Ingegrendelde Vadersdag

Argieffoto (Foto: debowscyfoto/Pixabay)

Dis so ‘n bitter anderse Vadersdag. ‘n Paar dae terug het ‘n dierbare vriendin hier in Ou Meule haar man aan die dood afgestaan. Haar kinders is toegelaat om haar te kom haal en hulle moes buite staan en wag. Nie ‘n dogter om haar te help pak nie. Ingrendeling.

Gister, vroegoggend het die foon gelui. My liewe vrou het verneem dat sy haar broer verloor het. Ons kan nie in die kar klim en ry nie. Die begrafnisreëlings is onbepaald uitgestel. Dis hartseer. Dis grendeltydperk.

Binne ‘n paar dae het nog twee pa’s gegroet en daar is twee stukkende ma’s, al die kinders en kleinkinders en al wat oorgebly het, is kosbare herinneringe. Dis nie iets wat weer gaan reg kom nie. Dis vir altyd.

Vadersdag, Pádag, Oupadag was vanjaar vir my anders. Terwyl my gedagtes my op ver paaie laat loop het, het ek begin wens ek kon dit liewer verander het na Kinder- en Kleinkinderdag. Nie ‘n presentedag nie, maar ‘n nabyweesdag, ‘n saamweesdag om te gee wat gegee moet word. Vir mekaar te wees wat gewees moet word.

Vanoggend het ons ‘n foto gestuur en Jorika het iets op die foto raakgesien: “Die kyk in Pa se oë laat my wonder of hy vandag al sy kinders en kleinkinders vreeslik mis …” Ek het weer na die foto gekyk en ek het gesien dat net my lippe geglimlag het.

Vandag sou louter vreugde gewees het as ons almal bymekaar kon gewees het. Ons sou groot vuur gemaak en genoeg vleis gebraai het en oor ‘n rooietjie saam gekuier het. Maar dis grendeltydperk. Eendag sal ons weer kan.

Ek sit en mymer oor die dinge wat ek vandag, op Vadersdag, die graagste sou wou doen. Daar’s ‘n paar goed wat ek sou wou sê en doen. Goed wat té min gesê is en goed wat ek vorentoe nog kan doen.

Daar’s drie goed wat ek ná vyftig jaar graag vir my kinders sou wou sê en ‘n klomp goed wat ek ten opsigte van my kleinkinders nog wil doen. En as ‘n mens die jare aan jou lyf voel vat, sien jy die eens vol uurglas wat leegloop. So was dit en sal dit wees, maar as ek weet dis môre my dag, wil ek vandag nog ‘n boom plant.

Vir my kinders wil ek dankie sê dat hulle déúr vyftig jaar tot vandag toe vir my met liefde oorlaai het. Ek wil vir hulle sê dat ek jammer is oor foute wat ek gemaak het. Dat ek nie genoeg geluister het nie, raakgesien het nie en die ergste dat ek in die dolle gejaag na sukses soms afwesig was.

Ek sou wou sê hoe trots ek op hulle is, omdat hulle deur vervloë swaar tye vir hulle ‘n pad oopgekap het en sukses behaal het. En nou deur hierdie uitmergelende swaar tye sou ek wou sê dat hulle gelowig moet vasbyt want die oorwinning behoort aan dié wat bereid is om enduit te veg.

Wat my ver kleinseuns in Nederland betref sou ek net met lekkerte wou waarneem hoe die oudste en sy eerste jeugliefde se jonkweesvreugde blom. Die middelste een sou ek graag wou dophou terwyl sy politieke bewussyn begin ontwaak. Ja, soos sy oupa, toe dit sestig jaar terug tussen Nat en Sap was. Die jongste wat nou Voetbal vir Rugby verruil sou ek graag wou sien tekkel en drieë druk.

Die ander klomp is darem binne ryafstand. Vir hulle sien ek groot word. Vir die tieners hou ek tong in die kies dop. Hulle pa’s en ma’s se beurt is hulle beurt! Ek wil almal net om my hê sodat ek kan sien hoe karaktertjies gevorm word. Ek wil stories vertel en ook luister, grappies maak, terg en troos. Trane afvee en dorings uittrek! Terwyl hulle op my skoot sit, wil ek die ogies sien toeval en hulle dan rustig hoor asemhaal.

En nou is 2020 se Vadersdag agter die rug. In my hart bruis dit van opgewondenheid oor jare wat oor is en my hart loop oor van dankbaarheid want ek is ‘n pa en ‘n oupa.

Die ingrendeling sal verbygaan en die dankbaarheid en vreugde sal meer word totdat die uurglas leegloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.