Hoofman Cheesa van Nokaneng en die mielies op die rookvuur

Argieffoto (Foto: Nike159/Pixabay)

Een jaar is ek op my eensaamheid op pad vanaf Johannesburg na Grootfontein, so ek beur sommer stroomop langs die “swamps” in die rigting van Nokaneng. Ek is lekker voortydig so ek vat dit rustig en die bakkie is goed ingerig.

Iewers naby Nokaneng raak ek honger en toe onthou ek die “pie” in die Engel-vrieskas. Maar die Engel werk soos ʼn droom en “pie” kan mens doodgooi. Nou begin die soektog na ʼn mikrogolfoond want die honger is groot. Kry die hoof van die polisie teen die pad en Moses bied aan om die pasteitjie by sy huis te gaan verhit. So leer ken ek dié vriendelike poliesman. En ek beur voort na Suidwes.

ʼn Paar weke daarna sit ek een Sondagogggend by die ontbyttafel van Amadeus Garden gastehuis by Vic Falls. Ewe groots kondig die span toeriste aan dat hulle nie meer my dienste benodig nie, want hulle is heel mak hier in Vic Falls, so ek moet die pad vat huis toe. My moeilikheid is dat die Duitser uithuisig is en ek had genoeg van alleenwees. Ek moet nou ʼn hele vier dae mors voordat ek Donderdagaand die Interkaap-bus vat na Klawer. Daai Sondagaand slaap ek in Maun by Audi-kamp en ek is sommer uit die staanspoor omgekrap want die bure raas tot ounag. Toe die dag breek besluit ek opslag ek het nou genoeg gehad van toeriste en lawaai – ek vat nou die pad na Nokaneng en loop soek vir poliesman Moses.

Hy is iewers die bosse in so opstuk draai ek die Cruiser se bakkies ooswaarts en ek ry die woesteny in op soek na water. Later kry ek ʼn mens wat sy bees sit en oppas hier vlak teen die pad. Sy pappotjie sit en prut salig op ʼn klein rookvuur en sy naam is Caltex en hy praat darem so ietwat Ingels. Vra hom waar die waters is en hy beduie vorentoe. Bied hom sommer net daar ʼn job aan met byvoordele van bier en vleis en Caltex klim sonder omhaal in.

Ná ʼn paar kilometer kry ons die groot waters van die Okavango en sommer so rof teenaan ʼn lekker haak-en-steekdoringbos slaat ons kamp op. Daar is geen siel in sig nie, net ʼn klompie seekoeie in die gate voor ons en verder die saligheid. Caltex dra hout aan en ek knak ʼn paar nattes en ons is salig. Laat namiddag braai ons ietsie en die seekoeie raas en ek besluit opstuk ek is ou Livingstone op my reise die onbekende Afrika in.

Die Dinsdag doen ons steeds niks. Luilekker lees en rondsit daar in die koelte van bome en bosse en luister vir die gesnotter van seekoeie. Salig. Maar die Woensdag begin pla my gewete my. Hier lewe ek nou soos een of ander “lord” op safari en ek het geen siel eers gevra of ek hier kan wees nie. So ons vat die Cruiser sommer so deur die veld na hoofman Cheesa se staning iewers in die vlaktes van Nokaneng. So ʼn groot kêrel met ʼn lekker bierpens wat hy toedek met ʼn kleinerige handdoekie. Vriendelik hoor hy my storie aan en begin praat van die myne van Johannesburg waar hy eens gewerk het. Net daar slaat ek oor in “fanagalo” en opstuk is ek en hoofman Cheesa bloedbroers.

Later bring sy vrou vir ons rooibostee in sulke pienk plastiekbekers en nog later begin braai hy mielies op die kole. Caltex hou my beskaafd in die agtergrond en ons twee groot manne praat ons taal en eet mielies van die kole af. Dit word laatnag. Die volgende dag het ek hom loop groet op my pad weswaarts maar hy is my vriend. Hy en Moses die poliesman.

Ek wonder nou nog hoekom ek so bang was vir donker Afrika destyds. Want Afrika soek soms net bietjie “fanagalo” en bossiestee langs ʼn rookvuur en genoeg tyd om klipharde mielies te braai en in te knaag plat op jou sitvlak in die sand. Ek weet nie of hoofman Cheesa nog lewe nie, maar sal uitvind, want net laasweek kry ek ʼn uitnodiging na die bruilof van Moses en KB. Sien nogal uit daarna.

*Lees Koos Greeff se vorige verhale op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Soos altyd, lekkerlees en vreesloos eerlik!
Weereens dankie Koos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.