Huis, paleis, hok, pondok? Dalk, maar bowenal myne

(Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

“Almal wil ʼn huisie by die see hê,” sing Koos Kombuis. As ons dit aanpas vir moderne tye, sal ons seker byvoeg “in ʼn munisipaliteit wat nie onder ANC-beheer is nie”.

Maar die behoefte aan ʼn huisie van jou eie, waar jy niemand hoef toestemming te vra om spykers in te kap nie en waar jy jouself teen Eskom kan verweer, is waarskynlik hoog op die meeste mense se lys.

Dis nou as die regering nie alles kom onteien nie.

Maar huiskoop, nes trou, is nie perdekoop nie. Dis sinvol om te spaar vir ʼn deposito. As jy ʼn volle lening kry, wonderlik! Dan kan jy daai gelde gebruik om jou huis mooi te maak (of vir die wisselrigtoestel (inverter) vir Eskom).

Hoe doen jy dit? Wel, lees verder. Natuurlik, soos met alles, is jou situasie jou eie. Gaan sien ʼn finansiële adviseur wat jy vertrou en jou kan bystaan.

Koop of huur?

Ek is nie ʼn eiendomskenner nie, en ek kan ook nie vir jou sê of jy die huis in die Moot met die swembad of die een in Krugersdorp met die lapa moet koop, indien enigsins, nie. Ek kan wel sê dat koop en huur beide hulle voor- en nadele het.

Voor-die-hand-liggend: jy kan met jou huis (binne perke) doen wat jy wil. As jy wil sonpanele opsit, en foto’s van jou oorle’ tannie Truida met haar Malteser Miemie in die en suite-badkamer ophang, is dit jou saak.

Ook: enige groei in die eiendomsmark in jou omgewing, en in jou eie huis, is vir jou sak wanneer jy die huis verkoop. Daar is natuurlik ook die metafisiese: dis jou plekkie, waar jy in die tuin kan piepie as jy wil, en waar jy koning van die mishoop is.

Natuurlik kom dit alles teen ʼn koste: jy staan pa vir ʼn lekkende dak of as grondverskuiwings jou mure wil omtrek.

Dalk het jy nie groei op die mark nie – nie almal was so bevoorreg soos die Wes-Kaap die laaste paar jaar nie, en dan sit jy met ʼn bate wat niks vir jou finansies doen behalwe geld uit jou beursie steel nie. Daar kan ʼn tikhuis langs jou oopmaak, wat jou eiendom se waarde afdruk in die grond in. En natuurlik is daar die spook van onteiening.

Aan huur se kant: jy kan dalk nie die kombuistoonbanke vervang as jy wil nie, en dalk mag Kerneels die dwerg-kangaroe nie by jou bly nie, want die huiseienaar hou nie van diere nie. Maar as die geiser bars? Nie jou probleem nie! Die ander onderhoud op die woonstel of huis is ook nie vir jou sak nie.          

As daar ongure skepsels langsaan intrek en tot vroegoggend mashups van Slipknot en Justin Bieber pomp, kan jy eenvoudig uittrek.

Dit is ook gewoonlik goedkoper om te huur as koop – minstens aanvanklik. Koop word mettertyd goedkoper, want jou premie bly onveranderd (solank die rentekoers nie beweeg nie).

Die grootste nadeel is natuurlik dat jy nie ekwiteit opbou, en so welvaart bou nie, en jy is maar uitgelewer (binne kontraktuele en wetlike perke) aan jou verhuurder se dinge.

Wat het jy nodig?

Jy het nou besluit om te spaar vir jou eie plekkie. Jy is moeg vir Ludwig die verhuurder wat voete sleep om die ruit te laat vervang wat die pikkies van langsaan in ʼn krieketwedstryd uitgeslaan het. Dis tyd vir planne maak om te koop.

So wat het jy nodig? Wel, dit hang af van waarna jy mik. Die kostes op ʼn vierslaapkamerhuis in die Bolandse platteland is hoër as ʼn eenslaapkamerwoonstel in Koekenaap. Maar ʼn eenslaapkamerwoonstel in Kaapstad is waarskynlik weer meer werd as ʼn vierslaapkamerhuis in Koekenaap.

Begin dus deur te besluit waarvoor jy mik, en natuurlik wat in jou begroting sou pas. Jy gaan sukkel om daai vierslaapkamer huis in die Boland te bekostig as jy R4 000 per maand verdien.

ʼn Goeie duimreël is om te mik vir 30% van jou bruto inkomste as maksimum paaiementkostes. En ʼn verdere duimreël – werk op ʼn R1 000 se paaiement vir elke R100 000 se kapitaal wat jy leen. Bygesê, met vandag se rentekoerse is daai nie meer baie akkuraat nie.

En gepraat van rentekoerse – onthou, as die koers opgaan, gaan dit jou paaiement opstoot. Die eerste paar jaar gaan koop moeiliker as huur wees, ja, maar jy leef later daarin. Maar skielike spronge in die koers kan maak dat jy nie meer jou eiendom kan bekostig nie. Gaan sit dus mooi en dink wat jy werklik kan bekostig.

Die meeste banke het ʼn sompompie waarmee jy ʼn rowwe paaiement kan uitwerk op grond van termyn, rentekoers en leenberag.

Mik dan vir ʼn 10%-deposito. Enigiets meer is wonderlik, maar dis ʼn goeie beginpunt. En onthou, daar is ander kostes – die prokureurs, die oordragkoste, belastings (die eerste R1,1 miljoen word wel teen 0% belas), en so meer. Jy sal ook maklik aanlyn ʼn sompompie hiervoor opspoor.

Soos bo genoem, dalk het jy nie die deposito nodig nie, maar dan kan jy dit spandeer om die huis mooi te maak. Daar is maar altyd werk aan ʼn eiendom, en as jy nie aktief aan hom werk nie, dan verloor jy eintlik waarde.

Nou hoe maak ek?

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

As jy weet hoeveel jy kort, en jy het ʼn tydlyn (sê nou maar R100 000 binne vyf jaar), dan kan jy ʼn plan opstel.

Praat met jou makelaar, of selfs jou bank – hulle kan hier ook help en voorstelle maak. Waar jy dit spaar hang af van hoeveel jy benodig, hoe lank jou tydlyn is, en hoeveel risiko-aptyt jy het. En natuurlik hoeveel jy ʼn maand kan bekostig – sommige maatskappye het premie-minimums van byvoorbeeld ʼn R1 000 per maand.

Dalk is dit nodig om terug te snoei op ander uitgawes – het Marieke-Mariaan in graad 4 werklik ʼn nuwe iPhone nodig? En jy sal verbaas wees hoe baie geld jy kan spaar as jy elke dag maar “plastiek”-koffie maak in stede van ʼn flat white koop. Ek meen, R30 per koffie per dag, maal 20 werksdae is R600, wat jou meer as halfpad by die R1 000 per maand hierbo bring.

Teen R1 000 per maand (wat jy elke jaar met 10% verhoog) en 10% opbrengs per jaar is jy na 5 jaar so naby aan jou R100 000 doelwit soos “bliksem” aan ʼn vloekwoord.

Dink so daaraan – eendag gaan Toekomstige Jy vir Verlede Jy bedank, wat voorsigtelik genoeg was om te begin spaar, terwyl jy op jou eie stoep sit en daai kitskoffie drink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

As jy gaan/kan koop, koop tog net ‘n eie titel. Ek was vir jare die eienaar van ‘n deeltitel, jy kan ook dan nie maak soos jy wil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.