Is die kurwe nou al plat?

Deur ds. Jan-Louis Lee

Jan-Louis en sy vrou Willemien. Foto: Verskaf

Soos meeste in ons land, was ons gesin ook bereid om ter wille van die menigte, ter wille van die land se mediese infrastruktuur, en dalk ook ter wille van ons eie gesondheid – ’n ruk lank se afsondering te verduur.

Want ons moet die kurwe afplat.

Ons was gewillig, dog minder opgewonde, oor die Plus 14 wat die president aangekondig het toe ons al behoorlik moeg was vir die binnekant van ons huis – maar gehoorsaam omdat dit ’n duidelike doel het, binne ’n afgebakende periode.

Want ons moet die kurwe afplat.

Ons was bekommerd toe die uitfasering van die grendeltyd aangekondig is, veral met die ekonomiese vooruitskattings en al die sosialehulppakkette wat êrens – wie weet waar – gegenereer moet word.

Want – ons moet die kurwe afplat. Want ons moet mense se lewens red. Want ons moet nie selfsugtig wees nie.

Wat my in die besonder tref, is hoe maklik mense hul basiese vryhede prysgegee het in hierdie tyd. Ja, want die wetenskap en die mediese navorsing toon x, y en z en ons moet daaraan gehoor gee.

En as ’n mens dan jou kommer uitspreek, dan word jy uitgekryt en sleggesê. As jy bekommerd is oor die rigting waarin dinge beweeg, dan word daar bloot gesê dat die regering in beheer is, jou opinie is nie nodig nie, dis ’n moeilike taak, daar is nie ’n regte of verkeerde antwoord nie.

Die gewone burgery se stemme word onderdruk, afgemaak as histerie of iemand wat in selfsug die ondergang van die meerderheid soek.

Intussen lyk dit – ten minste vanuit die mediaberigte – of die regering nie meer luister na die slim wetenskaplikes wie se raad hulle sodanig sou volg nie… Boonop het die regering ons vóór hierdie krisis nie veel rede tot vertroue gegee nie. En nou, agt weke later, hoor en beleef ons magsvergrype en drakoniese beleid.

Tronke wat leeggemaak word weens Covid-19-risiko’s en ou omies en peuters op strande wat gearresteer word. Ons beleef die arbitrêre reëls oor inkope wat arbitrêr toegepas word – met ’n vae paai-antwoord op ’n vae, praat-baie-maar-sê-niks-toespraak wat êrens in die toekoms ’n versagting op die maatreëls voorstel.

Dit blyk nou dat die “want ons moet die kurwe afplat” verander het in “totdat die siekte weg is”. En durf jy kritiek uitspreek, dan word jy baie gou gewys op die president se onmoontlike taak. Dat daar baie elemente in hierdie verhaal is wat gebalanseer moet word.

Met respek – dis presies hoekom hy die president is. Dis presies hoekom ons ’n grondwet het, en hoekom die stem van die burgery so belangrik is. Ek is dalk nie ’n kenner op hierdie gebied nie, maar is dit nie die reg van enige landsburger om verantwoordbaarheid van sy regering te eis (en te verwag nie)? Of het die lang Zuma-jare ons so afgestomp dat ons met die minste tevrede sal wees?

Dit grief my tot in my siel as ek sien hoe mense in toue van letterlik kilometers lank moet staan om koshulp te ontvang.

Dit grief my om te beleef hoedat noodverleniging nou ’n politieke speelbal geraak het – om hulp te sentraliseer, dit te los in die hande van ’n regering wat (met alle respek vóór korona) ons nou nie juis beïndruk het met die manier waarop maatskaplike hulp geadministreer word nie.

Om alles te kroon, terwyl regulasies veroorsaak dat die skroewe om maatskaplike hulp juis nou stywer gedraai word, loop die suurlemoensap deur die regering se hantering van maatskaplike hulp soos dit bekend word dat kospakkies by amptenare se huise afgelaai word. (Wag – dalk is dit die verspreidingspunt waar die meel nagegaan word vir wurms…)

Dit grief my om te beleef hoe ’n minister die landsburgers erger as kinders hanteer en daar selfs vir my bepaal word watter tipe skoene ek mag of nie mag dra nie. Dit grief my dat daar vir my gesê word ek moet eerder nie ’n bohaai daaroor opskop nie, want dinge het op hierdie wyse vir sekere Zimbabwiërs ondraaglik geraak. Ja, selfs wanneer daar openlik van radikale ekonomiese transformasie gepraat word en wit besighede blatant regeringshulp geweier word.

Maar dit maak my ongelooflik hartseer dat ons as kerke dit gelate aanvaar het. Ten beste het ons ’n wag-en-sien-houding ingeslaan. Ons begin gemaklik raak met uitsendings op elektroniese platforms en ons is klaarblyklik bereid om onbepaald so aan te gaan. Die aanklag van die matrose in Jona 1:6 praat met my: “Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God!…”

Waar is die stem van die kerke as die onheil rondom ons ongebreideld seëvier? Waar is die stem van die kerke as mense wat ’n eerlike dag se werk wil doen, en dit met verantwoordelikheid wil en kan doen, geforseer word om hul deure toe te maak? Maar veral: Waar is die stem van die kerke as die geweldige teenstrydige wetgewing ’n strop om die nek van die mense in ons gemeenskappe raak?

Waarom kan mense in hul duisende in bondels vir hul SASSA-uitbetalings wag of ’n ellendige kospakkie van die regering kry, maar die kerke mag nie eredienste hou nie? Wat sal gebeur as die kerke selfs in hierdie hele proses verbygegaan word?

Onder die vaandel van “ten minste vervolg hulle ons nie”, het ons ons deure toegemaak, dienste opgeskort, barmhartigheidswerk deur diakonieë tot op die been gesny en pastorale werk (wat ’n essensiële taak is) tydelik gestaak. Dit, terwyl ons lidmate hunker na die gemeenskap van die gelowiges, terwyl derduisende van ons lidmate op hierdie presiese oomblik in die donkerte van depressie gedompel word deur die swaard van werkloosheid wat oor hul koppe hang – dit alles omdat ons in die bona fides van die regering geglo het. En omdat dit net drie weke sou duur.

Want ons moes die kurwe afplat.

Sal ons moet wag totdat ons vervolg word voordat ons die stilswye verbreek? Om stil te bly, en toe te kyk hoe die kwaad rondom ons seëvier, is om mee te doen aan die boosheid. Jammer, maar dit kan nie langer so aangaan nie.

  • Jan-Louis Lee is ‘n predikant by die Gereformeerde Kerk Brits. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

So is daar darem nog gelowiges wat die waarheid praat en sien wat hier gebeur. Dankie ds Lee

Pieter

Amen. “..staan op my volk…”. Aan GOD al die eer en heerlikheid.

Kanjynoumeer

Mooi gestel dominee. Hoor hoor!

Axel

Ds. Jan-Louis Lee, u slaan die spyker op die kop. Fantastiese boodskap. Ek gaan eendag as al die “LOCKDOWN” verby is na u gemeente ry vanaf Randburg en na u preek kom luister.

OW

Uitstekende skrywe ds Lee.Die vrae wat gevra word in die vierde laaste paragraaf is krities in hierdie tye waarin ons leef.Dit bring my by kerklike leierskap in die algemeen.As die pandemie net tydelik vergeet kan word,hang daar ‘n groot vraagteken oor kerklike leierskap.Waar was kerklike leierskap voor die pandemie,betreffende korrupsie,misdaad onregte,noem maar op.Ek is van mening dat ons met ‘n groot kerklike leierskap krisis te doen het.Die tyd is oorryp vir kerk om sy stem te laat hoor.