Werk met dit wat jy reeds by die huis het

Ons hoef nie allerhande uitspattige gesonde bestanddele te gaan aankoop om gesond te eet nie. Werk met dit wat jy reeds het en volg hierdie riglyne:

  1. Fokus op groente (tamatie, komkommer, blaarslaai, uie, seldery, sampioene en soetrissies) en proteïene (tuna, sardientjies, koue vleis, hoender, maer maalvleis, biefrepies, ensovoorts);
  2. Beperk vetinname en kies eerder gesonde vette (soos avokado, ongesoute neute, sade, laevetslaaisous of -mayonnaise, onverhitte olie en beperk ook jou hoeveelheid kaasporsies);
  3. Vermy suiker (soos sjokolade, skyfies, koekies, beskuit, ensovoorts); en
  4. Beperk koolhidraatporsies per ete. Alhoewel koolhidrate baie gesondheidsvoordele vir jou inhou en jou hoofbron van energie is, is dit goed om klein, gereelde porsies deur die dag in te neem.

Moenie vergeet om jou drankies te tel nie!

Hoeveel koppies koffie, vrugtesap of gaskoeldrank neem jy deur die dag in? Jou liggaam het vloeistof nodig om seker te maak jy dehidreer nie, maar wees versigtig dat al die vloeistof wat jy inneem, nie net leë kalorieë byvoeg nie. Leë kalorieë is kalorieë wat energie gee, maar geen voedingswaarde het nie en dit kan dus lei tot gewigstoename. Kies altyd eerste water of rooibostee en beperk suiker in koffie en tee.

Gaan kyk gerus na die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.