Huur ’n skare vir ‘spontane betogings’

Betogings in Khayelitsha in April 2019. (Foto: Phando/Jikelo/ANA)

Die eerste keer dat ek met sogenaamde “spontane betogings” te doen gekry het, was in die destydse Rhodesië waar ʼn klomp betogers een dag in die strate van Salisbury begin klip gooi en gedreig het om die plek aan die brand te steek. Dit was darem, moet ek byvoeg, eers nadat hulle betaling van CNN, die Amerikaanse televisiekanaal, gekry het.

Rent a Crowd, sien u.

Ek het dieselfde patroon ook van tyd tot tyd in die ou Suid-Afrika gesien. Wat as “spontane” betogings begin, het gou-gou ontaard in ʼn massa-oproep om bewindsverandering te weeg te bring. Klink regime change vir u bekend?

Die onlangse voorbeelde het begin met die sogenaamde Arabiese Lente in 2010/’11 waartydens die een ná die ander regering in Noord-Afrika en selfs die Midde-Ooste uit die kussings gelig is.

Betogings in hierdie lande het aanvanklik met geldige griewe begin, maar het gou oorgegaan in geweld. In Egipte is die regering selfs twee keer vervang. Eers is Hosni Mubarak as president vervang, en toe is sy opvolger, Mohamed Morsi, deur Abdel Fattah el-Sisi vervang. Al die betogings wat daarmee gepaard gegaan het, is deur een gemene deler gekenmerk: die polisie is getreiter en uitgelok totdat hulle brutale mag gebruik het en tientalle betogers gedood of beseer is. So reg uit die Marxistiese handboek. Mao Zedong sou dit nie beter kon doen nie.

Maar kom ons kyk na ʼn paar sulke betogings vandag. ʼn Burgerlike opstand wat met betogings tot ʼn burgeroorlog gelei het, het tot die val van Muammar Gaddafi gelei. Saddam Hussein in Irak en andere in die Midde-Ooste het dieselfde patroon gehad. ʼn Kenmerk was dat hulle almal in veral die Westerse media van menseregtevergrype beskuldig en oor die algemeen gedemoniseer is. Wat egter gebeur het, is dat hul onderskeie lande eintlik eers ingeplof het nadat hulle gedood is.

Opstande, en in sommige gevalle oorloë – in veral die Midde-Ooste – toon dieselfde kenmerke: Bashir al-Assad, sê die Westerse media, moet weens sy menseregtevergrype as president vervang word; dieselfde geld vir Iran, waar Hassan Rouhani vervang moet word omdat hy ʼn kernbom wil ontwikkel. Venezuela is nog so ʼn voorbeeld: waar Nicolas Maduro vervang moet word omdat hy glo menseregtevergrype op groot skaal pleeg.

Die ooreenkoms in baie van hierdie gevalle is egter dat hulle oor groot reserwes olie beskik. Amerika het onlangs aangekondig dat hy sy troepe uit die noorde van Sirië gaan onttrek, maar daarna vinnig teruggekibbel en gesê daar gaan sommige van sy magte agterbly om die olievelde daar “te beskerm”. Dit is nadat Rusland en Turkye ʼn ooreenkoms gesluit het om juis dit te doen.

Dis ook die geval in Venezuela, waar die Weste met groot fanfare die opposisie gesteun het, net om vinnig te verdwyn nadat Rusland op die toneel verskyn het.

Maar terug na burgerlike betogings: waarom kom dit voor net nadat demokratiese verkiesings in ʼn land plaasgevind het? Male sonder tal gebeur dit dat die verloorders sê hulle aanvaar nie die uitslae nie en dat hulle met geweld wil oorneem. Ek dog dan die Westerse demokrasie gee mense juis die kans om te kies, of beteken dit dat ʼn mens jou tot geweld kan wend as jy nie tevrede is nie?

Selfs in Brittanje was dit die afgelope tyd die geval toe daar in ʼn referendum gestem is om die Europese Unie te verlaat, maar nou betoog die verloorders daarteen. Ja, ook met geweld.

Nog ʼn geval is Hongkong, wat ʼn Westerse kiesstelsel het en enige politieke party word toegelaat. Tog word daar eers teen ʼn sekere wetsontwerp betoog, wat vinnig oorgaan in gewelddadige oproepe dat Carrie Lam (wat demokraties verkies is) vervang moet word en, let wel, dat Hongkong alle bande met China moet verbreek. Dit is iets wat, terloops, nie in my leeftyd sal gebeur nie.

Argieffoto

Maar kom terug na “spontane betogings” in Suid-Afrika. Oral is daar nou betogings wat oor dienslewering gaan. Huise, besighede, busse en motors word verbrand, net om die regering môre te verkwalik dat dit nie meer daar is nie. In alle gevalle word die polisie uitgelok en as daar die minste geweld is, word hulle by die Menseregtekommissie verkla. Nou ja, soms voel ek dat ek ook spontaan teen die partydigheid van hierdie kommissie wil betoog. Maar Suid-Afrikaners wat so oor dienslewering kla, stem weer en weer vir diegene wat nie diens kan of wil lewer nie!

Al mooi gekyk na die groepie wat in Saldanha teen Eben Etzebeth betoog het? Hulle was mooi op ʼn klompie gejaag; die kamera het nie durf wys hoe min hulle was nie. Het u al opgemerk hoe die aanstigters van sulke betogings se stemme ʼn oktaaf of drie styg wanneer hulle met die media praat? Nou wil diegene wat Etzebeth beskuldig, meer tyd hê om hul saak voor te berei. My voorspelling: die saak gaan “geskik” word “in belang van Suid-Afrika”. Dis jammer, want valse aanklaers moet myns insien boet en betaal.

Dis jammer dat valse profete telkemale daarmee wegkom: hetsy dit oor rassisme of olie is. Soos Deng Xiaoping, eertydse president van China, destyds gesê het: Westerse demokrasie is nog in ʼn proeffase en moet nog die toets van die tyd deurstaan.

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacobus ·

Goeie artikel .

Wens net dat ons die wat sulke “spontane betogings” finansier aan die kaak kan stel en sodoende hulle donker agendas kan openbaar.

Reine waarheid ·

Dankie Tienie, geniet altyd, om dié waarheid te lees, laat my met dankbaarheid sug, let wel, nóg VOOR die mens ‘n gedagte formuleer weet SKEPPER van alles. Vrees nié, elkeen sàl kry wat hy verdien, eendag, dalk gouer as wat verwag word.

Maria ·

Goeie artikel,
Net ‘n klein regstelling (ek woon in Hong Kong). Carrie Lam is “demokraties” verkies, dus nie werklik demokraties nie, eerder deur Beijing. Te lank om te verduidelik hoe, maar sy was nie Hong Kong se eerste keuse nie. Verder wil hulle nie heeltemal onafhanklik van China wees nie, maar slegs hê dat die ooreenkoms met Brittanje eerbiedig word -dat Hong Kong op sy eie sal bestaan sonder inmenging van China. Maar China wil natuurlik orals wees. Daar is 5 vereistes wat Hong Kong aan die regering stel. Interessante tyd om hier te wees. Daar is tans ‘n oorlog aan die gang met polisie, sowat 300 meter van ons residensiele gebou.

hercu ·

uitstekende berig Tienie – ek dink die “spontane betogeres” in SA word natuurlik deur die kabinet aangehits en betaal!!

Fanie Meintjes ·

Kla en vonnis ‘n paar van hierdie leuenaars aan vir meineed en sluit hulle toe soos deur die Wet bepaal, dan sal jy sien hoe vinnig hierdie nonsies stop. Daar is mos geen verantwoordbaarheid in onse Suid-Afrika nie. Hartseer maar waar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.