Hoe om geskenke om te ruil

Foto: Pixabay

Die kersliedjies het klaar gespeel, almal het te veel geëet, die kinders speel met hul nuwe speelgoed en die geskenkpapier is weggegooi. Die meeste mense is tevrede met dit wat Kersvader gebring het, maar wat kan jy doen as jy regtig jou Kersgeskenk wil omruil vir iets waarvan jy meer sal hou of wat beter sal pas? Ina Opperman verduidelik wat jou regte is om Kersgeskenke om te ruil.

Baie winkels, veral die groot kettingwinkels, is nie ongeneë om Kersgeskenke om te ruil nie, veral nie in die week ná Kersfees nie. Jy moet natuurlik weet van watter winkel die geskenk kom, en dit sal beslis help as jy ʼn betaalstrokie het. Onthou ook dat jy moet kan staaf waarom jy die goedere wil omruil, en in hierdie geval is “ek hou nie daarvan nie” nie ʼn afdoende rede nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 20 van hierdie wet bepaal dat jy goedere kan teruggee wat in ʼn direkte bemarkingstransaksie gekoop is, terwyl artikel 56 bepaal dat jy goedere wat, onder meer, onveilig of foutief is, kan teruggee.

  • Volgens artikel 20 kan jy goedere teruggee en jou geld terugkry nadat jy, binne die afkoeltydperk, ʼn aankoop volgende op direkte bemarking gekanselleer het. Hierdie is nie eintlik van toepassing op Kersgeskenke nie maar wel as jy, byvoorbeeld, in reaksie op ʼn oproep van ʼn selfoonmaatskappy ʼn nuwe kontrak gesluit het.
  • Volgens artikel 56 kan jy goedere ook teruggee as jy nie kans gekry het om dit na te gaan nie en die produk van swak gehalte is of as jy geweier het om ’n vermenging van goedere, wat jy nie bestel het nie, te aanvaar.
  • Artikel 56 maak ook voorsiening daarvoor dat as jy iets gekoop het wat nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie, dit binne 10 werksdae teruggegee kan word. Jy moet nogtans die onderneming laat weet dat die produk/item nie geskik is nie.

Jy kan egter nie goedere teruggee as sodanige teruggawe verbied word deur ’n openbare gesondheidsregulasie nie en ook nie as jy die goedere gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal het, fisies aangepas het of permanent as deel van ander goedere of eiendom geïnstalleer het nie. Produkte kan ook nie teruggegee word as iets daarby aangeheg, aangelas of bygevoeg is nie; as dit met iets anders vermeng of gekombineer is nie; of as die produk of item in ander goedere of eiendom gevestig is.

Omruilings

Jy kan gewoonlik net produkte omruil as jy ʼn faktuur of kwitansie het as bewys dat jy die produk gekoop het, maar die meeste groot winkels is egter gewillig om geskenke sonder ʼn strokie om te ruil kort ná Kersfees. Dit geld egter nie vir geskenke wat spesiaal gemaak is nie.

Kry jou geld terug

Jy kan vra dat jou geld terugbetaal word indien die produk in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking is. Desondanks kan die winkel ʼn bedrag hef as die geskenk oopgemaak is, selfs al is dit in sy oorspronklike toestand en oorspronklike verpakking.

Indien jy die produk al gebruik het, kan die winkel vereis dat jy ʼn bedrag betaal vir die gebruik daarvan, tensy dit iets is wat gewoonlik opgebruik word. Byvoorbeeld, as jy ʼn bietjie gebruik het om te sien of jy van iets hou, hoef jy nie daarvoor te betaal nie.

Die winkel kan vra dat jy ’n redelike bedrag betaal om die goedere te herstel sodat dit weer verkoop kan word, maar as dit nodig was om die verpakking te vernietig om die geskenk oop te maak om te sien of dit die regte produk is of indien jy dit nie vooraf kon nagaan nie of as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie, hoef jy nie hierdie bedrag te betaal nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalings oor omruilings soos vervat in die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.