Guy Fawkes: Is ons strooipoppe op die vuurwerkstapel?

Vuurwerke-en-Guy-Fawkes

Foto: Learnenglishteens.britishcouncil.org

Ludwig Visser

’n Dowe kind het amper sy oë verloor. Verskeie ander kinders het handbeserings opgedoen, diere het verskrik gevlug, en dis nie bekend hoeveel kere die brandweer uitgeroep is om in die stedelike gebied brande te gaan blus nie. En dit alles het net op Kaapstad betrekking. Hoeveel keer het dergelike tonele hulle nie in die res van die land op Guy Fawkes-aand afgespeel nie?

Hoekom? Omdat Suid-Afrikaners myns insiens die grootste na-apers onder die son is en nog elke jaar iets “vier” wat  meer as vier eeue gelede in ’n ander land ver van ons af gebeur het en hoegenaamd niks met ons te doen gehad het nie. Ek verwys na Guy Fawkes, die Engelse soldaat wat uiteindelik tereggestel en daarna gevierendeel is – sy lyk is letterlik in vier dele uitmekaargetrek – omdat hy deel was van die sogenaamde Katolieke Buskruitverraad. Dit het alles in Mei 1604 gebeur toe ’n groep Engelse Katolieke  ’n komplot gesmee het teen die Protestantse koning Jakobus 1 van Engeland. Die samesweerders het Guido Fawkes, ’n Britse soldaat, betrek omdat hy ervare was in die gebruik van plofstof.

Op 5 November 1605 het die planne skeefgeloop toe Fawkes in die kelder van die Britse Hoërhuis betrap is met buskruit en lont in sy besit. Hy was op pad om die koning en verskeie lede van die Skotse adel wat in Londen gewoon het, die ewigheid in te blaas. Hy en ses ander is in hegtenis geneem en weens hoogverraad ter dood veroordeel.

By sy verhoor was Fawkes se verontskuldiging dat hy net die bevele van die pous uitgevoer het, want dié het in daardie stadium die koning geëkskommunikeer.

Ná hul teregstelling is stukke van die skuldiges se oorskot na die uithoeke van die koninkryk gestuur en daar vertoon sodat dit as waarskuwing vir ander moes dien wat dalk ook sulke planne gehad het.

Die Buskruitverraad word nog in die Verenigde Koninkryk gevier met die verbranding van strooipoppe en die afvuur van vuurwerk, ter herinnering aan wat met ou Guy Fawkes gebeur het. Dis ook tradisie dat die kelders van die Britse Hoërhuis gereeld op 5 November deursoek word net om seker te maak dat daar nie weer sulke dinge aan die broei is nie.

Met Suid-Afrika het Guy Fawkes en sy trawante se dinge hoegenaamd niks te doen nie, maar ná meer as vier eeue “vier” ons dit nog. Die vraag is net: Hoekom? Dis ’n absolute vermorsing van geld; dit skep elke jaar die gevaar dat skade en beserings aangerig kan word. Dit bring niemand enigiets in die sak nie. Inteendeel, ’n mens kry die indruk dat juis dié mense wat dit die minste kan bekostig, elke jaar ’n klomp geld aan goedkoop en gevaarlike vuurwerk bestee.

Dis ’n onsinnige gebruik, en die owerheid sal baie mense se goedkeuring wegdra as die viering van hierdie dag amptelik verbied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hettie ·

Wanneer gaan vuurwerke stop??? Ons honde is baie bang vir vuurwerke! Hoekom verkoop nog steeds vuurwerke? Hulle dink nie aan diere en soms mense wat bang is, nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.