In 2021 sal jy kan kies waar om jou motor te laat versien

Verbruikers wie se beursies nie so dik is nie, kla dikwels wanneer hul motors versien moet word by ʼn goedgekeurde handelaar. Dit kos gewoonlik heelwat, maar as jy nie by ʼn goedgekeurde handelaar aan jou motor laat werk nie, verbeur jy die waarborg. Van 1 Julie 2021 sal jy egter kan kies waar jy jou motor wil laat versien of herstel sonder om jou waarborg te verloor. Ina Opperman berig.

Foto: Pixabay

Die Mededingingskommissie het onlangs sy finale riglyne vir mededinging in die Suid-Afrikaanse naverkope-voertuigmark uitgereik met hierdie goeie nuus vir verbruikers. Dit beteken verbruikers gaan ʼn groter keuse hê wanneer hulle hul motors wil laat versien of herstel en kleiner ondernemings gaan ook kans kry om in die werk te deel.

Volgens die riglyne moet motorvervaardigers, ook bekend as “Original Equipment Manufacturers” (OEM’s), verbruikers se keuse oor waar om hul motors te laat versien, onderhou en herstel, erken en hulle nie keer om dit te doen nie, ongeag of die diensverskaffer ʼn goedgekeurde diensleweraar is of ʼn “Independent Service Provider” (ISP).

Die riglyne is ook gemik op die ontbondeling van diens- en versieningsplanne wanneer ʼn motor verkoop word deur dit duidelik te maak wat die prys van die motor is en watter deel van die prys deur die diens- en onderhoudsplan beslaan word. Verbruikers kan dan kies om die plan te koop sodat dienslewering meer bekostigbaar kan wees en meer mededinging in die hand werk.

Verbruikers sal ook in staat wees om oorspronklike of nie-oorspronklike onderdele te kies om gebruik te word deur die handelaar van hul keuse, wat nie nodig het om ʼn goedgekeurde handelaar, duikklopper of ISP te wees indien hy gedurende die waarborgtydperk aan jou motor werk nie.

Die riglyne maak oor voorsiening daarvoor dat OEM’s maatreëls kan instel om marktoetrede vir nuwe motorherstellers te ondersteun en bevorder, veral diegene uit voorheen benadeelde gemeenskappe.

Nog ʼn belangrike verandering sal wees dat OEM’s en onafhanklike derdepartyverskaffers die diens- en onderhoudsplan moet oordra na ʼn motor waarmee joune vervang word indien die versekeraar dit afskryf. Indien daar geen vervangingsmotor is nie, moet die verbruiker die plan kan kanselleer en uitbetaal word vir die verskil.

Die riglyne is opgestel in terme van artikel 77 van die Wet op Mededinging om praktiese raad vir ondernemings in die bedryf te gee vir hoe om pro-mededingende maatreëls in te stel in die naverkopemark en groter mededinging te verseker en meer deelname van klein ondernemings, asook mense wat voorheen benadeel is.

Verder maak die riglyne ook voorsiening vir verbruikersveiligheid, ʼn proses om klagtes op te los en ʼn selfmoniteringsmeganisme vir belanghebbendes in die bedryf.

“Hierdie riglyne is gemik daarop om die beperkings te verwyder wat OEM’s op motoreienaars stel vir diens en onderhoud, asook onderdele vir motors volgens beste praktyk wêreldwyd. Dit sal toegang en deelname aan die waardevolle naverkopeketting verseker,” sê Tembinkosi Bonakele, die mededingingskommissaris.

Wat sê die bedryf?

Mikel Mabasa, hoof van die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa), sê sy organisasie het saam met die kommissie gewerk aan die riglyne, maar die bedryf moet nog die riglyne oorweeg om te begryp hoe dit OEM’s gaan raak en wat om te doen om aan die riglyne te voldoen wanneer dit op 1 Julie in werking tree.

“Dit is goed en ons sal verseker dat verbruikers ook weet wat die implikasies is, soos om te kies om nie die onderhoudsplan saam met ʼn motor te koop nie.” Kredietooreenkomste sal weer opgestel en verbruikersopvoeding gedoen moet word, wat ook een van die riglyne is.

Die Nasionale Voertuighandelaarsvereniging (Nada) het in ʼn verklaring gesê hy glo die riglyne gaan goeie gevolge hê vir verbruikers en die eienaars van konsessies. Die riglyne moet deur die hele bedryf aanvaar word.

“Ons hersien tans die finale dokumente en sien uit daarna om verder deel te neem aan produktiewe samesprekings met die kommissie om heeltemal te verstaan wat sy posisie is oor van die tegniese aspekte van die riglyne.”

Die OEM’s, soos Toyota, Nissan, Isuzu, Ford en Volkswagen, wou nie kommentaar lewer nie.

Klagtes

Die riglyne maak voorsiening vir die oplossing van klagtes deur die Ombudsman vir die Motorbedryf (Miosa) en die Nasionale Verbruikerskommissie (NCC).

Miosa het in ʼn verklaring gesê dat die instelling van die riglyne nie net ʼn uitwerking op die werk van die organisasie gaan hê sover dit sy hulpbronne betref nie, maar ook die algehele werkslading drasties gaan verhoog.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.