Hugenote nalatenskap in Berlyn steeds sigbaar

Berlyn se Gendarmenmarkt. Foto: Emsie Ferreira/ANA

Suid-Afrika is goed bekend met die Hugenote, wie se Protestants-Calvinistiese geloof goed aangesluit het by die Nederlanders en wat ʼn belangrike invloed op die vorming van die Afrikaners gehad het.

Dit was egter net ʼn handjievol Franse Hugenote wat in 1688 weens godsdienstige vervolging in Frankryk na die Kaap die Goeie Hoop gevlug het. Daar word van sowat 200 gepraat. Dit was ʼn beduidende inspuiting vir die klein blanke bevolking van Suid-Afrika, maar weglaatbare getalle in vergelyking met die totale hoeveelheid Hugenote vlugtelinge, naamlik meer as 200 000.

Sowat 40 000 van hulle het na die destydse Duitse gebiede gevlug, waarvan die helfte na die opkomende staat Pruise met die hoofstad Berlyn. Bepalend daarvoor was die Edik van Potsdam deur die vors Frederik Willem in 1685, waarin hy sy simpatie met sy mede-Calviniste betuig het en hulle genooi het om in Pruise te vestig. Terwyl die meerderheid inwoners van Pruise Lutherse Protestante was, was die vorstehuis (later koningshuis) van die Hohenzollern Calvinisties en dus besonder verwelkomend teenoor die Hugenote. Frans was destyds ook die lingua franca wat veral die adellikes gepraat het, dus is die Hugenote se kulturele inspuiting ook verwelkom.

Daar was, behalwe vir godsdienstige, ook ekonomiese redes om die Hugenote na Pruise te lok. Pruise was destyds ʼn redelik yl bevolkte en eerder arm land met swak landbougrond. Die Dertigjarige Oorlog (1618-1638) se verwoesting het dinge nog vererger. Net soos in Suid-Afrika, was ook in Pruise die hardwerkende en goed opgeleide Hugenote verwelkom. Terwyl die welgestelde en adellike Hugenote eerder na meer welvarende en ontwikkelde lande soos Nederland en Engeland uitgewyk het, het Pruise veral die minder gegoedes gevat, wat egter as ambagsmanne en handelaars ’n belangrike funksie vervul het.

Deur die Edik van Potsdam is die Hugenote tegemoetgekom op ʼn manier waarvan ʼn minderheid net kan droom: hulle het vryheid van geloof, taal en kultuur gekry (insluitende eie predikante), vrystelling van belasting (in die begin), onmiddellike burgerskap, hul eie regstelsel, gratis erwe en boumateriaal, ʼn eie departement gemoeid met die Hugenote se vestiging, en ander dinge. Anders as met vandag se vlugtelinge, het destyds menige state met mekaar meegeding om die Hugenote te trek, want Europa was nog yl bevolk en min ontwikkel, veral ná die Dertigjarige Oorlog.

Die meeste Franse Hugenote het in en om Berlyn gevestig, waar reeds teen 1700 elke vyfde inwoner van Hugenote afkoms was. Die Duitssprekende inwoners was nie heeltemal so geneë teenoor die nuwe aankomelinge soos hul heerser nie: hulle het nie Frans verstaan nie, die Calvinisme vreemd gevind, die kompetisie gevrees en was jaloers op die voorregte van die nuwe inkomelinge.

Die Hugenote was geen homogene groep nie en het uit verskillende streke en verskillende stande gekom. Die ervaring van immigrasie het hulle egter bymekaar laat kom. Veral die kerk het ʼn beslissende rol gespeel om die Hugenote saam te bind. Reeds in 1701 is die eerste Hugenotekerk by die Gendarmenmarkt gebou.

Integrasie in die Duitse stambevolking het eers baie geleidelik gebeur. In die kerk het die Franse taal die langste staande gebly, maar veral op die ekonomiese terrein, en later ook sosiaal, het die Franse en Duitsers vermeng geraak, veral vanaf die derde generasie. Uiteindelik het die Franse Hugenote as aparte groep verdwyn, soos ook in Suid-Afrika en elders waar hulle as minderheid gevestig het.

Die Franse Hugenote-nalatenskap in Berlyn is nog sigbaar. Ten eerste is daar die Franse vanne van sekere inwoners (die skrywer se eie oupa was ʼn Samain uit Berlyn). Talle geboue, veral kerke, herinner ook nog aan die Hugenote, alhoewel net een, die oudste een by die Gendarmenmarkt, nog as kerk gebruik word.

Daar word selfs af en toe dienste in Frans gehou, waarby diegene wat dit bywoon, nou veral mense uit Franssprekende Wes-Afrika is. Daar is ook ʼn Hugenote museum by dieselfde kerk. Talle pleine en straatname soos Savignyplatz, Gendarmenmarkt, Französische Strasse, Pariser Platz, ensovoorts, herinner ook aan die Franse verlede. Die voorstad Moabit is deur gelowige Hugenote gestig, in aanleuning aan die land Moab in die Bybel, wat vir Elimeleg en Naomi (uit die boek Rut) ʼn toevlug in die vreemde was, soos Berlyn dit vir die Hugenote was.

 

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Charles ·

Dertigjarige Oorlog (1618-1648!), of was dit dalk die Twintigjarige Oorlog… mmm?

Charles ·

Sebastiaan, waarom plaas jy nie jou artikels as artikels op die Afrikaanse Wikipedia nie?

Ons het die kennis en insig van ouens soos jy bitter nodig en vra vir nog Afrikaanse artikels!
Dankie.

pipernogoosen ·

Mal oor geskiedenis veral SA geskiedenis – dankie vir dit

Stephan de S ·

Dankie vir die artikel oor n stuk geskiedenis waarvan ek min gewwet het. Dit is nou lekkerlees materiaal.

Johann Engelbrecht ·

Baie dankie vir insiggewende en intellektuele artikels van formaat. Sterkte en seen met jul werk in ons taal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.