Gevra: Ink om die gewete-vakuum te vul

skrywers

Foto: 85Fifteen/Unsplash.com

Deur FW Botha

Die grappie oor Afrikaners gaan so: As jy twee Engelse bymekaar kry, stig hulle ’n klub. As jy twee Jode bymekaar kry, stig hulle ’n maatskappy. En wanneer jy twee Afrikaners bymekaar kry, stig hulle af. Myns insiens gesonde selfspot met meriete. Want, ja, saamstaan, uit een mond praat en saam die wa deur die drif trek, is nogal nie eie aan die Afrikaner nie. Dit is ’n slegte en ’n goeie eienskap.

Anders gestel, ons volk het, so lyk dit vir my, selfingeboude wigte en teenwigte. NP van Wyk Louw het juis met sy Oop Gesprek daarop gewys dat niemand volkome aanspraak op die waarheid kan maak nie. Om nie dogmaties te dink nie. Om nie jou argument apodikties aan ander op te dwing nie. Om te luister na die ander persoon se argument. Om jou waarnemings en teorieë aan kritiek te onderwerp.

As mens die Afrikaanse letterkunde en media sou bestudeer, sal jy vind dat die Afrikaanse denkwêreld ’n ryk tradisie van kritiek teen niemand anders as homself het nie. Nie altyd billik nie. Maar strykdeur skoorsoekend en kontroversieel genoeg om ons as Afrikaners krities na onsself te laat kyk.

Die skrywers wat as die Sestigers bekend staan – Andre P Brink, Ingrid Jonker, Etienne Leroux, Chris Barnard, Breyten Breytenbach, om net ’n paar te noem, het dit hul missie gemaak om verdwaalde selfgenoegsaamheid onder Afrikaners te ontmasker en verdag te maak. Dit het hulle nie altyd gewild gemaak onder hul taalgenote nie. Eer sou hulle meermale eerder in die buiteland te beurt val. Wat dan die heethoofde hier te lande nóg meer omgekrap het. Belangrik, egter, is dat dit Afrikaanse lesers aangemoedig het om vrae te vra oor afsonderlike ontwikkeling, minderheidsregering, sosiale geregtigheid en hoe om ’n vreedsame toekoms vir almal te bewerkstellig.

Die selfkritiek het nie geëindig by die Sestigers nie. Vandag nog bevraagteken ’n jonger generasie skrywers die Afrikaner se bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Witheid word voortdurend geproblematiseer deur romanskrywers en joernaliste. Hierdie skrywers is nie altyd reg nie. Maar dit is nie die punt nie. Want al is hulle verkeerd, noop dit alle Afrikaners om hul eie opvattings weer na te gaan vir moontlike korreksie of om jou argumente beter te formuleer en te verfyn.

Sover dan Afrikaners wat graag van mekaar verskil en nie huiwer om mekaar te kritiseer nie. Soms onaangenaam, ja. Dikwels interessant. En altyd broodnodig ter wille daarvan om so na aan die waarheid te dink, te praat en te leef.

Veral letterkundige werke, hetsy poësie of prosa, besit ’n ongelooflike vermoë en traksie om gemeenskappe se gedagtegange te rig. Dat nie almal van die Sestigers gehou het of met hulle saamgestem het nie, is nie hier ter sprake nie. Dít moet ons ons skrywers en digters toegee, hulle is ons gewete. En enige groep mense sonder ’n gewete neig tot ’n onverskillige selfverheffing. wat nie alleen ander groepe tot nadeel strek nie, maar uiteindelik en ironies genoeg selfvernietigend word vir die groep wat dalk nou die voordeel van hul leierskapsposisie geniet.

Verbeel jou ’n Zoeloe-skrywer wat die tema van radikale ekonomiese transformasie in ’n aangrypende roman onder die loep neem. Daarmee saam hoe korrupsie en ’n gebrek aan dienslewering gemeenskappe uitmekaar ruk. Voeg hierby die siekte van ons tyd – aanspraak maak op voordele (entitlement). Met ’n roman verleen jy ’n menslike gesig aan lyding en tekortkominge in ons samelewing.

Dit kan ’n storie wees oor ’n man wat weens sy regte politieke konneksies ver bo sy vermoë by ’n belangrike staatsinstelling aangestel word. Die armsalige man is skaars bewus van die slaggate waarin hy trap en kort voor lank is hy vasgevang in ’n web van korrupsie. Wat verder in die storie belig kan word, is hoe ’n Afrikaanse man sy werk verloor het weens hierdie onbillike aanstelling. En hoe die man wat die voordeel van sy onregmatige aanstelling geniet, se eie gemeenskap ly omdat hul omstandighede versleg. Die moontlikhede vir stories is legio. Verbeel jou die kragte wat losgelaat kan word as hierdie Zoeloe-skrywer se werk internasionale erkenning kry met sê nou maar die Nobelprys vir Letterkunde. ’n Volk se gedagtegang sonder selfkritiek toon ’n geestelike armoede wat sy ontwikkeling as volk knou, selfs vernietig.

Anderkant swart nasionalisme is ’n gewete-vakuum wat smeek om gevul te word. Wat vrae vra oor eie standpunte. Om aanpassings en toegewings te maak ter wille van ’n groter geregtigheid met die oog daarop om dit wat goed en reg is, inklusief en billik na te streef.

Die Afrikaner kan trots wees op sy ingeboude wigte en teenwigte. Spot maar met ons geneigdheid oor afstigting. My versugting is dat die heersende klas van die dag gou by so ʼn punt sal kom sodat daar ’n gesonde teenhang vir vergrype, arrogansie en swak regering sal wees.

Ink. Skrywersink oor taal- en kultuurgrense heen is wat ons dringend nodig het om mense aan die dink te kry. Die Afrikaanse letterkunde het skitterende voorbeelde van hoe dit gedoen moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Die skrywer kan nie aanbeweeg nie. Die Sestigerparty is steeds in sy bloed en die res van ons moet, soos in moet (nie die sjampanje dom boertjie) steeds ons derms laat uitryg, nou deur rassisme-delwers wat steeds die verontregtes, so ‘n lekker term, se eensame, verworpe en tragiese lewens onder wit wreedhede moet help oorleef. Miskien is die ‘stig ‘n nuwe party’ deel van daardie leuen… en moet ons nou juis daad by die raad voeg en daarmee begin, veral noudat die baie gebalanseerde skrywer ons inlig oor ons intrinsieke swakhede, want Afrikaners het net swakhede en daarom is die Nuwe Wereldorde presies net reg vir ons: Wis eers die ras uit (om die ander beter te laat voel) en dan asseblief tog Afrikaans (dit sal maklik wees na voorafgaande aksie) en dan rig ons standbeelde op vir al die waarheidsprekers wat Afrikaners as die slegste van alle volke ontmasker het. Terloops, daar is na raming 80,000 pedofiele in Brittanje en die Pous sukkel self om hand in eie boesem te steek… te veel goud, jy weet. Nee wat, die waarheid word altyd soos geskenkpapier rondom begeertes gedraai en met ‘n blink strik gebind. Die strik is die kruks soos die sluwe slang in die paradys.

Vaalseun ·

John, Suid-Afrika beweeg elke dag aan, met of sonder goeie of slegte Afrikaners, met of sonder Afrikaans. Of Afrikaners ‘n verskil aan Suid-Afrika se sukses môre en in die toekoms gaan maak, en ‘n blink toekoms vir Afrikaanse kinders gaan skep, hang in die eerste plek van die Afrikaners self af.
Om bitterbek gal af te gaan oor wat verkeerd in die land is en dat ander die goeie werk van Afrikaners nie erken nie, is ‘n mors van tyd en energie. Niemand word gebore met die belofte dat hy of sy erkenning vir hulle werk gaan ontvang nie.
Dit is juis politici se taktiek om opposisie of kritici op die agtervoet te plaas deur negatiewe propaganda oor hulle rol en bydrae te versprei.
Dit lyk vir my jy het geval daarvoor. Lig jou kop op en kyk bo-oor dit, dan sal jy die oog vang van ander wat ook van Suid-Afrika en die Afrikaners se bydrae ‘n sukses gaan maak.

Snowball ·

Ek stem absoluut saam met die skrywer oor die gewete vakuum en deel die versugting dat daar gou by ‘n punt gekom sal word waar teenwigte ‘n integriteitsleemte sal aanspreek. Ek vermoed egter die tydperk, waar arrogansie en ‘entitlement’ deel vorm van swart nasionalisme, onaangespreek gaan voortduur, want sodra enige spieël van selfbeskouing en selfkonfrontasie opgehou word, word dit uitgekryt en afgemaak as rassisme of deel van Westerse denke wat ten doel het om die Afrikaan te verneder; selfs die swartes (soos Lekota) wat anders dink, word uitgeskuif en gebrandmerk. Dit gaan lank neem om die slagoffer en ‘entitlement’ mentaliteite af te skud. Of daar suksesvolle, verligte (en brawe) skrywers gebore sal word, wat ‘n aanslag sal loods teen karaktergebreke soos grootheidswaan, korrupsie en die misbruik van mag en die vernietigende gevolge daarvan vir die samelewing, sal net tyd kan leer. Die hoop beskaam seker nie.

Eish ·

Die behoefte vir my lê daarin dat die blanke Afrikaner se reduksie tot nikssegendheid baie harder skree na woordenaarsink in die politiek korrekte, verstikkende atmosfeer.
Die sogenaamde vryheid van spraak het die sake aan die orde van die dag holrug gery deur nuus, ontledings en politieke kommentare.
Jaques Pauw se boek het die deksel na behore gelig op die heksebrousel van regeringsvergrype. So ook die boek oor Steinhoff wat ons eie tekortkominge aan die groot klok met groot koste gehang het.
Die ou pad is deurgetrap deur liberale simpatie en kliphard. Die nuwe vergryping aan my mense is wat aktueel is, hartsnare roer en aan eie lyf gevoel word. My pen se punt roer nie eers oor die kankerregering se verrottende invloed op die land se inwoners nie, nie terwyl my eie mense rasuitsluiting en geleentheidsdiefstal moet beleef nie. Ander lydende groepe het die keuse om n verskil te maak, maar populisme versmoor enige windjie wat dit waag opsteek.
Niks, maar niks skommel my trommel soos die beloftebrekers se verdraaide uitkoms, waar taalmoord, geleentheidsdiefstal, en gedwonge verarming, ons menswaardigheid aftakel nie.
Dit, verdien woordenaarsink!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.