Gewigsverlies: ʼn Maand (en 10 kilo’s!) later

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Ná ʼn maand van baie broccoli, getroue gehoorsaamheid teenoor ʼn string streng reëls en vasbyt soos wat ek nog nooit vasgebyt het nie, kan ek trots sê dat ek 10 kg afgeskud het.

Toe ek ʼn maand gelede besluit het om my eet- en leefstylgewoontes handomkeer te verander deur by Slender Wonder aan te sluit, het ek nie werklik besef wat vir my voorgelê het nie. Wat ek egter wel geweet het, is dat ek gereed was vir ʼn jaar van verandering – en dié maand het vir my ʼn proeseltjie van daardie verandering gebied.

Kyk, ek is ʼn vrou wat nog altyd lief was vir kos, en veral vir pasta. Dit help natuurlik ook nie dat ek nie te vrot in die kombuis vaar en dat dit enkele minute vat om iets heerliks (en dikwels ongesond) aanmekaar te slaan nie.

Hiermee wil ek dit egter duidelik maak – ek het hierdie besluit van verandering vir myself geneem; ek wou gesonder voel, meer beweeglik wees en net so ʼn titseltjie meer van die vrou in die spieël hou. Ek weet egter baie beslis dat elkeen se verhouding met kos en hul liggaam hemelsbreed van mekaar verskil en dat daar niks fout is met ʼn ou rolletjie of twee nie.

Ek was egter bietjie moeg vir my eie rolletjies wat so dikwels verhoed het dat my broeke reg pas of klere perfek sit.

Om so iets aan te pak, sit beslis nie in enige man (of vrou) se broek nie. Trouens, dit het ʼn paar maande gelede ook nie in myne gesit nie. Terwyl almal rondom jou heerlik smul aan skaapvleis, nachos, vetkoek en maalvleis, pizza en roosterbrood – om nie eens te praat van die glasies wyn wat daarmee saam geniet word nie – het ek my klein stukkie vleis en paar stukke groente geniet.

Die reëls wat met die leefstylverandering gepaard gaan, is maar baie beperkend, daaroor kan niemand doekies omdraai nie. Ek eet tans drasties minder as vantevore, en ook net sekere vleis-, groente- en vrugtesoorte. Elke maaltyd word geweeg, en jy moet verkieslik nie meer of minder as die voorgestelde porsiegroottes eet nie.

Ek drink tans elke oggend ʼn skommeldrankie vir ontbyt en ʼn 100 g-stukkie vleis (hoender, vis of rooivleis gewoonlik) saam met 120 g groente vir middag- en aandete. Die groente wissel tussen broccoli, murgpampoentjies, lemoenpampoen, komkommer, tamaties, aspersies, blomkool en spinasie. Daar is beslis nog groentesoorte op die lys, hierdie gee net vir jou ʼn idee watter groente toegelaat word. Vrugte is ook onderhewig aan reëls, maar gelukkig hou ek van vrugte, veral perskes, wat ek twee keer ʼn dag mag eet.

Ek moet darem eerlik wees, sodra mens in die roetine van hierdie nuwe leefstyl is, raak dit al hoe makliker om nee te sê vir al die verruklike versoekinge. Met elke stukkie lamsvleis wat my oë laat dwaal het, het ek bloot gedink aan my niggie se troue aan die einde van die jaar. Dit is immers my mikpunt – en van een ding is ek seker – op daardie troue gaan ek hoegenaamd nie my neus optrek vir ʼn pampoenkoekie nie.

Dokters, skale en onnodige bekommernisse

As deel van hierdie proses moet ek elke twee weke ʼn dokter by Slender Wonder se hooftak in Brooklyn, Pretoria, besoek.

As jy iemand is wat eerder koers berge se kant toe kies as jy die woorde “weeg” en “skaal” hoor, kan jy maar gerus ontspan. Hierdie span is besonder vriendelik, gevul met empatie en blus blitsvinnig daardie bekommernisse wat in jou hart brand.

Waaraan ek nog bietjie sukkel om gewoond te raak, is al die pilletjies wat ek daagliks moet drink. Soggens spuit ek menslike choriongonadotropien (human chorionic gonadotropin, hCG) in my sy. Dit word met ʼn pen soortgelyk aan ʼn insulienpen toegedien. Ek drink ook tans 10 pilletjies ʼn dag, wat versprei word tussen ontbyt en aandete. Vir iemand wat nie maklik pille drink nie, was dit beslis ʼn aanpassing.

Soos wat ek egter in my vorige skrywe gesê het, is ek gereed vir ʼn nuwe weergawe van myself. Ek is gereed vir nuwe klere, ʼn nuwe uitkyk op myself en die lewe en nuwe energie. Daarom is ek meer as bereid om vir die volgende paar maande vas te byt en terselfdertyd my gewoontes heeltemal aan te pas.

Dit is dalk tyd om te begin oefen – maar die wilskrag om dit te doen, is ʼn heel ander saak!

  • Hierdie gewigsverliesprogram word in samewerking met Slender Wonder aangepak. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kattebol ·

Jy lyk pragtig en die gewigsverlies lyk na meer as net 10kg. Baie sterkte!

VannieBaai ·

Sou baie graag wou weet wat die kostes is vir die besoeke, pille en inspuitings. Bekostigbare hulpmiddels is nie beskikbaar vir dié mense wat nie groot salarisse kry of
nie mediese fondse het nie. Jy lyk goed. Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.