Help! Ek kort ’n noodfonds

(Foto: Dovis/Pexels)

Soos ek hier sit en skryf, liewe leser, had ek ʼn netelige rugpyn. Nie die tipe wat ʼn skalpel vereis nie, of maak dat ek nie kan loop nie, maar lastig nietemin.

Ek rakel hierdie op, want terwyl die fisio my seer spiere vryf en my ruggraat “dekompakteer”, is dit nogal eina. Wat my by die punt bring: hierdie kan reggestel word, maar dit kon ook in die eerste plek voorkom word.

Die uwe kon met meer ywer gestrek het, byvoorbeeld. Ek sien nou die dag juis ʼn video van ʼn 93-jarige yogi wat meer soepel is as wat ek (39) seker al ooit was. Ook meer ywerige oefen was ʼn opsie.

Voorkoming vereis dalk dissipline, maar dis ook makliker as regmaak.

Nou, dit geld nie net vir seer rugspiere nie, maar ook vir ons finansies. Ons het laas in hierdie rubriek oor skuld gesels, en dieselfde beginsel is steeds van toepassing. Om te verhoed dat jou kredietkaartbalans lyk soos die Covid-hulpfonds na die kaders hulle vingers in die kasregister gehad het, is dit op die oorwig beter om jou skuld te delg.

En dan moet is die doel om te verhoed dat jy weer in die situasie beland. So hoe doen jy dit? Een woord: noodfonds.

(Proviso, soos altyd: onthou asseblief, hierdie is bloot ʼn algemene oorsig. Gaan sien iemand professioneel om jou met jou spesifieke situasie te help.)

Wat is ’n noodfonds?

Soos die naam redelik letterlik aandui, is dit ʼn fonds vir noodgevalle.

Dis geld wat jy opsysit vir wanneer jy dit regtig nodig het. Sê nou maar klein Bernard breek sy arm in ʼn onderwaterkontakskaakwedstryd en die mediesefonds dek nie alles nie. Of jy verloor jou werk by die salon, want die eienaar het almal se salarisse in kripto belê en met die winste laat spaander na Papoea-Nieu-Guinee. Of jou vergasser pak buite die dienstydperk op.

Jy makeer dus fondse – om die gips en Panado’s te betaal, of om bloot te oorleef tot jy weer werk het.

Dit is hier waar ʼn noodfonds handig is. Dit is gelde wat op hande is, en redelik los, sodat jy vir hierdie soort goed kan betaal.

Die idee is om te verhoed om skuld aan te gaan – ons weet immers hierdie tipe skokke kom, dis die aard van die lewe. Dus spaar jy geld, om te keer dat jy jou kredietkaart moet buig.

Die ideaal is ses keer jou maandelikse uitgawes, of nog beter, jou huishouding se uitgawes. As jy egter nog moet begin, is dit dalk nogal ver. Mik dalk aanvanklik vir drie maande s’n, of selfs ʼn maand. Hel, selfs ʼn R1 000 wat jy gespaar het, is beter as ʼn R100 000 wat jy kon gespaar het, maar nie het nie. Alles kan ʼn gat toestop.

Wat is ’n noodgeval nie?

Ek het nou hierbo geraak aan waarvoor ʼn noodfonds is.

Wat dit nie is nie, is geld om te betaal vir klein Prudence se matriekafskeidrok wat Errol Arendz moet maak anders gaan sy afsteek teen buurman se dogter. Dis ook nie om Jimmy Choos op uitverkoping te koop nie. Hoe jy lyk is dalk vir jou belangrik, maar ʼn noodgeval is dit (meestal) nie.

Dis ook nie om jou Riekie Louw-voorraad aan te vul, of om kaartjies vir die Bok-toets op Loftus te koop, of om vir jou salon-baas te gee om namens jou in kripto te belê nie.

Natuurlik is daar verskille tussen huishoudings: vir my is ʼn gebreekte kitaarsnaar ʼn irritasie, vir byvoorbeeld Anton Goosen is dit meer so, want dit is hoe hy sy inkomste genereer.

Ek gaan nie jou intelligensie onderskat nie – ʼn noodgeval gaan enigeen met genoeg lewenservaring intuïtief aanvoel. En as jy wonder, kry ʼn buite-opinie van iemand wat eerlik sal wees.

Hoe bou ek een op?

Soos met olifant-eet; happie vir happie. Vir die oorgrote meerderheid van ons gaan dit gereelde spaar, oor ʼn lang tydperk, neem.

Gestel jy begin by ʼn R1 000 ʼn maand, en jou mikpunt is R50 000. Sonder enige groei op jou bydraes, praat ons van 50 maande om dit te spaar.

Tensy jy die Lotto wen, of erf, gaan dit dus ʼn ruk neem. En selfs met wengeld – so gewonne, so geronne. Dit is, weereens, vir die oorgrote meerderheid van ons so dat ons meer waardeer waarvoor ons moes werk.

By wyse van analogie: as jy dan nou moet beroemd raak, is dit waarskynlik beter om stelselmatig daar uit te kom, eerder as oornag. Dit gee jou tree vir tree die nodige ervaring en maak jou meer weerbaar.

Ek sê nie hierdie geld vir almal nie, maar as die geld een keer in jou skoot geval het, gaan jy dit met dieselfde versigtigheid bestuur as dit wat jy self moes ophou? Ek kan nie met sekerheid sê ek sal nie.

Spaar dus wat jy kan, wanneer jy kan, maar probeer dit gedissiplineerd op gereelde grondslag, maandeliks byvoorbeeld, doen. As dit ʼn R100 is? Wonderlik, jy’s reeds beter af. As dit R10 000 is? Nog beter.

Waar sit jy dit? Wat jy soek is ʼn plek waar dit darem naby aan inflasie bly, waar die kapitaal nie gaan wegraak nie, en waartoe jy vinnig toegang het as dit nodig is.

Daar is velerlei opsies – as jy ʼn toegangsverband het, kan dit werk. Meeste beleggingshuise of versekeraars het beleggingsoplossings wat so iets kan takel – hier is geldmarkfondse nogal ’n sinvolle bousteen. Jy kan ook jou bank nader. Let net daarop dat sekere plekke sekere minimums het – sê nou maar R1 000 per maand, of R20 000 eenmalig, waarby jy dan kan byvoeg.

Praat met jou makelaar, of soortgelyk, wat jou spesifieke situasie in ag sal neem.

Vinnige nota oor kredietkaarte:

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Ek het vroeër hieraan geraak (en in my vorige rubriek) maar skuld, en vernaam kredietkaarte is nie per sy verkeerd nie.

Anders as byvoorbeeld staatskapers, of die knoppie van ʼn hysbak, het dit sy plek en doel. As jy ʼn kredietkaart reg aanwend, in die regte omstandighede, is dit ʼn handige item in jou finansies-gereedskapkis. En: Sommige verskaffers het byvoorbeeld nie rente in die eerste 45 dae nie.

Alles kom natuurlik teen ʼn koste, maar as dit die verskil is tussen jy maak jou kar se vergasser reg en jy behou jou werk, of jy is nog dieper in die akkies, is dit mos nie ʼn moeilike keuse nie.

Dit bly egter beter om dit te vermy. Dink ook so daaraan: die noodfonds is ook ʼn bate vir jou. Eendag het jy dalk meer fondse opgebou, en kan jy tog met daai geld Jimmy Choos en toetskaartjies na Loftus koop.

En dalk sommer ʼn Riekie Louw drink na die tyd op die Bokke se wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Noodfondse is krities belangrik. Dit verander ‘n groot krisis in ‘n klein irritasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.