Iets is fout

werk-rekenaar

Foto: Tim Gouw/Pexels.com.

Meeste dinge gebeur nie soos ʼn groot slag nie. Soos verdwaal. Dit gebeur stukkie vir stukkie, stadig en bykans ongemerk en skielik sien jy iets groot is fout. Dis nie een afdraai wat maak dat jy jou weg verloor nie, dis hier draai en daar draai en omdraai en nie weet waar jy is nie. Dis soos daardie padda wat stadig gekook word waarvan almal deesdae praat.

So besef ek op ʼn saai Dinsdagmiddag iets groot is fout. Iets is fout met die mense van ons land. Met Suid-Afrikaners. Met Afrikaners. Die werkloosheidsyfer word rondgeslinger soos ’n kliniese, onpersoonlike eienaardigheid wat bekyk en neergesit moet word.

Maar daardie syfer is eintlik ʼn vereenvoudiging van ’n groot probleem. Die probleem kan afgebreek word in duisende der duisende mense. Jy kan nou sê daar is nie werk vir al hierdie werkloses nie en jy is reg, dit is deels waar. Daar is baie meer mense wat op soek is na werk as wat daar poste geadverteer word. Jy kan ook sê dis die skoolsisteem se skuld, waar kinders die verkeerde goed geleer het. En dis ook gedeeltelik waar. Myns insiens is daardie manier van groepwerk en die leerskool van jy-kan-wees-net-wat-jy-wil verantwoordelik vir ʼn generasie (sekerlik nie almal van hulle nie) wat glo hulle verdien groter salarisse en hoër poste vir minder werk en minder verantwoordelikheid.

Ja, iets is fout met ons mense. Ons het nie meer trots nie. Nie die soort trots wat sê sekere werke is benede my nie. Dit is nie trots nie, meneer, daai is ’n hoogmoed-ding. Hoogmoed wat sê ek is nie bereid om rakke te pak nie al het ek slegs graad 8. Hoogmoed wat sê my kind sal nie in ’n fabriek sy hande vuilmaak nie, hy sal eerder by die huis sit en PlayStation speel. Hoogmoed wat sê êrens daarbuite is die perfekte werk waar ek kan doen wat ek wil en die salaris kry wat ek wil hê. Mense wil nie meer moeite doen met hul opleiding, of hul loopbaan of hul werksoek-reis nie. Mense wat op Facebook sê hulle soek werk en vra het iemand iets. So asof iemand daar buite op die wye internet gaan verantwoordelikheid vat vir hierdie mens wat gesê het hy soek werk en nou gaan aanhou soek tot hy die ideale werk kry. Dit gebeur dat iemand ’n pos so kry, maar dis só ’n klein kans dat jy regtig nie al jou eiers in daardie wispelturige mandjie kan sit nie. Of hulle stuur ʼn onderwerplose, dekbrieflose CV vir elke agent en elke menslikehulpbronbestuurder wat hulle kan opspoor. Ek kan voel hoe daardie agent kreun, wonder wat om met die CV te maak en dan, jammer om jou mee te deel, die “delete”-knoppie druk. Of dit sê ek doen aansoek om “enige werk” en daardie agent wonder of hul jou CV vir die chemiese ingenieur-, die loodgieter- of die maatskaplikewerker-poste moet stuur. Iets is fout met hierdie prentjie. Ons mense het verdwaal.

My pa se generasie was nog die soort wat nie bang was vir daardie skurwe-hande, vuil-word-werk nie. Almal het geweet ʼn loopbaan is ʼn leer wat geklim moet word en jy begin by die onderste sportjie. Jy stap nie direk ná matriek in ’n bestuurspos met ’n maatskappymotor nie. Baie mense het begin met ʼn vakleerlingskap, deeltyds studeer terwyl hulle werk en gewerk vir jare om die hoogste sport in hul loopbaan te bereik. Dit is nie honderde jare terug wat harde werk eerbaar en aanvaarbaar was nie. Dit was toe ek ʼn kind was. Eintlik is dit nog steeds. En dit is hoe dit moet wees. As dit nie is vir jou nie, is daar iets fout met hoe jy dink. Ek is jammer as dit jou omkrap of aanstoot gee. Dalk is dit tyd dat jy omgekrap raak.

As dit jou nie omkrap of aanstoot gee nie, het ek hoop vir jou. Jy is waarskynlik die uitskieter wat alles in jou vermoë doen om werk te kry. Jy is die een wat jou CV gelaai het en gereeld nagaan en veranderinge aanbring om op peil te bly. Jy is die een wat jou hele netwerk gebruik om almal te laat weet jy is in die mark, selfs vorige werkgewers. Jy is die een wat kursusse doen terwyl jy werkloos is, of vrywillig werk by ʼn maatskappy om vir hulle te wys wat jou waarde is. En jy is die een wat sal wen. Dalk nie nou nie, maar uiteindelik sal jy wen. Harde werk, selfs terwyl jy nie werk nie, gaan jou vêr bring. Jy gaan deur moeilike omstandighede, maar jy doen wat jy kan en jy gee nie bes nie. Ek respekteer jou. Welgedaan!

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elma ·

Ek stem saam, tyd vir ‘n ‘Reality Check’
Ek kan ook bylas dat die volmaakte werk nie bestaan nie, mens vat
die sleg saam met die lekker.
Ek gaan ook nie skuldig voel omdat ek ‘n goeie werk het nie, dit het nie
in my skoot geval nie, en nee, ek is nie van plan om te bedank sodat jy my werk kan kry nie, en ek gaan ook nie vir jou werk kan reel in my maatskappy nie. Sterkte vir almal daar buite wat dringend is op soek na werk, ek hoop saam met jou jy kry binnekort werk.

Andre ·

Ek stem saam, hierdie mense wat werk soek op Facebook is te lui om van die stoel af op te staan en hoop iemand anders gaan vir hulle werk kry. Dis gewoonlik daardie mooi poppies wat sukses op Instagram wil vergelyk met die werklike lewe. Noem nou net vir hulle dat hulle amper nooit so gaan werk kry nie, dan word jy `n dit en `n dat genome! Lekker verder sukkel dan maar.

Eish ·

Amen op die artikel wat weereens die korrekte lewensbenadering onderstreep.

TDW ·

Ek stem ten volle saam met hierdie artikel. Gedurig moet ek op tv hoor hoe die malemas en maimanes, in hul politieke retoriek, sê dat swartmense die slegte werk doen, huis werker, kar-wasser, tuinman. Ek wil op hulle skree, maar het hulle nie ten minste ‘n werk nie! Is ons werkloosheidsyfer nie hemelhoog nie? Begin mens nie onder nie? Werk mens nie jouself op nie? As jy ‘n beter werk wil hê moet jy onder begin en hard werk totdat jy bo kom.
As student het ek voor ‘n besigheid gesit en koeldranke en lekkers verkoop. Elke dag gevra of kan ek hul vloere was of hulle rakke reg pak. Daarna het ek gevra of ek hul papierwerk kan sorteer. Ek het myself opgewerk in die besigheid. Elke dag meer gedoen as wat van my gevra is. Ek besit nou my eie besigheid. Die dag toe my seun vra of hy by my kan werk vir ‘n ekstra vakansie geldjie, stem ek in, toe gee ek vir hom die besem en die mop.
Dinge val nie net in mens se skoot nie. Waar wil jy wees? Hoe gaan jy daar uitkom? Dis die vrae wat jy moet vra. Moenie bang wees vir harde werk nie. Moenie dink dat skottelgoedwasser benede jou is nie. Dis dalk net waar jy moet begin.
Politici moet meer respek betoon aan mense wat werk doen wat as ‘sleg’ beskou word. Geen werk is sleg nie, dis net die eerste trappie na iets beter.

Casper Labuschagne ·

@TDW – Dit is inderdaad so dat geen werk sleg is nie, maar dit is lankal nie meer so dat ‘n werk hoegenaamd ‘n trappie na bo is nie. Ek sien eerstehands hoe gekwalifiseerde persone daardie werkie aanvaar van voorraad nasien, prys en rakke pak, koerante aflewer, of werk in die Pizzarestaurant, maar in daardie werk sal hulle bly sit hulle want hul opleiding is as stadsklerk, oud diplomaat, geoloog, ingenieur, begrafnisondernemer, huursoldaat of as ketelmaker en waar hulle nou sit is in ‘n werk met een dag se nodige ervaring wat jy oor en oor sal herhaal met absoluut geen kans op verbetering nie. Waar die behoefte aan vaardighede laag is, is enige loopbaanvooruitsigte slegs beperk tot diegene wat voordeel kan trek uit rassekwotas. Maar die mense sit, want dit is die enigste werk wat hulle kan kry sonder dat kwotas of SEB in hul gesigte gegooi word. En in hierdie dorpie het ek mense teëgekom met al die beroepe wat ek hierbo genoem het, en wat juis net donkiewerk sonder vooruitsigte kan kry om te doen. Maar ten minste het hulle ‘n werkie.

Mien ·

Belangrik om ‘n mens se kinders van kleins af te leer om te werk. Het dalk baie ander foute gemaak wat hulle opvoeding aanbetref, maar nie een van hulle is bang vir werk nie. As ek rondom my kyk, sien ek soveel gemaksugtige mense met ronde handjies. Beskeie werk met ‘n kleiner salaris is ook benede die meeste mense. As ons nie groot geld kan verdien nie, werk ons maar liewer glad nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.