Het jy al ʼn boer sien huil?

boer-dans-reën

Foto: Erin Palm Photography (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

“Dans in die reën*.” Daar word hartroerend gesing:

Het jy al ʼn boer sien lag?
‘n Boer sien dans in die reën terwyl ‘n traan by sy wang afrol!
‘n Boer sien lag en ‘n boer sien dans in die reën?
Terwyl God die aarde seën

Ja, ek het, toe ons onlangs wyd gaan kuier het. Deur die Vrystaat het baie boere gelag want dit was sover ‘n reënjaar. Net die rûe van die skaap kon ‘n mens bo die gras sien uitsteek en die beeste het vroeg gaan lê want hulle het volbek gevreet. ‘n Boer vertel dat dit lyk of sy vorige rekordoes oorskry gaan word.

In drie van die noordelike provinsies het baie boere breed geglimlag want dis ‘n reënjaar. Oeste lyk belowend en die vee is mooi – wei rondeboud op weivelde waar kos volop is. Op pad terug, Kimberley deur, was dit ook só en hoe dieper ons die Karoo ingery het, hoe mooier het dit geword. Die reënjaarmooi van die droë Karoo bly maar ‘n mooi wat jou in die hart gryp. ‘n Genadegawe uit God se hand!

Sover ‘n mens ry, het panne blink water vertel hoe God die aarde seën. In Britstown se wêreld het ons by vriende aangegaan en ons het boere sien lag. Dis ‘n mooi jaar, ‘n wenjaar en ‘n lafenis na jare wat die dorre Karoo hulle noustrop laat trek het. Ons het boere sien lag en hulle hoor dankie sê.

By Victoria-Wes verby, het die wêreld droog geraak en toe ons anderkant Beaufort-Wes links draai Oudtshoorn toe was dit gou merkbaar dat die Karoo op sy droogste was. Ons het by ‘n vriend gaan koffie drink. Hy en sy plaashond, Soetlief, het uit die veld uit aangery gekom. Ek het vertel van die noorde se reënseën en hy het stroef geluister. Sy “Ja, dit het nie tot hier by ons gekom nie,” het gewys wat in sy gemoed maal.

Toe was dit Huil in die Stof.

Op ‘n plaas buitekant die Klein-Karoo staan ‘n man en wag.
Hy wag al lankal vir ‘n druppel reën om sy grond te kom seën.
Hy bid al maandelank dat daar iets moet gebeur …
Skielik rol ‘n traan en plof in die stof.

Het jy al ‘n boer sien huil?
‘n Boer sien huil as hy buig op sy knie op die dorre, droë stof?
‘n Boer sien huil terwyl ‘n traan by sy wang afrol en in die stof plof?
Terwyl hy wag dat God die aarde seën.

Ek het hom laat praat want dit was duidelik sigbaar dat daar iets in sy gebroke binneste was wat moes uit. Sy stem was skor en daar was nattigheid in sy oë. “Ek kom nou net met my onmisbare hond uit die veld uit. Ek is verpletter. Ek het probeer om my diere deur te kry, maar dis alles verby. Nie ‘n enkele gemsbok, blouwildebees en eland het oorgebly nie. Daar is omtrent tien koedoes en ‘n honderd of wat springbokke. Wild, op soek na weiding, wat nie eens oor die jakkalsdraad kon spring nie, het net daar bly lê en gevrek. As jy saam met my ry, sal jy die karkasse in die veld sien lê.” Hy het ‘n ruk woordeloos getuur en verder vertel. “Ek het ‘n fout gemaak. Ek moes nie destyds met wild begin boer het nie. Die Karoo is nie vir wildboerdery gemaak nie. Dis net te droog.”

“Jy’s nie alleen nie. Baie boere het al foute gemaak,” het ek opgemerk en toe vertel ek hom van die biddag vir reën in Namakwaland toe die graan witverdroog op die lande gestaan het. ‘n Boer het ‘n opmerking gemaak: “Julle kan maar bid. Julle kan maar probeer, maar dit moet julle weet: Toe die Skepper hierdie wêreld gekom maak het, het Hy hom droog en dor gemaak. Goed vir bok en skaap om te oorleef. Hy het hom nie gekom maak vir saaiery nie.”

Na ‘n wrange glimlag het hy verder gepraat: “En asof dit nie genoeg is nie, het ek my spog boerbokkudde verloor. Ek en my vrou was by as die ooie gelam het, want daar was maar altyd ooie wat gehelp moes word. Toe word sy dodelik siek. By die dood omgedraai. Brusellose (besmetlike misgeboorte), het die dokters uiteindelik bepaal. Die veearts het kom toets en bevind dat die boerbokke besmet was. Oor ‘n duisend bokke is vrekgemaak. Die staat het uitbetaal maar dit was ‘n druppel in die emmer.” Ek het hom woordeloos, vas in die oë gekyk. Hy was nog nie klaar nie. “En niemand glo dit nie, maar ongediertes soos jakkalse en rooikatte, oes maklik die helfte van jou skaaplammeroes. En niks is so slu en slim soos ‘n jakkals nie!” Hy tuur ver en skud sy kop.

Voordat ek iets kon sê, het hy weer begin. Sy stem wou breek toe hy amper driftig verder gepraat het: “Man, ons kan nie meer nie! Ons is gelowiges, maar weet jy wat? Ek is kwaad vir God. Verstaan Hy dan nie? Nou die dag toe ek daar sit, toe kom hierdie rooi hond en sy kyk my in die oë en sy sit haar poot op my skoot …” Hy skud sy kop en kyk af grond toe. “Man, tot die grond is morsdood!”

“My vriend,” het ek vir hom gesê: “Jy is nie die eerste en enigste wat, in sy worsteling, dié punt bereik nie. Gaan kyk maar na Dawid in sy Psalms en wat Job te sê gehad het. Maar in beide gevalle het hulle dan weer ‘n ander punt bereik toe hulle tot belydenis gekom het, God se oppermag aanvaar het en hulle geloofsvertroue opnuut in Hom bevestig het. Ek preek nie vir jou nie. Ek bid dat jou geloofsoog nie sal verdof nie – dat die Vader jou in Sy genade sal versterk om soos Habakuk uit te roep:

… al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag!”

Ons het mekaar veelseggend in die oë gekyk en dit was duidelik dat wat gesê moes word, gesê is. ‘n Gemoedelike gesprek het gevolg terwyl ons lekker Karookoffie gedrink het. Ek het my bondels rooikareebraaihout uitgesoek en in die kar gelaai. So met die groetery was daar ‘n uitnodiging: “As julle nou weer hier verby kom, kom bly in ‘n jaghuisie. Ek sal hom verniet vir julle gee,” en dan met ‘n skewe glimlag, “hier’s mos nie meer wild om te jag nie. Die huisies staan tog nou leeg…”

Terug op Riversdal, vertel ek vir vriend van die droogte in die Karoo anderkant die Swartberg. Na ‘n wyle van stilte, het hy begin vertel van die verskriklike droogte in Smithfield se wêreld: “My pa het my aan die hand gevat en kraal toe gestap waar die lammerooie met hulle lammers sonder ‘n krieseltjie kos was. In die kraal het hy gekniel, gebid en vir Vader raad gevra want hy kon nie meer verder nie. Na ‘n ruk het hy opgestaan, sy knipmes uitgehaal en al die lammertjies keelaf gesny om die ooie deur te kry. Dis wat ek onthou van droogte. Dis net genade as hy nie ‘n boer breek nie. My pa het nie gebreek nie en kon al sy ooie deurtrek. Net genade …”

Ek praat met ‘n jong boer in die Klein-Karoo. “Dis maar sleg, oom. Vir twee jaar nou, het dit hier en daar net stofnat gereën. Die rivier is droog en die kuile leeg. Ek het maar my vee in die koring ingejaag. Gelukkig het boere anderkant die berg vir my weiding gegee vir my vee, wat nog oor is. Ai oom, maar nou bly die reën daar ook skraps. Hulle raak nou ook in die noute. Miskien sal ek maar moet verkoop en weer begin – soos ons pa’s dit maar moes doen. Dit gaan weer reën, oom. Dit gaan weer reën!

ʼn Ander vriend vertel vir my dat hulle maar gesaai het. “Jy saai maar in die geloof. Jy bid en jy glo en jy hoop want die koöperasie moet betaal word. Dis saad. Dis kunsmis. Dis diesel.” Geloof en hoop het nie beskaam nie. Die weerprofete het geen reën voorspel nie, maar deur die nag was daar sagte reën en toe is daar dag en nag gesaai – in geloof gesaai. Die versugting dat opvolgreën sal val is oral gehoor. Terwyl ek nou hier sit en skryf, sak die sagte opvolgreën oral uit. Die boere juig want God het die aarde met Sy reën kom seën.

Het ‘n boer ons al sien buig?
Vir ons hoor bid terwyl sy boererug wil knak?
Vir ons hoor bid dat God die aarde met Sy reën sal seën?
Sodat ‘n boer weer in die reën kan lag!
Sodat hy weer in die reën kan dans as Sy reën die aarde kom seën!

*”Dans in die reën” is die debuutliedjie op Touch of Class se album “Koffiefontein” wat in 2013 uitgereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Santie ·

Johan Oosthuizen, jy het hierdie storie so pragtig vertel. Ek is skoon aangedaan.

Louw ·

Die gedagte wat dadelik opkom is die mens wik, maar God beskik. Is ook in die Karoo, en skielik word die sluise oop gemaak en alles is net water. Maar dan hoor jy mense 15 km van jou af het net druppels gekry. Pragtig geskryf en so waar.

Cornia ·

Dit is sekerlik die mooiste geskrewe stukkie skryfwerk wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die lied kom ook baie mooi ter sprake en tot sy uiting.

Baie geluk aan die persoon wat hier geskryf het. PUIK!

Theresa ·

Dankie vir die kosbare, sinvolle, deernisvolle stuk.
Maak mens bewoë om te weet hierdie droogte werklikheid en al die res van onnodige spanning waarmee ons boere te doen het, kan hul maak of breek. Want hul is mens.

Leon ·

Terwyl ek lees kom daar ‘n traan in die oog, en mens besef maar net weereens hoe klein ons in die skepping van God is, en so afhanklik van Sy grootheid, en dan is ek bly dat ek Hom ken

Leon ·

Ek sit hier met ‘n traan in my oog nadat ek hier gelees het, en besef hoe afhanklik ons as mens is van God se genade, en dan is ek bly ek ken Hom

Boerenooi ·

Hier sit ek in die VSA in die Staat van Maine waar daar nie ‘n tekort aan water is nie en vee die trane af soos ek hierdie stuk lees. Ek wonder wat ons Boere sou doen as ons in die Republiek hierdie hoeveelheid water beskikbaar sou he. Ek onthou kleintyd hoe my oom in die OFS geboer het, die blydskap oor reen en die reuk van nat grond wat my altyd bybly. Ek dra ons Boeregemeenskap op in my gebede, mag die Vader julle bewaar en genadig wees.

Jenny Thom ·

Majesteit YHWH, ons boervolki se baie, baie dankie. U is onvoorwaardelik, totaal en al in beheer. Ons is U oogappel, en U is groot, goed, wonderbaar en so getrou. Ons moet net ons oe gevestig hou op U. Ons Redder, Verlosser. Majesteit en ABBA Vader!!! U verwag omvoorwaardelik toewyding, en dat ons U moet bemin met ons hele hart, ons hele siel, o ns hele verstand en AL ons krag!! U soek ons slegs vir Uself van ons kroontjie tot ons voetsool, want U Woord sê U is ‘n Jaloerse Elohim (God)

Ella ·

Boere van Suid Afrika as julle vanaand gaan slaap weet dan dat die vrou vir julle bid, gisteraand vir julle gebid het en moreaand weer sal bid. Nie net vir reen, maar meestal vir reen, ook vir veiligheid, vir begrip van julle mense en almal in SA want julle pad is nie maklik nie.
Ek onthou hoe my pa saans rooi van die stof van heeldag op die trekker by die agterdeur ingestap het met sy lee tee bottel en kosblik. Ek dink nie ek het dit toe so waardeer nie maar as ek hom vandag weer kon sien sou ek verseker sy voete gewas het.
Boere, julle is die sout van die aarde. Staan sterk te ten spyte van alles.
Die HERE seen julle.

Pelgrim ·

O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reën;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reën.

WEG Louw

Arrian ·

Aangrypende taalgebruik. Een van my Karoo familie het eenmaal gesê wanneer dit reën in die Karoo dan ruik mens God se sweet omdat Hyself ingespring het om uitkoms te bring. Mag die Karoomense God ruik sweet!

Boland ·

Dankbaar.Dit was pragtig.In die Swartland het ons verlede jaar 280mm gekry.Vanjaar reeds 250mm en die winter le nog voor.Ons dank U.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.