Hulle armoede lyk anders ll

Hierdie artikel is die tweede in ʼn reeks van drie wat kyk na die vergestalting van sosio-ekonomiese en geestesarmoede in sewe Europese lande na afloop van ʼn studietoer van die Solidariteit Beweging na Europa.

Op ‘n fietstoer in Amsterdam (Foto: Verskaf)

Na ons besoek aan Switserland en Duitsland besef ek net weer armoede is ʼn uitdagende probleem wat nie net ʼn enkele gesig het nie. Ook in Europa, waar ons nie altyd dink ons dit sal teëkom nie.

Ons sit die reis vanaf Duitsland voort.

Amsterdam, Nederland

Uiteindelik bereik ons Amsterdam in Nederland. Hier ontmoet ons ʼn vriend van die Solidariteit Beweging, en hy neem ons met fietse deur Amsterdam. Soos wat ek koes vir karre en voetgangers, probeer ek steeds die kultuur om my inneem. Alles is mooi en herinner my aan ons Afrikaner-wortels. Ons ry so vinnig – vinniger as wat ek gedink het ek kan ry; ek het eintlik nie eens gedink ek kan nog fietsry nie.

Op hierdie fietsrit besigtig ek die kerk waar Rembrandt getrou het en die gebou waar hy die Nagwag geskilder het. Ek klim af en stoot my fiets verby die Van Gogh-museum, want die tyd is te min om in te gaan en die dag se afsprake wag. Ek staar na die Zuid-Afrikahuis, maak my oë toe en val amper van my fiets af deur Walletjiesstraat, maak weer my oë wawyd oop toe ons verby die Rijksmuseum ry, en ek hoor hoe Vermeer na my roep.

Om my sien ek ʼn reënboog vlae; oral om my sien ek sosio-emosionele armoede.

Nou waar is die kinders van hierdie volwassenes?

Die aantal huishoudings wat onder die armoedegrens leef, sal as gevolg van die verdwyning van verskeie tydelike ondersteuningsmaatreëls volgens die Sentrale Beplanningskantoor (SBK) se Lente-voorspelling van 815 000 in 2023 toeneem tot ongeveer 995 000 in 2024. Sonder ingryping sal kinderarmoede van kinders wat deur hulle ouers verlaat is van 6,1% in 2023 styg tot 7,1% in 2024.

Volgens Marc Dullaert, die eerste Nederlandse kinderombudsman, hanteer kinders armoede elkeen op hul eie manier. Hulle is kreatief en vindingryk en ruil byvoorbeeld klere uit, maak bottels bymekaar vir geld of verrig take. Maar armoede laat diep letsels op kinders. In een van die rykste lande ter wêreld is dit onaanvaarbaar.

Tussen die reënboog vlae en die fietse sonder remme raak ek wel lief vir Nederland. Hier kan ʼn Afrikaner nog voel hoe die grond haar trek.

Bedankt voor jouw kunst en geschiedenis. Tot ziens, Nederland, tot ik je weer zie!

Parys, Frankryk

Met ons aankoms in Parys word ek natuurlik omvou met opwinding. Nederland het vir my Van Gogh en Rembrandt gewys, maar hier… Hier word ek geseën met die Louvre, Notre Dame, Arc de Triomphe, en natuurlik die Eiffeltoring.

Die Arc de Triomphe in Parys (Foto: Verskaf)

Ons reën sopnat soos ons hardloop in die reën! In die middel van die treinstasie lê ʼn man onder ʼn kombers met reënwater wat verbyspoel en mense met wieletjiestasse wat om hom hardloop om betyds te wees vir die volgende moltrein. Ek wonder wat hy droom en of die wiele se geluide al vir hom soos agtergrondgeraas klink wat hom rustiger maak. Dalk skep die geraas ʼn ritme wat hom makliker laat droom?

Ons stap met die Champs-Élysées tot by die Louvre, en oral sien ek net jongmense om my wat heel duidelik ʼn platform het waar mense na hulle duisende selfies kyk en miljoene daarvoor betaal. Dit is al wat kan verduidelik waarom hulle so aanhoudend in hul fone vaskyk terwyl hulle in so ʼn mooi omgewing is.

Op Statista se webblad lees ek later die dag dat armoede in Frankryk sy hoogste koers in 2018 bereik het. Byna 15% van die Franse bevolking het onder die armoedelyn geleef, wat beteken hul inkomste was minder as 60% van die mediaaninkomste in die land. Na ʼn aansienlike afname in armoede tussen 2000 en 2004, toe die koers van 13,6% tot 12,6% gedaal het, het armoede die afgelope paar jaar weer toegeneem in Frankryk.

Studies toon dat daar in 2020 ongeveer 9,3 miljoen behoeftiges in Frankryk was en dat 11 779 mense die risiko van armoede of sosiale uitsluiting loop. Wat ook vir my interessant is, is dat armoede hoofsaaklik jonger geslagte raak. In 2016 is 12,5% van die Franse tussen 18 en 29 jaar oud as arm beskou terwyl slegs 2,2% van die Franse tussen 65 en 74 jaar in dieselfde situasie was.

Hierdie verskynsel kan moontlik verklaar word deur die feit dat werkloosheid onder jongmense in Frankryk van die hoogste in Europa is. Die middelklas word egter ook nie van armoede gespaar nie. In 2017 het 52,4% van die Franse middelinkomste-huishoudings probleme ondervind om brood op die tafel te sit.

In hierdie stad van ligte het ek wel lig ook gevind en nie net die donker nie. In my lewe het ek nooit gedink ek sal die geleentheid hê om hier te kan wees nie. Toe ek vanoggend die gordyne voor my kamervenster ooptrek en sien hoe die oggendson Parys se strate en mense omhels, het ek gedink: Hoe mooi sal hierdie prentjie nie in my gatsak pas nie.

As ek Parys kan bêre, sal sy sag lê en rus, en elke keer as ek smagtend dors na kuns, sal ek haar uithaal en bekyk, want vir my is sy steeds beeldskoon.

‘n Hawelose slaap op die straat in Parys (Foto: Verskaf)

Boedapest, Hongarye

Ons volgende stop is Boedapest in Hongarye. Hier bly ons by vriende, en hulle ontvang ons met ope arms soos net Hongare kan! Die strate lyk soos iets uit ʼn tydskrif; dit is werklik prentjiemooi. Om my is die strate skoon, iets wat ek baie min in Suid-Afrika sien.

Ons het soos in al die vorige lande afsprake, en een van my besoekpunte is Hungary Helps. Met hulle gesels ons weer, soos tydens vorige afsprake, oor die uitdagings wat ons in Suid-Afrika beleef en ek fokus veral op die maatskaplike kwessies. Ek verduidelik vir die paneel dat daar by ons in Suid-Afrika nie openbare vervoer is wat so goed werk soos hier in Hongarye nie. Inteendeel, ons navorsing het getoon een van ons mense se grootste behoeftes is om ʼn bestuurslisensie te kry sodat hulle op hul CV kan aandui dat hulle wel eie vervoer het werk toe en terug.

Ek vertel ook vir hulle van ons projekte en maatskaplike werk. Ek kan sien hulle geniet die gesprek, en kort-kort knik hulle die kop en sê: “Dit is nou ʼn goeie oplossing vir daardie uitdaging”.

Ons gesels verder oor Katalin Éva Veresné Novák wat in 2022 tot Hongaarse president verkies is. Novák is Hongarye se eerste vroulike president en ook die jongste president in die land se geskiedenis; sy was maar 44 toe sy verkies is. Ek kan nie help om te wonder of die strate so skoon en die mense so vol hoop is omdat hulle president ʼn vrou is nie.

Terwyl ons al geselsend deur Hongarye toer, raak ons saam huilerig oor ons mense se armoede. Wanneer ons hier in die strate stap, sien ek nie armoede nie. Ek sien mense wat gewone werke doen soos tuin natmaak en rommelsakke verwyder. Werk is hier vir die hele bevolkingsgroep genormaliseer.

‘n Hawelose in Budapest (Foto: Verskaf)

Naby die treinstasies is daar wel mense wat in armoede vergaan – mense wat duidelik nie werk het nie en ook nie dieselfde gemoedstoestand as die ander nie, en ʼn mens kan sien daar word dwelms misbruik. Ek let ook op dat daar nogal redelik baie beseerde mense op straat woon.

Alhoewel Hongarye se ekonomie sedert die tweede helfte van 2022 in ʼn resessie is, kan ʼn mens sien die mense se gemoedstoestand is goed. Almal is wel nie so vriendelik soos ons Suid-Afrikaanse burgers nie en hulle glimlag nie sommer nie, veral nie die ouer generasie nie, maar wat kan ʼn mens anders verwag van ʼn gemeenskap wat oorlog op oorlog moes trotseer?

Volgens The Borgen Project is die prys van vaste eiendom in Hongarye hoog en styg dit steeds. Naas Swede het Hongarye die vinnigste stygende eiendomspryse ter wêreld. Die gemiddelde Hongaarse gesin bestee $465 per maand net aan huur en nutsdienste, dus bly daar maar min geld oor vir ander dinge. Huur is ook net bekostigbaar vir die gemiddelde gesin in stede waar dit byna onmoontlik is om werk te kry. Weens die hoë prys van vaste eiendom kan ʼn gemiddelde gesin met twee kinders skaars $30 per maand spaar.

Werkloosheid bly ʼn probleem in Hongarye, hoewel die aantal werklose Hongare oënskynlik afneem. Die werkloosheidsyfer in Hongarye is tans 9,3%; dit is heelwat beter as voorheen. Hierdie koers neem egter nie die sowat 300 000 mense in ag wat in diens is, maar geen diensvoordele ontvang nie. Dit is die gevolg van die Hongaarse Werkplan wat in 2011 bekendgestel is en wat werkloses dwing om indiensnemingsprogramme te volg.

Hierdie indiensnemingsprogramme betaal ʼn maksimum van $200 per maand en voorkom alle vooruitgang. As ʼn mens in gedagte hou dat Hongarye internasionaal die agtste plek beklee wat werksure betref, is werkloses sowel as diegene in indiensnemingsprogramme almal op die rand van armoede.

‘n Vrou speel trekklavier op die straat in Boedapest (Foto: Verskaf)

Private skuld dra ook grootliks by tot armoede in Hongarye. Die Hongaarse regering bied vir gesinne met kinders lenings van $39 000 aan. Baie gesinne aanvaar dit, maar kan dan nie bekostig om dit terug te betaal nie. So beland baie Hongaarse gesinne in ʼn skuldsiklus waarin hulle al hoe meer skuld maak wat hulle al minder kan afbetaal. Die vinnige devaluasie van die Hongaarse geldeenheid dra by tot hierdie siklus aangesien dit private skuld dramaties laat toeneem het.

Ons vriende neem ons na die Balatonmeer. Oral is water en mense wat die skoonheid geniet. ʼn Mens kan sien hierdie plek is geseën met ʼn skoonheid wat net uit God se hand kan kom. Ek sit rustig op die seiljag en dink oor ons tyd hier in Hongarye waar ons so baie geleer het.

Hier waar Hongare besluit het om rug aan rug saam met die Boere in die oorlog te gaan veg. Hier waar Christus die fondament is van hulle bestaan, hier waar hulle armoede ook anders lyk. Hier waar klokke van die strewe na vryheid hardop lui, en waar ek vir die eerste keer op die reis werklik weer die Here in die strate tussen sy mense voel stap. Hongarye, ek het verlief geraak op jou.

Volgende, Oostenryk en Suid-Tirool!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Gaan kyk bietjie wie is die mense wat in armoede leef? Dit is daardie lande, veral Nederland en Frankryk, se eie burgers. Buitelanders word in gestop. Hulle kry toelaes, blyplek en nog soveel meer wat daardie lande se burgers nie beskore is nie.

Johan ·

Ons het oor baie jare in Nederland gekuier. Ja, Amsterdam is unieke Amsterdam maar Amsterdam en ander groot stede is nie Nederland nie. Gaan kuier in die “platteland” en ry per fiets van dorp na dorp en ontdek die regte Nederland. Jare terug het ons in Hongarye gaan kuier. Nêrens op aarde het ons as Suid- Afrikaners so tuis gevoel nie. Dierbaarste mense wat uit hulle pad uitgaan om ‘n mens welkom en tuis te laat voel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.