Intellektuele eiendom is oral rondom ons

(Foto: Congerdesign/Pixabay)

Deur Maria Krüger

Hierdie artikelhet onlangs in die tydskrif Granaat in elektroniese formaat, in ’n sekere font getik, met dalk ’n prentjie of twee verskyn. Dit is die eindproduk van ’n skrywer wat inligting wat in die openbaar beskikbaar is, asook ervaringskennis, gebruik het om ’n onderwerp op ’n sekere manier te verduidelik.

Kom ons kyk watter intellektuele eiendom (IE) (intellectual property [IP]) in die blote publikasie van ’n artikel in ’n tydskrif ter sprake is:

  • met of sonder ’n © of ™ boaan die einde van die woord, byvoorbeeld Granaat™, is ’n handelsmerk (trade mark).
  • Hierdie artikel met die tekentjie © en jaartal aan die einde daarvan kan outeursreg (copyright)
  • ’n Besondere bladuitleg of spesifieke font kan ’n ontwerp wees.

Die volgende tipes intellektuele eiendom is nie direk by die publikasie van hierdie artikel soos die tipes hierbo ter sprake nie, maar word ook kortliks bespreek:

  • Vertroulike inligting of kennis (know how)
  • Patente (patents)

Ons praat van ’n versameling van regte wanneer ons oor IE gesels.

Handelsmerke

Handelsmerke is tekens van oorsprong (badges of origin) en het ten doel om die goedere en dienste van een persoon van ’n ander te onderskei. In ons voorbeeld is Granaat ’n handelsmerk. Dit koppel die tydskrif (produk) aan Die Dameskring (die eienaar van die handelsmerk). ’n Handelsmerk kan bestaan uit enige iets wat grafies voorgestel kan word, byvoorbeeld ’n naam, handtekening, woord, letter, syfer, vorm, patroon en selfs ’n kleur en musiekdeuntjie (jingle). ’n Logo soos die een van Mandela Day is ook ’n tipiese handelsmerk.

Om statutêre beskerming te geniet, moet die eienaar van ’n handelsmerk by ’n land se handelsmerkregistrasiekantoor vir registrasie aansoek doen. In Suid-Afrika word sulke aansoeke by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (KMIE) (Companies and Intellectual Property Commission [CIPC]) ingedien. Die eienaar kan dit self doen en hoef nie ’n prokureur daarvoor opdrag te gee nie. Handelsmerke word in 45 verskillende klasse verdeel: klas 1-34 is vir goedere, en 25-45 is vir dienste.

Alvorens ’n handelsmerk gebruik word, is dit goed om navraag by die KMIE/CIPC te doen om vas te stel of daar nie soortgelyke bestaande handelsmerke is nie, want gebruik van ’n bestaande handelsmerk kan tot regstappe deur die eienaar van ’n bestaande handelsmerk teen ongemagtigde gebruik lei.

’n Handelsmerk sal gewoonlik slegs geregistreer word as dit kenmerkend (distinctive) is. Dit kan nie ’n blote beskrywing van goedere of dienste wees nie. ’n Geregistreerde handelsmerk is geldig vir tien jaar, maar mag onbeperk hernu word. ’n Geregistreerde handelsmerk geld slegs in ’n bepaalde jurisdiksie of land (met uitsondering van welbekende handelsmerke). ’n Handelsmerk hoef egter nie geregistreer te wees om beskerming te geniet nie. Die gemenereg (common law) beskerm handelsmerke wat gebruik, maar nie geregistreer is nie, van aanklamping (passing off) deur ongemagtigde derde partye. Aanklamping vind plaas waar ’n persoon die merk van ’n mededinger op so ’n manier met betrekking tot goedere en dienste gebruik dat daar ’n moontlikheid van verwarring by verbruikers ontstaan. ’n Verbruiker weet dan nie wie die goedere of dienste verskaf nie. ’n Eienaar moet klandisiewaarde (goodwill) en reputasie in ’n ongeregistreerde merk bewys om te slaag teen iemand wat dit wederregtelik gebruik. Bewyslas word nie by geregistreerde merke vereis nie. Dit is dus altyd beter om handelsmerke te registreer.

Dit is nie ’n vereiste om ’n ® of ™ boaan die einde van die woord te plaas om beskerming te geniet nie. ’n Mens mag wel NIE die ® gebruik waar ’n handelsmerk nog nie geregistreer is nie. As ’n aansoek om registrasie ingedien is, mag slegs die ™ gebruik word. Sommige maatskappye verkies om hierdie simbole te gebruik om enige onsekerheid oor handelsmerkregte uit te skakel.

Outeursreg

Outeursreg word deur die 1978 Wet op Outeursreg gereguleer en vestig outomaties ’n reg vir die outeur van ’n oorspronklike werk. Outeursreg hoef dus nie geregistreer te word nie. Die uitsondering hierop is kinematografiese werke, wat wel geregistreer moet word.

Outeursreg beskerm oorspronklike werke soos kuns, boeke, logo’s, prosesse, tabelle, diagramme, planne en rekenaarprogramme – programmatuur en toepassings of apps. Die werk hoef nie van ’n sekere gehalte te wees om beskerm te word nie (swak kuns word byvoorbeeld steeds beskerm deur outeursreg).

In sommige gevalle is die outeur van ’n werk nie die eerste eienaar van die outeursreg nie, byvoorbeeld waar werke op kommissie (’n persoon skep ’n werk in opdrag) of in die loop van indiensneming geskep word. In die geval van rekenaarprogramme is die persoon wat kontrole oor die ontwerp van die program uitoefen, die outeur van so ’n program.

Die eienaar van outeursreg het die eksklusiewe reg om ’n afskrif van ’n werk te maak, dit aan te pas en te publiseer. Die outeur kan dus enige persoon wat sonder haar toestemming afskrifte of aanpassings maak, vervolg. Die outeur het ook “morele regte” in haar werk en kan persone vervolg as haar reputasie of eer aangetas word deur verwringing of “verminking” van enige oorspronklike werk.

Outeursreg mag slegs op skrif aan enige ander oorgedra word en moet deur die eienaar onderteken word om geldig te wees. Outeursreg bly voortbestaan tot 50 jaar ná die dood van die outeur.

Tensy die outeur van hierdie artikel anders met die tydskrif ooreenkom, vestig die outeursreg in hierdie artikel in Granaat, aangesien die skrywer dit in opdrag van die tydskrif geskep het.

Om outeursreg in ’n werk te eis, word dit aanbeveel om die ©-simbool met die jaartal en outeur op die werk aan te bring, byvoorbeeld ©2020 Granaat (of die eienaar van Granaat).

Geregistreerde ontwerp

Ontwerpbeskerming is gemik op die vorm en konfigurasie van ’n voorwerp, byvoorbeeld die vorm van ’n pen of ’n telefoon, die loopvlakpatroon van ’n skoen of ’n motorband, die vorm van ’n sjokolade. In Suid-Afrika is daar beskerming vir twee tipes ontwerpe: esteties (vir blote estetiese waarde soos byvoorbeeld ’n stiksel op ’n skoen) en funksioneel (soos byvoorbeeld die loopvlak van ’n motorband wat wrywing beïnvloed).

’n Ontwerp moet nuut wees om beskerming te geniet. Dit is dus baie belangrik dat ontwerpe nie sommer met enige persoon gedeel word alvorens aansoek vir registrasie gedoen word nie – dit mag die vereiste nuwigheid (novelty), en dus registreerbaarheid, benadeel. Dis noodsaaklik om met ’n prokureur oor die registrasie van ’n ontwerp te gesels.

Granaat sou byvoorbeeld voor die eerste uitgawe kon besluit dat die spesifieke bladuitleg van die tydskrif as ’n estetiese ontwerp geregistreer moet word, indien dit “nuut” sou wees.

Vertroulike kennis

Vertroulike kennis sluit handelsgeheime en manier van dinge doen (know how) in. Dit kom byvoorbeeld ter sprake by konsessie-ooreenkomste oftewel franchises, waar spesifieke kennis van prosesse en prysbepalings integraal deel van die sukses van ’n besigheid is.

Hierdie soort intellektuele eiendom word nie geregistreer nie, maar moet ten alle koste in geskrewe ooreenkomste en monitering en beperking tot toegang van inligting deur werknemers beskerm word.

Patente

’n Patent word toegestaan deur die patente-afdeling van die KMIE/CIPC as dit ’n nuwe uitvindsel of vindingryke stap (inventive step) wat in die handel of in boerdery gebruik kan word, insluit.

Die nuwigheid (novelty) word wêreldwyd beoordeel en kan nie bloot ’n variasie op die jongste tegnologie (state of the art) wees nie.

In Suid-Afrika is die registrasie van ’n patent nie genoegsaam om nuutheid te bewys nie en ’n geregistreerde patent kan ongeldig verklaar word indien ’n derde party kan bewys dat dit nie nuut was op die datum wat die aansoek vir die registrasie van ’n patent ingedien is nie. Om hierdie rede is dit voordelig om ’n patentprokureur te versoek om ’n wêreldwye soektog te doen alvorens die koste vir ’n patentregistrasie aangegaan word.

As jy dus iets ontwerp, skryf of skep – hou bogenoemde in gedagte en praat met ’n prokureur om seker te maak jou regte bly beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drikus ·

Ek wonder of die beplande onteiening wetsontwerp wat onteiening sonder vergoeding, moontlik kan betrekking op die soort eiendom kan hê ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.