Huldeblyk: Brenda van der Merwe het net gegee

Brenda van der Merwe, die Kersmoeder van Danville, het ook die jaarlikse Danville Liggiehuis-liefdadigheidsprojek van stapel gestuur. (Foto verskaf)

Vir die geliefde Brenda van der Merwe (58), bekend as Kersmoeder van Danville en vir haar liefdadigheidsprojek Danville Liggiehuis − wat elke jaar in ʼn sprokieswêreld omskep is, was dit altyd saliger om te gee as om te ontvang.

Sy en haar helpers, het jaarliks onbaatsugtig geskenke aan duisende behoeftiges en bejaardes uitgedeel wat hulle deurnag sorgvuldig in blink papier toegedraai het. Dít nadat hulle maande lank slapelose nagte beleef het oor waar al die skenkings vandaan sou kom.

“Tannie, ons het my ma verloor. Sy is nou in die hemel”, het ʼn hartseer WhatsApp-boodskap van haar skoondogter, Jacomien van der Merwe, ʼn paar dae gelede aan my gelui. Jacomien is met Brenda en haar man, Dries, se enigste seun, Jacques, getroud. Albei het dit altyd duidelik gestel dat Jacomien Brenda se dogter was, en Brenda Jacomien se ma. Hulle is g’n skoonfamilie nie. Net familie. So heg was die band tussen hulle.

Hulle enigste kind, Jordan (12), was sy ouma se oogappel. Hy het op haar gedenkdiens, vandag, vertel hoe sy gereeld haar spens met lekkergoed vir hom vol gemaak en skelm ʼn honderdrandnoot in sy hand laat glip het, as sy gedink het niemand kyk nie.

Ek het haar skielike doodstyding op Facebook gedeel met ʼn foto van die mooi vrou met die lang sagte blonde krulle, die petitlyfie en die groot hart. Haar voorkoms het my altyd so ʼn bietjie aan ʼn kombinasie van Patricia Lewis en ʼn Barbie-pop laat dink. Dié boodskap is toe amper 140 keer gedeel – dis hoe bekend sy was. Sy is vermoedelik aan nier- of orgaanversaking oorlede.

Brenda was deur die jare uiters gewild onder die media. Talle joernaliste het oor die Liggiehuis gaan stories skryf.

Is ons nie maar almal te midde van misdaad, agteruitgang en korrupsie uitgehonger vir voelgoedstories en goeie nuus nie? So het Brenda wyd en syd bekend geword.

Die joernaliste was haar vriende. Ek is selfs na haar kinders se troue toe genooi.

Ek het haar ʼn paar keer by haar gerieflike huis met die grasgroentuin en palmbome gaan besoek.

Net voor Desember elke jaar het die paniek opgelaai. Gaan daar genoeg geskenke en kospakkies wees? Sy sal dit nooit oor haar hart kan kry as die laaste pakkie uitgedeel is en daar nog iemand in die tou wag nie, het sy gewroeg.

Toe gebeur dit agt jaar gelede dat sy by die dood omgedraai het. Sy het ellendig gevoel, kon byna nie stap nie en haar bloeddruk het die hoogte ingeskiet.

Talle mense is jaarliks by die Danville Liggiehuis gehelp. (Foto: Facebook)

Brenda het ʼn maagseer gehad wat gebars het. Terwyl sy op die operasietafel gelê het, het sy ʼn beroerte gehad. Sy was twee weke lank in die hospitaal se waakeenheid. Talle het gedink dit is die einde van die Danville Liggiehuis. ʼn Jaar later het sy steeds met ʼn gedeeltelik verlamde arm en haar spraak gesukkel. Sy het moeg geraak as sy te veel gepraat het. Haar tong het ietwat gesleep. Tog het sy nog jare daarna met haar projek volhou.

“Mense dink soms ek is gekuier,” het sy gelag. Maar, het sy bygevoeg: “As jy vir ander gee, dink jy minder aan jou eie probleme.”

Haar soms moedswillige humorsin het haar hoeka elke nou en dan in die “Facebook-tronk” laat beland! Iets waaroor sy nogal verontwaardig kon raak.

Haar siekte kon egter nie die vuur in haar hart vir haar medemens blus nie en Jacomien het heeltyds by die projek betrokke geraak. Sy was die dogter wat Brenda nog altyd wou gehad het.

Brenda, Dries met wie sy 40 jaar lank getroud was, Jacques, Jacomien en Jordan (12) het almal saam op dieselfde erf gewoon.

Brenda was lief vir lees en vir rugby. Ons het soms gesels oor nuwe boeke wat geland het. Ek onthou ook die reuse Blou Bul-kroeg in hul huis waar selfs die yskas blou is.

Dit was amper asof hierdie huis nie daar hoort nie, want ʼn klipgooi daarvandaan woon ander in vuurhoutjiebokshuise in ʼn gebied wat “Klein Japan” genoem word.

Maar Brenda wat nooit ʼn tekort in haar lewe gehad het nie, wou in haar komvandaanplek bly. Daar waar sy ʼn verskil kon maak en die nood kon help verlig. En waar mense die towerkrag van Kersfees kon beleef.

Danville-liggiehuis (Foto: www.danvilleliggiehuis.co.za)

“Ek en Jacomien is bevoorreg. Ons het geen tekort nie. Ons mans sorg goed vir ons en ons bly tuis en bedryf die liefdadigheidsorganisasie,” het sy vertel.

Ek onthou hoe sy my van die roerende briefies (anoniem) gewys het wat sy ontvang het, met versoeke soos “net ʼn pakkie koekies vir my mamma” of “’n paar skoolskoene vir my seun.” Briewe wat aan die hart ruk.

Sy het altyd vertel dat sy so ʼn bietjie aan die “Peter Pan-sindroom” ly – vandaar haar voorkeur vir dit wat mooi en blink was. Sy het skertsend bygevoeg hoe party mense gedink het dat die einste Peter Pan-sindroom ʼn ernstige siekte was.

Sy was ook lief vir die fyner dinge in die lewe en het die jong vroue in haar familie geleer hoe om tee te drink en hoe om soos dames te sit. Hulle kon hulle ook verkyk aan hoe hul glansryke tannie haar vir die dag mooi gemaak het.

Brenda het talle pryse vir haar naastediens ontvang waaronder die Kolonnade Erdekruik Vrou van Jaar en die ATKV se Afrikoon.

Alhoewel sy en haar familie self deur diep waters is, het sy haarself steeds as besonder geseënd beskou.

In 2001 is haar broer Vincent Lotter (30) kort voor Kersfees vir sy selfoon vermoor. Hy het voor sy swanger verloofde ingespring en so haar en haar baba gered. Brenda het haarself vertroos met die feit dat hy as ʼn held gesterf het. Sy het met haar projek voortgegaan, want haar broer “sou dit so wou gehad het”.

Dit het ook haar ma Suzy Lotter (78) wat oorkant die straat van haar af woon se gedagtes afgelei, het sy vertel. Suzy het agt kinders gehad waarvan sy drie aan die dood afgestaan het. Lorette Jenkins, haar dogter wat ʼn ewebeeld van Brenda was, het slegs 20 dae voor Brenda op 60 aan emfiseem gesterf.

Danville Liggiehuis (Foto: Facebook)

Brenda het dit nooit oorweeg om uit Danville te trek nie want in hierdie woonbuurt kry jy sout van die aarde mense. Haar wortels lê daar, al moes sy maar soms kopskud oor die bewoners se manewales, het sy gesug.

Ek dink dis dalk gepas om haar woorde in een van die laaste onderhoude wat ek met haar oor ʼn artikel getiteld; “Hoe lyk die hemel?” vir ʼn vrouetydskrif geskryf het te deel, toe ek vir haar gevra het wat haar verwagtinge van die hemel was.

Haar woorde was: “As Godvresende en gelowige mens beteken die hemel vir my liefde, geluk, vrede en harmonie. Kleur of status gaan nie daar tel nie. Daar is geen vrese of mensgemaakte probleme, stresvlakke of ʼn gejaag na wind nie. Dit wat jy as kind beleef as jy ʼn geskenk ontvang wat jou hart vinniger laat klop en ʼn vervlietende oomblik lank duur, sal soos ʼn ewigheid in die hemel voel. Die Nuwe Jerusalem is ʼn onbeskryflike mooi paradys wat jou asem sal wegslaan. Die atmosfeer is rein en helder. Geen skatte of rykdom kan selfs die skadu van die hemel se bome koop nie. Daar is marmervloere, pilare van goud, huise uit edelgesteentes, wondervelde met blomme en volop geure uit die natuur. Dis ʼn sprokieswêreld”.

Dankie liewe Brenda dat jy mense elke jaar weer aan goedheid en sprokies laat glo het en vir ander ʼn stukkie hemel op aarde gebring het.

Jy het liggies aangesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karlahari ·

Die ironie is dat artikel oor hierdie vrou wat gegee en gebou het, onder die artikel oor die Kirkwood anargie en afbreek gelys was by my.
Wat my weereens laat wonder oor die mens-dom…..
Brenda, dankie vir wie jy was en wat jy vir jou medemense gedoen het.
Rus in Vrede.

Treurwilger ·

Dankie vir hierdie aangrypende lewensverhaal van ‘n merkwaardige vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.